Die wet van Noag

Die sondeval in die Tuin van Eden, toe Adam en Eva gekies het vir Kennis van Goedheid en Boosheid, word ook genoem die oersonde of die erfsonde. Dit was die Moeder van Alle Sondes. As gevolg hiervan, by wyse van spreke, word bepaal wie gaan hemel toe en wie gaan hel toe. Hierdie mislukking is deur Adam en Eva oorgedra op hulle nageslag, op die ganse mensdom.

Wat nou van ons ander sondes? Die sterk taalgebruik wanneer ek my duim raakslaan. Die getroude baas en getroude sekretaresse se skelm verhouding. Nog erger die moorde, die rooftogte, die verkragtings. Hierdie ander sondes is wel nie die oersonde nie, dit is die gevolge van die oersonde.

Met die sondeval, het die mens vervreemd geraak van hulle Skepper. Hulle het teen Hom gerebelleer. Maar die saak was nie heeltemal verlore nie, daar was ‘n plan om die situasie aan te spreek. YHWH was nie plan om Sy skepping net af te skryf nie. Dit is hierdie plan en die uitvoering daarvan wat in die Bybel openbaar word.

Voordat enige een iets verkeerd kon doen, was hulle reeds in vyandskap met hulle Skepper. Die heel eerste wandaad wat enige mens teen ‘n ander mens gepleeg het, was Kain wat sy broer vermoor het. Die aanleiding daartoe was dat YHWH nie Kain se offer aanvaar het nie. Hieroor was Kain ongelukkig. In Genesis 4:6-7 word vertel: En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie – die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.

Daar was, na Kain, die wat daarin kon slaag om oor die sonde te heers. Dink Henog, dink Noag. Sonder dat daar wette en reëls was, kon hulle onderskei tussen reg en verkeerd, tussen goedheid en boosheid. Boonop het hulle gekies om reg te doen en om oor boosheid te heers. Gen 5:24: En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem. Gen 6:9: Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel. Daar was mense wat gekies het om ‘n goeie verhouding met YHWH te hê. Hulle was ‘n absolute minderheid.

Gen 6:5-8 vertel die verdere geskiedenis. Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart. En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het. Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE.

Wat leer ons hieruit? YHWH het die finale sê oor die mens. As hy Sy skepping wil uitwis, kan Hy en sal Hy. Die mens kan niks daaromtrent doen nie, die mensdom kan dit nie verhinder nie. Toe bring YWHW die vloed oor die aarde en Hy roei alles uit.

Tog, toe Hy alles uitwis, toe begin Hy weer voor met mens en dier. Daar was ‘n plan om op ‘n ander manier met die mens voort te gaan. Uit Noag begin Hy ‘n hele nuwe mensdom. Genesis 7:23: So is dan al die lewende wesens verdelg wat op die aarde was, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; hulle is verdelg van die aarde af. En net Noag het oorgebly en wat by hom in die ark was.

Hoe gaan YHWH met hierdie nuwe mensdom handel? Genesis 9:1-7 bevat die voorskrifte wat YHWH nou aan hulle voorlê: En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Die vrees en skrik sal wees oor al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel: alles wat op aarde beweeg, en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee. Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek alles aan julle. Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie. Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis. Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word: want God het die mens na sy beeld gemaak. Maar julle, wees vrugbaar en vermeerder; wemel op die aarde en vermeerder daarop.

Hierdie voorskrifte is aan alle mense gegee, al die volke van die aarde, ook die nageslag van Jakob. In Judaïsme is daar ‘n rabbynse konstruksie wat praat van die sewe wette van Noag wat op nie-Jode van toepassing is.

Die Vloed het nie die oersonde weggespoel nie, dit was nog daar en is nog steeds daar. Die Wet van Noag spreek dit ook nie aan nie en het ook nie ‘n beloning of straf vir nakoming nie. Voorskrifte gee riglyne om volgens te lewe, dit maak nie lewend nie.

Naskrif: In Handelinge 15:28-29 gee die apostels hulle beslissing oor nie-Jode wat op Yeshua vertrou: Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!

 

 

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Hy was Swart, nie swart nie

Die Republiek van Suid-Afrika het in 1961 tot stand gekom, nie in 1994 nie. Die eerste president van die republiek was Charles Robberts Swart, nie Nelson Mandela nie. In 1994 was daar ‘n magsoorname, daar was nie ‘n nuwe staat gestig nie. C. R. Swart het Elisabeth II van Brittanje opgevolg as staatshoof van Suid-Afrika.

Die eerste President was ‘n Boer. Charles Robberts Swart (of Oom Blackie soos die volk hom geken het) was in 1894 gebore in Winburg, Republiek van die Oranje-Vrystaat. Tydens die Anglo-Boere Oorlog (1899-1902), was Oom Blackie in die Konsentrasiekamp op Winburg saam met sy moeder en ander familie en bure. Sy vader was krygsgevange geneem.

Oom Blackie was ‘n besonder skrander persoon. Hy begin skool op sewejarige ouderdom en behaal sy matriek op dertienjarige ouderdom. Hy was te jonk vir toelating tot die universiteit en begin as vyftienjarige werk as magistraatsklerk. In 1910 begin hy met sy studies by die Grey-universiteitskollege en in 1912 behaal hy sy B.A.-graad. Van 1914 tot 1915 was hy ‘n onderwyser op Ficksburg. Van 1915 tot 1918 studeer hy verder en behaal die LL.B graad. In 1918 werk hy as regsassistent by die Bloemfonteinse Munisipaliteit. Van 1918 tot 1948 was hy ‘n advokaat by die Hooggeregshof in Bloemfontein en ook deeltydse dosent in regte.

Met die Rebellie van 1914 was Oom Blackie in hegtenis geneem op aanklagte van spioenasie en dat hy by die rebelle wou aansluit.  Hy was vrygelaat en toegelaat om onderwys te gee, maar was heeltyd onder huisarres.

Gedurende 1921-1922 was hy in die VSA vir studie in joernalistiek. In hierdie tyd het hy op parkbankies geslaap, op straathoeke gesing vir geld en selfs in ‘n rolprent opgetree. Hy het ‘n studietoer onderneem in die VSA, Brittanje, Nederland en België. Later in sy lewe het hy as joernalis en redakteur gewerk.

Oom Blackie Swart het van jongs af in politiek belanggestel en was ‘n stoere republikein. Hy was sedert die stigting van die Nasionale Party in 1914 ‘n lid daarvan. Van 1923 tot 1933 was hy volksraadslid vir Ladybrand. Die smelting van Genl Herzog se Nasionale Party en Genl Smuts se Suid-Afrikaanse Party in 1933, was vir Oom Blackie totaal onaanvaarbaar. Hy sluit toe ook aan by die Gesuiwerde Nasionale Party van Dr D.F. Malan. In 1939 vind die skeuring tussen Hertzog en Smuts plaas en daarna het die Herenigde Nasionale Party tot stand gekom. Die verhouding tussen Oom Blackie en Genl Hertzog (albei Vrystaters) was nie goed nie. In 1941 word Oom Blackie deur Winburg weer tot die Volksraad verkies. Na die oorwinning van die Nasionale Party in 1948, stel Dr Malan hom aan as Minister van Justisie.

In 1939 het Oom Blackie by die Ossewa-Brandwag (OB) aangesluit en op die Groot Raad gedien. Hy het later daaruit bedank omdat die OB nie meer aan sy verwagtinge voldoen het nie. Na die koalisie het hy aangesluit by die Afrikaner-Broederbond (AB) want hy het gemeen hulle streef na volkseenheid.

C.R. Swart was gereken as ‘n besonder bekwame kabinetsminister. Van 1960 tot 1961 was hy die laaste Goewerneur-Generaal van die Unie van Suid-Afrika. Net soos sy voorganger, het hy geweier om ‘n eed van getrouheid aan die staatshoof, Elisabeth II van Brittanje, af te lê. Van 31 Mei 1961 af was hy die eerste president van die Republiek van Suid-Afrika. In 1967 het hy afgetree en hom op sy plaas De Aap naby Brandfort gevestig. In 1982, toe hy 87 was, is Oom Blackie oorlede.

Oom Blackie was nie net in die politiek betrokke nie, hy het heelwat op kultuurterrein gedoen. Hy was betrokke by die Taalfees, FAK, Voortrekkers, Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Nasionale Vrouemonument, Afrikaanse Handelsinstituut en nog meer.

Oom Blackie was ook ‘n skrywer en joernalis. Hy het twee kinderboeke geskryf: Kinders van Suid-Afrika (1933) en Die agterryer (1939). Hy het ‘n aantal artikels vir tydskrifte en koerante geskryf. Hy het ook gedigte en liedere geskryf, ondermeer skoolliedere vir drie verskillende skole.

Verder het Oom Blackie rugby gespeel en was hy ‘n skeidsregter. Hy het ook van jukskei en rolbal gehou. Hy het ook met Afrikanerbeeste geboer. Hy was lank en skraal, meer as twee meter lank.

Oom Blackie was ‘n gewilde en geliefde persoon, altyd toeganklik en jonk van gees. Van die ouer geslag sal sy staaltjies en humorsin onthou. Een staaltjie wat hy vertel het, was van ‘n ernstige toespraak by ‘n volksfees. Hy noem toe die helde van Spioenkop. ‘n Oom wat nie goed kon hoor nie, spring op en skree “Hoor, hoor”. Na die tyd vertel die oom: “O, het jy gesê die helde van Spioenkop, ek het gedink jy sê te hel met die spietkops.” ‘n Ander staaltjie was oor die bewoording van ‘n naambord vir sy plaas. Moet dit lees: C.R. Swart – De Aap of De Aap – C.R. Swart?

Hy was ‘n veelsydige man. ‘n Beginselvaste persoon, hy het nie saam met die wind gedraai nie en nie sy oortuigings prys gegee om sy loopbaan of finansies te bevorder nie. ‘n Man van integriteit, ‘n man uit die volk en vir die volk. Hy het geleef en gestreef in die tyd tussen die generaals en die beroepspolitici, in die tyd van die republikeine.

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boek van die Opregte – wat daarvan?

Die Boek van die Opregte (ook genoem Die Boek van Jasher) word beskryf as ‘n belangrike geskrif wat betroubaar en feitelik is, dat dit verkeerdelik uit die Bybel weggelaat is en dat die Bybel op twee plekke daaruit aanhaal. Is dit waar of nie?

Daar is eintlik twee boeke met dieselfde naam. Die eerste daarvan (ook genoem Pseudo-Jasher) is in 1751 deur Jacob Ilive uitgegee. Daar is gou vasgestel dat hierdie ‘n vervalsing is en die uitgewer het 3 jaar tronkstraf gekry. Indien jy Die Boek van die Opregte wil lees, maak seker dat dit nie hierdie een is nie.

Die tweede Boek van die Opregte is ook bekend as Sefer ha Yasher en is ‘n Hebreeuse midrash (‘n rabbynse geskrif wat die geskrewe en mondelingse Torah interpreteer). Die eerste uitgawe van hierdie boek was in 1552. Hoewel vertalings van hierdie boek dit beskryf as die “oorspronklike” Boek van die Opregte, is dit nie ‘n aanspraak wat in Rabbynse Judaïsme gemaak word nie. Dit word ook die “antieke” Boek van die Opregte genoem, wat dit wel is.

Van die 1552 uitgawe kan geen afskrif gevind word nie, die oudste bestaande manuskrip kom uit 1625. In die voorwoord word vertel dat die oorspronklike brondokument in 70 n.C. in die verwoeste Jerusalem gevind is. Behalwe vir dit wat in die voorwoord staan, kon geen bewyse gevind word wat dit bevestig nie. Daar is twyfel oor die boek se ouderdom aangesien die name van die lande waar Noag se afstammelinge hulle gevestig het, name is wat eers in die Middeleeue ontstaan het. Rabbi Leon Modena het hom sterk teen hierdie geskrif uitgespreek.

Die boek vertel die geskiedenis van Adam en Eva af tot en met die verowering van die Beloofde Land aan die begin van Rigters. Dele van die boek stem ooreen met wat in die Ou Testament vertel word. Ander dele klink of dit bykomende inligting tot die Ou Testament verskaf. Daar is stellings wat onwaarskynlik klink: sneeu voor die vloed, ‘n wolf wat praat en ‘n elf maande oud baba wat praat. Daar is verskeie plekke waar Jasher en die Ou Testament van mekaar verskil. Die grootse probleem met Jasher is dat daar gedeeltes is wat onbybels is. Ragel praat vanuit die graf met Josef. Dit word deur YHWH verbied. Benjamin praktiseer sterrewiggelary, ook verbode. Gebeure in ander gedeeltes van die boek verskil heeltemal van die Ou Testament.

Die sterkste argument vir die Boek van die Opregte voer aan dat daarna verwys word in die Ou Testament. Daar is twee plekke waar daar na hierdie boek verwys word. Joshua 10:12-13 “Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie?” 2 Samuel 1:18-27 “… dit is geskrywe in die Boek van die Opregte.” Volgens die Ou Testament klink dit of daar wel ‘n boek met die naam “Boek van die Opregte” bestaan het en dat dit selfs ouer as 2 Samuel moet wees. Indien dit so is, is die vraag of die boek wat ons het dieselfde boek is as wat in die Ou Testament vermeld word.

‘n Groter probleem is die vraag of die tekste in die Ou Testament korrek is. En, sowaar as wat padda manel dra, hierdie twee tekste in ons Ou Testament verskil van die Septuagint (die Griekse vertaling van die Ou Testament wat omtrent 300 jaar voor Christus gedoen is). Ons het al voorheen aangetoon dat die Masoretiese Teks (wat die grondteks van ons vertalings van die Ou Testament is) verskil van die Septuagint en die Oorspronklike Ou Testament wat deur Yeshua (Jesus) en Sy apostels gebruik is.

Verder is die Boek van die Opregte nie deel van die Ou Testamentiese boeke wat in die Septuagint is nie. Dit beteken dat die boek nie in 300 voor Christus bestaan het nie, of andersins dat dit nie as geïnspireerde Skrif beskou is nie.

Die Boek van die Opregte wat tans in omloop is, kan nie gereken word as ‘n belangrike boek nie. Dit mag interessant wees om te lees, maar die leser moet bedag wees op dwalinge daarin. Dit is sekerlik nie feitelik of betroubaar nie. Dit word verder betwyfel of daar na so ‘n boek in die Oorspronklike Ou Testament verwys was.

Hierdie is duidelik ‘n boek wat eerder te doen het met Rabbynse Judaïsme as met die christendom. Dit is slegs die Mormoonse kerk wat die boek erken. Daar is selfs ‘n vermoede dat Rabbi Akiba en die Raad van Jamnia betrokke kon wees by die ontstaan van hierdie boek.

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Families en familiewapens

Familiewapens bestaan en bestaan ook nie.

By ons volk bestaan daar ‘n idee dat families wapens of embleme van hulle eie het. Dat dit ‘n soort logo is wat deur almal wat aan ‘n sekere familie behoort, gebruik kan word. Wie lede van daardie familie is, word bepaal deur wie hulle stamouers was en hulle word uitgeken daaraan dat hulle almal dieselfde van het.

In die heraldiek bestaan daar nie so iets soos ‘n familiewapen nie. Daar is slegs geregistreerde wapens en ongeregistreerde wapens. ‘n “Familiewapen” is ‘n wapen wat aan ‘n lewende persoon toegeken is. Hierdie persoon se wapen mag wel deur sy eie nasate oorgeërf word.

Die Boerevolk se regstelsel is die Romeins-Hollandse reg. Daarvolgens word almal toegelaat om wapens te voer, dit mag net nie op ander se regte inbreuk maak nie. Tydens die V.O.C. se bewind het baie burgers familiewapens gehad. Sommige van hierdie wapens word nog steeds deur hulle nasate gebruik. Die Britse reg is heel anders. Vir die Britte is ‘n wapen ‘n eerbewys wat deur ‘n owerheid aan ‘n persoon toegeken is. Na die Britse Besetting het die Boere se heraldiek en die Britte se heraldiek langs mekaar bestaan. Na die Anglo-Boereoorlog, het die Unie-regering aandag aan heraldiek begin gee. Gedurende die 1930’s en 1940’s was daar ‘n poging om die volkserfenis te bevorder en is daar heelwat geskryf oor families en familiewapens.

Heraldiek is nie net op wapens van indiwidue gerig nie, maar ook wapens van owerhede, skole, kerke, korporasies en so meer. Na Republiekwording, is die Heraldiekwet van 1962 ingestel. Hierdie wet was op die Sweedse model gebou. Hierna is die Buro vir Heraldiek en die Heraldiekraad ingestel. Om volgens die Heraldiekwet geregistreer te word, moet wapens heraldies korrek wees. ‘n Wapen wat by die Buro van Heraldiek geregistreer is, word beskerm en mag nie deur iemand anders sonder toestemming gebruik word nie.

Cornelis Pama word beskou as die vader van heraldiek in Suid-Afrika. Hy is bekend as heraldikus en genealoog in beide Nederland en Suid-Afrika. Hy het heelwat boeke oor hierdie onderwerpe in Nederlands en Afrikaans gepubliseer. Hy was betrokke by die ontstaan van die Heraldiekraad en het ook van die Republiek (1961) se kentekens ontwerp. Hy was ook voorsitter van die Heraldiese Genootskap en ‘n stigterslid van die Genealogiese Genootskap. Hy het ook, onder andere, Ons Familiewapens (1943) (dus lank voor die Heraldiekwet) en Die Groot Afrikaanse Familienaamboek (1983) gepubliseer.

Na die Tweede Wêreldoorlog het daar ‘n reeks artikels in die Brandwag verskyn wat familiewapens bevat het. Die artikels is deur N.H. Theunissen geskryf. Hierdie wapens is deur mense as die korrekte familiewapens aangesien en kort voor lank is hierdie wapens op allerlei voorwerpe aangebring en as aandenkings verkoop. Ongelukkig was die saak nie so eenvoudig nie. Een van die probleme hiermee was dat daar dikwels verskillende families is wat dieselfde van het, maar nie dieselfde stamouers het nie. Gevolglik was baie van hierdie wapens foutief. Op daardie stadium was daar nog nie ‘n Heraldiekwet nie en dus was al hierdie wapens ongeregistreerde wapens.

Dr Pama het begrip gehad vir die probleem van ongeregistreerde familiewapens en het daarvan in sy boek ingesluit. Hy het nie hierdie wapens verwerp nie, maar was nietemin van mening dat jy jou wapen moet registreer as jy ‘n wettige reg daarop wil hê.

Die naaste wat ‘n familie vandag kan kom om ‘n wetlik erkende familiewapen te hê, is om ‘n familiebond te stig. Almal van ‘n sekere familie wat belangstel, werk saam en vorder geld in om ‘n wapen te ontwerp en te registreer. (Dit is nogal duur). Hierdie wapen mag nou wettiglik deur die lede van die familiebond gebruik word. Die familiebond se bedoeling is gewoonlik om ‘n wapen vir die hele familie te bekom, hulle mag dalk nie omgee as nie-lede dit ook gebruik nie.

Die Skotte is trots op hulle clans (stamme of families) en tekens en embleme wat hulle verwantskap aandui. Clans het stamhoofde en is geregistreer by ‘n spesiale hof. Die stamhoof mag ‘n bepaalde tartan ontwerp amptelik erken en lede van die clan mag dit dan gebruik vir hulle kilts. Lede van die clan kan ook hulle verbintenis met die stamhoof vertoon deur die dra van ‘n crest badge. Daar is by die mens die behoefte om te behoort en identifikasie deur familieverwantskap is een manier om hierdie behoefte te bevredig.

By ons word indiwidue as regspersone erken, maar nie families nie. Dit is waarskynlik die kern van die probleem met familiewapens. Ons het ook nie familiehoofde wat namens hulle families optree nie, net familiebonde. Ons het ook nie ‘n stamstruktuur nie.

Familiewapens is waarskynlik net belangrik vir familienavorsers. Vir ander lede van die familie is dit net ‘n aardigheid.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Gister se sondes en vandag se sondes

Eens op ‘n tyd was jy jonk en rebels. Toe rebelleer jy teen die establishment van daardie dae. Die hele spul met hulle outydse sienings en met al die onreg wat hulle pleeg. Hoewel jy toe nog jonk was, kon jy onreg op ‘n myl raaksien. Jy kon ook sien wat gedoen moet word om hierdie onreg uit te roei. As jy dit kon sien, hoekom kon hulle nie?

Intussen het die horlosie aangestap. Jy is ouer, jy is wyser, en o wee, jy is nou die establishment. Want jy is ‘n ouer, jy is dalk ‘n onderwyser, jy is ‘n leidende persoon in jou gemeenskap, jy het stemreg en jy stem in verkiesings. Jy het gehelp om die huidige situasie tot stand te bring. Die verantwoordelikheid is joune.

So, hoe het dit toe gegaan met jou rebellie? Is die wêreld nou ‘n beter plek? Is al die onreg toe uitgeroei? Was jou rebellie toe die moeite werd?

Hier, in my omgewing, is daar ‘n omroeper wat gereeld oor die radio dit het teen die verstokte verkramptes. Hy vat hulle gereeld aan oor daardie selfde goed waaroor hy in sy jong dae hulle ook aangevat het. Die probleem is dat die verstoktes van vandag nie meer die verstoktes van gister is nie. Die goed waaroor hy baklei is lankal nie meer omstrede kwessies nie. Another Brick in the Wall is regtig nie meer verbode of ‘n treffer nie. Saambly (onder andere) is nou outyds, dit was ‘n omstrede saak in die jaar toet. Die goed wat in sy jeug warm geskille was, is nou koud.

Dan is daar die blanke anti-apartheid brigade. Eens op ‘n tyd was daar ‘n politieke ideologie wat “apartheid” geheet het. Hulle het gemeen dit is ‘n ideologie van groot onreg en het dit toe hand-en-tand beveg. Toe was hulle dapper stryders teen daardie onreg. Hulle het opgeoffer vir die goeie saak. Maar nou, helaas, bestaan apartheid nie meer nie. Hulle het gewen. Na hulle gewen het, toe weet hulle nie wat nou verder nie. Daar het hulle toe vasgeval. Die arme drommels weet nie wat om nou te doen nie, nou hou hulle maar aan baklei teen die oorlede vyand, apartheid.

Die rebelle wat gewen het, is die establishment van vandag. Hulle dra nou die verantwoordelikheid. In plaas van aan te hou veg teen die verslane vyand, moet hulle kyk na wat hulle vermag het. Die ongeluk is dat die onreg van apartheid vervang is met ‘n groter onreg. Hierdie groter onreg is die resultaat van die blanke anti-apartheid brigade se rebellie. Dit is die vrug van hulle arbeid. Hulle ontken dat daar tans groter onreg gepleeg word en was hul hande in onskuld.

In die wêreld van weleer, was die verkrampte establishment gesien as regs, konserwatief, uit pas en outyds. Hulle was kapitaliste wat nie omgegee het vir hulle medemens nie. Die rebelle was links, liberaal, besorg oor die omgewing en die welstand van die armes en verdruktes. Toe het hulle gewen en aan bewind gekom. Nou is die linkse liberales die nuwe establishment. Doen hulle beter as hulle voorgangers? Die nuwe wêreld wat hulle geskep het, is nog slegter as die vorige wêreld wat hulle beveg het. Daar is meer onreg, daar is minder vryheid, daar is meer verdruktes.

Ons sien dit nou in Amerika, en binnekort, in Europa. Die publiek verwerp nou die links-liberale heerskappy. Dit is ‘n bitter pil om te sluk. Nou doen hulle maar wat hulle voorheen ook gedoen het. Hulle betoog, brand en gebruik geweld.

Wie se skuld is dit dat die wêreld van vandag slegter en boser is as voorheen? Is dit nie juis die oorwinnaars se skuld nie? Maar wat nou as jy weier om skuld te aanvaar? As jy aanhou om te ontken dat jy verkeerd was en steeds is? Wel, dan pak jy die skuld op iemand anders, natuurlik. Dan hou jy aan om te praat van die goed wat lankal verby is en die mense wat lank gelede onreg gepleeg het. Daarom moet die geskiedenis herskryf word, iemand anders moet beskuldig word.

Is dit normaal om nooit te erken dat jy verkeerd was nie? Dat dit altyd iemand anders is wat skuldig is?

“Die vaders het suur druiwe geëet en die tande van die seuns het stomp geword” (Jer 31:29). So het die kinders van Jakob hulleself probeer verontskuldig.

 

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Ou Testament en die Boek van Henog

Daar is heelwat belangstelling in die Boek van Henog met die groot vraag daaragter: moet dit in die Bybel wees? Alternatiewelik: Hoekom is dit uit die Bybel uit weggelaat? Henog is tog ‘n persoon in die Bybel, en ‘n uitsonderlike persoon daarby. Die Boek van Henog is ‘n godsdienstige boek wat op dieselfde manier as ander Bybelboeke geskryf is. Dit klink en lyk na ‘n Bybelboek. Daar is ook ‘n vers in die Nuwe Testament wat klink of dit aangehaal is uit Henog.

Daar is 3 verskillende boeke wat Boek van Henog genoem word. Dit word van mekaar onderskei deur die name 1 Henog (die Etiopiese Henog), 2 Henog (die Slawiese Henog) en 3 Henog (die Hebreeuse midrash). Hierdie 3 boeke is heeltemal verskillend van mekaar. Sou iemand dus praat van die Boek van Henog, word gewoonlik bedoel 1 Henog (maar ons moet eers seker maak ons verstaan reg).

Henog word ‘n apokriewe of pseudopigrafiese boek genoem. Wat beteken dit? Dit is belangrik om die verskil tussen hierdie tipes geskrifte te verstaan want dit het alles met die saak te doen.

Die 39 boeke van die Ou Testament wat in Protestantse Bybels is, word kanoniek genoem. Kanoniek beteken dat almal saamstem dat dit boeke is wat Heilige Skrif is. Dit is in alle christelike Bybels en dit is ook die boeke wat in die Hebreeuse Ou Testament (die Masoretiese Teks) is. Die deuterokanonieke boeke is boeke wat in Katolieke en Ortodokse Bybels is, maar nie in Protestantse Bybels en ook nie in die Masoretiese Teks nie. Hierdie boeke was wel ingesluit in die Griekse vertaling van die Oorspronklike Ou Testament (die Septuagint). Apokriewe (in Protestantse kringe) kan deuterokanonieke boeke beteken, maar dit sluit ook ander geskrifte in wat nie in die Septuagint was nie.  Hierdie ander geskrifte word pseudopigrafie genoem. Dit is boeke wat voorgee om deur ‘n sekere persoon geskryf te wees maar wat in werklikheid deur iemand anders geskryf is.

Die rol van die Septuagint is baie belangrik in die beoordeling van sulke geskrifte. Dit was ‘n vertaling van die Oorspronklike Ou Testament (uit Hebreeus) wat ongeveer 3 eeue voor Christus gedoen is. Die boeke in die Septuagint was dus die boeke wat erken was as Heilige Skrif ten tyde van Yeshua en die apostels. Indien ‘n boek nie deel van die Septuagint was nie, was dit ook nie as Heilige Skrif erken nie. (Die Masoretiese Teks het eers in die 7de tot 11de eeu tot stand gekom, meer as ‘n duisend jaar na die Septuagint.)

1 Henog word slegs as Heilige Skrif erken deur Beta Israel (‘n Joodse godsdiensgroep van Ethiopië) en die Etiopiese en Eritrese Ortodokse Tewahedo Kerke. Die Mormoonse Kerk erken (tot ‘n mate) ook die boek. Dit is waarskynlik oorspronklik geskryf in Aramees, maar het slegs volledig behoue gebly in die Ge’ez taal van Ethiopië. Moderne geleerdes meen die boek is tussen 300 voor Christus tot 100 na Christus geskryf (derhalwe nie deur Henog self nie).

1 Henog bestaan uit 5 hoofafdelings: Boek I handel oor die engele, hulle val en die gevolge vir die mensdom. Boek II (Gelykenisse) verwys na die oordeel van die gevalle engele. In Boek III word die beweging van hemelliggame aan Henog geopenbaar. Boek IV is visioene oor die geskiedenis van Israel. Boek V is ‘n brief van Henog. Geleerdes meen hierdie was oorspronklik 5 verskillende boeke wat op verskillende tye geskryf is en toe later in een boek versamel is.

Christelike kerke (behalwe die Tewahedo kerke) het teen die 4de eeu na Christus, besluit om 1 Henog nie in die Ou Testament op te neem nie. Die Etiopiese Kerk sien 1 Henog as ‘n geïnspireerde boek en Henog as die eerste skrywer in die geskiedenis van die mensdom. Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (die Mormoonse Kerk of die LDS), beskou die oorspronklike Boek van Henog as Heilige Skrif.

Die Nuwe Testamentiese boek Judas 1:14-15 klink of dit ooreenstem met 1 Henog 1:9, en asof Judas dit aangehaal het uit 1 Henog. Indien dit so is, sal dit beteken dat 1 Henog apostoliese goedkeuring het (met die voorbehoud dat 1 Henog wel deur Henog – die een in Genesis – geskryf is.) Dat Judas die man Henog aanhaal is ongetwyfeld so, maar of hy 1 Henog die boek aanhaal, is ‘n heel ander saak. Dit kon net sowel wees dat Judas ‘n mondelingse oorlewering aanhaal wat ook in 1 Henog aangehaal word.

2 Henog (die Slawiese Henog) is ‘n pseudopigrafiese geskrif wat waarskynlik oorspronklik in Grieks geskryf is en wat volledig behoue gebly het in ‘n Oud-Slawiese vertaling. 2 Henog bestaan uit 4 afdelings: Henog word deur 2 engele deur 6 hemels begelei, dan word hy deur Gabriel na die 7de hemel geneem, dan gee hy instruksies aan sy seuns en dan beskryf hy priesterlike opvolging.

3 Henog is ook ‘n pseudopigrafiese boek wat vertel hoe Henog verander is in die engel Metatron.

Om terug te keer na die oorspronklike vrae: Hoekom is Henog uit die Bybel weggelaat of moet Henog in die Bybel wees? Die antwoord is dat nie een van die Henog boeke ooit deel van die Ou Testament was nie (behalwe in Ethiopië) en ook nie moet wees nie. Dit was nie in die Septuagint nie en dus ook nie in die Oorspronklike Ou Testament nie.

Hoe moet ons hierdie boek hanteer? Dit is interessant om te lees, maar dit is nie geïnspireerde Skrif nie. Die inligting daarin is ook nie noodwendig korrek nie. Wees dus versigtig om dit as feitelik te aanvaar.

Daardie boeke wat deuterokanoniek is, word nie as onwaar beskou nie en kan met vrug gelees word. Hulle is ook nie teenstrydig met die kanonieke boeke nie. Hulle was in die Septuagint en dus ook in die Oorspronklike Ou Testament.

 

 

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Kan jy die pyp rook?

Adam Tas (die eerste een) was so gaaf om ‘n dagboek te hou. Daarin vertel hy van hoe hy en sy vriende tabak gerook het. Mens kry die indruk dat die rokery eintlik ‘n kuier was. Daar is ietsie gedrink, kaart gespeel, gesels en natuurlik tabak gerook. Dit was in die vroeë 1700’s.

Die mans van die Boerevolk word dikwels voorgestel as pyprokers. Soveel so, dat vertel word dat Keyser pype spesiaal (in Londen) vir hulle gemaak is. Die meerderheid mans het pyp gerook, die pa’s, die ooms, die neefs. Die president, die generaal en die dominee. Sarel Cilliers het ‘n kalbaspyp gehad, President Paul Kruger het ‘n kromsteel gehad. Ons het ook ‘n paar uitdrukkings in ons taal oor tabak en pype. ‘n Lelike pyp rook, Sal hy die pyp rook?, Stop van myne, Twak praat, Jou twak is nat. Dit sê vir ons dat pyp rook deel van ons kultuur is.

Pyprook was nie net by ons gewild nie, dit was oorsee ook so. ‘n Pyp was gesien as deel van ‘n man se noodsaaklike benodigdhede. Van die duur klerewinkels het ook pype verkoop as ‘n mode item, met ander woorde dat die man cool kan lyk. ‘n Pyp is ook gekies om by jou gesigstruktuur te pas. ‘n Goedgeklede man het ‘n pyp gehad. Beroemde akteurs het poseer met ‘n pyp (Cary Grant, Clark Gable, Tom Selleck). Daar was ook vroulike pyprokers soos Koningin Victoria, Gertrude Stein en Greta Garbo.

Jong mans het begin rook wanneer hulle universiteit toe gaan. Pyprook was iets wat geassosieer is met intellektualisme. Albert Einstein, CS Lewis, Bertrand Russell, Mark Twain, Jacques Cousteau, Henry Mancini was almal pyprokers. Soos Einstein dit gestel het: “I believe that pipe smoking contributed to a somewhat calm and objective judgement in all human affairs.”

Die hele proses van keuse van pyp, keuse van tabak, die stop van die pyp, die aansteek daarvan, die eerste trekke, is alles ‘n ritueel. Vir mense is sulke rituele nuttig om insig te vind en om orde uit chaos (in denke en emosies) te skep. Dit kan ook dien as viering van iets, ‘n sukses wat behaal is. Derhalwe is die pyproker veronderstel om geordende gedagtes en emosies te hê en om 00r goeie oordeel te beskik.

Die rook van ‘n pyp en die rook van ‘n sigaret is twee verskillende dinge.  Die rook van ‘n sigaret is geriefliker. Dis maklik om ‘n pakkie in jou sak te dra, dis maklik om aan te steek, dis maklik om dood te druk as jy klaar is. Die pyproker het sy pyp, sy tabaksak en sy stopgereedskap om saam te karwei. Om te stop en aan te steek vat ‘n rukkie en as jy klaar gerook het, vat dit weer ‘n rukkie om uit te klop en skoon te krap. Met sigarette is daar nie onderhoud betrokke nie. Met die pyp is daar ‘n hele skoonmaakproses en gereelde onderhoud nodig. Pyprook is goedkoper. Hoewel ‘n pyp relatief duur is om aan te koop, is die pyptabak heelwat goedkoper as sigarette. Die pyproker trek ook minder rook in as die sigaretroker. Met ‘n pyp is dit skuif, skuif, trek in (puff, puff, inhale). Met die sigaret is elke trek ‘n intrek.

Dit word vertel dat, in 1964, die Surgeon General van die V.S.A. bevind het dat pyprokers langer leef as mense wat nie rook nie. Daarvolgens blyk dit dat mense wat wel rook, eerder pyp moet rook, aangesien dit ‘n meer gesonde manier is om tabak te geniet. Tabak is ‘n natuurlike produk, ‘n kruie, organies, en eko-vriendelik. Dit help ook teen lastige goggas.

Dit was seemanne wat in die 1500’s tabak in Europa bekend gestel het. Na bewering het hulle vertel dat die rook van tabak help vir honger en dors, dat dit kalmerend is en dat dit ‘n gevoel van vreugde gee.

Onthou ook dat jy 18 moet wees voor jy mag pyp rook en op elke pakkie tabak is al die gesondheidswaarskuwings wat jy  moet lees. Sommige mense beskou rook as ‘n sonde en derhalwe moet jy ook ekstra belasting daarop betaal.

(Foto uit: Gentlemans Gazette, Guide to Tobacco Pipes and Pipe Smoking, 5 March 2014)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Veels geluk, liewe maatjie

Is daar by die Boerevolk enige unieke gebruike ten opsigte van verjaardae? Gebruike of tradisies wat nie onder ander volke voorkom nie, gebruike en tradisies wat deur ons voorouers begin is. As daar is, kon ek dit nie opspoor nie. Dit lyk of ons verjaardae vier op dieselfde wyse as in Engeland en Europa. Die koek met kersies en geskenke aan die een wat verjaar.

Verjaardagviering by klein kindertjies, by tieners en by volwassenes verskil van mekaar. By die kleintjies word maatjies genooi en, behalwe die koek en lekkernye, is daar ook speletjies om almal besig te hou. Dit alles word deur die ouers gereël. Tieners reël hulle eie partytjies met tienermusiek en dans. Afhangende van ouerlike toesig, mag daar ook aktiwiteite wees wat andersins ontoelaatbaar sal wees. Volwassenes se verjaardagvieringe wentel dikwels om ‘n ete. Dit kan ‘n braai wees of ‘n ete vir die genooide familie en vriende.

Die Bybel het nie riglyne oor verjaardae nie. Slegs een verjaardagviering word vermeld, die verjaardag van die Egiptiese Farao in Gen 40:20. Die Bybel se stilswye hieroor is vermoedelik omdat die Bybelse kalender op die maan se siklus bereken is. Die Romeine (ons gebruik hulle kalender) het verjaardae met rowwe partytjies en groot geskenke gevier. Van die vroeë kerkvaders het verjaardagvieringe afgekeur. In die middeleeue het die Europese adel hulle geboorteherdenkings gevier, die gewone mense het die Heiliges se geboortes herdenk. Vandag vier christene oor die algemeen wel verjaardae, hoewel daar sekere godsdiensgroepe is wat dit nie doen nie.

‘n Deurgangsrite is wanneer ‘n indiwidu die status van een ouderdomsgroep verlaat om die status van ‘n ander ouderdomsgroep te betree. Deurgangsrites verskil van een etniese groep na die ander. By ons is byvoorbeeld mondigwording en kerklike “aanneming” sulke rites. By die Boerevolk, was die “aanneming” in die kerk ‘n baie belangrike saak. Sou ‘n jong persoon nie slaag om “aangeneem” te word nie, was dit ‘n groot skande vir die familie. Die eintlike proses was die deurloping van “kategese”. Wanneer dit voltooi was, kon die jongeling “belydenis van geloof aflê”. Hierna was die jongeling ‘n volwasse lidmaat van die kerk.

Nie alle verjaardae is gelyk nie, sommiges is meer belangrik as ander. Wanneer volwassenes ‘n sekere mylpaal bereik, soos om 40 jaar oud te word, is dit ‘n groter geleentheid as sê 39. Daar is ook ander belangriker verjaardae soos aftree-ouderdom (wat ook die oorgang van een status na ‘n ander is) en ouderdomme soos 70, 80, 9o en 100.

Mondigwording is wanneer ‘n jong persoon oorgaan van kind tot volwassene. Die ouderdom van mondigwording word deur die betrokke land se regstelsel bepaal, dit is dus nie ‘n etniese aangeleentheid nie. Om ‘n sekere ouderdom te behaal gee aan daardie persoon sekere regte en verantwoordelikhede. Afhangende van die toepaslike regstelsel kan dit die reg gee om skool te verlaat, of om militêre diens te doen, of om in te stem tot seksuele omgang. Mondige persone mag ook die reg hê om sonder ouerlike toestemming in die huwelik te tree. Hulle mag ook stem in verkiesings, hulle mag alkohol en tabak koop, hulle mag lotery kaartjies koop of hulle mag ‘n bestuurderslisensie kry. Hulle is dan nie meer kinders nie en mag hulle eie besluite neem en kontrakte sluit. Daarmee saam is hulle ten volle aanspreeklik vir hulle dade en moet hulle verantwoordelikheid daarvoor neem. In sommige lande is daar meer as een ouderdom waarop hierdie regte en verantwoordelikhede oorgedra word, byvoorbeeld op 16 een ding, op 18 ‘n ander ding en op 20 die res.

In die dae van die V.O.C. was 25 die ouderdom van mondigwording. Tydens die pionierstydperk was dit van meer belang dat die kinders in staat moes wees om ‘n selfstandige boerdery te behartig. Dit word vertel dat ‘n seun met sy 16de verjaardag ‘n geweer en pyp present gekry het. Meisies was al van 14 af hubaar.

In ‘n groot deel van die wêreld, word verjaardae gevier met ‘n spesiaal gebakte koek waarop iets geskryf is en die persoon se ouderdom aangedui word. Gewoonlik is daar soveel kerse as die persoon se ouderdom, of alternatiewelik ‘n nommerkers. Die persoon wat verjaar moet die kerse doodblaas en ‘n wens maak. Dan is dit gebruiklik om aan die indiwidu wat verjaar, ‘n geskenk te gee wat pas by sy ouderdom. Daar mag ook ‘n heildronk ingestel word. Die stuur van verjaardagkaartjies het betreklik onlangs in gebruik gekom. Vandag word gelukwense ook deur telefoonoproepe en teksboodskappe gestuur.

Partytjies het dikwels ook ‘n tema. Die gaste trek so aan dat dit by die tema pas. Kunstenaars word ook soms gehuur om die partytjie op te vrolik, byvoorbeeld ‘n nar of ‘n orkes.

Daar is heelwat volwassenes wat sê dat hulle nie hul eie verjaardae belangrik ag nie en dit vergeet. Nogtans is dit lekker as jou geliefdes jou verjaardag onthou en jou bederf. ‘n Suksesvolle verrassingspartytjie se geheim is dat die persoon wat verjaar nie daarvan uitvind nie. Verkieslik moet hy die indruk kry dat sy familie en vriende sy verjaardag vergeet het. Die oorgang van teleurgesteldheid na blydskap is iets kosbaars om te beleef.

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin