Hy was Swart, nie swart nie

Die Republiek van Suid-Afrika het in 1961 tot stand gekom, nie in 1994 nie. Die eerste president van die republiek was Charles Robberts Swart, nie Nelson Mandela nie. In 1994 was daar ‘n magsoorname, daar was nie ‘n nuwe staat gestig nie. C. R. Swart het Elisabeth II van Brittanje opgevolg as staatshoof van Suid-Afrika.

Die eerste President was ‘n Boer. Charles Robberts Swart (of Oom Blackie soos die volk hom geken het) was in 1894 gebore in Winburg, Republiek van die Oranje-Vrystaat. Tydens die Anglo-Boere Oorlog (1899-1902), was Oom Blackie in die Konsentrasiekamp op Winburg saam met sy moeder en ander familie en bure. Sy vader was krygsgevange geneem.

Oom Blackie was ‘n besonder skrander persoon. Hy begin skool op sewejarige ouderdom en behaal sy matriek op dertienjarige ouderdom. Hy was te jonk vir toelating tot die universiteit en begin as vyftienjarige werk as magistraatsklerk. In 1910 begin hy met sy studies by die Grey-universiteitskollege en in 1912 behaal hy sy B.A.-graad. Van 1914 tot 1915 was hy ‘n onderwyser op Ficksburg. Van 1915 tot 1918 studeer hy verder en behaal die LL.B graad. In 1918 werk hy as regsassistent by die Bloemfonteinse Munisipaliteit. Van 1918 tot 1948 was hy ‘n advokaat by die Hooggeregshof in Bloemfontein en ook deeltydse dosent in regte.

Met die Rebellie van 1914 was Oom Blackie in hegtenis geneem op aanklagte van spioenasie en dat hy by die rebelle wou aansluit.  Hy was vrygelaat en toegelaat om onderwys te gee, maar was heeltyd onder huisarres.

Gedurende 1921-1922 was hy in die VSA vir studie in joernalistiek. In hierdie tyd het hy op parkbankies geslaap, op straathoeke gesing vir geld en selfs in ‘n rolprent opgetree. Hy het ‘n studietoer onderneem in die VSA, Brittanje, Nederland en België. Later in sy lewe het hy as joernalis en redakteur gewerk.

Oom Blackie Swart het van jongs af in politiek belanggestel en was ‘n stoere republikein. Hy was sedert die stigting van die Nasionale Party in 1914 ‘n lid daarvan. Van 1923 tot 1933 was hy volksraadslid vir Ladybrand. Die smelting van Genl Herzog se Nasionale Party en Genl Smuts se Suid-Afrikaanse Party in 1933, was vir Oom Blackie totaal onaanvaarbaar. Hy sluit toe ook aan by die Gesuiwerde Nasionale Party van Dr D.F. Malan. In 1939 vind die skeuring tussen Hertzog en Smuts plaas en daarna het die Herenigde Nasionale Party tot stand gekom. Die verhouding tussen Oom Blackie en Genl Hertzog (albei Vrystaters) was nie goed nie. In 1941 word Oom Blackie deur Winburg weer tot die Volksraad verkies. Na die oorwinning van die Nasionale Party in 1948, stel Dr Malan hom aan as Minister van Justisie.

In 1939 het Oom Blackie by die Ossewa-Brandwag (OB) aangesluit en op die Groot Raad gedien. Hy het later daaruit bedank omdat die OB nie meer aan sy verwagtinge voldoen het nie. Na die koalisie het hy aangesluit by die Afrikaner-Broederbond (AB) want hy het gemeen hulle streef na volkseenheid.

C.R. Swart was gereken as ‘n besonder bekwame kabinetsminister. Van 1960 tot 1961 was hy die laaste Goewerneur-Generaal van die Unie van Suid-Afrika. Net soos sy voorganger, het hy geweier om ‘n eed van getrouheid aan die staatshoof, Elisabeth II van Brittanje, af te lê. Van 31 Mei 1961 af was hy die eerste president van die Republiek van Suid-Afrika. In 1967 het hy afgetree en hom op sy plaas De Aap naby Brandfort gevestig. In 1982, toe hy 87 was, is Oom Blackie oorlede.

Oom Blackie was nie net in die politiek betrokke nie, hy het heelwat op kultuurterrein gedoen. Hy was betrokke by die Taalfees, FAK, Voortrekkers, Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Nasionale Vrouemonument, Afrikaanse Handelsinstituut en nog meer.

Oom Blackie was ook ‘n skrywer en joernalis. Hy het twee kinderboeke geskryf: Kinders van Suid-Afrika (1933) en Die agterryer (1939). Hy het ‘n aantal artikels vir tydskrifte en koerante geskryf. Hy het ook gedigte en liedere geskryf, ondermeer skoolliedere vir drie verskillende skole.

Verder het Oom Blackie rugby gespeel en was hy ‘n skeidsregter. Hy het ook van jukskei en rolbal gehou. Hy het ook met Afrikanerbeeste geboer. Hy was lank en skraal, meer as twee meter lank.

Oom Blackie was ‘n gewilde en geliefde persoon, altyd toeganklik en jonk van gees. Van die ouer geslag sal sy staaltjies en humorsin onthou. Een staaltjie wat hy vertel het, was van ‘n ernstige toespraak by ‘n volksfees. Hy noem toe die helde van Spioenkop. ‘n Oom wat nie goed kon hoor nie, spring op en skree “Hoor, hoor”. Na die tyd vertel die oom: “O, het jy gesê die helde van Spioenkop, ek het gedink jy sê te hel met die spietkops.” ‘n Ander staaltjie was oor die bewoording van ‘n naambord vir sy plaas. Moet dit lees: C.R. Swart – De Aap of De Aap – C.R. Swart?

Hy was ‘n veelsydige man. ‘n Beginselvaste persoon, hy het nie saam met die wind gedraai nie en nie sy oortuigings prys gegee om sy loopbaan of finansies te bevorder nie. ‘n Man van integriteit, ‘n man uit die volk en vir die volk. Hy het geleef en gestreef in die tyd tussen die generaals en die beroepspolitici, in die tyd van die republikeine.

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui