Dit maak ‘n sterk man swak en ‘n swak man sterk

Lank gelede het my een oupa ‘n buurman gehad met die naam Gert Briers. Oom Gert het ‘n stooklisensie gehad en was bekend vir sy perskemampoer. Ek het nou nog ‘n botteltjie van sy mampoer uit 1974 (of dit dalk al verslaan het, weet ek nie). My ander oupa het uit sy oorskot druiwe een keer per jaar soetwyn gemaak. Toe ek ‘n jong volwassene was, was dit die “inding” om rooiwyn, whiskey en konjak te drink. Jy moes aanleer hoe om dit te doen, kon jy dit reg doen was jy beskou as iemand met “kultuur”. Het ons, die Boerevolk, ‘n eiesoortige kultuur ten opsigte van alkoholiese drank?

Ons voorsate uit Europa het die maak van wyn en brandewyn in Suidelike-Afrika gevestig. Die eerste wyn is gemaak in 1659. Die Franse Hugenote word ook erken vir hulle bydrae tot die wynbedryf. Die maak van brandewyn is byna so oud soos die maak van wyn. Hoewel wyn en brandewyn die oudste alkoholiese dranke in ons geskiedenis is, is dit van die begin af kommersieël geproduseer. Sodra iets kommersieël gemaak word, is dit nie meer ‘n eiesoortige produk van ‘n sekere etniese groep nie.

Ons voorgeslagte, wat nie wynboere was nie, het die geheim van brandewynstook gebruik om tuisgemaakte drank te maak. (Terloops, die brand in brandewyn is ‘n ou woord vir stook.) In die Kaap word dit witblits genoem en in Transvaal is dit bekend as mampoer. Dit is identies aan Europese vrugteschnapps (onversoet). Is dit waar die uitdrukking “neem ‘n snapsie” vandaan kom?

Mampoer / witblits word gemaak van vrugte wat beskikbaar is. Die mees algemene vrugte is appelkose, kersies, lemoene, pruime, pere, vye en geelperskes. Ek het ook ‘n bottel kareebessie mampoer. Gesinne wat tuisgemaakte brandewyn maak, het hulle eie geheime resepte, vuurmaakmetodes en stookprosedures. Sulke gesinne doen dit al lank en die kuns word van een geslag na die ander oorgedra.

In 1924 het die Kaapse Wijnbouwersvereniging (KWV) ‘n monopolie vir die maak van brandewyn by die staat verkry. Mampoerstokers was toegelaat om steeds hulle produkte te maak, maar hulle mag dit nie verkoop het nie. Hierdie stokers moes by die staat registreer en ‘n lisensie bekom. Die kostes was hoog en boonop het die staat toesig gehou oor mampoerstokers.

In 1982 is die Kultuur Stokers Gilde gestig om die stooktradisie te bewaar en is die oordrag van stooklisensies van vader na seun goedgekeur. Sedert 2007 word mampoerstook wettiglik toegelaat, maar dit mag net verkoop word deur persone met ‘n kommersiële lisensie. Lisensies kos R 1 per jaar. Die lisensie bepaal dat slegs vrugte wat op die plaas groei, gebruik mag word.

Die stookproses behels ‘n paar verskillende prosesse. Eerstens moet die vrugte gis. Die vrugte word fyn gemaak om die gisting te verhaas. In die verlede is beesvel kuipe gebruik om die vrugte in te gis. Deesdae word hout-, sement- of staalvate hiervoor gebruik. Wanneer die vrugte begin gis, word dit warm en dryf dit na bo.

Dan moet die mos getoets word om vas te stel wanneer met stook begin kan word. Daar is drie maniere wat stokers gebruik om te besluit: die borrels in die gistingproses word minder, die mos word geproe of dit oorgaan van soet na suur, die gedrag van insekte word dopgehou. In die algemeen word gesê dat hoe meer suiker daar is hoe meer drank word verkry. Indien dit suur word, word dit asyn.

Na die gisting voltooi is, gaan die mos stookketel toe. Die stookketel is van rooikoper en word in ‘n baksteenoond toegebou. Vuur word in die oond gemaak. Aan die bokant van die ketel is ‘n gat waarin die helm pas. Die helm is verbind aan ‘n spiraalpyp wat in ‘n afkoelvat, waarin koue water sirkuleer, afgaan. Damp vergader in die helm en spiraalpyp, waar dit kondenseer en in ‘n opvangemmer inloop.

Die eerste stooksels wat opgevang word, het ‘n lae alkoholinhoud en word die voorloop genoem. Dit is vol onsuiwerhede. Wanneer die vloeistof helder pêreltjies begin vorm met die uitloop, is die produk reg vir verdere verwerking. Die hartgedeelte in die eerste stook word eenkant gehou vir die oorhaal, die tweede stookproses. Die naloop is wanneer die alkohol begin flou word. Verskillende stooksels se hartgedeeltes word gemeng om die produk en sterkte te verkry wat die stoker verlang.

In die ou dae was die alkohol gemeet deur ‘n stukkie vet in te gooi. Wanneer dit sterk genoeg was, het die vet bo die vloeistof uitgesteek. Deesdae word alkoholtoetsers gebruik.

Brandewyn, en dus ook mampoer, word tradisioneel erken vir sy gesondheidseienskappe. Dit gee glo verligting van verkoue, griep, sinus en maak die asemhalingstelsel oop. Dit help ook vir spysvertering en is ‘n bloedverdunner. Daar is nie preserveermiddels in mampoer nie.

Mampoer word gestook vir die liefde van die saak en die behoud van ons eie volkskultuur. Die stokers bring hulle kant, is dit dan nie ons plig om hulle te ondersteun nie? So wanneer jy volgende keer ‘n kultuurgeleentheid het, vergeet die rooiwyn en skink ‘n snapsie.

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui