Dis storietyd!

lot-of-30-louis-l-amour-lamour-vintage-western-books-free-shipping-92389a90af0c94004491b388e5c16c18

Hier gaan dit oor storieboeke, of genrefiksie as jy wil.

Daar is mense wat lief is vir lees en daar is mense wat nie belangstel in lees nie. Boekwurms, vermoed ek, word gebore en nie gemaak nie. Dalk is dit ‘n oorerflike toestand.

Populêre fiksie word geskryf om soveel boeke as moontlik te verkoop en om vir ontspanning gelees te word. Die storielyn is baie belangrik, die karakters is minder gekompliseerd, die plekke waar die gebeure plaasvind is interessant, die taalgebruik is eenvoudiger, die dialoog klink soos die alledaagse manier van praat en die tema is nie ‘n preek nie.

Gewilde fiksie het iets vir almal. Daar is kinderboeke, tienerboeke en boeke vir volwassenes. Sommige boeke is meer in die smaak van manlike lesers, terwyl ander weer gerig is op die vroulike geslag.

Daar is verskillende genres of soorte verhale. Daar is misdaadverhale, liefdesverhale, inspirerende verhale, verhale van pioniers (byvoorbeeld die wilde weste), wetenskapfiksie, fantasie en gruwelverhale.

Die storie kan plaasvind in die verlede of hede of toekoms. Die verhaal kan ‘n realistiese agtergrond hê, dit kon regtig so gewees het. Dit kan ook onrealisties wees, glad geen verbintenis met die werklikheid hê nie.

Mens leer ook jou skrywers ken. Jy lees graag die boeke van die een, maar nie van die ander een nie. Elke skrywer het sy eie suksesresep, ‘n formule wat vir hom en sy lesers werk. Sommige boeke word soos ou vriende. Jy onthou dit, dit beteken iets vir jou en jy lees dit meer as een keer.

Die beste deel van ‘n goeie storieboek is dat dit nie vir jou preek nie. Dit probeer jou nie oortuig om een of ander iets te doen of te glo nie. Jy word nie aangespoor om die wêreld te red van gewisse ondergang nie, een van die karakters kan dit vir jou doen. Die karakters hoef ook nie polities korrek te wees nie. Hulle kan praat en doen soos wat die leser in sy binneste graag sou wou praat en doen.

Een van my gunsteling genres is die western. Dit is stories van pioniers, van eerbaarheid, van reg en verkeerd. Dit was ‘n uiters gewilde genre tot omstreeks 1980, daarna het dit getaan. Die redes wat aangevoer word oor hoekom die gewildheid daarvan afgeneem het, is onduidelik. My vermoede is dat daar probeer is om hedendaagse politiek korrekte sienings oor te dra op die western en dat dit nie werk nie. Dit kan ook wees dat daar nog nie ‘n opvolger vir Louis L’Amour gevind is nie (Peter Grant mag dit dalk wees). Moet nie met ‘n suksesresep peuter nie!

Daar is moderne “ernstige” skrywers wat poog om die wêreld te verbeter. Hulle wil ‘n bepaalde siening of ideologie verkondig en die leser bekeer tot hulle lewensuitkyk. Natuurlik was daar, deur die eeue heen, skrywers wat dit nie gedoen het nie. Hulle werke is nog steeds bekombaar by biblioteke en tweedehandse boekwinkels.

‘n Ander probleem is dat die groot uitgewerye ‘n monopolie het en dat hulle bepaal watter boeke gepubliseer mag word en watter nie. Mens sou dink dat hulle weet wat hulle doen, maar tog nie. Dit word vertel dat nie een van die groot uitgewers Frederick Forsyth se Day of the Jackal wou publiseer nie. Gelukkig is daar ook kleiner onafhanklike uitgewers wat kwaliteit boeke publiseer.

My gunsteling boek van alle tye is Jan de Hartog se Stuurman van die Furie (Hollands Glorie). Wat is joune?

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die skepsel

grovenediger-359483__180

As daar ‘n skepping is, is daar ‘n Skepper. As daar ‘n Skepper is, dan is daar ‘n doel met die skepping.

Die Skepper sou sekerlik nie sonder rede al die moeite gedoen het om te skep nie. Hy sou sekerlik ook nie sonder ‘n plan gewerk het nie. Hy moes ‘n droom gehad het van iets wat Hy wou bereik, iets waaroor Hy baie gedink het.  Hy sou die voor- en nadele teen mekaar opgeweeg het en Hy sou ook die koste daarvan bereken het. Die skepping sou alles verander, niks sou daarna weer dieselfde gewees het nie.

Die Skepper sou ook nie slordig gewerk en afskeepwerk gedoen het nie. Hy sou noulettend wees en aandag aan die fynste besonderhede gegee het. Alles moes perfek wees. Toe Hy klaar was, kon hy terugsit en kyk na sy handewerk. Hy sou wou sien dat alles mooi is, dat alles presies reg is, dat alles is soos Hy beplan het. Indien Hy enige gebreke kon sien, sou hy dit tog eers reggemaak het.

Toe Hy alles klaar het en Hy alles reggestel en ingestel het, toe alles reg werk en aan Sy standaarde voldoen, toe eers maak Hy die laaste item op Sy lys. Dit wat Hy laaste geskep het, was dan ook die belangrikste. Hierdie laaste item was nie net die hoogtepunt van Sy skepping nie, dit was ook die middel waardeur Hy Sy doel wou bereik. Die laaste item was die mens.

Wat maak die mens so belangrik? Wat wou hy deur die mens bereik? Het hy al iets daaroor gesê?

Sy doel met die mens is verydel, dit het platgeval. Die mens het nie vir Hom gekies nie. Die mens het gekies vir kennis van goedheid en boosheid.

Hoekom het Hy aan die mens die vermoë gegee om self te kan besluit? Hoekom het Hy die mens so gemaak dat hy kon kies? Dit het tot ‘n ramp gelei want die mens het verkeerd gekies.  Vir liefde om te bestaan, moet die mens kan kies om lief te hê. Om te doen wat reg is, moet die mens kan besluit om nie die verkeerde te doen nie. As daar nie ‘n keuse is nie, dan is dit dwang.

Na regte moes hy die bestaande mens uitgewis het en ‘n nuwe mens geskep het. Die dilemma is dat die nuwe mens dieselfde vermoë sou moet hê om te kan kies. Kies die nuwe mens ook verkeerd, dan is daar niks gevorder nie.

Kan die mens herstel word? Is daar ‘n manier om die oorspronklike doel te bereik? Dit sal moeilik wees.

Joh 3:3-8 (OAV) Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die oorspronklike Nuwe Testament

aramees

In die fliek Passion of the Christ praat die Romeine Latyn en die Jode (Judeërs) Hebreeus-Aramees. Hoe sou dit gewerk het as die Jode in die fliek Grieks gepraat het?

Die hoofstroom geleerdes (hulle noem hulleself serious scholars) glo die Nuwe Testament is oorspronklik deur Jode in Grieks geskryf. Hierdie is die gevestigde en wydverspreide siening. Daar word geglo dat Grieks, na Alexander se verowerings (335 – 323 v.C.), die lingua franca van die Midde-ooste geword het.

Daar is ook ‘n minderheidsiening dat die Nuwe Testament oorspronklik in Aramees geskryf is, dit word die Peshitta Primacy genoem. Aramees was die algemene taal in die Midde-ooste sedert die Assiriese Ryk tot die Islamietiese verowerings (omtrent 700 v.C. tot 700 n.C.). Hoewel Grieks meer belangrik geword het, het die gebruik van Aramees toegeneem en was dit die belangrikste taal in daardie gebied.

Volgens ‘n argeoloog wat die Dooie See Rolle bestudeer, Yigael Yadin, was Aramees die skryftaal van daardie tyd. Hy het waargeneem dat die skryftaal van Aramees na Hebreeus verander het teen omstreeks 135 n.C.

Volgens die Joodse historikus Josephus (37 n.C. tot 100 n.), kon hy nie daarin slaag om Grieks te bemeester nie. Dit was ‘n algemene probleem onder sy volksgenote en nie meer as 2 of 3 kon daarin slaag om Grieks onder die knie te kry nie. Dit sou dus vreemd wees as, byvoorbeeld, Joodse vissermanne Grieks kon skryf.

Die pro-Griekse kamp verwys na Paulus wat van Tarsus was en geskryf het aan Christene wat in Griekssprekende stede gewoon het. Dit is vir hulle ‘n bewys dat die Nuwe Testament in Grieks geskryf is. Hier volg ‘n vergelyking van een teks wat lig op die saak werp. (In Engels omdat nie alles in Afrikaans beskikbaar is nie.)

In Efesiërs 4:8 haal Paulus Psalm 68:18 aan: Wherefore he saith, When he ascended up on high, he led captivity captive, and gave gifts unto men. (KJV).

Psalm 68:18 volgens die Masoretiese Teks sê: Thou hast ascended on high, thou hast led captivity captive: thou hast received gifts for men; yea, for the rebellious also, that the LORD God might dwell among them. (KJV).

Dieselfde vers in die Engelse vertaling van die Septuagint lees: Thou art gone up on high, thou hast led captivity captive, thou hast received gifts for man, yea, for they were rebellious, that thou mightest dwell among them. (Die Masoretiese teks stem ooreen met die Septuagint.)

Die voor-Christus Siriese Peshitta stel die psalm soos volg: You ascended on high, led captivity captive and gave gifts to the sons of men (Dit stem ooreen met Paulus se aanhaling.)

Wat leer ons hieruit? Paulus gebruik die Hebreeus-Aramese Ou Testament, nie die Griekse Septuagint nie (natuurlik ook nie die Masoretiese teks nie). Die enigste bron wat Paulus kon gebruik het, was die Siriese Peshitta (of ‘n ander teks wat daarmee ooreenstem).  Die mense aan wie hy skryf, moes sekerlik dieselfde Siriese Ou Testament gebruik het, anders sou hulle hom kon aanspreek dat sy aanhaling verkeerd is en dat hy die Skrif verdraai.

Ons Afrikaanse en Engelse weergawes van die Nuwe Testament is vertaal uit Griekse manuskripte soos The Greek New Testament. Die Griekse manuskripte is op hulle beurt weer vertaal uit Aramees. Dit beteken dat ons vertalings nie uit die oorspronklike gedoen is nie.

Waarom moet ons dit weet? Agtergrond kennis is belangrik by die studie van die Bybel. Dit is ook nodig om hoofstroomdenke te toets en te bevraagteken. Anders word ons passiewe meelopers. Ons kan nooit rus in ons soeke na die beste teks nie, die soeke na die oorspronklike teks van die Bybel.

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

‘n Bekende onbekende man

1317745545_boon-001

Meeste mense het seker nog nooit van hom gehoor nie. Tog het hy ‘n unieke bydrae tot ons volk se geskiedskrywing gemaak. Hy was die opsteller en skrywer van die Geslachtregister der oude Kaapsche Familiën. Hy was ook die uitvinder van die De Villiers-Pama nommerstelsel. Danksy hom, is dit vir ons moontlik om ons geslagsregisters na te vors.

Coenraad Coetzee de Villiers is in 1850 gebore te Swellendam. Hy is later getroud met Sara Susanna Cilliers, ‘n tante van die digter Jan F Cilliers. Hy is in 1887 oorlede op die ouderdom van 37 jaar. Hy het veel vermag in sy kort lewenstyd.

CC de Villiers het op eie inisiatief en koste die doop- en trouregisters van die grootste ou-Kaapse gemeentes deurgewerk en die inligting per familienaam gesorteer. Sommige gemeentes se inligting was onvolledig en hy het sy inligting aangevul met navorsing by die kantoor van die weesheer en die staatsargief.

Hy is op ‘n jong ouderdom oorlede en kon nie sy taak voltooi nie. Die Kaapse Parlement het die belangrikheid van sy navorsing besef en toe ‘n som geld beskikbaar gestel om die werk af te handel. Die historikus George McCalle Theal het toe de Villiers se taak voltooi en Geslachtregister der oude Kaapsche Familiën is van 1893 af gepubliseer. In 1966 is dit bygewerk en herdruk. Hierdie uitgawe staan bekend as De Villiers-Pama.

Cornelis Pama is in 1916 in Rotterdam gebore en in 1994 oorlede. Hy was bekend as geskiedkundige, genealoog en heraldikus in beide Nederland en Suid-Afrika. Hy het verskeie genealogiese en heraldiese boeke geskryf.

Die De Villiers-Pama nommerstelsel gebruik alfabetiese letters om die geslagte aan te dui en gebruik syfers om die kinders volgens volgorde van geboorte te sorteer. Die stamvader is a, die eerste geslag na hom (sy kinders) is dan b, sy kleinkinders is c, en so verder. Die kinders van die stamvader – in volgorde van geboorte – is dan b1, b2, b3, ensovoorts. Die kinders van b1 is dan c1, c2, ensovoorts. Hierdie is die standaardstelsel wat deur genealoë in Suid-Afrika gebruik word.

Hierdie ou-Kaapse families is vandag die oudste en grootste families van ons volk. Hierdie werk begin by die stamouers en eindig teen omtrent 1806, dit dek dus die eerste 170 jaar van ons geskiedenis. Dit bevat nie net name van persone nie, maar ook plekname en datums. So kan ons sien waar ‘n stamvader in Europa vandaan kom, waar en met wie hy getroud was, waar en wanneer hulle in die Kaap gevestig is. Ons kan ook sien hoe hulle nageslag die binneland ingetrek het en in watter distrikte hulle burgers was. Daar is ook geboortedatums, waar en wanneer hulle gedoop is en waar en wanneer hulle oorlede is.

Coenraad Coetzee de Villiers het net een ding vir ons nagelaat, die Geslachtregister der oude Kaapsche Familiën. Daarsonder kan ons nie ons familiegeskiedenis navors nie. Nogtans is hy onbekend en is daar min oor hom bekend. Hy was die vader van genealogie in Suid-Afrika.

Ons volk is in die gelukkige posisie dat ons geslagsregisters baie deeglik nagevors word. Ons is miskien van al die groepe in die wêreld wat van Europese afkoms is, die groep wie se geslagsregisters die volledigste is.

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die bloed van die Boer

boer_cape-dutch_afrikaner

In die huidige politieke klimaat hoor mens af en toe dat die Boerevolk ‘n bastervolk is. Die een redenasie is dat die vermenging van Hollander, Duitser en Fransman ‘n verbastering sou wees. Die ander redenasie is dat ons voorouers met slawe en ander nie-blankes ondertrou het.

Die navorsing van H.T. Colenbrander, soos vervat in sy werk De Afkomst van de Boere (1902), is welbekend. Hy het sy monsters op drie verskillende maniere gekies. Eerstens op grond van die Ou-Kaapse families (van 1652 tot omtrent 1807), tweedens op grond van persone wat saam met Retief was en by Bloedrivier betrokke was en derdens op grond van die name van Kaapse Rebelle. Sy werk is dus gerig op die mense wat as die Boerevolk identifiseer, nie op mense wat as Afrikaanssprekend of as Blankes identifiseer nie. Hiervolgens, min of meer, is die Boerevolk saamgestel uit 50% Hollanders, 28% Duitsers, 17% Franse en 5% Engelse en ander.

Dit is nie maklik om te onderskei tussen die verskillende plekke in Europa waar ons voorouers vandaan gekom het nie. Nederland het maar kort voor van Riebeeck tot stand gekom. Duitsland het nog nie bestaan nie. Frankryk was bewoon deur mense van verskillende Europese afkomste. Die Tagtigjarige Oorlog het groot ontwrigting veroorsaak en mense het ‘n nuwe heenkome elders gaan soek. Hoe word ‘n voorouer se afkoms bepaal? Waar hy gebore is, waar hy gewoon het, watter taal hy gepraat het? Hollanders, Duitsers, Skandinawiërs en Engelse is almal van Germaanse afkoms. Vermoedelik was die meeste Hugenote ook van Germaanse afkoms.

Uit ‘n etniese oogpunt kan ons sê dat die Boerevolk van Germaanse afkoms is. Meer spesifiek kan ons beweer dat hulle grootliks afstam van die stamme wat Franke genoem is. Dit was die situasie tot en met die Anglo-Boereoorlog.

Reeds voor die Anglo-Boereoorlog was daar drie groepe wat van Europese afkoms was: Die Boerevolk van die Kaapse binneland en die republieke, die Afrikaanssprekende blankes in die Weskaap en die Engelstalige bevolking. Wat het sedertdien gebeur? Het hierdie samestelling so gebly of het dit verander? Na die oorlog het heelwat Europeërs hulle in Suidelike Afrika kom vestig. Die Suid-Afrikaanse regering het dit aangemoedig vir ekonomiese en politieke redes. Daar het heelwat ondertrouery plaasgevind tussen die verskillende groepe blankes.

Om politieke eenheid onder blankes te bevorder, is daar eerstens gepoog om alle Afrikaanssprekende blankes te verenig onder die naam Afrikanervolk. Daarna is blanke eenheid bevorder onder die begrip Blanke Suid-Afrikaner. Is daar vandag net een blanke etniese groep of is daar verskillende blanke groepe? Die White Tribe?

Die dilemma is dat die naam blanke internasionaal onaanvaarbaar is. Etnisiteit word nie bepaal deur velkleur alleen nie en slegs etniese groepe kan aanspraak maak op onder andere selfbeskikking. ‘n Etniese groep is mense wat sekere eienskappe in gemeen het. Ondermeer dieselfde afkoms, geskiedenis, kultuur en taal.

Ons kan Dr DF Malan aanhaal: Bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort. Ons moet ook almal wat bymekaar hoort in dieselfde kraal (of is dit laer?) kry. Ons sal ook afskeid moet neem van ou verskille en twiste. Jou huistaal en jou volkstaal hoef nie dieselfde te wees nie. Jou persoonlike geskiedenis en jou volk se geskiedenis hoef ook nie dieselfde te wees nie.

Ons sal alles wat van ons ‘n volk maak, opnuut moet identifiseer. Ons huis is gebou van fondament tot dak, maar aanbouings mag nodig wees. Dit is ons uitdaging.

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

16 Desember 1899, die Swart Week

images

Ons almal weet wat op 16 Desember 1838 gebeur het. ‘n Klein groepie Voortrekkers was omsingel deur ‘n oormag Zoeloes. Die Voortrekkers het besef hulle staan nie ‘n kat se kans nie, die situasie was onmoontlik. Toe maak hulle in desperaatheid ‘n gelofte aan God. Op die 16de help Hy hulle daar by Bloedrivier.

Hier is iets wat ek nie geweet het nie. Geloftedag was nie net ‘n oorwinning vir die Voortrekkers nie, dit was ook ‘n oorwinning vir die Christendom. Hoewel Britse en Amerikaanse sendelinge al van 1820 af onder die Zoeloes gewerk het, is daar geen rekord van ‘n enkele bekeerde Zoeloe voor die Slag van Bloedrivier nie. Die houvas van die toordokters en bygelowe het daarvoor gesorg dat daar nie eers een Zoeloe in 18 jaar op die evangelie gereageer het nie.

Ten spyte van die grusame moorde op vrouens en kinders by Blauwkrans en elders, het die Boere nie dieselfde gedoen aan die Zoeloes nie. Die Boere het nooit vergeldingsaksies teen die Zoeloevolk geloods nie. In plaas van vergelding, het hulle sendingaksies geloods. Dit was eers na Bloedrivier wat toenemende getalle Zoeloes tot Christus bekeer is. Binne sig van die plek waar Piet Retief en sy manne vermoor is, het Afrikaanse sendelinge ‘n kerk en sendingstasie gebou. (Met dank aan Peter Hammond van die Reformation Society).

42 Jaar later, is weer ‘n gelofte afgelê. Hierdie keer by Paardekraal. Die geleentheid was die anneksasie van die Transvaalse Boererepubliek deur Groot-Brittanje. Weereens was die oormag te groot. Op 13 Desember 1880 het burgers van Paul Kruger ‘n klipstapel opgerig by Paardekraal en daar ‘n gelofte afgelê. Die Eerste Vryheidsoorlog het geduur van 16 Desember 1880 tot 27 Februarie 1881. Groot Brittanje is verslaan deur ‘n klein en onbenullige landjie. Die Britse Empire het hierdie nederlaag as ‘n vernedering ervaar. In ‘n sekere sin was die Tweede Vryheidsoorlog ook bedoel om hierdie nederlaag te wreek. So erg was hierdie wraakbegeerte dat Britse troepe die klippe van Paardekraal in die Vaalrivier gaan gooi het.

16 Desember 1899 is nie voorafgegaan deur die aflê van ‘n nuwe gelofte nie. 16 Desember 1899 was die einde van Groot-Brittanje se Swart Week.

Die Tweede Vryheidsoorlog (ook bekend as die Anglo-Boereoorlog) breek uit op die President se verjaardag, 10 Oktober 1899. In die week van 10 tot 16 Desember 1899, behaal die Boere roemryke oorwinnings oor die Britse Empire. Die veldslae van Magersfontein, Colenso en Stormberg gebeur in hierdie week.

Op 16 Desember 1899 verskyn ‘n buitengewone gratis uitgawe van De Volkstem waarin President Kruger die volgende dag, die 17de, tot nasionale dankdag verklaar. In ‘n artikel in die koerant is parallelle getrek tussen 1838 en 1899. Die Boerevolk is gevra om God te dank vir hierdie oorwinning.

Wat my persoonlik kwel, is die vraag: wat het ná 16 Desember 1899 gebeur?

 

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Om te pyp of te vape

images-duckduckgo2-com

In my hart der harte is ek ‘n pyproker. Maar ek vape ook.

Wat is die Afrikaans vir vape? Damp? As ek sê ek vape met my vape? Ek damp met my damper?

Ek het nog nie die hubbly-bubbly probeer nie, ek sal ‘n plan moet maak.

Mense gebruik tabak al vir iets soos 5 000 jaar. Dit word gerook, gesnuif en gekou. Nou ook gedamp. Blykbaar neem tabakproduksie steeds toe. Daar word gereken dat die aantal tabakgebruikers teen 2050 gaan verdubbel.

Die vape is ‘n elektroniese apparaat wat ‘n nikotienvloeistof elektries damp, die dampe word ingetrek net soos met sigarette. Die verskil is dat die vape nie tabak brand nie, maar ‘n vloeistof (wat nikotien mag bevat) verhit tot dit dampe maak. Dit is in 2013 deur ‘n Sjinese apteker met die naam Hon Lik uitgevind. Die vape het geweldig populêr geword by die jonger geslag wêreldwyd (by ons ook). Die vape word gebruik as plaasvervanger vir sigarette of as ‘n ontspannings aktiwiteit. Dit word ook aanbeveel vir mense wat wil ophou rook.

Die meeste vape toestelle word vervaardig in Sjina. In 2014 was daar 466 verskillende handelsmerke van vape toestelle. Die vloeistof wat gedamp word is ‘n oplossing van propileenglykol en plantaardige glisiriene wat gemeng word met nikotien en geurmiddels. Daar word gemeen dat daar meer as 8000 verskillende geure vloeistowwe is. Gewilde geure is sjokolade, cappuccino en vrugte.

Die hubbly bubbly (ook bekend as hookah, of shisha) is ‘n waterpyp waarmee tabak gerook word. Dit gebruik ook gegeurde tabak. Hoewel dit ook turkse pyp genoem word, kom dit oorspronklik uit Indië of Persië en word algemeen gebruik regdeur die Midde-Ooste. Hoewel nuwe tegnologie materiale beskikbaar is vir die vervaardiging van die hubbly bubbly, word die meeste nog van tradisionele materiale gemaak.

‘n Hubbly bubbly bestaan uit ‘n tabakkom, ‘n metaalskag tussen die tabakkom en die waterhouer en ‘n buigbare slang met mondstuk waarmee die rook opgesuig word. Die waterhouer word gevul met water todat die metaalskag onder water is. Die tabakkom bevat die tabak waarop ‘n brandende kooltjie geplaas word. Deur die mondstuk te suig, word die tabakrook deur die water afgekoel voordat dit ingetrek word.

Die rook van ‘n pyp is ‘n ritueel wat vroeër geassosieer was met denkers, skrywers en here. Bekendes soos Albert Einstein, Mark Twain en CS Lewis was almal pyprokers. Die Oom Paul pypvorm is vernoem na President Paul Kruger. Die pyp stimuleer die denke en gee geleentheid vir nadenke. Die hele proses van die pyp skoonkrap, stop met tabak, aansteek en rook is ‘n hele prosedure. Daar word gepraat van die kuns van pyprook.

Die materiaal waarvan die pyp gemaak word, is ook belangrik. Bruyére (gemaak van die wortels van ‘n plant) en meerschaum (‘n kleiagtige mineraal) word as die beste vir die kop van die pyp beskou. Die tabak wat deur pyprokers gebruik word, word lugdroogtabak genoem en is iets anders as die tabak wat vir sigarette gebruik word.

Hoewel daar pypfabrieke is, word die mooiste en interessantste pype met die hand gemaak. In Suid-Afrika is daar minder as ‘n handvol pypmakers. Hulle pype is handgemaak en is versamelitems.

Outydse tabakwinkels (tobacconist) wat pype verkoop is deesdae skaars en gewoonlik hou hulle ook luukse goedere aan. Vape-winkels is redelik algemeen (daar is ook kettingwinkels wat dit verkoop). Die hubbly bubbly is oral verkrygbaar. Die nuutste ontwikkeling is die smoke shop (rookwinkel?). Hier word die tradisionele tabakwinkel verenig met die vape shop en die hubbly bubbly handelaar, alles onder een dak. Sommige winkels maak ook voorsiening vir ‘n smokers lounge.

Die ou sêding “kom ons maak ‘n dampie” het nou ‘n heel nuwe betekenis en toepassing gekry.

 

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Wie is Hy?

indeksHy is die eienaar. Die baas. Eintlik die alleeneienaar en die enigste baas.

Sy naam is YWHW. Die vraag is nie wie Hy is nie, die vraag is wie ek en jy is. Wat soek ons op Sy eiendom? Mag ons hier wees? Is daar reëls wat ons moet nakom of kan ons maak soos ons smaak?

Hy is ook nie ‘n mens nie. Ook nie ‘n superhero nie. Hy is ook nie ‘n alien nie. Hy is nie van dieselfde substansie as ons nie. Ons noem die substansie wat Hy is gees. Gees is iets soos wind, jy kan gees nie sien nie, jy kan dit net waarneem.

Ons is nie op dieselfde vlak as Hy nie, Hy is anders as ons. Heeltemal anders. Hy het sy eie lewenswyse, Sy eie standaarde, Sy eie waardes, Sy eie siening van sake. Wat ons dink tel nie regtig by Hom nie, Hy gaan nie sommer oortuig word nie. Dit is ons wat by Hom moet inval, nie Hy by ons nie.

Ons kan kies wat ons wil doen. Ons kan oplet met Wie ons te doen het, of ons moeilikheid met Hom wil hê of nie.

As ons Hom leer ken, vind ons uit dat Hy graag wil hê dat ons uit ons eie vrye wil Hom moet respekteer vir Wie Hy is. Hy wil ons nie dwing nie, hy wil hê ons moet vir Hom kies en nie teen Hom nie. Maar as ons teen Hom kies, moet ons niks van Hom verwag nie. As jy teen Hom is, is jy Sy vyand.

Ons het ‘n neiging om te dink dat ons waardes en ons reg en verkeerd op Hom van toepassing is. Dit is nie. Hy gee nie om wat ons sienings van goed en sleg is nie, dit is Sy siening wat tel. As ons praat van “wreed” of “menslik”, dan is dit hoe ons sulke dinge sien. Dit is nie noodwendig korrek omdat ons so dink nie.

Hy kan boosheid nie voor Sy oë verdra nie, Hy wil dit uitroei – en Hy gaan dit uitroei.

 

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die oorspronklike Ou Testament

2598cf445553998bed16a16e4e1b6758Ons vertalings van die Bybel (Ou en Nuwe vertaling) gebruik die Masoretiese Teks as bron vir die Ou Testament. Ander Prostestantse vertalings doen dieselfde. Die Masoretiese Teks is die werk van Joodse geleerdes tussen die 7de en 10de eeue, d.w.s. 600 tot 900 jaar na Christus.

Die Oorspronkllike Ou Testament is gebruik deur Yeshua (Jesus) en sy apostels. Hulle het hieruit aangehaal en die Skrif verklaar. Die Septuagint is ‘n Griekse vertaling van die Oorspronklike Ou Testament wat in die 3de eeu voor Christus gedoen is. Die aanhalings deur Yeshua en die apostels stem grootliks ooreen met die Septuagint.

Die vraag is hoeverre die Oorspronklike Ou Testament en die Masoretiese Teks ooreenstem. Indien daar verskille is, hoe ernstig is daardie verskille?

In Lukas 4: 18-19 haal Yeshua aan uit Jesaja 61:1-2. (Ek gebruik die AOV hier).

Lukas (4:18) Die Gees van die Here is op My, omdat Hy my gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; (4:19) om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.

In vers 21 sê Yeshua: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. Kort hierna wou almal in die sinagoge Hom van ‘n krans afgooi.

Kom ons kyk nou na Jesaja 61:1-2.

Jesaja (1) Die Gees van die Here HERE is op my, omdat die Here My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; (2) om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die Here …

Daar is verskille tussen die Ou en Nuwe Testamente weergawes, maar die verskille is nie te groot nie. Die verkondiging van sig aan blindes is uitgelaat in die Masoretiese Teks.

Kom ons kyk na ‘n tweede voorbeeld. In Romeine 9:33 haal Paulus Jesaja 28:16 aan.

Romeine (9:33) Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.

Jesaja (28:16) daarom, so sê die Here HERE: Kyk ek lê in Sion ‘n grondsteen, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie.

Hier is ‘n groot verskille. Die Masoretiese Teks maak die steen van struikeling ‘n hoeksteen. Die steen is ook nie ‘n persoon nie.

Dit is duidelik dat die Masoretiese Teks nie onfeilbaar is nie en gekontroleer moet word teen ander tekste soos die Septuagint. Nou is die vraag: Hoekom verskil die Masoretiese Teks van die Oorspronklike Ou Testament? Van die redes wat aangevoer word, is dat die tekste wat tot hierdie geleerdes se beskikking was, reeds korrup was. Hulle was ook mense wat nie geglo het dat Yeshua die Gesalfde is nie, en kon tekste gekies het wat met hulle sienings ooreenstem. Hulle kon ook doelbewus tekste, wat in Yeshua bewaarheid is, verander het.

‘n Groot probleem is dat daar heelwat christelike geleerdes is wat die Masoretiese Teks nie bevraagteken nie, maar eerder aanprys.

Wat kan ons, wat die Bybel lees in ons eie taal, hieromtrent doen? Seker nie veel nie. Ons kan die PWL-vertaling (die Pad van Waarheid na Lewe, ‘n letterlike vertaling uit die oorspronklike tale) gebruik. Ons kan ook op die Internet tekste (in Engels) met mekaar vergelyk. Ons moet bewus wees dat daar verskille kan wees en ons moet probeer om die mees korrekte tekste te soek en gebruik.

 

 

 

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Watter Afrikaans praat jy?

germaanse_boom2

Taalkundiges sê vir ons daar is drie soorte Afrikaans: Kaapse-Afrikaans, Oranjerivier-Afrikaans en Boere-Afrikaans. Al drie het apart uit Nederlands ontstaan en daar is nie net een Afrikaanse taal nie.

Kaapse-Afrikaans het by slawe, wat deur die VOC ingevoer is, ontstaan. Hierdie slawe het van verskillende plekke gekom en verskillende moedertale gehad. Maleis-Portugees was ‘n lingua franca. Die VOC het dit belangrik geag dat die slawe Nederlands moes leer en het in 1658 ‘n skool gestig vir slawekinders. Verder was dit ‘n vereiste dat slawe Nederlands moes praat indien hulle hul vryheid wou terugkoop. Uit hierdie mengelmoes het ‘n kreoliseringsproses plaasgevind wat tot ‘n nuwe taal, Kaaps-Nederlands of Kaaps-Afrikaans gelei het.

Oranjerivier-Afrikaans het ontstaan uit die kontak van die Khoi-Khoi en Hollandssprekende veeboere in die noordelike binneland. Hierdie kontak was deur handeldryf en seisoenswerk. Die blankes het dit moeilik gevind om die Khoi-Khoi se taal aan te leer, met die gevolg dat die Khoi-Khoi hulle taal moes leer.

Boere-Afrikaans (wat Standaard-Afrikaans geword het), was ‘n voortsetting van die Nederlands wat die Vryburgers gepraat het. Dit was in wese Suid-Hollands wat vereenvoudig is. Dit is die taal wat aan die Oosgrens gepraat is en wat na die Groot Trek in die Boererepublieke gepraat is. Tot omtrent 1925 was sprekers van Boere-Afrikaans oortuig dat hulle Hollands praat.

Na die Anglo-Boere Oorlog is daar begin om Boere-Afrikaans te ontwikkel tot ‘n standaardtaal wat met Engels kon meeding. Daarmee is groot sukses behaal. Mettertyd is die naam van die taal verander van Afrikaans-Nederlands na net Afrikaans toe. Die indruk bestaan nou dat die twee tale, Kaapse-Afrikaans en Oranjerivier-Afrikaans, dialekte van Standaard-Afrikaans is.

Boere-Afrikaans is die moedertaal van die meerderheid van ons volk. Daar is wel ook lede van ons volk wat nie Boere-Afrikaans as huistaal gebruik nie. Terselfdertyd is daar baie mense wat Boere-Afrikaans as huistaal het, maar wat nie deel van ons volk is nie.

Boere-Afrikaans (of Standaard-Afrikaans) kan dus etnies gekoppel word, maar kan nie as ‘n etniese verpligting gesien word nie. Daar is baie meer aan etnisiteit as net taal.

 

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin