Die boeke van die Ou Testament

Christene verskil oor watter boeke in die Ou Testament moet wees, en watter nie. Rofweg sou mens kon sê dat dit hoofsaaklik verskille is tussen Protestante, Katolieke en Ortodokses. Elkeen het natuurlik sy eie redes waarom ‘n boek in die Bybel, of nie in die Bybel nie, moet wees. Daardie boeke wat ingesluit word, word “die kanon” genoem.

Protestante en Mormone (ook bekend as die Heiliges van die Laaste Dae) aanvaar slegs die boeke in die Hebreeuse Ou Testament (die Tanakh) as kanon. Die 24 Hebreeuse boeke is verdeel in 39 verskillende boeke. Die Katolieke, Ortodokse en Oosterse kerke het ander boeke ook in hulle kanons. Protestante noem die boeke wat hulle uitsluit “apokriewe boeke”, Katolieke noem dit “deuterokanoniek”, die Grieks Ortodokses noem dit “anagignoskomena”.

Die boeke wat die Katolieke meer het as die Protestante is Tobit, Judit, 1 Makkabeërs, 2 Makkabeërs, Wysheid van Salomo, Wysheid van Ben Sirag en Brief van Jeremia. Altesaam het hulle 46 boeke in hulle Ou Testament.

Die Ortodokses se kanon bestaan uit die 46 boeke wat die Katolieke erken, plus 1 Esdras, 3 Makkabeërs, 4 Makkabeërs, Gebed van Manasse, Barug en Psalm 151. As ek reg tel, is dit 51 boeke. Hierdie bykomende boeke is opgeneem in die Septuagint (die Griekse vertaling van die Ou Testament wat gedoen is tussen 280 en 130 v.C), maar nie in die Tanakh (die Masorete se Hebreeuse Ou Testament wat tussen die 7de en 10de eeue n.C tot stand gekom het) nie.

Die Septuagint en die Masoretiese teks verskil op baie plekke van mekaar. Aanhalings uit die Ou Testament in die Nuwe Testament, stem oor die algemeen meer ooreen met die Septuagint as met die Masoretiese Teks. Dit is dus duidelik dat die Masoretiese Teks (en dus ook die Tanakh en die Protestantse Ou Testament) nie die beste bron is nie.

In die vroeë jare van die Christendom was die enigste weergawes van die Ou Testament die Griekse Bybel (Septuagint) en die Aramese Bybel (Peshitta). Indien daar toe reeds ‘n kanon bestaan het, moes dit bestaan het uit dieselfde boeke as wat in hierdie twee Bybels was.

In die westelike deel van die Romeinse Ryk het Latyn die algemene taal geword. In omtrent 400 n.C het die Pous aan die geleerde Hiëronymus opdrag gegee om die Bybel in Latyn te vertaal. Hierdie vertaling staan bekend as die Vulgaat. Hiëronymus het die grootste deel van sy vertaling uit Hebreeus gedoen. Sommige van die boeke wat in die Septuagint is, kon hy nie in Hebreeus opspoor nie en gevolglik het hy daardie boeke uitgesluit uit sy vertaling. Hierna het die Katolieke die boeke in die Vulgaat as kanoniek aanvaar.

Die oudheid van die Peshitta word wyd en syd erken. Die presiese ontstaan van die Siries-Aramese vertaling (uit Hebreeus) is tans onbekend, maar dit word teruggevoer na die 1ste of 2de eeu n.C. Hierdie Ou Testament stem wesentlik ooreen met die Ou Testament wat deur Palestynse Jode gebruik is. Dit sluit ook die Apokriewe Boeke in. Die oorspronklike Ou Testament was nie verdeel in kanonieke en apokriewe afdelings nie, alles was een Ou Testament.

Daar is Afrikaanse vertalings van die Apokriewe Boeke beskikbaar. Die eerste staan bekend as “Ou-Testamentiese Apokriewe” deur PA Verhoef, die tweede is “Apokriewe Ou en Nuwe Testament: Verlore boeke uit die Bybelse tyd” deur Jan van der Watt en Francois Tolmie. Hierdie boeke is nie in Afrikaanse Bybels nie en moet apart aangekoop word. Dit is, sover ek kan vasstel, ook nie elektronies beskikbaar nie. Daar is ook ander boeke wat bemark word as “apokrief”, byvoorbeeld “Die boek van Henog” en “Die boek van Jasher”. Hierdie boeke is nie deel van enige kanon nie en was nie ingesluit in die oorspronklike Ou Testament nie.

Vir diegene wat die Bybel sien as “Die Woord van God” en “Die Heilige Skrif” is dit belangrik om te weet watter boeke gesaghebbend is en watter nie. Dit is immers YHWH se kommunikasie met ons, Sy openbaring van Homself aan ons.

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui