Die Ou Testament en die Boek van Henog

Daar is heelwat belangstelling in die Boek van Henog met die groot vraag daaragter: moet dit in die Bybel wees? Alternatiewelik: Hoekom is dit uit die Bybel uit weggelaat? Henog is tog ‘n persoon in die Bybel, en ‘n uitsonderlike persoon daarby. Die Boek van Henog is ‘n godsdienstige boek wat op dieselfde manier as ander Bybelboeke geskryf is. Dit klink en lyk na ‘n Bybelboek. Daar is ook ‘n vers in die Nuwe Testament wat klink of dit aangehaal is uit Henog.

Daar is 3 verskillende boeke wat Boek van Henog genoem word. Dit word van mekaar onderskei deur die name 1 Henog (die Etiopiese Henog), 2 Henog (die Slawiese Henog) en 3 Henog (die Hebreeuse midrash). Hierdie 3 boeke is heeltemal verskillend van mekaar. Sou iemand dus praat van die Boek van Henog, word gewoonlik bedoel 1 Henog (maar ons moet eers seker maak ons verstaan reg).

Henog word ‘n apokriewe of pseudopigrafiese boek genoem. Wat beteken dit? Dit is belangrik om die verskil tussen hierdie tipes geskrifte te verstaan want dit het alles met die saak te doen.

Die 39 boeke van die Ou Testament wat in Protestantse Bybels is, word kanoniek genoem. Kanoniek beteken dat almal saamstem dat dit boeke is wat Heilige Skrif is. Dit is in alle christelike Bybels en dit is ook die boeke wat in die Hebreeuse Ou Testament (die Masoretiese Teks) is. Die deuterokanonieke boeke is boeke wat in Katolieke en Ortodokse Bybels is, maar nie in Protestantse Bybels en ook nie in die Masoretiese Teks nie. Hierdie boeke was wel ingesluit in die Griekse vertaling van die Oorspronklike Ou Testament (die Septuagint). Apokriewe (in Protestantse kringe) kan deuterokanonieke boeke beteken, maar dit sluit ook ander geskrifte in wat nie in die Septuagint was nie.  Hierdie ander geskrifte word pseudopigrafie genoem. Dit is boeke wat voorgee om deur ‘n sekere persoon geskryf te wees maar wat in werklikheid deur iemand anders geskryf is.

Die rol van die Septuagint is baie belangrik in die beoordeling van sulke geskrifte. Dit was ‘n vertaling van die Oorspronklike Ou Testament (uit Hebreeus) wat ongeveer 3 eeue voor Christus gedoen is. Die boeke in die Septuagint was dus die boeke wat erken was as Heilige Skrif ten tyde van Yeshua en die apostels. Indien ‘n boek nie deel van die Septuagint was nie, was dit ook nie as Heilige Skrif erken nie. (Die Masoretiese Teks het eers in die 7de tot 11de eeu tot stand gekom, meer as ‘n duisend jaar na die Septuagint.)

1 Henog word slegs as Heilige Skrif erken deur Beta Israel (‘n Joodse godsdiensgroep van Ethiopië) en die Etiopiese en Eritrese Ortodokse Tewahedo Kerke. Die Mormoonse Kerk erken (tot ‘n mate) ook die boek. Dit is waarskynlik oorspronklik geskryf in Aramees, maar het slegs volledig behoue gebly in die Ge’ez taal van Ethiopië. Moderne geleerdes meen die boek is tussen 300 voor Christus tot 100 na Christus geskryf (derhalwe nie deur Henog self nie).

1 Henog bestaan uit 5 hoofafdelings: Boek I handel oor die engele, hulle val en die gevolge vir die mensdom. Boek II (Gelykenisse) verwys na die oordeel van die gevalle engele. In Boek III word die beweging van hemelliggame aan Henog geopenbaar. Boek IV is visioene oor die geskiedenis van Israel. Boek V is ‘n brief van Henog. Geleerdes meen hierdie was oorspronklik 5 verskillende boeke wat op verskillende tye geskryf is en toe later in een boek versamel is.

Christelike kerke (behalwe die Tewahedo kerke) het teen die 4de eeu na Christus, besluit om 1 Henog nie in die Ou Testament op te neem nie. Die Etiopiese Kerk sien 1 Henog as ‘n geïnspireerde boek en Henog as die eerste skrywer in die geskiedenis van die mensdom. Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (die Mormoonse Kerk of die LDS), beskou die oorspronklike Boek van Henog as Heilige Skrif.

Die Nuwe Testamentiese boek Judas 1:14-15 klink of dit ooreenstem met 1 Henog 1:9, en asof Judas dit aangehaal het uit 1 Henog. Indien dit so is, sal dit beteken dat 1 Henog apostoliese goedkeuring het (met die voorbehoud dat 1 Henog wel deur Henog – die een in Genesis – geskryf is.) Dat Judas die man Henog aanhaal is ongetwyfeld so, maar of hy 1 Henog die boek aanhaal, is ‘n heel ander saak. Dit kon net sowel wees dat Judas ‘n mondelingse oorlewering aanhaal wat ook in 1 Henog aangehaal word.

2 Henog (die Slawiese Henog) is ‘n pseudopigrafiese geskrif wat waarskynlik oorspronklik in Grieks geskryf is en wat volledig behoue gebly het in ‘n Oud-Slawiese vertaling. 2 Henog bestaan uit 4 afdelings: Henog word deur 2 engele deur 6 hemels begelei, dan word hy deur Gabriel na die 7de hemel geneem, dan gee hy instruksies aan sy seuns en dan beskryf hy priesterlike opvolging.

3 Henog is ook ‘n pseudopigrafiese boek wat vertel hoe Henog verander is in die engel Metatron.

Om terug te keer na die oorspronklike vrae: Hoekom is Henog uit die Bybel weggelaat of moet Henog in die Bybel wees? Die antwoord is dat nie een van die Henog boeke ooit deel van die Ou Testament was nie (behalwe in Ethiopië) en ook nie moet wees nie. Dit was nie in die Septuagint nie en dus ook nie in die Oorspronklike Ou Testament nie.

Hoe moet ons hierdie boek hanteer? Dit is interessant om te lees, maar dit is nie geïnspireerde Skrif nie. Die inligting daarin is ook nie noodwendig korrek nie. Wees dus versigtig om dit as feitelik te aanvaar.

Daardie boeke wat deuterokanoniek is, word nie as onwaar beskou nie en kan met vrug gelees word. Hulle is ook nie teenstrydig met die kanonieke boeke nie. Hulle was in die Septuagint en dus ook in die Oorspronklike Ou Testament.

 

 

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui