Die misoes

6299610-hand-of-a-woman-holding-new-life-in-form-of-plant-isolated-on-white-stock-photoIn die tuin van Eden was daar twee besonderse “bome”. Of dit letterlike bome was en of die woord “boom” ‘n simbool van iets anders is, weet ek nie. Gegewe dat die oorspronklike geskiedenis met ‘n “prentjieskrif” opgeteken is, kon dit ‘n begrip gewees het.

In ieder geval, YHWH het die mens verbied om van die boom in die middel van die tuin te eet want anders sal die mens sterf. Die slang het die mens oortuig dat hulle daarvan kan eet sonder dat hulle die dood sal sterf (Wat is die dood en hoe verskil dit van sterf?). Die slang het verder gesê dat indien die mens daarvan eet, hulle soos God sal wees deur goedheid en boosheid te ken.

Toe die mens daarvan eet, was hulle ongehoorsaam aan YHWH. Erger nog, hulle het gemeen hulle sal YHWH se gelykes wees (sal soos God wees). Hulle het gedink kennis van goedheid en boosheid is dieselfde as wysheid. Die gevolge was verreikend. Indien YHWH hulle nie uitwis nie, moes Hy hulle straf. Vir die vrou pyn met geboorte, begeerte na die man en die man se heerskappy oor haar. Om die man se ontwil is die aarde vervloek (die planeet word deur die sondeval verander), hy sal met moeite voedsel kry en onkruid sal dit nog moeiliker maak. Dan sal die mens se liggaam met sy dood weer stof word.

Ons weet hoe dit nou, na die sondeval, is. Hoe dit voor die sondeval was, kan ons ons nie indink nie. Geen kennis van goedheid en boosheid nie? Totaal onskuldig? Die aarde nie vervloek nie? Die mens sal nie terugkeer na stof toe nie?

Daar was nog ‘n boom in die tuin, die boom wat ewige lewe gee. Die mens moes na die sondeval verhinder word om daarvan te eet. Voor die sondeval was die vrugte van hierdie boom nie verbode nie, sou die mens toe daarvan geëet het, sou hy vir ewig lewe. So, indien daar nie ‘n sondeval was nie, sou die mens se liggaam nie teruggekeer het na stof toe nie en hy sou boonop ook vir ewig gelewe het. Om nie liggaamlik te sterf nie is dus nie dieselfde ding as ewige lewe nie.

Die sondeval was nie net ‘n ramp der rampe vir die mens en die aarde nie, dit was ook ‘n ramp vir YHWH. Sy plan vir die mens was nou in skerwe, Sy doel met die skepping van die mens was daarmee heen. Die mens was ‘n volslae mislukking.

YHWH het die mens geskep met die vermoë om te kies, al is dit ook teen YHWH. Die mens moes uit eie keuse gehoorsaam wees, hy moes self kon besluit om YHWH lief te hê en te respekteer. Wat moes YHWH nou doen? Die mens uitwis van die aarde af en weer voor begin? ‘n Tweede mens skep en hoop dit gaan beter? Wat die mens verdien, is uitwissing.

Maar YHWH het geweet dit kan gebeur en hy het dit by Sy beplanning ingesluit. Duidelik is daar meer as een dood en meer as een lewensvorm. Wanneer die mens liggaamlik doodgaan, is daar iets in hom wat nie sterf nie. As hierdie iets kon begin lewe, dan sou daar ‘n nuwe lewensvorm uit die oue ontstaan.

1 Korinthiërs 15:53-57: Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.

Hoewel die skepping van die mens op ‘n misoes uitgeloop het, het YHWH ‘n ander oplossing gevind. Die mens se vlees is verganklik, maar dit is moontlik dat die mens onverganklike lewe kan ontvang. Daar is voorwaardes, dit is nie vanselfsprekend nie en daar is net een manier, een weg.

Daar sal nie in die onverganklike ‘n plek vir boosheid wees nie.

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Boeke met prentjies

9567c980c14becf977328a5e91d5b296

Die ouer mense sal dit nog onthou, maar die jongeres het moontlik nog nooit daarvan gehoor nie.

Fotoverhale was vir meer as 20 jaar baie gewilde leesstof in Suid-Afrika. Die verhaal is vertel met fotos wat die aksie uitbeeld, byskrifte onder die fotos en die dialoog was in spraakborrels. Elke boekie was tussen 80 en 100 bladsye, lank genoeg om ‘n volle storie te vertel. Die buiteblad was in kleur maar die verhaal self was swart en wit fotos. Daar was verskillende reekse verhale elkeen met sy eie held of heldin. Elke uitgawe binne ‘n reeks was ‘n splinternuwe verhaal met dieselfde hoofkarakter maar met verskillende bykarakters.

Die karakters (of helde) was huishoudelike name. Almal het geweet van Mark Condor, Ruiter in Swart, Suster Louise en die ander. Die akteurs was ook baie bekend, byvoorbeeld Danie van Rensburg en Martin Pols. Die skrywers het nie net fotoverhale geskryf nie, maar het ook ander ontspanningslektuur geskryf, soos Gerrit van Zyl wat ook bekend was as Gerrie Radlof. Fotoverhale het baie goed verkoop. Mark Condor se gemiddelde sirkulasie was 180,000 en het vir 23 jaar onafgebroke verskyn. Republikeinse Pers was die grootse uitgewer en het behalwe fotoverhale ook tydskrifte, soos Keur, gepubliseer. So suksesvol was hierdie maatskappy dat dit in 1979 61% van Suid-Afrika se advertensiebegroting getrek het. Fotoverhale is in Afrikaans, Engels en verskeie swart tale gepubliseer.

Die “vader” van die fotoverhaal was Hint Hyman, ‘n boer van die Vrystaat. Hy het op sy plaas daarmee begin en toe later na Durban verhuis. Fotoverhale het ook ‘n inkomste gebied aan skrywers, fotograwe, akteurs, modelle en studente. Die gemiddelde loon per dag was R40, na belasting R30. In daardie jare, nie iets om te versmaai nie. Die akteurs het hulle eie kostuums verskaf. Die akteurs was dikwels ook hulle eie waaghalse.

Vandag word hierdie boekies as Africana beskou en is dit gesogte versamelaarsitems. Blykbaar word sulke boekies vir tussen R5 en R10,000 verkoop.

Daar word beweer dat die boekies verbode lektuur in sommige huise was. As mens die sukses van die boekies in ag neem, moes die verbod nie baie doeltreffend gewees het nie. Mens kan jou indink dat sommige ouers en onderwysers dalk nie fotoverhale as opvoedkundig beskou het nie. Dit was ook nie bedoel om opvoedkundig te wees nie, dit was ontspanningslektuur. Daar word  geglo dat kinders wat nie anders sou lees nie, tog baat gevind het deur die lees van fotoverhale.

Die fotoverhaal was nie net ‘n Suid-Afrikaanse verskynsel nie. In Engels word dit ‘n photonovel of fumetti genoem. Sommige Hollywood akteurs, soos Sophia Loren, het in fotoverhale verskyn. In die VSA is films en televisiereekse aangepas en gepubliseer as fotoverhale, byvoorbeeld Buck Rodgers en Star Trek. Nogtans was die oorsese fotoroman nie presies dieselfde ding as die Suid-Afrikaanse weergawe nie.

Alhoewel daar ooreenkomste was tussen die fotoverhaal en strokiesprente (comic books), was daar ook groot verskille. Hierdie boekies was gewild in die tydperk voor Suid-Afrika televisie gehad het. Ons kan dit sien as ‘n oorgang tussen die goedkoop slapbandboek en televisie. Nou se dae kyk almal die sepies op TV en lees minder as voorheen.

Maar wees nie bevrees nie, Ruiter in Swart ry nog steeds. In 2015 het daar weer ‘n Ruiter in Swart boek verskyn. Laat die skurke kennis neem en vlug! En dan – dan is daar Malboer. Laat die skurke sidder!

 

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Is dit twak, of wat?

tabak

Daar sit jy in benarde omstandighede. Jy is in ‘n oorlewingsituasie. Daar is peste en jy het kwale. Al wat jy het, is dit wat jy in jou rugsak het. Gelukkig het jy jou rookgoed saamgebring. Jy kan dit gebruik vir die peste en kwale wat jou daar in die wildernis teister. So sê oorlewingskenners.

Tabak kan glo gebruik word vir parasiete in die ingewande. Hierdie parasiete kry jy van water en voedsel wat gekontamineer is. Jy moet so een tot een-en-‘n-half sigarette eet, dan herhaal jy dit na 24 tot 48 uur. Tabak kan ook gebruik word as ‘n afweermiddel vir insekte. Jy laat ‘n sigaret oornag in water week, dan gebruik jy die “sous” in en om jou skuiling en waar jy ookal ‘n insekprobleem het. Jy kan ook ‘n “pap” maak deur tabak te kou of met water te meng. Dit smeer jy dan op bytplekke en klein snye.  Daar word gesê hierdie “pap” is ook doeltreffend as ‘n uitwendige pynmiddel. Dit kan ook vir tandpyn gebruik word. Die Amerikaanse Rooihuide (ook bekend as Indiane) glo dit kan vir slangbyte gebruik word. In oorlewingsomstandighede is ruilhandel belangrik. Alle tabakprodukte is goeie ruilmiddels.

Bo en behalwe uiterste omstandighede, kan tabak ook effektief in die tuin gebruik word teen allerlei goggas. Molle haat glo tabak. Neem ‘n pakkie non-filter sigarette, breek dit fyn en gooi dit in mol se gat. Om van spinnekoppe ontslae te raak, gebruik pruimtabak en water om ‘n sproei te maak.

Die Rooihuide het ook tabak gebruik vir velontstekings en rumatiek. Hulle het ook geglo die rook van tabak help vir asma. In Indië word gepoeierde tabak gebruik as tandepasta. Daar is selfs sprake dat lyers van sekere geestesongesteldhede baat vind deur tabak te gebruik.

Ek kan niks van bogenoemde bevestig nie, ek noem dit bloot vir die interessantheid daarvan. Indien jy hierdie rate ernstig oorweeg, moet jy liewer deskundiges raadpleeg.

Produkte wat van gedroogde tabakblare gemaak word, is pyptabak, sigare, sigarette, pruimtabak, snuif en gegeurde sisha. In Swede is daar ‘n nuwe ding wat snus genoem word. Dit word onder die bolip geplaas en gesuig. Van die vloeistowwe wat in vape gebruik word, word ook van tabak gemaak. Pruimtabak word gekou en snuif is ‘n tabakpoeier wat in die neus opgesnuif word. Die meeste tabakprodukte word gerook.

Bekendes het die volgende te sê gehad oor die rook van tabak –

Johnny Carson: I know a man who gave up smoking, drinking, sex, and rich food. He was healthy right up to the day he killed himself.

Albert Einstein: I believe that pipe smoking contributes to a somewhat calm and objective judgment in all human affairs.

CS Lewis: A pipe gives a wise man time to think, and a fool someting to stick in his mouth.

Mark Twain: I smoke in moderation. Only one cigar at a time.

 

 

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Nuwe woorde vir nuwe dinge

ba6de60f88c45f403b92d0e67319f107

Toe ek op skool was, was krieket nie een van die sportsoorte wat aangebied is nie. Krieket was wel gespeel by die groot Afrikaanse skole en by Engelse skole. Dit was toe nog hoofsaaklik ‘n Engelse sport.

Teen omtrent 1965, het Peter van der Merwe die kapteinskap van die Suid-Afrikaanse span oorgeneem en het hy en sy span (wat die Pollocks, Eddie Barlow en Dennis Lindsay ingesluit het), groot helde geword. Ewe skielik het die Boertjies begin belangstel. Nie lank nie, toe word krieket op die Afrikaanse Diens van die SAUK uitgesaai. Daar was net een klein probleemtjie: daar was geen krieketterminologie in Afrikaans nie.

Die Nederlanders het sommer die Engelse terminologie gebruik. Nie ons nie. Ons het ‘n volledige Afrikaanse krieketterminologie geskep. Persone soos Edwill van Aarde het gehelp om hierdie groot werk te doen. Ek kan onthou hoe die omroepers die luisteraars gevra het om voorstelle in te stuur. Die gevolg was dat krieket se gewildheid by Afrikaanssprekendes ontplof het.

Dit was nie net die geval met krieket nie. Ons het ons eie terminologie ontwikkel vir elke ding onder die son. Vandag het ons vaktaalwoordeboeke vir alles en nog wat. Jy kan blomme rangskik, sweiswerk doen, die sterre bestudeer, springstof gebruik, veesiektes behandel – alles in Afrikaans. Hierdie groot taak is gedoen deur toegewyde mense. Dit was nie maklik nie en dit het ‘n lang tyd geneem.

Danksy dit alles, kan Afrikaans op gelyke voet met die wêreldtaal Engels meeding. Daar is niks wat in Engels gesê kan word, wat ons nie ook in Afrikaans kan sê nie. Dikwels is Afrikaans ook meer beskrywend as Engels.

Mens kry die indruk dat Afrikaanssprekendes daarvan hou om nuwe woorde te skep en met woorde te speel. As iemand daarin slaag om ‘n nuwe woord daar te stel, voel hulle trots daarop.

Baie nuwe woorde is nie blywend nie, hulle word nie algemeen gebruik nie en dan verdwyn hulle in die vergetelheid. Dit is eers wanneer ‘n nuwe woord inslag vind by taalgebruikers dat dit in woordeboeke opgeneem word.

Van die bekendste woorde in Afrikaans, wat oorspronklik ‘n nuwe woord was, is onder andere kitskoffie, hysbak en slypskool. ‘n Negejarige dogter is trots daarop dat sy woorde ken wat haar maatjies nie ken nie, byvoorbeeld blaasroertjie en kolwyntjie (danksy ‘n paar ou Afrikaanse storieboeke).

Soos ons almal weet, is daar nou weer ‘n veldtog teen Afrikaans. Afrikaans word oral afgeskaf, selfs in tradisionele Afrikaanse skole en universiteite. Ook in die sakewêreld en werkplek. Hoewel Afrikaans gelyk aan Engels is, word Afrikaans verhinder om tot sy volle vermoë gebruik te word.

Dat die erwe van ons vadere vir ons kinders ook erwe bly (Die Stem)

 

 

 

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Groot Droogtes

obwizpc

Ons in Suidelike-Afrika behoort gewoond te wees aan droogtes, in ons geskiedenis was daar al heelwat droogtes. Daar is tans (2016) ook ‘n ernstige droogte aan die gang.

As iemand praat van “die Groot Droogte”, dink mens eerste aan die tydperk 1932-1933. Voor dit en daarna was daar ook droogtes. Meer onlangs was daar droogtes in die jare 1966-1968, in 1982-1984, weer in 1989-1991 en ook in 2003-2004.

Oor die 1932-1933 Groot Droogte is heelwat bekend. Veeboere het enorme hoeveelhede vee verloor. Die droogte het boonop saamgeval met die Groot Depressie. Die ekonomiese krisis is vergroot omdat Suid-Afrika die goudstandaard verlaat het. Waar daar reeds kapitaal uit die land onttrek was, word toe nog meer onttrek. Dit alles het die armblanke vraagstuk ‘n hupstoot gegee. Dit weer het tot ‘n politieke krisis gelei. Die uiteinde was dat Genl Hertzog en Genl Smuts saam die Verenigde Party gestig het. As gevolg van dit het Dr DF Malan, Adv Hans Strijdom en Adv CR (Blackie) Swart weggebreek van Genl Hertzog af.

‘n Ooggetuie het vertel dat by hom die veld soos woestyn gelyk het. Die vee het oraloor gevrek en die wat oorleef het, was verswak. In Julie 1933 het sterk winde begin waai en in November was daar ‘n verskriklike stofstorm. Dit het begin reën op 13 November 1933, teen middel Desember het die gras sigbaar geword en teen Februarie 1934 het alles herstel. Vir hom was dit ‘n wonderwerk wat hy aanskou het.

Tydens 2003-2004 was daar veral in Wes-Transvaal (tans Noordwes) en Wes-Vrystaat ‘n ernstige droogte. Oppervlaktes waar mielies aangeplant word, het aansienlik verminder. Te min grondvog was ook ‘n probleem. Van 1994 af het die staat langtand geword om die landbou te ondersteun.

Die droogte van 1989-1991 het Suid-Afrika se kwesbaarheid ten opsigte van voedselvoorsiening onderstreep. In die Klein-Karoo was daar geen besproeingswater vir lusern- en groenteboere nie. Verskeie gebiede in die Karoo is tot rampgebiede verklaar. 75% van die graanoes is vernietig. Die destydse staat het ‘n hulpskema vir landbou ingestel en ‘n rekord hoeveelheid mielies moes ingevoer word.

1982-1984 se droogte was beskou as die ergste in 200 jaar. Groot getalle beeste het gevrek en weiding was uitgeput. Die mielieoes en grondbone-oes is verwoes. Omtrent 70% van die boere in die Vrystaat het geen oes gehad nie. Die Hardapdam (Namibië) se waterstand was net 12% en die Vaaldam se invloei het ‘n rekordlaagtepunt bereik. Ander rampe in hierdie tydperk was die vloedramp in Laingsburg in 1981 en die sikloon Demoina in 1984.

Die droogte van 1966-1968 is die Swartdroogte genoem. Verskeie getuies, ekself ook, onthou dit soos gister. Die regering van destyds het ‘n nasionale biddag uitgeroep. Besighede het toegemaak en hulle personeel toegelaat om te gaan bid. Terwyl ons in die kerk sit en bid, het dit begin reën. Nie net by ons nie, maar op verskeie plekke dwarsoor Suid-Afrika.

Droogtes raak natuurlik nie net die mens nie. Die aarde, die plante, die insekte, die diere word daardeur getref. Sulke rampe raak in die eerste plek die indiwidu en sy gesin. Groot getalle mense se lewens word verwoes, baie word in armoede gedompel. Die belangrikste is wat dit aan die binneste van mense doen, daar is geestelike gevolge.

Alhoewel ekself getuig dat gebede beantwoord word, en beleef het dat dit begin reën het terwyl ons gebid het vir reën, dink ek nie dat gebedsveldtogte vandag die regte ding is nie. In die 1960’s het meeste mense nog vertrou op God, ek dink nie dit is vandag nog so nie. Daar het ‘n groot afvalligheid plaasgevind. Die destydse regering het nog bestaan uit morele mense, vandag is dit meer waar nie. Sal vandag se regering ‘n biddag uitroep? Sal die sakesektor hulle besighede toemaak en hulle personeel afgee? Om slegs gebedsveldtogte uit te roep in tye van nood is ook nie reg nie. Wat van tye wanneer daar nie nood is nie?

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin