Die Boerebruilof

proposal-of-marriage-1724676_960_720In wese is die huwelik ‘n kontrak tussen ‘n man en ‘n vrou waarin hulle plegtige beloftes aan mekaar maak. Hierdie beloftes is lewenslank en handel oor getrouheid en saamstaan in alle omstandighede. Die huwelik is die tweede van die drie groot lotsgebeurtenisse (geboorte, huwelik en dood) in elke mens se lewe. Die proses van die huwelik sluit in hofmaak, verlowing en huwelik.

Die tipiese huwelik van vandag is grootliks volgens die Britse tradisie (of is dit Hollywoodtradisie?), dit is dan ook hierdie tradisie wat in tydskrifte bespreek word. Die Oud-Germaanse huwelik was heelwat anders, byvoorbeeld die bruid sou ‘n groen (teken van vrugbaarheid) rok dra. Die huweliksfees sou drie dae duur en iewers tydens die fees sou die bruidspaar aankom. Hulle het ook nie ‘n formulier gehad nie.

Eers was daar die Oud-Germaanse huwelik, toe het dit verchristelik en daarna het dit ‘n Nederlandse karakter gekry. Die huwelik wat van Nederland na die Kaap gebring is, moes aangepas word by plaaslike omstandighede. Die Boerebruilof is daardie gebruike, seremonies en tradisies wat deur die Boerevolk ontwikkel is tydens die pionierstydperk.

‘n Jong kêrel kon na sy aanneming (in die kerk) begin kuier. Meisies het van omtrent 14 jarige ouderdom “oor die onderdeur begin loer”. Daar was verskeie bygelowe en gebruike om vas te stel wie die meisie se “toekomstige deel” sal wees. Jongmense het mekaar leer ken by feesdae, verjaarsdae, nagmaal, pieknieks en Saterdagmiddae. Die ouers van die jongmense het ook belang gestel in die toekomstige skoonfamilies, want ‘n huwelik bring ‘n bloedband tot stand.

As ‘n jongman sy ouers se goedkeuring het, kan hy begin om ‘n sekere meisie se hand te verower. Tussengangers is gebruik om “die water te toets”. Die meisie se gesin (nie syself nie) wag die vryer in en laat hom tuis voel. Hy moet dan hulle toestemming kry om met haar te gesels. Die ouers het vroeg gaan slaap terwyl die paartjie “opsit”. Die ouers het deur die gebruik van die “opsitkers” probeer sorg dat die vryery nie hande uitruk nie. Die jongman het gekyk vir tekens of die meisie van hom hou en of daar mededingers is.

‘n Meisie was hubaar as sy al die take van ‘n boervrou kon doen. ‘n Jongman moes al selfstandig geword het en ‘n eie boerdery kon behartig. Albei ouerpare moes toestemming gee (“ouersvra”) dat die paartjie verloof kan word. Hulle moes skriftelike “consent” kry. Die moeder van die meisie het eerste gehoor en sy moes die vader dan voorberei. Die vader het dan die kêrel ondervra en die leviete voorgelees. Die verlowing het geduur vanaf “consent” tot die huwelik. Die “gebooie” is vir drie Sondae afgekondig in die kerk. Die doel daarmee was dat die algemene publiek kan kennis neem en besware indien. Die kêrel moes persoonlik aan die naaste bloedverwante die nuus gaan oordra. Die kêrel moes op die naaste dorp “die kaart” gaan haal om die meisie se vinger te meet vir die ring. Die verlowing was ‘n ernstige saak en die verbreking daarvan net so ernstig as egskeiding.

Aanvanklik was die troudag Sondae. Daar was strooimeisies, blommemeisies, hofknape en seremoniemeesters. Die bruidsrok was volgens die heersende mode, die bruidegom het ‘n manelpak gedra. Die troukoek was ‘n drielaag vrugtekoek. Die bruid se familie sit links in die kerk, die bruidegom se familie aan die regterkant. Aanvanklik het die bruid op die arm van die bruidegom die kerk ingekom, later op die arm van die strooijonker en nog later op die arm van haar vader. Na die lees van die huweliksformulier is die trouring aangesteek.

Op plase was die bruilofstoet ‘n skouspel met ‘n orkes op ‘n wa en ‘n vlagryer. Sarsies skote is in die lug afgevuur. Daar was ook ‘n ereboom en blomme. Na die feesmaal was daar ‘n dans. Indien daar nie gedans word nie, is daar speletjies gespeel. Behalwe ‘n bruidskat het gaste ook geskenke gebring. Die Wittebrood was onbekend voor die 20ste eeu.

‘n Wewenaar kon na 3 maande hertrou en ‘n weduwee na 5 maande. Egskeidings het min voorgekom.

Volgens die Nederlandse tradisie was die huwelik ‘n burgerlike saak met kerklike inseëning opsioneel. Volgens die Britse tradisie is die huwelik ‘n staatsaangeleentheid en kan slegs ‘n staatsaangestelde bevestiger huwelike voltrek (dit sluit predikante in). Die Boererepublieke het die Nederlandse tradisie gevolg. Later het die staat die huwelikswet ingestel.

Voorhuwelikse seks is nie gesien as ‘n huwelik nie, maar die ouers en gemeenskap het vereis dat verantwoordelikhede nagekom moet word. Wanneer ‘n man en vrou saamgewoon het asof hulle getroud is, was dit ‘n redelike afleiding dat hulle wel getroud is volgens die gemene reg. Hulle is dus getroud geag, al het hulle nie formeel in die kerk of voor die magistraat getrou nie.

Omdat die huwelik ‘n lewenslange verbintenis is, is die keuse van ‘n lewensmaat een van die heel belangrikste besluite wat iemand kan neem. Daarom is van jongs af daaroor gedink, gepraat en gedroom.

Waar geboorte die begin van iemand se lewe is, is die huwelik die begin van ‘n gesin. Indien jy ‘n kind sou vra: “Wat gaan jy eendag word as jy groot is?” Dan was die antwoord: “‘n pappa of ‘n mamma”. Van kleins af is kinders voorberei vir die huwelik en die gesinslewe. ‘n Kind se toekoms was nie sy beroep nie, dit was sy gesin.

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui