Families en familiewapens

Familiewapens bestaan en bestaan ook nie.

By ons volk bestaan daar ‘n idee dat families wapens of embleme van hulle eie het. Dat dit ‘n soort logo is wat deur almal wat aan ‘n sekere familie behoort, gebruik kan word. Wie lede van daardie familie is, word bepaal deur wie hulle stamouers was en hulle word uitgeken daaraan dat hulle almal dieselfde van het.

In die heraldiek bestaan daar nie so iets soos ‘n familiewapen nie. Daar is slegs geregistreerde wapens en ongeregistreerde wapens. ‘n “Familiewapen” is ‘n wapen wat aan ‘n lewende persoon toegeken is. Hierdie persoon se wapen mag wel deur sy eie nasate oorgeërf word.

Die Boerevolk se regstelsel is die Romeins-Hollandse reg. Daarvolgens word almal toegelaat om wapens te voer, dit mag net nie op ander se regte inbreuk maak nie. Tydens die V.O.C. se bewind het baie burgers familiewapens gehad. Sommige van hierdie wapens word nog steeds deur hulle nasate gebruik. Die Britse reg is heel anders. Vir die Britte is ‘n wapen ‘n eerbewys wat deur ‘n owerheid aan ‘n persoon toegeken is. Na die Britse Besetting het die Boere se heraldiek en die Britte se heraldiek langs mekaar bestaan. Na die Anglo-Boereoorlog, het die Unie-regering aandag aan heraldiek begin gee. Gedurende die 1930’s en 1940’s was daar ‘n poging om die volkserfenis te bevorder en is daar heelwat geskryf oor families en familiewapens.

Heraldiek is nie net op wapens van indiwidue gerig nie, maar ook wapens van owerhede, skole, kerke, korporasies en so meer. Na Republiekwording, is die Heraldiekwet van 1962 ingestel. Hierdie wet was op die Sweedse model gebou. Hierna is die Buro vir Heraldiek en die Heraldiekraad ingestel. Om volgens die Heraldiekwet geregistreer te word, moet wapens heraldies korrek wees. ‘n Wapen wat by die Buro van Heraldiek geregistreer is, word beskerm en mag nie deur iemand anders sonder toestemming gebruik word nie.

Cornelis Pama word beskou as die vader van heraldiek in Suid-Afrika. Hy is bekend as heraldikus en genealoog in beide Nederland en Suid-Afrika. Hy het heelwat boeke oor hierdie onderwerpe in Nederlands en Afrikaans gepubliseer. Hy was betrokke by die ontstaan van die Heraldiekraad en het ook van die Republiek (1961) se kentekens ontwerp. Hy was ook voorsitter van die Heraldiese Genootskap en ‘n stigterslid van die Genealogiese Genootskap. Hy het ook, onder andere, Ons Familiewapens (1943) (dus lank voor die Heraldiekwet) en Die Groot Afrikaanse Familienaamboek (1983) gepubliseer.

Na die Tweede Wêreldoorlog het daar ‘n reeks artikels in die Brandwag verskyn wat familiewapens bevat het. Die artikels is deur N.H. Theunissen geskryf. Hierdie wapens is deur mense as die korrekte familiewapens aangesien en kort voor lank is hierdie wapens op allerlei voorwerpe aangebring en as aandenkings verkoop. Ongelukkig was die saak nie so eenvoudig nie. Een van die probleme hiermee was dat daar dikwels verskillende families is wat dieselfde van het, maar nie dieselfde stamouers het nie. Gevolglik was baie van hierdie wapens foutief. Op daardie stadium was daar nog nie ‘n Heraldiekwet nie en dus was al hierdie wapens ongeregistreerde wapens.

Dr Pama het begrip gehad vir die probleem van ongeregistreerde familiewapens en het daarvan in sy boek ingesluit. Hy het nie hierdie wapens verwerp nie, maar was nietemin van mening dat jy jou wapen moet registreer as jy ‘n wettige reg daarop wil hê.

Die naaste wat ‘n familie vandag kan kom om ‘n wetlik erkende familiewapen te hê, is om ‘n familiebond te stig. Almal van ‘n sekere familie wat belangstel, werk saam en vorder geld in om ‘n wapen te ontwerp en te registreer. (Dit is nogal duur). Hierdie wapen mag nou wettiglik deur die lede van die familiebond gebruik word. Die familiebond se bedoeling is gewoonlik om ‘n wapen vir die hele familie te bekom, hulle mag dalk nie omgee as nie-lede dit ook gebruik nie.

Die Skotte is trots op hulle clans (stamme of families) en tekens en embleme wat hulle verwantskap aandui. Clans het stamhoofde en is geregistreer by ‘n spesiale hof. Die stamhoof mag ‘n bepaalde tartan ontwerp amptelik erken en lede van die clan mag dit dan gebruik vir hulle kilts. Lede van die clan kan ook hulle verbintenis met die stamhoof vertoon deur die dra van ‘n crest badge. Daar is by die mens die behoefte om te behoort en identifikasie deur familieverwantskap is een manier om hierdie behoefte te bevredig.

By ons word indiwidue as regspersone erken, maar nie families nie. Dit is waarskynlik die kern van die probleem met familiewapens. Ons het ook nie familiehoofde wat namens hulle families optree nie, net familiebonde. Ons het ook nie ‘n stamstruktuur nie.

Familiewapens is waarskynlik net belangrik vir familienavorsers. Vir ander lede van die familie is dit net ‘n aardigheid.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui