Moet die boek van Serubbabel in die Bybel wees?

Het jy al gehoor van die boek van Serubbabel? Jy weet, dáárdie Serubbabel, die man aan wie die reg op die koningskap van Dawid gegee is. Daar waar die verloop van die geskiedenis verander het. Die vriend van Koning Darius van die Perse. Die man wat die tempel in Jerusalem herbou het. Daar is ‘n paar dinge omtrent hierdie man wat interessant is.

Ek dink dit is ‘n boek wat saam met die Bybel gelees behoort te word. Die boek van Serubbabel is my naam vir die Derde Boek van Esra, ook bekend as 1 Esdras of 2 Esdras, afhangende van wie praat. Ek sal dit verder 1 Esdras noem want dit begin by gebeure voor die Bybelboek Esra. Die grootste deel van die inhoud van hierdie boek is identies aan gedeeltes in drie ander boeke van die Ou Testament. Die res, dit wat oorspronklik is en slegs in hierdie boek voorkom, gee inligting wat nie in die Ou Testament is nie.

Hoofstuk 1 = 2 Kronieke 35:1 tot 36:21. Dit is van Koning Josia van Juda se dood af tot met die verwoesting van Jerusalem. Hoofstuk 2:1-14 = Esra 1:1-11. Dit handel oor die edik van Koning Kores om die tempel te herbou en die opdrag aan Sesbassar, vors van Juda. Hoofstuk 2:15-26 = Esra 4:7-24. Dit was die eerste poging om Jerusalem en die tempel te herbou en die verydeling daarvan van Koning Kores se tyd af tot Koning Darius se tyd.

Hoofstukke 3 en 4 is oorspronklik. Dit kom slegs voor in die Derde Boek van Esra. Dit vertel hoe Serubbabel ‘n vriend van Koning Darius geword het en gestuur word om die tempel in Jerusalem te herbou. Hoofstuk 5:4-6 is oorspronklik.

Hoofstuk 5:7-73 = Esra 2:1-4:5. Dit is ‘n lys van ballinge wat teruggekeer het na Jerusalem en Juda. Hoofstuk 6 tot 7:9 = Esra 5:1 tot 6:18. Dit vertel van nog ‘n poging om die bou van die tempel te verhinder en van die voltooing van die tempel. Hoofstuk 7:10-15 = Esra 6:19-22. Die viering van die Pasga. Hoofstuk 8:1 tot 9:36 = Esra 7:1 tot 10:44. Die ballinge wat saam met Esra teruggekeer het. Hoofstuk 9:37 tot vers 55 = Nehemia 7:73-8:12. Esra lees die Wet voor.

Die eerste vraag oor Serubbabel is: Wie was Sesbassar, die vors van Juda? In Esra 1 word die taak om die tempel voorwerpe terug te neem na Jerusalem toe opgedra aan Sesbassar. In Esra 5:16 word gesê Sesbassar het die fondamente van die tempel gelê. Daarna word sy naam nie weer genoem nie. Maar verderaan in Esra, word gesê dat dit Serubbabel was wat die tempel se fondament gelê het. In 1 Esdras 6:18-19 word Serubabbel en Sesbassar in dieselfde sin as dieselfde persoon beskryf. Die kort antwoord is, volgens 1 Esdras, dat Sesbassar en Serubbabel dieselfde persoon was.

Die tweede vraag oor Serubbabel is of hy die kleinseun van Koning Jegonja was. Die kinkel in die kabel is in Jeremia 22:28-30 waar die profeet sê Jegonja sal as kinderloos opgeskryf word en sy nageslag sal nie op die troon van Dawid sit nie. In Mattheus 1:12 is Sealtiel die seun van koning Jegonja en die vader van Serubbabel. Maar in Lukas 3:27-28 word gesê Sealtiel was die seun van Neri en die vader van Serubbabel.  Effektief hou die koninklike geslag op by Jegonja – maar die huis van Dawid kan nie ophou voor die Gesalfde nie gekom het nie. Die oplossing lê daarin dat Jegonja die laaste koning uit die nageslag van Salomo was, maar dat Neri, Sealtiel en Serubbabel uit die nageslag van Nathan (Dawid se ander seun) was. Serubbabel was die “kleinseun” van Jegonja in erfopvolging en die kleinseun van Neria uit die bloedlyn van Nathan.

Die derde vraag is: hoekom het Koning Darius van die Perse besluit dat die tempel in Jerusalem herbou moet word? Hoekom het die Persiese konings ‘n goeie gesindheid teenoor die Judeërs gehad? Koning Ahasveros was met Ester getroud en Mordechai het ‘n vertroueling van die koning geword. Koning Kores het opdrag gegee dat die tempel in Jerusalem herbou moet word. Koning Darius het dit bevestig. Koning Artasasta gee aan Nehemia toestemming om die mure van Jerusalem te herbou.

1 Esdras vertel hoe dit gebeur het dat Serubbabel hoë aansien by Koning Darius gekry het. Drie lyfwagte van die koning het debat gevoer na aanleiding van die vraag: “wie of wat is die sterkste?” Serubbabel se antwoord was vir die koning en sy raadgewers die beste en die koning verhef Serubbabel tot “bloedverwant”. Serubabbel vra die koning dat hy die tempel in Jerusalem mag herbou. Die koning gee toestemming.

Hierdie Serubbabel word die vors van Juda en ‘n direkte voorouer van Yeshua, die gesalfde. In hom kom die geslagsregisters van Mattheus en Lukas bymekaar uit. Volgens die kanonieke boeke van die Bybel alleen, is die geskiedenis van Serubbabel nie heeltemal duidelik nie. Uit die deuterokanonieke boek 1 Esdras leer ons meer van hierdie persoon.

 

 

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Wat het in 1971 gebeur?

Jare terug het ek iets gelees oor ‘n 46 jaar siklus in ons volk se geskiedenis. Wie dit geskryf het, kan ek nie onthou nie. Ek kry ook nie enige inligting daaroor nie. Sekerlik was dit 46 jaar van 1902 tot 1948 en weer 46 jaar van 1948 tot 1994. Die teorie het voorts gesê dat halfpad deur die 46 jaar, na 23 jaar, daar ook iets belangrik gebeur het.

1902 was die Vrede van Vereeniging, die einde van die Anglo-Boere Oorlog. Toe het ons volk selfregering verloor. In 1948 het die Nasionale Party van Dr. Malan aan bewind gekom en hulle het ons gebring tot by ‘n vorm van selfregering. 23 Jaar na 1902 en 23 jaar voor 1948 was 1925. Dit was toe dat Afrikaans as amptelike taal erken is. Halfpad na selfregering toe was daar ‘n taal oorwinning.

Van 1948 af het ons volk selfregering gehad, dit het ons in 1994 verloor. 23 jaar na 1948 en 23 jaar voor 1994, was 1971. Ek kon onthou van gebeure voor 1971 en gebeure na 1971, maar ek kon niks belangrik van 1971 onthou nie. Beteken dit die siklus-teorie werk nie?

Nou het ek wel afgekom op iets wat in 1971 gebeur het en wat dalk iets beteken.

John Vorster se termyn as volksleier was ongelukkig. Die eerste skeuring in die Nasionale Party vind plaas in 1969 toe 4 kabinetslede bedank om die Herstigte Nasionale Party te stig. In 1979 moes hy bedank as Staatspresident as gevolg van die Inligtingskandaal. Vorster was ‘n vurige nasionalis en vroeër bekend weens sy kragdadigheid. Dit wil lyk of die Peter Principle op hom van toepassing was: hy het opgang gemaak tot hy sy vlak van onbekwaamheid bereik het. Waar sy voorganger, Dr Verwoerd, bekend was as ‘n man van beginsel, het Vorster probeer om ander ter wille te wees met sy beleid van pragmatisme.

Die eerste groot kopseer vir Vorster, nadat hy dr Verwoerd opgevolg het, was sport. Begin 1967 was die Nasionale Party eenparig in sy sportbeleid. Kort daarna het Vorster sy standpunt, met baie woorde maar sonder om iets te sê, oor sport gestel. Dit was duidelik dat hy, as hoofleier, nie ‘n beleid oor veelrassige sport gehad het nie. So is daar vir ‘n paar jaar voortgeploeter.

In April 1971 kom die Afrikaner-Broederbond tot die regering se redding. Hulle formuleer toe ‘n sportbeleid vir die regering. Voorheen het die Broederbond nie ingemeng in die opstel van politieke beleid nie, nou het hulle dit begin doen. Nie net dit nie, die volk moes nie ingelig word oor die praktiese implikasies daarvan nie. Dus in 1971 begin ‘n geheime organisasie, die Afrikaner-Broederbond, om regeringsbeleid op te stel en word die volk in die duister gehou oor wat presies aan die gang is. Ek sien dit as die begin van die verlies aan selfregering.

Reeds voor 1971 het die Broederbond ontsaglike invloed gehad oor die volk. Alle organisasies wat iets met die volk te doen gehad het, was onder hulle invloed of beheer. Kerk, kultuur, sake – alles. Direk of indirek. Van 1971 af het hierdie geheime organisasie in die geheim effektief oor die volk regeer.

Die Broederbond het blykbaar 3 faksies gehad: verligtes, gematigdes en verkramptes. Die Herstigte Nasionale Party was die verkramptes en verloor  in 1971 hulle lidmaatskap. Daarmee bly slegs die linkses oor. Die verkramptes was nog nasionaliste in die gees van Malan, Strijdom en Verwoerd. Die verligtes was internasionaliste en die gematigdes moes die volk gerusstel. Hierna is Nasionale Pers as die propaganda-arm van die verligtes gebruik. Die Beeld het in 1971 ‘n dagblad geword – in Transvaal waar die volk meer nasionalisties was.

Dit word beweer dat Dr Nico Diederichs (Minister van Finansies) in 1971 die jaarlikse Bilderberg byeenkoms in Bermuda bygewoon het. Daardeur het die Bilderberg groep ‘n verteenwoordiger in die regering en die Broederbond gekry.

Wie was die Voorsitters van die Broederbond van 1971 af? Dr PJ Meyer (1960-1972), Dr AP Treurnicht (1972-1974), Prof G Viljoen (1974-1980), Prof CWH Boshoff (1980-1983), Prof JP de Lange (1983-1993), Mnr TL de Beer (1993-1994). Binne die Broederbond was daar glo ook ‘n binnekring wat die kitaar geslaan het.

Indien dit korrek is dat die volk sedert 1971 nie veel seggenskap oor regeringsbeleid gehad het nie, verloor ons alles in 1994. Van toe af het ons glad nie meer selfregering oor enige iets nie. Ons is weer terug waar ons in 1902 was.

Indien hierdie 46-jaar siklus nog van toepassing is, is 2017 23 jaar na 1994. Beteken dit iets?

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

JHWH se drie swaargewigte

Net voor die finale val van Jerusalem en Juda in 586 v.C., kom die oudstes onder die ballinge na die profeet Esegiël toe om YHWH te raadpleeg. Is daar enige iets of iemand wat YHWH kan ompraat om nie die stad, die land en die mense van Juda uit te roei nie? YHWH sê aan Esegiël dat selfs al sou Noag, Job en Daniël by Hom pleit, sal Hy nie luister nie. Hy noem hulle vier keer. As hulle drie in Jerusalem was, sal Hy net hulle self red, maar nie eers hulle kinders nie. Hierdie woorde staan opgeteken in Esegiël 14:12-23. Hierdie drie manne word uitgesonder as die mense wie se gebede groter gewig dra as enige iemand anders se gebede.

Wat van Abraham, Moses en Dawid? Hulle is tog almal geloofshelde. Hoekom word hulle name nie genoem nie?

Noag het nie vir die mense wat boosheid gedoen het, gebid nie. Nie soos Abraham vir die mense van Sodom en Gomorra gepleit het nie. Dit is ook nie uitdruklik opgeteken dat hy die mense gewaarsku het nie. Wat het Noag gedoen dat YHWH hom uitsonder? Genesis 6:9 sê: Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel. Sy kwalifikasie was sy persoonlike verhouding met YHWH.

Volgens die Griekse Ou Testament was Job ‘n kleinseun van Esau. Na Job en sy vriende klaar gedebatteer het, praat YHWH met die drie vriende in Job 42:8. Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, en gaan na my kneg Job en bring ‘n brandoffer vir julle, en laat my kneg Job vir julle bid; want hom alleen sal Ek in guns aanneem, sodat Ek aan julle nie die dwaasheid laat vergelde nie; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie. Job het die waarheid oor YHWH gepraat want hy het ‘n persoonlike verhouding met YHWH gehad.

Van die hedendaagse skrifgeleerdes meen dat die Daniël wat in Esegiël genoem word, nie die Bybelse Daniël is nie maar dat dit ‘n legendariese persoon was wat nie in die Bybel vermeld word nie. Let egter daarop dat dit is nie Esegiël is wat van Daniël praat nie, dit is YHWH wat van hom praat. Daar is ook net een Daniël van wie YHWH sal praat. Die Bybelse Daniël het gereeld gebid, by homself. Hy het wel gebid om te vra oor sy volk se toekoms. Hy het nie gebid of gepraat oor sy volk se sondes nie.  In Judaïsme word Daniël nie beskou as ‘n profeet nie. Dit was Yeshua wat hom ‘n profeet genoem het. Hy was ‘n “geliefde man” by YHWH en daarom is daar soveel aan hom geopenbaar. Daniël het ‘n intieme verhouding met YHWH gehad.

Noag en Job het nie die Wet van Moses onderhou nie. Hulle het geleef en gesterf voordat Moses gebore was. Hulle was ook nie Israeliete nie. Noag was die vader van die ganse mensdom. Abraham, Isak, Jakob, Moses, Dawid stam almal van hom af. Hy word ook hoër geag as Henog. By wie het Job van YHWH geleer? By sy oupa Esau? In elk geval, Job bewys alle mensgemaakte teologie verkeerd. Daniël was wel ‘n Israeliet en het die Wet onderhou sover dit moontlik was vir ‘n balling in Babilonië. Boonop was die tempel reeds tot niet, afgebreek en verbrand.

Om te bid is nie net goed nie, dit is noodsaaklik. Solank YHWH bereid is om te luister. Maar as Hy nie wil luister nie? Sien, verhoring van gebede is nie vanselfsprekend nie. YHWH sê aan Esegiël dat Hy nog na Noag, Job en Daniël sal luister, maar nie na enige iemand anders nie. Hy sal ook net hulle gebede ten opsigte van hulleself verhoor, Hy sal nie hulle intersessie vir Juda en Jerusalem aanvaar nie.

Wat was so erg dat gebede vir Juda en Jerusalem nie aanvaarbaar was nie? Wat was erger as Sodom en Gomorra? Ontrouheid aan JHWH. Die ontrouheid het gegroei en gegroei totdat dit ryp geword het.

Mens wonder oor die situasie onder ons volk. Hoekom gaan dit so met ons? Het ons afgedwaal? Het ons oortree? Indien wel, sal geen politieke of militêre aksie ons help nie.

Om by JHWH in te tree vir iemand anders, moet jyself ‘n intieme persoonlike verhouding met Hom hê. Jy sal by Hom moet uitvind of Hy bereid sal wees om te luister.

.

 

 

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Dag Neef. Wie se neef is jy?

By die Boerevolk was familie uitlê ‘n algemene praktyk. My oupa het dit nog gedoen. Vir verskillende redes was dit destyds ook noodsaaklik. Om te weet wie jou eie familie is en wat hulle verwantskap met jou is, moes jy familie kon uitlê. Gesinne was groot en families nog groter. Wanneer jy ‘n vreemdeling ontmoet, wou jy graag weet waar hy inpas en gevolglik was familie uitlê ‘n waardevolle hulpmiddel.

‘n Meisie bring ‘n nuwe kêrel, wat sy op universiteit ontmoet het, huistoe. Oupa sal vra: “Van watter Smitte is jy?” Die jongman sal dan antwoord: “Oom, ek kom van Bloemhof af.” Oupa sal wil weet wie sy ouers is. Die kêrel sal hulle name noem. Oupa wil dan weet of hulle dalk familie is van Jan Smit van Kromdraai. Kêrel sal antwoord dat dit sy pa se neef is. Nou begin dinge vir Oupa in plek val. Hy onthou Jan se oupa en sy kinders en wie nou eintlik wie is.

Vandag doen ons nie meer familie uitleg nie. Ons het nou ‘n ander manier om ‘n nuweling te leer ken. Ons sal wil weet wat die jongman studeer, waar hy woon en sal ander soortgelyke vrae stel. Andersins vra ons waar werk hy en wat sy beroep is. Wanneer dit kom by vreemdelinge ontmoet, was familie uitleg bloot ‘n manier om iemand te leer ken. Daar was nie bybedoelings nie. Op grond van hierdie inligting kon jy dan ‘n verdere gesprek voer.

Wanneer dit by eie familie kom, is dit om persone binne hulle verwantskappe te kan plaas. Daar is twee soorte verwantskappe: bloedverwante en aanverwante. Jou bloedverwante is almal wat dieselfde voorouers het as jy, wat ten minste een voorouer met jou deel. Aanverwante is aangetroude familie. Dit is persone wat met een van jou bloedverwante getroud is of iemand wat ‘n bloedverwant van jou man of vrou is. Jou vrou se broer is ‘n aanverwant, maar sy vrou se broer is nie.

Bloedverwantskap word uitgedruk in grade van verwantskap. Tussen ouer en kind is dit die eerste graad, tussen grootouers en kleinkind is dit die tweede graad. Verwantskappe sywaarts word gevind deur die aantal geboortes te tel van jou af tot by die eerste gemeenskaplike voorouer en dan van daar af na die ander persoon. Broers en susters is in die tweede graad verwant, ooms en tantes in die derde graad en vol neefs en niggies in die vierde graad. Kinders van jou broer of suster is in die derde graad aan jou verwant.

By aanverwantskap bestaan dieselfde grade van verwantskap. Swaer en skoonsuster is aanverwant in die tweede graad, aangetroude ooms en tantes in die derde graad ensovoorts. Die aangetroude verwantskap word nie deur egskeiding tot niet gemaak nie.

‘n Halfbroer of -suster is in grade van verwantskap dieselfde as ‘n volbroer of -suster. Stiefouers en -kinders is aanverwante. ‘n Aangenome kind is vir alle praktiese doeleindes ‘n bloedverwant. ‘n Buite-egtelike kind is ‘n halfbroer of -suster.

In Afrikaans het “neef” twee betekenisse. Dit is die seun van jou broer of suster of die seun van jou swaer of skoonsuster (Engels nephew). Dit kan ook die seun van jou oom of tante wees (Engels cousin). Die seun van jou neef word kleinneef of agterneef genoem. Met niggie is dit dieselfde as met neef, net vroulik. (Neef en niggie is ook ‘n beleefde aanspreekvorm vir persone van ongeveer dieselfde ouderdom, net soos oom en tannie is vir ouer persone).

Ons gebruik die term agterneef en -niggie wanneer die verwantskap verder terug is. Ons praat ook van oupa- en oumagrootjie. Verder terug is dit oorgrootjies.

By die Boerevolk was familie verwantskap, voor ons verstedelik het,  belangrik. Die families was groot en het dikwels in dieselfde omgewing gewoon en waar nodig saamgestaan. Met die Groot Trek het families dikwels saam getrek en saam laer opgeslaan. By ons is families amper soos die Skotse clans.

Dit is nogal merkwaardig dat blanke Suid-Afrikaners oor sulke omvattende geslagsregisters beskik. Hoewel daar nog baie is om na te vors, kon baie van ons families ons voorgeslagte tot in Europa terugspoor.

Teoreties behoort elke indiwidu aan ‘n gesin, elke gesin aan ‘n familie en elke familie aan ‘n volk. Ongelukkig is dit nie in die praktyk so nie. Indiwidue en gesinne het vir die volk verlore geraak. Dit wil sê dat gedeeltes van families, en miskien selfs hele families, vir die volk verlore is.

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Aan die einde van die bloedspoor is ‘n Boer

Ons kan Herrie die Strandloper (ook bekend as Autsumao van die Goringhaikonas) as die eerste plaasmoordenaar beskou. Op 19 Oktober 1653 vermoor hy en sy maats vir David Jansz, die Kompanjie se veewagter. Hulle steel ook bykans die hele kudde beeste. Hy vlug, maar 2 jaar later kom hy terug en kom skotvry daarvan af. Van Riebeeck straf hom nie vir sy misdade nie en laat hom toe om weer daar te bly.

Mettertyd het ons voorgeslagte ‘n deurgang deur die berge gekry en hulle in die binneland gaan vestig. Hulle beweeg verder ooswaarts en teen 1770 bereik hulle die Sneeuberge. Hierna vestig sommiges hulle in die Zuurveld wat grens aan die Xhosa stamgebiede. Dit is hier waar hulle vir die eerste keer swartmense ontmoet het. Nie lank nie, toe is daar moeilikheid.

Teen 1779 was veediefstal deur die Xhosas so algemeen dat die blankes hulle plase moes verlaat. Optrede deur kommando’s in 1780 slaag om vee terug te kry, maar hulle kon nie die Xhosas van die plase af verdryf kry nie. Die regering in die Kaap het toe vir Adriaan van Jaarsveld as veldkommandant aangestel en sy kommando kon vee terugkry en Xhosas uit die Zuurveld verdryf. Hierdie was die Eerste Grensoorlog en die oorsake was veediefstal en grondroof. Adriaan van Jaarsveld was later een van die leiers wat die republieke van Swellendam en Graaff-Reinet gestig het.

Hierna volg die Tweede, Derde, Vierde en Vyfde Grensoorloë. Die redes bly dieselfde: veediefstal en grondroof. Die owerhede probeer met versoening die saak oplos, en dit werk nie. Eers probeer die Kompanjie en daarna probeer die Britse Empire. Die blankes in die binneland begin besef dat die owerhede nie na hulle omsien nie en die republikeinse ideaal word gebore.

Ten spyte van die vorige oorloë het toestande aan die Oosgrens bly verswak. Die Britte het nie ‘n konsekwente beleid gevolg nie en die Xhosas het dit gesien as swakheid by die blankes. Die Koloniale Regering het troepe in die gebied verminder en beperkings op die kommando’s geplaas. Handelaars het wapens en ammunisie aan die Xhosas verkoop. Gewapende Khoikhoi drosters sluit by die Xhosas aan. Die grensboere en setlaars besef hoe onveilig die situasie geword het. In 1834 bars ‘n groot mag Xhosas oor die grens. ‘n Honderd blankes word vermoor, opstalle word geplunder en afgebrand, 7 000 mense word dakloos. Die grensboere verloor 115 000 beeste, 161 000 skape en bokke, 5 700 perde en 60 waens. Die Britte tree op teen die Xhosas en behaal ‘n klinkende oorwinning. Vir hierdie poging het die Britte voorrade, waens en perde by die grensboere opgekommandeer. Die Britte se vergoeding aan die grensboere was maar karig. Verder het hulle die grensboere daarvan beskuldig dat hulle die Xhosas aanhits deur hulle vee te gaan terugneem. Die Britte se hantering van die grensboere tydens die Sesde Grensoorlog was een van die oorsake van die Groot Trek.

Na my mening was die moorde tydens die Groot Trek in prinsiep dieselfde as vandag se plaasmoorde. Die Voortrekkers het nog nie grond gehad nie, hulle was nog opsoek na grond. Hulle het nie enige iemand bedreig nie, hulle was nie in vyandskap met iemand anders nie. Hulle het nie verwag dat hulle aangeval sou word nie.

Die Van Rensburg-trek het gesoek na ‘n roete na Delalgoabaai. Niksvermoedend het hulle naby die stat van Manukozi uitgekamp. Gedurende die nag word hulle aangeval. Hulle veg verbete terug, maar hulle ammunisie raak op en hulle word uitgemoor. Karel Tregardt vind hulle beendere en begrawe dit.

Van die Potgieter-trek se mense kamp uit naby die Vaalrivier. Stephanus Erasmus en ander het gaan jag. Toe hulle die aand terugkeer, kom hulle af op Matabeles wat hulle kamp aangeval het en die blankes en die nieblanke bediendes vermoor het. Erasmus en sy een seun jaag na die ander Trekkers om hulle te waarsku. Die Liebenbergs trek nie betyds laer nie en word die oggend aangeval. Sommiges het wonderbaarlik ontkom,  maar al die vee word gesteel en twee meisies en ‘n seun word ontvoer. Die lot van hierdie kinders is nie bekend nie. Die slag van Vegkop het hierop gevolg.

Nadat die Zoeloekoning, Dingaan, vir Piet Retief en sy 70 metgeselle laat vermoor het, het hy opdrag gegee dat die res van die Voortrekkers ook uitgewis moes word. Die laers was wyd uitmekaar al langs die Tugelarivier en sy sytakke. Op 16 Februarie 1838 bekruip die Zoeloes die niksvermoedende Voortrekkers. Die nag van die aanval was dit donkermaan. Die Voortrekkers het eers besef wat aangaan toe die Zoeloes tussen hulle was. Twee Bezuidenhout broers kon ontsnap om ander laers te waarsku. Die aanval was op die laers wat by Bloukrans, Moordspruit en Weenen gestaan het. Van die Voortrekkers is 41 mans, 56 vroue, 185 kinders en 200 bediendes uitgemoor. Die aanvalle het met ongekende wreedheid plaasgevind. Die slagoffers se liggame is oopgeskeur, vroue is met skerpgemaakte stokke in die onderlyf deurboor en kinders is teen wawiele doodgeslaan. ‘n Strafekspedisie is uitgestuur maar dit het misluk. Uiteindelik het dit gelei tot Bloedrivier.

Ook tydens die Anglo-Boere Oorlog is geweldsmisdade teen veral kinders en vroue gepleeg. Die Havenga-verslag bevat inligting hieroor. Hierdie misdade was gepleeg deur Britse soldate en Swart troepe wat aan Britse kant geveg het.

Die wreedheid teenoor ons voorgeslagte het ook verkragting ingesluit. Dit word nie uitdruklik so genoem in geskiedenisboeke nie. Die slagoffers wou nie daaroor praat nie. Hulle het ook nie die woord “verkragting” gebruik nie maar eerder gepraat van “ontering”.

Sedert 1994 vind sulke wreedheid weer teen blankes plaas. Die geskiedenis herhaal homself. Dit is nou al 23 jaar later en daar is geen vooruitsig dat dit gestop gaan word nie. Nie deur die owerhede nie.

Kort ons ‘n leier? Ons het leiers. Kort ons ‘n plan? Ons het ‘n plan. Wie gaan ons help? Niemand nie. Moet ons bid? Net as ons ons bekeer en verootmoedig het. By Bloedrivier het ons voorouers geen ander opsies gehad nie. Dit was oorlewing of uitwissing. Ons gaan weer daar kom.

 

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Is Khabouris die oudste Nuwe Testament?

In watter taal is die Nuwe Testament oorspronklik geskryf? Grieks of Aramees? As ons hierdie vraag kan beantwoord, kom ons nader aan die oorspronklike woorde van Yeshua (Jesus) en die apostels.

Die oudste en mees volledige Griekse kodekse (‘n kodeks is ‘n antieke handgeskrewe boek) is Kodeks Vaticanus en Kodeks Sinaiticus. Kodeks Sinaiticus is in 1859 deur Graaf Tischendorf gevind in ‘n klooster op die berg Sinai (dit is waarskynlik nie Moses se Sinai nie). Hierdie kodeks bevat die helfte van die Griekse Ou Testament en die hele Griekse Nuwe Testament. Sinaiticus word gedateer uit die laaste helfte van die 4de eeu. Kodeks Vaticanus is ontdek in die biblioteek van die Vatikaan. Dit bevat bykans die volledige Griekse Ou en Nuwe Testamente. Dit word gedateer uit die middel van die vierde eeu. Albei hierdie kodekse is belangrik in Westerse lande en kerke waar gemeen word dat die Nuwe Testament in Grieks geskryf was.

Voorheen was die Yonan Kodeks die oudste Armeense kodeks. Dit het sedert die 4de eeu aan die Yonan familie behoort. Dit was egter nie ongeskonde nie en Mnr. Norman Malek-Yonan en Mnr. Dan MacDougald, albei Amerikaners, het in 1966 gaan soek na ‘n beter weergawe van die Aramese Nuwe Testament. So het dit gebeur dat hulle die Khabouris Kodeks opgespoor het by ‘n klooster in Kurdistan naby die Khabourrivier. Die Khabouris Kodeks is ‘n mooi en goed opgepaste antieke manuskrip en bevat al 22 boeke (die Aramese Nuwe Testament het oorspronklik net 22 boeke gehad) van die Nuwe Testament. Die Khabouris is ‘n kopie van ‘n nog ouer manuskrip. Die fisiese manuskrip dateer uit 1ooo n.C. Die merkwaardigste is dat dit ‘n inskripsie bevat wat sertifiseer dat dit ‘n akkurate kopie van die oorspronklike manuskrip is. Hierdie oorspronklike manuskrip word in die inskripsie gedateer as begin van die 4de eeu of vroeër. Die Khabouris was geskryf op lamsperkament met olyfhout omslae en versier met goud. Die Khabouris is volledig geskryf in Aramees, die taal van Yeshua en die apostels. Nog ‘n Aramese kodeks is die Crawford Manuskrip uit die 12de eeu. Dit bevat al 27 boeke van die Nuwe Testament in Aramees.

Die Khabouris self is nie die oudste kodeks nie, maar die oorspronklike waaruit die Khabouris gekopieer was, sal die oudste Nuwe Testament wees. Daar mag natuurlik nog ‘n ouer manuskrip met nuwe inligting gevind word. Wat vastaan, is dat die Nuwe Testamentiese kanon reeds aan die begin van die vierde eeu na Christus bestaan het. Derhalwe is daar geen dispuut oor watter boeke in die Nuwe Testament moet wees nie.

Yeshua en Sy dissipels se huistaal was Aramees. Dit is absurd om te beweer dat hulle met mekaar sou gesels in Grieks. Maar in watter taal het die dissipels geskryf?

Een stelling wat gemaak word, is dat Grieks die enigste wêreldtaal tydens die Nuwe Testamentiese tydperk was. Dan word daar ‘n teenstrydige stelling gemaak dat Aramees ‘n wêreldtaal was wat van Indië in die Ooste tot by Griekeland in die Weste gebruik is. Wie gaan jy glo? Die laaste stelling klink meer sinvol en pas beter in by wat ons weet. Die apostel Thomas het blykbaar die Evangelie tot in Indië verkondig. Sekerlik nie in Grieks nie.

Die apostels het dikwels aangehaal of verwys na die Ou Testament. Van hulle lesers, en al hulle teenstanders, sou sekerlik hulle Ou Testamentiese aanhalings nagegaan het. Indien die apostel se aanhaling nie strook met wat in jou kopie van die Ou Testament staan nie, kon jy dit uitwys dat hy die Skrif verdraai (en daar is juis heelwat verskille). Beide die Apostel en sy lesers sou dieselfde weergawe van die Ou Testament moes gebruik. Die apostels se grootste teenstanders was Skrifgeleerdes.

Indien Grieks die skryftaal van die apostels was, sou hulle sekerlik die Griekse Ou Testament, die Septuagint, gebruik het. Ons sal dan verwag dat die apostel se Ou Testamentiese aanhaling presies sal ooreenstem met die Septuagint. Dit doen nie altyd nie. Soms stem dit ooreen met die Septuagint maar somtyds nie. Van hierdie aanhalings stem weer ooreen met die Aramese Targums. Ons het vroeër aangevoer dat daar ‘n Oorspronklike Ou Testament in Hebreeus was, waaruit die Septuagint vertaal is. Dit is vanuit hierdie Oorspronklike Ou Testament wat aanhalings gemaak is.

Derhalwe, indien die skrywers van die Nuwe Testament uit die Hebreeus aanhaal, en die Hebreeus en Grieks verskil, sou hulle lesers Hebreeus moes geken het (of hulle kon die skrywers van bedrog beskuldig het). Paulus se benadering was dat die evangelie eerste aan die Jode gebring word, en daarna aan die nie-Jode. Wanneer hy op ‘n nuwe plek gekom het, het hy eerste die plaaslike sinagoge besoek. In watter taal was die sinagoge se Ou Testament? Gesonde verstand dui op ‘n Aramese Nuwe Testament.

Die Khabouris Kodeks word sedert 2004 vertaal in Engels. Verskeie boeke is reeds in PDF-formaat beskikbaar. Daar is ook ‘n Vlaamse vertaling (amper Afrikaans) gedoen deur Jean-Paul Goethals in 2008. Dit sal interessant wees om ‘n vergelykende studie te maak tussen die vertalings vanuit Grieks en die vanuit Aramees.

Ongelukkig is daar nie ‘n Ou Testament beskikbaar wat uit Aramees vertaal is nie.

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Aksie, spanning, avontuur

In my kinderjare was daar ‘n reisende biblioteek. Dit was ‘n bus wat in ‘n biblioteek omskep was en ‘n sateliet van die dorpsbiblioteek was. Die bus het ons elke tweede week kom besoek. Die bus was goed toegerus met Afrikaanse storieboeke. So kon ek as kind kennis maak met Die Drie Musketiers, Skateiland en nog ander klassieke verhale, in Afrikaans vertaal.

In daardie jare was daar ook ‘n groot aantal eg Afrikaanse aksieverhale. Sommige was hardeband en ander was slapband. Van hierdie boeke was as reekse geskryf en het soos soetkoek verkoop. Verkope was so goed dat van die skrywers ‘n bestaan kon maak deur voltyds te skryf. Hoewel die goue era van die Afrikaanse avontuurreekse van die laat 1940’s tot die vroeë 1960’s was, was daar tot in die 1980’s nog nuwe uitgawes. Dit was voor die opkoms van fotoverhale en televisie.

Rooi Jan was ‘n besonder sterk man met rooi hare en baard. Met sy perd en hond het hy heldedade gedoen tydens die Oosgrensoorloë en die Groot Trek. Die Buiter was ‘n ryk Franse edelman wat ‘n soort Robin Hood aan die Kaap was. Die Swart Luiperd was ‘n Boerseun wat in die wildernis groot geword het. Hy dra ‘n swart luiperd kop as masker en het twee mak luiperds wat hom help. Die Maagd van die See vertel van die stryd teen seerowers in die vroeë dae van die Kaap. Die Temmers van die Woestyn het verskillende hoofkarakters gehad en het in die tyd van die pioniers afgespeel.

Die grootste aantal boeke is deur slegs vier skrywers geskryf. Braam le Roux het in ‘n tydperk van 10 jaar 101 boeke geskryf. Meiring Fouche het 79 geskryf, R Hendriks het 76 geskryf en Gerrie Radlof het 71 geskryf. Ander skrywers was Andreas du Plessis, Frans Gericke, Anton Koch en Hermie Hendriks. Ela Spence en Mary Sadler kan ook genoem word. Daar was nog vele meer. Van die skrywers het van verskillende skrywersname gebruik gemaak.

Braam le Roux is in 1918 gebore as Abraham le Roux Botha. Hy was ‘n joernalis voordat hy voltyds begin skryf het. Hy kon nie sy linkerhand gebruik nie en kon met net een hand tik. Hy was in die 1950’s die enigste Afrikaanse skrywer wat ‘n goeie inkomste verdien het deur voltyds te skryf. Hy het ‘n vaste kontrak gehad om twee boeke per maand te lewer. Hy het sy eerste boek in 1946 geskryf en met sy dood in 1956 het hy meer as 100 boeke geskryf. Braam le Roux het oorspronklik losstaande verhale geskryf maar toe begin om reekse te skryf: Die Swart Luiperd, Temmers van die Woestyn, Die SA Polisie, Die Swerwerspeurder en Die Woeste Laeveld.

F.A. Venter het onder die name F.A. Venter, Meiring Fouché, René Stegmann, Marius de Jongh en Elske te Water geskryf. Hy was in 1916 gebore en skryf sedert 1944 tot 1996. Omstreeks 1960 begin hy om voltyds te skryf. Onder sy eie naam skryf hy jeugverhale en romans. Hy wen die Hertzogprys vir Swart Pelgrim en Geknelde Land. Hy skryf ook oor die Groot Trek: Geknelde Land, Offerland, Gelofteland en Bedoelde Land. Onder die naam Meiring Fouché maak hy bydraes tot die reekse Swart Luiperd, Temmers van die Woestyn, S.A. Polisie, Swerwerspeurder, en Sahara Avontuur. Sy eie reekse was Maagd van die See, Baanbrekers, Ryk Schoonraad, en Fabel Retief.

Reinhardt (Hein) Hendriks het speur- en avontuurverhale geskryf onder die name R. Hendriks, André Murat en Casper H. Marais. Hy was in 1911 gebore en sy broer was die skrywer Hermie Hendriks. Hein Hendriks probeer om voltyds te skryf, maar kon dit nie regkry nie. As R. Hendriks skryf hy ‘n aantal boeke in die Temmers van die Woestyn reeks. (Hierdie reeks is begin deur Braam le Roux maar van die verhale is ook geskryf deur Meiring Fouché en R. Hendriks.) As Casper H. Marais skryf hy Rooi Jan en Mank Mannetjie.

Gerrit Lubbe van Zyl skryf onder die name Gerrie Radlof en Dirk Lubbe. Hy was in 1923 gebore en sterf in ‘n motorongeluk in 1971. Aanvanklik het hy deeltyds begin skryf om meer geld te verdien maar later begin hy voltyds skryf en werk ook as vryskutskrywer. As Gerrie Radlof skep en skryf hy die reekse Die Buiter, Oloff die Seerower en Ramala. Hy lewer ook bydraes vir die reekse S.A. Polisie en Swerwerspeurder. As Dirk Lubbe skryf hy die spioenasiereeks Profeet. Hy skep ook die fotoverhaalreekse Mark Condor en Saboteur.

Deesdae is dit boeke wat versamel word. Daar is ook iemand wat die buiteblaaie restoureer. Die kopiereg op vele van hierdie reekse het nou verval en heruitgawes is moontlik. Van hierdie boeke word nou weer uitgegee in gedrukte vorm en in e-boek formaat.

Hierdie reekse was geskryf vir, en is gelees deur, Blanke Afrikaanssprekendes. Hierdie reekse avontuurverhale kan waarskynlik gesien word as ‘n kultuurproduk. Iets wat eie aan ons was. Dit is werd om onthou en bewaar te word.

 

 

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin