Dis storietyd!

lot-of-30-louis-l-amour-lamour-vintage-western-books-free-shipping-92389a90af0c94004491b388e5c16c18

Hier gaan dit oor storieboeke, of genrefiksie as jy wil.

Daar is mense wat lief is vir lees en daar is mense wat nie belangstel in lees nie. Boekwurms, vermoed ek, word gebore en nie gemaak nie. Dalk is dit ‘n oorerflike toestand.

Populêre fiksie word geskryf om soveel boeke as moontlik te verkoop en om vir ontspanning gelees te word. Die storielyn is baie belangrik, die karakters is minder gekompliseerd, die plekke waar die gebeure plaasvind is interessant, die taalgebruik is eenvoudiger, die dialoog klink soos die alledaagse manier van praat en die tema is nie ‘n preek nie.

Gewilde fiksie het iets vir almal. Daar is kinderboeke, tienerboeke en boeke vir volwassenes. Sommige boeke is meer in die smaak van manlike lesers, terwyl ander weer gerig is op die vroulike geslag.

Daar is verskillende genres of soorte verhale. Daar is misdaadverhale, liefdesverhale, inspirerende verhale, verhale van pioniers (byvoorbeeld die wilde weste), wetenskapfiksie, fantasie en gruwelverhale.

Die storie kan plaasvind in die verlede of hede of toekoms. Die verhaal kan ‘n realistiese agtergrond hê, dit kon regtig so gewees het. Dit kan ook onrealisties wees, glad geen verbintenis met die werklikheid hê nie.

Mens leer ook jou skrywers ken. Jy lees graag die boeke van die een, maar nie van die ander een nie. Elke skrywer het sy eie suksesresep, ‘n formule wat vir hom en sy lesers werk. Sommige boeke word soos ou vriende. Jy onthou dit, dit beteken iets vir jou en jy lees dit meer as een keer.

Die beste deel van ‘n goeie storieboek is dat dit nie vir jou preek nie. Dit probeer jou nie oortuig om een of ander iets te doen of te glo nie. Jy word nie aangespoor om die wêreld te red van gewisse ondergang nie, een van die karakters kan dit vir jou doen. Die karakters hoef ook nie polities korrek te wees nie. Hulle kan praat en doen soos wat die leser in sy binneste graag sou wou praat en doen.

Een van my gunsteling genres is die western. Dit is stories van pioniers, van eerbaarheid, van reg en verkeerd. Dit was ‘n uiters gewilde genre tot omstreeks 1980, daarna het dit getaan. Die redes wat aangevoer word oor hoekom die gewildheid daarvan afgeneem het, is onduidelik. My vermoede is dat daar probeer is om hedendaagse politiek korrekte sienings oor te dra op die western en dat dit nie werk nie. Dit kan ook wees dat daar nog nie ‘n opvolger vir Louis L’Amour gevind is nie (Peter Grant mag dit dalk wees). Moet nie met ‘n suksesresep peuter nie!

Daar is moderne “ernstige” skrywers wat poog om die wêreld te verbeter. Hulle wil ‘n bepaalde siening of ideologie verkondig en die leser bekeer tot hulle lewensuitkyk. Natuurlik was daar, deur die eeue heen, skrywers wat dit nie gedoen het nie. Hulle werke is nog steeds bekombaar by biblioteke en tweedehandse boekwinkels.

‘n Ander probleem is dat die groot uitgewerye ‘n monopolie het en dat hulle bepaal watter boeke gepubliseer mag word en watter nie. Mens sou dink dat hulle weet wat hulle doen, maar tog nie. Dit word vertel dat nie een van die groot uitgewers Frederick Forsyth se Day of the Jackal wou publiseer nie. Gelukkig is daar ook kleiner onafhanklike uitgewers wat kwaliteit boeke publiseer.

My gunsteling boek van alle tye is Jan de Hartog se Stuurman van die Furie (Hollands Glorie). Wat is joune?

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui