Boeke met prentjies

9567c980c14becf977328a5e91d5b296

Die ouer mense sal dit nog onthou, maar die jongeres het moontlik nog nooit daarvan gehoor nie.

Fotoverhale was vir meer as 20 jaar baie gewilde leesstof in Suid-Afrika. Die verhaal is vertel met fotos wat die aksie uitbeeld, byskrifte onder die fotos en die dialoog was in spraakborrels. Elke boekie was tussen 80 en 100 bladsye, lank genoeg om ‘n volle storie te vertel. Die buiteblad was in kleur maar die verhaal self was swart en wit fotos. Daar was verskillende reekse verhale elkeen met sy eie held of heldin. Elke uitgawe binne ‘n reeks was ‘n splinternuwe verhaal met dieselfde hoofkarakter maar met verskillende bykarakters.

Die karakters (of helde) was huishoudelike name. Almal het geweet van Mark Condor, Ruiter in Swart, Suster Louise en die ander. Die akteurs was ook baie bekend, byvoorbeeld Danie van Rensburg en Martin Pols. Die skrywers het nie net fotoverhale geskryf nie, maar het ook ander ontspanningslektuur geskryf, soos Gerrit van Zyl wat ook bekend was as Gerrie Radlof. Fotoverhale het baie goed verkoop. Mark Condor se gemiddelde sirkulasie was 180,000 en het vir 23 jaar onafgebroke verskyn. Republikeinse Pers was die grootse uitgewer en het behalwe fotoverhale ook tydskrifte, soos Keur, gepubliseer. So suksesvol was hierdie maatskappy dat dit in 1979 61% van Suid-Afrika se advertensiebegroting getrek het. Fotoverhale is in Afrikaans, Engels en verskeie swart tale gepubliseer.

Die “vader” van die fotoverhaal was Hint Hyman, ‘n boer van die Vrystaat. Hy het op sy plaas daarmee begin en toe later na Durban verhuis. Fotoverhale het ook ‘n inkomste gebied aan skrywers, fotograwe, akteurs, modelle en studente. Die gemiddelde loon per dag was R40, na belasting R30. In daardie jare, nie iets om te versmaai nie. Die akteurs het hulle eie kostuums verskaf. Die akteurs was dikwels ook hulle eie waaghalse.

Vandag word hierdie boekies as Africana beskou en is dit gesogte versamelaarsitems. Blykbaar word sulke boekies vir tussen R5 en R10,000 verkoop.

Daar word beweer dat die boekies verbode lektuur in sommige huise was. As mens die sukses van die boekies in ag neem, moes die verbod nie baie doeltreffend gewees het nie. Mens kan jou indink dat sommige ouers en onderwysers dalk nie fotoverhale as opvoedkundig beskou het nie. Dit was ook nie bedoel om opvoedkundig te wees nie, dit was ontspanningslektuur. Daar word  geglo dat kinders wat nie anders sou lees nie, tog baat gevind het deur die lees van fotoverhale.

Die fotoverhaal was nie net ‘n Suid-Afrikaanse verskynsel nie. In Engels word dit ‘n photonovel of fumetti genoem. Sommige Hollywood akteurs, soos Sophia Loren, het in fotoverhale verskyn. In die VSA is films en televisiereekse aangepas en gepubliseer as fotoverhale, byvoorbeeld Buck Rodgers en Star Trek. Nogtans was die oorsese fotoroman nie presies dieselfde ding as die Suid-Afrikaanse weergawe nie.

Alhoewel daar ooreenkomste was tussen die fotoverhaal en strokiesprente (comic books), was daar ook groot verskille. Hierdie boekies was gewild in die tydperk voor Suid-Afrika televisie gehad het. Ons kan dit sien as ‘n oorgang tussen die goedkoop slapbandboek en televisie. Nou se dae kyk almal die sepies op TV en lees minder as voorheen.

Maar wees nie bevrees nie, Ruiter in Swart ry nog steeds. In 2015 het daar weer ‘n Ruiter in Swart boek verskyn. Laat die skurke kennis neem en vlug! En dan – dan is daar Malboer. Laat die skurke sidder!

 

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui