Die bou van Hoofrifweg

800px-main_reef_roodepoortIn die tydperk 1890 tot 1896 in die Zuid-Afrkaansche Republiek, kon geen Boer, Hollander of Duitser werk kry by die myne of by die Engelse aan die Rand nie. Pas aangekome Uitlanders kon ‘n beter bestaan maak as Boere omdat hulle geskoold was, Engels kon praat en ‘n beter aanvoeling vir die bedryfslewe gehad het. Werkloses van die Boerevolk het verwag dat die regering hulle moet help aangesien hulle burgers van die land was.

In 1896 het ’n ekonomiese ramp ’n groot deel van Suidelike-Afrika getref. Dit is veroorsaak deur die runderpes (die Nederlandse woord vir beeste is “runderen”). ’n Jong veearts van Switserse afkoms, dokter Arnold Theiler van Pretoria, is deur president Kruger geraadpleeg oor stappe wat geneem kon word om die runderpes te bestry. (Theiler was ’n Transvaalse burger wat in die Anglo-Boereoorlog aan Boerekant geveg het). Die Transvaal was te groot en dit was moeilik om effektief op te tree. In April het runderpes in ’n swart gebied in die Marico-omgewing uitgebreek. Binne ’n paar maande het dit deur Transvaal, die Vrystaat en die Kaapkolonie versprei. Die verliese was enorm. Twee-derdes van die Transvaalse veestapel is binne maande verloor. Die verlies van soveel beeste, wat baie mense se enigste bron van rykdom was, het baie veeboere swaar getref.

Net die volgende jaar, 1897, was daar ‘n ekonomiese insinking. Die Boere aan die Rand is besonder hard getref. Teen 1897 was die vraag na arbeid versadig en werkgewers het die lone van hulle werkers verlaag. Kapitaalinvloei uit Europa het afgeneem of is onttrek. Selfs die geskoolde Uitlanders het gesukkel om werk te kry. Werkloosheid het ‘n krisis geword.

In Augustus 1897 is die Rand Hulp Komitee gestig. Hulle besluit op die bou van Hoofrifweg (ook bekend as Main Reef Road) sodat arm Boere werk kan kry. Die mense was gretig om te werk, hulle was stiptelik, hulle het nie siekverlof misbruik nie. Binne ‘n jaar is bykans 48 kilometer voltooi. Die projek moes gestaak word met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899.

‘n Ander projek van die Rand Hulp Komitee was om openbare washuise op te rig om werk aan vroue te voorsien. Die ZAR volksraad het 2 morg grond in Braamfontein beskikbaar gestel. Die projek kon nie uitgevoer word nie weens die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899.

Die Sendingsusters van die kerke het gekonsentreer op die uitdeel van kos en klere en het ook Sopkombuise in 1898 gestig. Ongelukkig het hulle nie die probleem werklik verstaan nie en het nie werkverskaffing as oplossing gesien nie.

Privaat firmas het probeer om Boereseuns as bodes te gebruik, maar dit het misluk. Volgens hulle was die seuns “badly educated, practically useless, utterly unreliable”. ‘n Soortgelyke poging deur die Engelse aan die Rand om Boeremeisies as diensmeisies te gebruik het ook misluk: “they knew more about inspanning oxen than about domesticity”.

Dit is op hierdie treurige noot wat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het. Dit was die begin van die armblankevraagstuk wat vir dekades voortgeduur het.

Hier het die Boerevolk hulle eie land gehad met hulle eie regering en hulle eie staatsbestel. Die volk het verwagtinge van hulle regering gehad en die regering het verantwoordelikhede teenoor die volk gehad. Was die ZAR-regering sosialisties? Ek is nie ‘n ekonoom nie, maar vir my klink dit nie sosialisties nie. Die regering het ‘n komitee aangestel om die probleem aan te spreek. Die ZAR-regering (en vermoedelik die publiek) het middele aan die komitee voorsien om te kan optree. Die komitee het die oplossing in werkskepping gesien, nie in die gee van korttermyn hulp nie.

 

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui