Groot Droogtes

obwizpc

Ons in Suidelike-Afrika behoort gewoond te wees aan droogtes, in ons geskiedenis was daar al heelwat droogtes. Daar is tans (2016) ook ‘n ernstige droogte aan die gang.

As iemand praat van “die Groot Droogte”, dink mens eerste aan die tydperk 1932-1933. Voor dit en daarna was daar ook droogtes. Meer onlangs was daar droogtes in die jare 1966-1968, in 1982-1984, weer in 1989-1991 en ook in 2003-2004.

Oor die 1932-1933 Groot Droogte is heelwat bekend. Veeboere het enorme hoeveelhede vee verloor. Die droogte het boonop saamgeval met die Groot Depressie. Die ekonomiese krisis is vergroot omdat Suid-Afrika die goudstandaard verlaat het. Waar daar reeds kapitaal uit die land onttrek was, word toe nog meer onttrek. Dit alles het die armblanke vraagstuk ‘n hupstoot gegee. Dit weer het tot ‘n politieke krisis gelei. Die uiteinde was dat Genl Hertzog en Genl Smuts saam die Verenigde Party gestig het. As gevolg van dit het Dr DF Malan, Adv Hans Strijdom en Adv CR (Blackie) Swart weggebreek van Genl Hertzog af.

‘n Ooggetuie het vertel dat by hom die veld soos woestyn gelyk het. Die vee het oraloor gevrek en die wat oorleef het, was verswak. In Julie 1933 het sterk winde begin waai en in November was daar ‘n verskriklike stofstorm. Dit het begin reën op 13 November 1933, teen middel Desember het die gras sigbaar geword en teen Februarie 1934 het alles herstel. Vir hom was dit ‘n wonderwerk wat hy aanskou het.

Tydens 2003-2004 was daar veral in Wes-Transvaal (tans Noordwes) en Wes-Vrystaat ‘n ernstige droogte. Oppervlaktes waar mielies aangeplant word, het aansienlik verminder. Te min grondvog was ook ‘n probleem. Van 1994 af het die staat langtand geword om die landbou te ondersteun.

Die droogte van 1989-1991 het Suid-Afrika se kwesbaarheid ten opsigte van voedselvoorsiening onderstreep. In die Klein-Karoo was daar geen besproeingswater vir lusern- en groenteboere nie. Verskeie gebiede in die Karoo is tot rampgebiede verklaar. 75% van die graanoes is vernietig. Die destydse staat het ‘n hulpskema vir landbou ingestel en ‘n rekord hoeveelheid mielies moes ingevoer word.

1982-1984 se droogte was beskou as die ergste in 200 jaar. Groot getalle beeste het gevrek en weiding was uitgeput. Die mielieoes en grondbone-oes is verwoes. Omtrent 70% van die boere in die Vrystaat het geen oes gehad nie. Die Hardapdam (Namibië) se waterstand was net 12% en die Vaaldam se invloei het ‘n rekordlaagtepunt bereik. Ander rampe in hierdie tydperk was die vloedramp in Laingsburg in 1981 en die sikloon Demoina in 1984.

Die droogte van 1966-1968 is die Swartdroogte genoem. Verskeie getuies, ekself ook, onthou dit soos gister. Die regering van destyds het ‘n nasionale biddag uitgeroep. Besighede het toegemaak en hulle personeel toegelaat om te gaan bid. Terwyl ons in die kerk sit en bid, het dit begin reën. Nie net by ons nie, maar op verskeie plekke dwarsoor Suid-Afrika.

Droogtes raak natuurlik nie net die mens nie. Die aarde, die plante, die insekte, die diere word daardeur getref. Sulke rampe raak in die eerste plek die indiwidu en sy gesin. Groot getalle mense se lewens word verwoes, baie word in armoede gedompel. Die belangrikste is wat dit aan die binneste van mense doen, daar is geestelike gevolge.

Alhoewel ekself getuig dat gebede beantwoord word, en beleef het dat dit begin reën het terwyl ons gebid het vir reën, dink ek nie dat gebedsveldtogte vandag die regte ding is nie. In die 1960’s het meeste mense nog vertrou op God, ek dink nie dit is vandag nog so nie. Daar het ‘n groot afvalligheid plaasgevind. Die destydse regering het nog bestaan uit morele mense, vandag is dit meer waar nie. Sal vandag se regering ‘n biddag uitroep? Sal die sakesektor hulle besighede toemaak en hulle personeel afgee? Om slegs gebedsveldtogte uit te roep in tye van nood is ook nie reg nie. Wat van tye wanneer daar nie nood is nie?

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui