Die Boerevolk en Kersfees

Die viering van Kersfees onder die Boerevolk is nie baie oud nie en daar is ook geen eie tradisie daaromtrent nie. Dit het eers laat in die negentiende eeu inslag gevind, veral as gevolg van Duitse en Engelse invloed. Aanvanklik was dit suiwer ‘n kerklik-godsdienstige fees sonder uiterlike vertoon. Tot omstreeks 1825 was Kersfees ‘n gewone werksdag en is die dag stil by die huis deurgebring.

Engeland het in 1834 Kersfees amptelik erken. Die Calvinistiese kerke in Suidelike-Afrika het die voortou geneem om Kersfees en die geboorte van Christus amptelik erken te kry. In 1865 het die ZAR en in 1891 het die Vrystaat Kersfees amptelik erken. Vir ‘n ruk was dit die gebruik om Kersfees as Nagmaal te vier. Op sommige plekke is pieknieks gehou. Dit het ook ‘n gesellige gesins- en familiefees geword.

Die kersboom het uit Duitsland na die res van Europa versprei. In Engeland het dit in 1841 gewild geword. In 1855 is die eerste kersboom in Kaapstad opgerig. Die Afrikaanse kerke het die kersboom van 1888 af begin goedkeur, hulle het nie ‘n probleem met die boom of geskenke gehad nie, wel met Kersvader.

Die gee van kersgeskenke was algemene gebruik onder Engelssprekendes in Suidelike-Afrika. Die Boerevolk het op Nuwejaar geskenke gegee, nie op Kersfees nie. Dit was in ooreenstemming met die gebruik in verskillende Europese lande.

Die kersmaal het in 1890 gewild geword by Afrikaanssprekendes. Op plekke was daar ook perderesies, skyfskiet en vuurwerke op die dag voor Kersfees. Die sing van kersliedere en die stuur van kerswense is twee ou Engelse gebruike. Die eerste kerskaartjie dateer uit 1846 in Engeland. Die eerste Afrikaanse kerskaartjie verskyn in 1916. In 1949 het “Kersliedere by kerslig” uit Australië oorgewaai. Dit is aanvanklik deur die kerke afgekeur. Vandag is daar ‘n hele bedryf vir kersfeesmusiek.

Aanvanklik het die Afrikaanse kerke hulle verset teen Kersvader / Sinterklaas. Vandag is Kersvader oral te vinde. Die kerskous het nie onder die Boerevolk navolging gekry nie.

Vandag is daar drie verskillende Kersfeeste: die kerklik-godsdienstige model, die heidense model en die geldmaak model. Al drie is dikwels ineengestrengel.

Onder die Boerevolk is die kerklik-godsdienstige Kersfees nog steeds die belangrikste en daar word steeds kerkdienste op kersdag gehou. Die Boerevolk het geen eie tradisies en gebruike omtrent Kersfees nie. Alles is die navolging van gebruike in Westerse lande soos Duitsland, Brittanje en Amerika.

Kerklik-godsdienstig is nie sinoniem met Christelik of Bybels nie. Daar is natuurlik geen regverdiging uit die Bybel vir Kersfees of die vier van Christus se geboorte nie. Dit is ‘n mensgemaakte instelling waarmee simboliese betekenis gegee word aan gebruike en voorwerpe wat ook ander betekenisse kan hê.

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui