Aan die einde van die bloedspoor is ‘n Boer

Ons kan Herrie die Strandloper (ook bekend as Autsumao van die Goringhaikonas) as die eerste plaasmoordenaar beskou. Op 19 Oktober 1653 vermoor hy en sy maats vir David Jansz, die Kompanjie se veewagter. Hulle steel ook bykans die hele kudde beeste. Hy vlug, maar 2 jaar later kom hy terug en kom skotvry daarvan af. Van Riebeeck straf hom nie vir sy misdade nie en laat hom toe om weer daar te bly.

Mettertyd het ons voorgeslagte ‘n deurgang deur die berge gekry en hulle in die binneland gaan vestig. Hulle beweeg verder ooswaarts en teen 1770 bereik hulle die Sneeuberge. Hierna vestig sommiges hulle in die Zuurveld wat grens aan die Xhosa stamgebiede. Dit is hier waar hulle vir die eerste keer swartmense ontmoet het. Nie lank nie, toe is daar moeilikheid.

Teen 1779 was veediefstal deur die Xhosas so algemeen dat die blankes hulle plase moes verlaat. Optrede deur kommando’s in 1780 slaag om vee terug te kry, maar hulle kon nie die Xhosas van die plase af verdryf kry nie. Die regering in die Kaap het toe vir Adriaan van Jaarsveld as veldkommandant aangestel en sy kommando kon vee terugkry en Xhosas uit die Zuurveld verdryf. Hierdie was die Eerste Grensoorlog en die oorsake was veediefstal en grondroof. Adriaan van Jaarsveld was later een van die leiers wat die republieke van Swellendam en Graaff-Reinet gestig het.

Hierna volg die Tweede, Derde, Vierde en Vyfde Grensoorloë. Die redes bly dieselfde: veediefstal en grondroof. Die owerhede probeer met versoening die saak oplos, en dit werk nie. Eers probeer die Kompanjie en daarna probeer die Britse Empire. Die blankes in die binneland begin besef dat die owerhede nie na hulle omsien nie en die republikeinse ideaal word gebore.

Ten spyte van die vorige oorloë het toestande aan die Oosgrens bly verswak. Die Britte het nie ‘n konsekwente beleid gevolg nie en die Xhosas het dit gesien as swakheid by die blankes. Die Koloniale Regering het troepe in die gebied verminder en beperkings op die kommando’s geplaas. Handelaars het wapens en ammunisie aan die Xhosas verkoop. Gewapende Khoikhoi drosters sluit by die Xhosas aan. Die grensboere en setlaars besef hoe onveilig die situasie geword het. In 1834 bars ‘n groot mag Xhosas oor die grens. ‘n Honderd blankes word vermoor, opstalle word geplunder en afgebrand, 7 000 mense word dakloos. Die grensboere verloor 115 000 beeste, 161 000 skape en bokke, 5 700 perde en 60 waens. Die Britte tree op teen die Xhosas en behaal ‘n klinkende oorwinning. Vir hierdie poging het die Britte voorrade, waens en perde by die grensboere opgekommandeer. Die Britte se vergoeding aan die grensboere was maar karig. Verder het hulle die grensboere daarvan beskuldig dat hulle die Xhosas aanhits deur hulle vee te gaan terugneem. Die Britte se hantering van die grensboere tydens die Sesde Grensoorlog was een van die oorsake van die Groot Trek.

Na my mening was die moorde tydens die Groot Trek in prinsiep dieselfde as vandag se plaasmoorde. Die Voortrekkers het nog nie grond gehad nie, hulle was nog opsoek na grond. Hulle het nie enige iemand bedreig nie, hulle was nie in vyandskap met iemand anders nie. Hulle het nie verwag dat hulle aangeval sou word nie.

Die Van Rensburg-trek het gesoek na ‘n roete na Delalgoabaai. Niksvermoedend het hulle naby die stat van Manukozi uitgekamp. Gedurende die nag word hulle aangeval. Hulle veg verbete terug, maar hulle ammunisie raak op en hulle word uitgemoor. Karel Tregardt vind hulle beendere en begrawe dit.

Van die Potgieter-trek se mense kamp uit naby die Vaalrivier. Stephanus Erasmus en ander het gaan jag. Toe hulle die aand terugkeer, kom hulle af op Matabeles wat hulle kamp aangeval het en die blankes en die nieblanke bediendes vermoor het. Erasmus en sy een seun jaag na die ander Trekkers om hulle te waarsku. Die Liebenbergs trek nie betyds laer nie en word die oggend aangeval. Sommiges het wonderbaarlik ontkom,  maar al die vee word gesteel en twee meisies en ‘n seun word ontvoer. Die lot van hierdie kinders is nie bekend nie. Die slag van Vegkop het hierop gevolg.

Nadat die Zoeloekoning, Dingaan, vir Piet Retief en sy 70 metgeselle laat vermoor het, het hy opdrag gegee dat die res van die Voortrekkers ook uitgewis moes word. Die laers was wyd uitmekaar al langs die Tugelarivier en sy sytakke. Op 16 Februarie 1838 bekruip die Zoeloes die niksvermoedende Voortrekkers. Die nag van die aanval was dit donkermaan. Die Voortrekkers het eers besef wat aangaan toe die Zoeloes tussen hulle was. Twee Bezuidenhout broers kon ontsnap om ander laers te waarsku. Die aanval was op die laers wat by Bloukrans, Moordspruit en Weenen gestaan het. Van die Voortrekkers is 41 mans, 56 vroue, 185 kinders en 200 bediendes uitgemoor. Die aanvalle het met ongekende wreedheid plaasgevind. Die slagoffers se liggame is oopgeskeur, vroue is met skerpgemaakte stokke in die onderlyf deurboor en kinders is teen wawiele doodgeslaan. ‘n Strafekspedisie is uitgestuur maar dit het misluk. Uiteindelik het dit gelei tot Bloedrivier.

Ook tydens die Anglo-Boere Oorlog is geweldsmisdade teen veral kinders en vroue gepleeg. Die Havenga-verslag bevat inligting hieroor. Hierdie misdade was gepleeg deur Britse soldate en Swart troepe wat aan Britse kant geveg het.

Die wreedheid teenoor ons voorgeslagte het ook verkragting ingesluit. Dit word nie uitdruklik so genoem in geskiedenisboeke nie. Die slagoffers wou nie daaroor praat nie. Hulle het ook nie die woord “verkragting” gebruik nie maar eerder gepraat van “ontering”.

Sedert 1994 vind sulke wreedheid weer teen blankes plaas. Die geskiedenis herhaal homself. Dit is nou al 23 jaar later en daar is geen vooruitsig dat dit gestop gaan word nie. Nie deur die owerhede nie.

Kort ons ‘n leier? Ons het leiers. Kort ons ‘n plan? Ons het ‘n plan. Wie gaan ons help? Niemand nie. Moet ons bid? Net as ons ons bekeer en verootmoedig het. By Bloedrivier het ons voorouers geen ander opsies gehad nie. Dit was oorlewing of uitwissing. Ons gaan weer daar kom.

 

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui