Skape, wolwe in skaapsklere en die skaapwagter

Christelike boeke is ‘n groot bedryf. Sekerlik is daar kwantiteit, die bekommernis is oor kwaliteit. Want sien, ons christene is goedgelowig en is geneig om te goeder trou na verkeerde stemme te luister.

Een van die gevaarligte wat flikker, is dat baie christene nie die Bybel goed ken nie, ook nie basiese kennis van geloofsake het nie en verder nie veel verskillend van nie-christene leef nie. Verder bly hulle, na bekering, onvolwasse in geestelike sake. Dit maak dat hierdie christene ‘n maklike prooi is van valse leringe en valse leraars.

Daar is volop valse leraars wie se boeke soos soetkoek verkoop. Hierdie boeke handel oor populêre onderwerpe wat die belangstelling prikkel. Die hoofdoel met hierdie boeke is om geld te maak en is nie gerig op die opbou en versterking van gelowiges nie.

Die christelike boekwinkel se probleem is dat hulle nie iedere boek wat publiseer word, kan lees nie. Die boekwinkel kan nie instaan vir die kwaliteit van elke boek op sy rakke nie. Die boekwinkel het natuurlik ‘n winsmotief en wil graag net boeke aanhou wat verkoopbaar is. Die verantwoordelike handelaar sal dus moeite doen om kwaliteit boeke, wat verkoopbaar is, aan te hou, maar kan geen waarborge oor inhoud gee nie. Die onus rus op die koper om sulke boeke te kies wat aan sy behoeftes sal voldoen.

Die koper van die christelike boek moet dus riglyne hê om tussen boeke – en leringe – te kan onderskei. Die Heilige Skrif, die Bybel, is die beste maatstaf waarteen ander boeke gemeet kan word. Alle ander christelike boeke is, gemeet aan die Skrif, onvolmaak en het gebreke en foute. Ons moet dus die boeke wat ons lees, deurgaans toets aan ons waterpas, die Skrif.

Een van die dinge wat die boekkoper kan doen, is om meer uit te vind van die skrywer. Daar is gewoonlik ‘n kort beskrywing van die skrywer in die boek. Indien dit onvoldoende is, doen ‘n soektog op die internet. Lees die voorwoord tot die boek. Daarin word meer vertel oor die boek, die doel daarmee, die tema, die gedagtes daaragter. Kyk binne die boek, en ook op die buiteblad, vir enige verdere inligting.

Vra jouself af of die boek getrou is aan die boodskap van die Bybel. Is dit nuttig om die boek te lees? Is die boek bevorderlik vir jou geestelike lewe? Hierdie, en ander, vrae gee aan jou ‘n maatstaf wat jy kan gebruik terwyl jy lees, en ook wanneer jy die boek klaar gelees het.

Bespreek die boek met ander mense. Deur daaroor te praat, verbeter jy jou begrip en insig oor die boek. Die kommentaar en kritiek van ander mense sal jou help om te sien of jy die sterk en swak punte van die boek kon raaksien.

Bespreek die boek met jou Vader in die hemel in jou gebede. Hy sal weet of die boek hom vereer of nie. Vra Hom om leiding nog voordat jy die boek gekoop het, en weer daarna wanneer jy die boek klaar gelees het.

Lees nog boeke oor dieselfde onderwerp. Dit is ‘n manier hoe jy jou kennis en insig oor die onderwerp kan vermeerder. Kerkgenootskappe sal verkies dat jy boeke lees wat ooreenstem met hulle leerstellings. Vir die beginner is dit ‘n veilige weg. Die meer ervare leser mag daarby baat om ook ander leerstellige sienings te ondersoek en te vergelyk. Die doel van die lees van christelike boeke is die soeke na onpartydige waarheid.

Ons verstaan dat skrywers, uitgewers en handelaars geregtig is om kostes te verhaal en ‘n wins te maak. Wanneer alles net oor geldmaak gaan, het ons ‘n probleem. Die leser van christelike boeke moet oplet of geldmaak ‘n prioriteit by die rolspelers is.

Groei in getalle en suksesverhale van groter en luukser kerke, is duidelik van die wêreld en nie van Christus nie. Daar is godsdiensgroepe wat ‘n boodskap verkondig wat nie met die christelike leer ooreenstem nie, maar hulleself nogtans as christene beskryf. Hulle slaag ook daarin om hulle werklike identiteit te verbloem. Daar is ook skrywers en boeke wat godslasterlik is. Boeke en skrywers wat die sogenaamde “New Age” bevorder, moet vermy word. Vandag is daar ‘n verwoede aanslag op die christelike kultuurbeskouing oor seksualiteit en die huwelik. Daar is ook die poging om “politieke korrektheid” af te dwing op christene. Boeke en skrywers wat dit ondersteun moet liefs vermy word.

Die woord “ekumenies” is grootliks ‘n kodewoord vir ‘n eenwêreld godsdiens. Dit is waar die christelike geloof, die Judaïsme en Islam (en ook ander godsdienste) gelyk gestel word. Christene behoort te weet dat Christus geen kompromie met die wêreld maak nie.

Onder teoloë en predikante, ook in die Afrikaanse kerke, is daar deesdae ‘n liefdesverhouding met die sogenaamde Hoër Kritiek. Hierdie benadering tot die Bybel poog om aan te dui dat die Bybel ‘n mensgemaakte geskrif is. Bly weg van boeke en skrywers wat sulke sienings verkondig.

Die lees van kwaliteit christelike boeke het groot waarde. Daar is uitstaande boeke geskryf, boeke wat van onskatbare belang is vir elke christen. Daar is boeke wat as klassieke christelike lektuur beskryf word, boeke wat die toets van tyd deurstaan het en wat bokant alle leerstellige verskille uittroon. Sulke boeke kan aanbeveel word en christene kan aangemoedig word om dit te lees.

 

 

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die boeke van die Ou Testament

Christene verskil oor watter boeke in die Ou Testament moet wees, en watter nie. Rofweg sou mens kon sê dat dit hoofsaaklik verskille is tussen Protestante, Katolieke en Ortodokses. Elkeen het natuurlik sy eie redes waarom ‘n boek in die Bybel, of nie in die Bybel nie, moet wees. Daardie boeke wat ingesluit word, word “die kanon” genoem.

Protestante en Mormone (ook bekend as die Heiliges van die Laaste Dae) aanvaar slegs die boeke in die Hebreeuse Ou Testament (die Tanakh) as kanon. Die 24 Hebreeuse boeke is verdeel in 39 verskillende boeke. Die Katolieke, Ortodokse en Oosterse kerke het ander boeke ook in hulle kanons. Protestante noem die boeke wat hulle uitsluit “apokriewe boeke”, Katolieke noem dit “deuterokanoniek”, die Grieks Ortodokses noem dit “anagignoskomena”.

Die boeke wat die Katolieke meer het as die Protestante is Tobit, Judit, 1 Makkabeërs, 2 Makkabeërs, Wysheid van Salomo, Wysheid van Ben Sirag en Brief van Jeremia. Altesaam het hulle 46 boeke in hulle Ou Testament.

Die Ortodokses se kanon bestaan uit die 46 boeke wat die Katolieke erken, plus 1 Esdras, 3 Makkabeërs, 4 Makkabeërs, Gebed van Manasse, Barug en Psalm 151. As ek reg tel, is dit 51 boeke. Hierdie bykomende boeke is opgeneem in die Septuagint (die Griekse vertaling van die Ou Testament wat gedoen is tussen 280 en 130 v.C), maar nie in die Tanakh (die Masorete se Hebreeuse Ou Testament wat tussen die 7de en 10de eeue n.C tot stand gekom het) nie.

Die Septuagint en die Masoretiese teks verskil op baie plekke van mekaar. Aanhalings uit die Ou Testament in die Nuwe Testament, stem oor die algemeen meer ooreen met die Septuagint as met die Masoretiese Teks. Dit is dus duidelik dat die Masoretiese Teks (en dus ook die Tanakh en die Protestantse Ou Testament) nie die beste bron is nie.

In die vroeë jare van die Christendom was die enigste weergawes van die Ou Testament die Griekse Bybel (Septuagint) en die Aramese Bybel (Peshitta). Indien daar toe reeds ‘n kanon bestaan het, moes dit bestaan het uit dieselfde boeke as wat in hierdie twee Bybels was.

In die westelike deel van die Romeinse Ryk het Latyn die algemene taal geword. In omtrent 400 n.C het die Pous aan die geleerde Hiëronymus opdrag gegee om die Bybel in Latyn te vertaal. Hierdie vertaling staan bekend as die Vulgaat. Hiëronymus het die grootste deel van sy vertaling uit Hebreeus gedoen. Sommige van die boeke wat in die Septuagint is, kon hy nie in Hebreeus opspoor nie en gevolglik het hy daardie boeke uitgesluit uit sy vertaling. Hierna het die Katolieke die boeke in die Vulgaat as kanoniek aanvaar.

Die oudheid van die Peshitta word wyd en syd erken. Die presiese ontstaan van die Siries-Aramese vertaling (uit Hebreeus) is tans onbekend, maar dit word teruggevoer na die 1ste of 2de eeu n.C. Hierdie Ou Testament stem wesentlik ooreen met die Ou Testament wat deur Palestynse Jode gebruik is. Dit sluit ook die Apokriewe Boeke in. Die oorspronklike Ou Testament was nie verdeel in kanonieke en apokriewe afdelings nie, alles was een Ou Testament.

Daar is Afrikaanse vertalings van die Apokriewe Boeke beskikbaar. Die eerste staan bekend as “Ou-Testamentiese Apokriewe” deur PA Verhoef, die tweede is “Apokriewe Ou en Nuwe Testament: Verlore boeke uit die Bybelse tyd” deur Jan van der Watt en Francois Tolmie. Hierdie boeke is nie in Afrikaanse Bybels nie en moet apart aangekoop word. Dit is, sover ek kan vasstel, ook nie elektronies beskikbaar nie. Daar is ook ander boeke wat bemark word as “apokrief”, byvoorbeeld “Die boek van Henog” en “Die boek van Jasher”. Hierdie boeke is nie deel van enige kanon nie en was nie ingesluit in die oorspronklike Ou Testament nie.

Vir diegene wat die Bybel sien as “Die Woord van God” en “Die Heilige Skrif” is dit belangrik om te weet watter boeke gesaghebbend is en watter nie. Dit is immers YHWH se kommunikasie met ons, Sy openbaring van Homself aan ons.

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die besmetting van die mens

Is daar fout met die mens? Of is alles wel?

Hoekom is daar mense wat ander mense kwaad aandoen? Is dit hoe dit moet wees? Is dit maar die natuurlike toedrag van sake wat ons so moet aanvaar? Waarom is daar soveel boosheid in die mens? Die meerderheid van die mensdom beskou dit as normaal, dit is hoe dit moet wees. Sommige meen dat die mens, met die verloop van die geskiedenis,  beter word en dat boosheid verminder. Met daardie redenasie sou ons moet sien dat misdaad en onreg vandag baie minder is as wat dit ‘n duisend jaar gelede was. Nêrens is daar getuienis dat dit gebeur nie.

As dit reg is dat daar boosheid in die mens moet wees, dan is alles wat die mens doen mos reg? Misdaad kan nie bestaan nie, want dan bestaan reg en verkeerd nie. Dit is dan die probleem: alle mense dink sekere handelings is reg en ander is verkeerd. Die mens weet in homself dat ander mense gestraf moet word as hulle boosheid pleeg. Daar is binne die mens iets wat hom laat onderskei tussen wat goed is en wat boos is. Alle mense wil wette hê wat hierdie dinge reël.

Wat het gebeur dat die mens besmet geword het met boosheid? Wie kan die toestand van die mens verklaar? Daar is net een godsdiens wat dit verklaar, dit is die christelike geloof. Nie eers almal van die christelike geloof nie. Judaisme, wat die Ou Testament erken, verklaar dit ook nie.

Die verklaring word gevind in die sondeval, beskrywe in Genesis 3. Die mens was nie geskep om boos te wees nie, hy het dit gekies. Dit is die tragedie. Die eerste mense wou soos God wees en het gekies vir kennis van goedheid en boosheid. Dit was uitdruklik teen God se wil, teen sy bevel en teen sy waarskuwing. Hierdie ramp was nie net van toepassing op die eerste twee mense nie, maar ook op alle mense wat uit hulle sou kom. Die ganse mensdom is nou, tot die einde van dae, besmet met ‘n sondige aard.

Hierdie boosheid van die mens is vir die Skepper van die mens onaanvaarbaar. Hy, YHWH, sal dit nooit aanvaar of ‘n kompromie daarmee maak nie. Wat nou? Daar is geen manier hoe die mens op sy eie meriete met YHWH versoen kan word nie. Die boosheid binne die mens sal uitgeroei moet word. Is daar ‘n manier hoe dit gedoen kan word? Romeine 5:11-21 (PWL) verduidelik dit so:

Nie alleen dit nie, maar ons roem ook in God deur ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, want dit is in Hom wat ons nou die herstel van ons verhouding ontvang het, net soos deur die hand van een mens die sonde in die heelal ingekom het en deur die sonde die dood en die dood só na alle mense toe deurgekom het omdat almal gesondig het. Tot by die geskrewe wet wás daar al sonde in die wêreld, maar dit is nie as sonde toegereken nie omdat daar geen geskrewe wet was nie, maar die dood het geheers van Adam af tot by Moshe, ook oor hulle wat nie presies gesondig het in die oortreding van ‘n opdrag soos Adam, wat ‘n beeld is van Hom wat sou kom, nie. Die onverdiende geskenk is nie dieselfde as die oortreding nie, want as deur die oortreding van die één baie dood is, hoeveel te meer het die onverdiende guns van God in oorvloed na baie gekom deur die geskenk, deur onverdiende guns, van die een Mens, Yeshua, Die Gesalfde Een. Die gevolg van die geskenk is nie dieselfde as die gevolg van één se sonde nie, want deur één het oordeel gekom tot verdoeming, maar die onverdiende geskenk is vir baie oortredinge tot verklaring van onskuld, want as die dood, as gevolg van die oortreding van die één, geheers het deur die één, veel meer sal húlle, wat die oorvloedigheid van die onverdiende guns ontvang, wat die geskenk van onpartydige opregtheid is, heers in dié lewe deur die Één, Yeshua, Die Gesalfde Een; daarom dan, net soos alle mense skuldig bevind is deur een se oortreding, so ook sal daar deur die onpartydige opregtheid van Een, oorwinning tot lewe wees vir alle mense, want net soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie sondaars geword het, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie onskuldig word. Die geskrewe wet is bygevoeg sodat die sonde meer sou word en waar die sonde meer geword het, het die onverdiende guns nog uitermate meer geword sodat, net soos die sonde geheers het deur die dood, so ook die onverdiende guns kan heers deur onpartydige opregtheid tot die ewige lewe deur ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een.

Die mens kan hierdie onverdiende guns, wat gratis is, aanvaar of verwerp. Verwerp dit en alles bly dieselfde. Aanvaar dit en oorwinning oor boosheid is moontlik.

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Dit maak ‘n sterk man swak en ‘n swak man sterk

Lank gelede het my een oupa ‘n buurman gehad met die naam Gert Briers. Oom Gert het ‘n stooklisensie gehad en was bekend vir sy perskemampoer. Ek het nou nog ‘n botteltjie van sy mampoer uit 1974 (of dit dalk al verslaan het, weet ek nie). My ander oupa het uit sy oorskot druiwe een keer per jaar soetwyn gemaak. Toe ek ‘n jong volwassene was, was dit die “inding” om rooiwyn, whiskey en konjak te drink. Jy moes aanleer hoe om dit te doen, kon jy dit reg doen was jy beskou as iemand met “kultuur”. Het ons, die Boerevolk, ‘n eiesoortige kultuur ten opsigte van alkoholiese drank?

Ons voorsate uit Europa het die maak van wyn en brandewyn in Suidelike-Afrika gevestig. Die eerste wyn is gemaak in 1659. Die Franse Hugenote word ook erken vir hulle bydrae tot die wynbedryf. Die maak van brandewyn is byna so oud soos die maak van wyn. Hoewel wyn en brandewyn die oudste alkoholiese dranke in ons geskiedenis is, is dit van die begin af kommersieël geproduseer. Sodra iets kommersieël gemaak word, is dit nie meer ‘n eiesoortige produk van ‘n sekere etniese groep nie.

Ons voorgeslagte, wat nie wynboere was nie, het die geheim van brandewynstook gebruik om tuisgemaakte drank te maak. (Terloops, die brand in brandewyn is ‘n ou woord vir stook.) In die Kaap word dit witblits genoem en in Transvaal is dit bekend as mampoer. Dit is identies aan Europese vrugteschnapps (onversoet). Is dit waar die uitdrukking “neem ‘n snapsie” vandaan kom?

Mampoer / witblits word gemaak van vrugte wat beskikbaar is. Die mees algemene vrugte is appelkose, kersies, lemoene, pruime, pere, vye en geelperskes. Ek het ook ‘n bottel kareebessie mampoer. Gesinne wat tuisgemaakte brandewyn maak, het hulle eie geheime resepte, vuurmaakmetodes en stookprosedures. Sulke gesinne doen dit al lank en die kuns word van een geslag na die ander oorgedra.

In 1924 het die Kaapse Wijnbouwersvereniging (KWV) ‘n monopolie vir die maak van brandewyn by die staat verkry. Mampoerstokers was toegelaat om steeds hulle produkte te maak, maar hulle mag dit nie verkoop het nie. Hierdie stokers moes by die staat registreer en ‘n lisensie bekom. Die kostes was hoog en boonop het die staat toesig gehou oor mampoerstokers.

In 1982 is die Kultuur Stokers Gilde gestig om die stooktradisie te bewaar en is die oordrag van stooklisensies van vader na seun goedgekeur. Sedert 2007 word mampoerstook wettiglik toegelaat, maar dit mag net verkoop word deur persone met ‘n kommersiële lisensie. Lisensies kos R 1 per jaar. Die lisensie bepaal dat slegs vrugte wat op die plaas groei, gebruik mag word.

Die stookproses behels ‘n paar verskillende prosesse. Eerstens moet die vrugte gis. Die vrugte word fyn gemaak om die gisting te verhaas. In die verlede is beesvel kuipe gebruik om die vrugte in te gis. Deesdae word hout-, sement- of staalvate hiervoor gebruik. Wanneer die vrugte begin gis, word dit warm en dryf dit na bo.

Dan moet die mos getoets word om vas te stel wanneer met stook begin kan word. Daar is drie maniere wat stokers gebruik om te besluit: die borrels in die gistingproses word minder, die mos word geproe of dit oorgaan van soet na suur, die gedrag van insekte word dopgehou. In die algemeen word gesê dat hoe meer suiker daar is hoe meer drank word verkry. Indien dit suur word, word dit asyn.

Na die gisting voltooi is, gaan die mos stookketel toe. Die stookketel is van rooikoper en word in ‘n baksteenoond toegebou. Vuur word in die oond gemaak. Aan die bokant van die ketel is ‘n gat waarin die helm pas. Die helm is verbind aan ‘n spiraalpyp wat in ‘n afkoelvat, waarin koue water sirkuleer, afgaan. Damp vergader in die helm en spiraalpyp, waar dit kondenseer en in ‘n opvangemmer inloop.

Die eerste stooksels wat opgevang word, het ‘n lae alkoholinhoud en word die voorloop genoem. Dit is vol onsuiwerhede. Wanneer die vloeistof helder pêreltjies begin vorm met die uitloop, is die produk reg vir verdere verwerking. Die hartgedeelte in die eerste stook word eenkant gehou vir die oorhaal, die tweede stookproses. Die naloop is wanneer die alkohol begin flou word. Verskillende stooksels se hartgedeeltes word gemeng om die produk en sterkte te verkry wat die stoker verlang.

In die ou dae was die alkohol gemeet deur ‘n stukkie vet in te gooi. Wanneer dit sterk genoeg was, het die vet bo die vloeistof uitgesteek. Deesdae word alkoholtoetsers gebruik.

Brandewyn, en dus ook mampoer, word tradisioneel erken vir sy gesondheidseienskappe. Dit gee glo verligting van verkoue, griep, sinus en maak die asemhalingstelsel oop. Dit help ook vir spysvertering en is ‘n bloedverdunner. Daar is nie preserveermiddels in mampoer nie.

Mampoer word gestook vir die liefde van die saak en die behoud van ons eie volkskultuur. Die stokers bring hulle kant, is dit dan nie ons plig om hulle te ondersteun nie? So wanneer jy volgende keer ‘n kultuurgeleentheid het, vergeet die rooiwyn en skink ‘n snapsie.

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin