Die twee verbonde by Sinai en die Wet van Moses

YHWH het nie ‘n verbond met Israel gesluit omdat hulle spesiaal of besonders was nie. Dit is as gevolg van Abraham, wat YHWH vertrou het, dat daar ‘n verbond met Israel gesluit was. YHWH het aan Abraham, toe hy nog geen kind gehad het nie, belowe dat hy ‘n groot nageslag sal hê en dat hulle die land wat YHWH aan Abraham gewys het, sal bewoon. Hierdie belofte is aan Abraham se seun, Isak, en sy kleinseun, Jakob, oorgedra. Uiteindelik het Israel, die nageslag van Jakob, die land ontvang en bewoon. Hierdie verbond wat YHWH met Abraham gesluit het, het nie voorwaardes gehad nie.

‘n Verbond is ‘n ooreenkoms of kontrak. Anders as die verbond met Abraham, het die Eerste Verbond met Israel ‘n voorwaarde gehad. Hulle kon dit aanvaar of nie aanvaar nie. Indien Israel die bepalings daarvan nakom, was daar vir hulle ‘n beloning. Indien Israel dit nie nakom nie, was daar vir hulle ‘n straf. Nadat hulle die Eerste Verbond verbreek het, was die Tweede Verbond verpligtend. Hulle het nie meer ‘n sê gehad nie.

Dit gaan oor die verbonde wat by Sinai, ook bekend as Horeb, tot stand gekom het. Hierdie verbonde word uiteengesit in die Bybelboeke Eksodus, Levitikus en Numeri. Hierdie 3 boeke is eintlik een boek, maar dit was te groot vir een boekrol en is toe in 3 boekrolle verdeel. Die gebeure wat ter sprake is, strek oor al 3 boeke.

Die Eerste Verbond word in Eksodus 19 – 24:11 gevind. Die bepalings daarvan was die grondbeginsels van die verbond tussen YHWH en Israel (ook bekend as die Tien Gebooie). Dan volg daar instruksies oor hoe YHWH aanbid moet word. Daar is ook instruksies oor slawe, geweld, ongelukke, skade, uitbuiting en korrupsie. Watter feeste deur Israel gehou moet word, word ook uiteengesit. Ook word bepaal hoe hulle YHWH se boodskapper moet hanteer. Indien hulle al die bepalings nakom, sal hulle ‘n eie land kry en voorspoedig wees. Israel het die verbond met sy bepalings aanvaar in Eksodus 24:3: Toe Moses kom en aan die volk al die woorde van die HERE en al die verordeninge vertel, antwoord die hele volk met een stem en sê: Al die woorde wat die HERE gespreek het, sal ons doen.

Hierna het YHWH vir Moses die besonderhede vir die bou van die tabernakel gegee. Hy het ook die twee kliptafels waarop die getuienis (vermoedelik die Tien Gebooie) geskryf was aan Moses gegee. Vir Israel vat YHWH toe te lank om vir Moses te wys en te sê wat gedoen moet word. Hulle was haastig. Toe maak hulle vir hulle ‘n afgod, ‘n goue kalf. Daarmee het Israel die verbond verbreek. YHWH was woedend en wou die hele Israel uitwis. Moses pleit vir sy volk en YHWH begenadig hulle en besluit om hulle nog ‘n kans te gee.

Die Tweede Verbond is te vinde in Eks 34:10-27.  Eksodus 34:27 lui so: Verder het die HERE vir Moses gesê: Skrywe vir jou hierdie woorde op, want volgens hierdie woorde het Ek ‘n verbond gesluit met jou en met Israel. Die bewoording van hierdie verbond verskil van die vorige.

Hierna word die tabernakel gebou volgens YHWH se instruksies. Dan gee YHWH opdragte oor wie die priesters mag wees en wat hulle werk sal wees. Hierna gee YHWH breedvoerige opdragte oor offerhandes. Dit is die eerste keer dat YHWH opdragte oor offerhandes gee. Daar sal net een sentrale plek van aanbidding wees en daar was slegs sekere offerhandes wat op ‘n voorgeskrewe manier gebring moes word. In die Nuwe Testament word aangetoon dat die offerhandes na die Gesalfde gewys het. Die verskillende soorte offers wat gebring moes word, was brandoffers, graanoffers, vredesoffers, sondoffers en oortredingsoffers.

Dan volg daar opdragte oor rituele reinheid. Die Dag van Versoening word ingestel. Dit is die heiligste dag in die Ou Testamentiese kalender en is ‘n dag van versoening met YHWH. Die Dag van Voorsiening hou nie verband met enige bekende historiese gebeure nie en daar word gemeen dat dit ‘n profetiese betekenis het. Daarna volg opdragte oor afgesonderdheid, die belangrikheid van bloed en oor seksuele gedrag. Hierna volg strafbepalings oor verbreking van die opdragte oor afgesonderdheid. Die afgesonderdheid van priesters en offers sonder gebrek word aangespreek.

Die laaste opdragte wat YHWH gee, is vasgestelde tye. Die Shabbat, die Pesag (paasfees) en die fees van ongesuurde brode, die eerste vrugte (pinkster), die blaas van die ramshorings (trompette), die Dag van Versoening), die Huttefees, die Sabbatsjaar en die Jubeljaar. Heel laaste word die beloning en straf in terme van die verbond uitgespel. Voorspoed in die land of teenspoed in die land. Dit vind ons in Levitikus 26.

Hier is vir ons ‘n vraag. Is hierdie twee verbonde een verbond of is dit twee? Die meerderheid kommentators meen daar is net een verbond, maar die teks sê daar is twee.

Meeste mense verwar verbond en wet. Verbond sluit in die wette, die bou van die tabernakel, wie as priesters mag dien, die offerhandes wat gebring moet word en die feeste wat gehou moet word. Volgens Judaisme is daar nie net 10 gebooie nie, daar is meer as 600.

Op wie is hierdie verbond of verbonde van toepassing? Volgens die teks, Israel en slegs Israel. Daar is nie ‘n “sendingopdrag” aan Israel om die heidene te bekeer nie. (Heidene is die ander volke, almal wat nie Israel is nie). Inteendeel, Israel moet die ander volke uitdryf om die Beloofde Land te ontvang. As volk wat vir YHWH afgesonder was, mag hulle nie met die heidene gemeng het nie.

Waarom het YHWH een volk bo die ander volke uitgekies?  YHWH wou een volk afsonder om Hom te ken en ‘n getuie vir Hom te wees. Dit beteken hulle moes anders as die ander volke wees. Deur hierdie een volk het hy Homself aan alle mense bekend gemaak.

Die nakoming van die verbond en wet het nie vergifnis van sonde bewerk nie. Yeshua, die Gesalfde, het vergifnis bewerk – net Hy. (Hebreërs 10). Ook het die nakoming van die verbond en wet niemand regverdig verklaar nie. Dit kan net gebeur deur vertroue op Yeshua. (Hebreërs 11). Die wet het gewys wat vir YHWH aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. Galasiers 3:24: Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.

Die verbond tussen YHWH en Israel het ‘n verbondsverhouding tot stand gebring. Dit is iets anders as ‘n persoonlike verhouding. ‘n Israeliet, sê maar Dawid, se verhouding met YHWH was tweeledig: as lid van die volk was hy in ‘n verbondsverhouding met YHWH, en as indiwidu was hy in ‘n persoonlike verhouding met YHWH. ‘n Ander Israeliet wat nie ‘n persoonlike verhouding met YHWH gehad het nie, sal steeds in ‘n verbondsverhouding met Hom gewees het.

Die verbond en die wet het nie die ewige lewe gegee aan die wat dit nakom nie. Daar kan ook nie gesê word dat iemand hemel toe gaan omdat hy die verbond nagekom het nie. Ware lewe kom slegs deur Yeshua, die Gesalfde. Johannes 1:4: In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.

Die enigste metode vir mense om met YHWH versoen dit word, is deur Yeshua, die Gesalfde.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Boeremedisyne destyds en nog steeds

Ons het bederf geraak met mediese fondse. Nie lank terug nie, was die gemiddelde persoon lid van ‘n mediese fonds. Het jy ‘n kwaal, gaan jy dokter toe. Die dokter gee ‘n voorskrif, jy gaan apteek toe. Indien nodig, gaan jy hospitaal toe. Die fonds betaal. Vandag is daar baie mense wat nie meer aan ‘n mediese fonds behoort nie. Jy kan nog mediese hulp kry by ‘n kliniek of hospitaal wat aan die staat behoort. As dit moet. Die soort mediese hulp wat jy by die dokter, apteek en hospitaal kry, staan bekend as skoolgeneeskunde.

Ons pionier-voorouers het min met skoolgeneeskunde te doen gekry. Doer op die voorposte was daar nie dokters, apteke en hospitale nie. Die mediese hulp wat hulle gebruik het, staan bekend as volksgeneeskunde. Onder ander volke sal volksgeneeskunde toordokters en uitdryf van bose geeste insluit, maar nie by die Boerevolk nie. Ons erfenis was Boeremedisyne en Boererate. Ons voorouers het ook riglyne oor siektes in die Bybel gesoek. Hulle het ook tydskrifte, almanakke en doktersboeke geraadpleeg. Natuurlik het hulle ook die ouer geslag, wat meer ondervinding van siektes het, gevra. Oor die algemeen was die pioniers baie gesond. Hulle was aktief en die lug was skoon. Hulle voedsel was organies en gesond.

Nog voor Van Riebeeck na die Kaap gekom het, was die Hollanders bekend vir hulle mediese kennis en medisyne. Aan die Kaap het ‘n eiesoortige geneeskunde ontstaan. Dit was gebaseer op die Hollandse volksgeneeskunde maar is aangevul met nuwe kennis en is aangepas by plaaslike omstandighede. Pioniers kon ‘n bliktrommeltjie koop met talle vakkies en hokkies binne-in. Dit was die Hollandse huisapteek en het ‘n groot verskeidenheid middels bevat. Hierdie apteek was ‘n noodsaak en het orals saamgegaan. Hoewel die trommeltjie nie meer gemaak word nie, word meeste van die medisynes nog gemaak en is dit by apteke en supermarkte beskikbaar.

Van die bekendste middels wat in so ‘n trommeltjie was, was: Arnikatinktuur, Balsem-Kopiva, Bruindulsies, Duiwelsdrek, Entressdruppels, Groen Amara, Haarlemensis, Helmontskruie, Hoffmannsdruppels, Jamaikagemmer, Kanferolie, Lewensessens, Naeltjie-olie, Paragoriese-elikser, Rabarberpoeier, Rooilaventel, Ruitersalf, Staaldruppels, Turlington, Versterkdruppels, Witdulsies en Wonderkroonessens. (Ongelukkig word Staaldruppels nie meer gemaak nie. Dit was, volgens my, die doeltreffendse middel om bloeding mee te stop.)

Hierdie medisynes kan in sekere klasse ingedeel word: Druppels wat direk op die aangetaste deel gedrup word of in ‘n klein bietjie water gedrup word en gedrink word. Poeiers wat met water gedrink word. Pille word ook gedrink. Balsems is vloeibare plantaardige produkte wat op wonde en sere gesmeer word. Tinkture is ‘n aftreksel in alkahol wat verdun moet word. Salwe word uitwendig aangesmeer. Essens is ‘n gekonsentreerde aftreksel in vloeistofvorm. Bitters word uit kruie gemaak en het ‘n onaangename smaak.

In elke trommel was daar ‘n boekie met beskrywings van verskillende siektes en ‘n opsomming van die medisynes wat gebruik kan word.  Deur ondervinding is baie kennis opgedoen van algemene siektes en watter middele daarvoor help. Indien hierdie medisyne opgeraak het, en hulle kon nie ander kry nie, het hulle gaan soek vir plante wat bekend was as geneeskragtige plante. Meestal kon dit in die kruietuin gevind word.

Vir uitslagsiektes is kruidjie-roer-my-nie-wortels en wilde dagga-wortels, elk afsonderlik of saam, gekook. Vir stuipe by babatjies het hulle tiemie, wynruit en kougoed gebruik.  Kougoed, wat in die Noordkaap groei, was ook ‘n goeie slaapmiddel.  Tandpyn is behandel met die blare van garingbome en gekneusde malvablare was gebruik vir liddorings. Plante wat ‘n moet vir die kruietuin was, was kankerbossie, beukesbossie, kruisement en roosmaryn. Kruie wat in die veld gegroei het, was helmontskruie, boegoe, wilde olien, kalkoentjiebos, en kersbos.

Behalwe die Hollandse medisyne en kruie, het die pioniers ook ander huishoudelike middels gebruik. Medisinale terpentyn en boegoe-asyn was vir wonde en kneuse gebruik. Asyn was gebruik vir verstuitings. Ander middels was wit uie vir swere en swelsels, bokvet en naeltjies vir sere, blomswawel vir uitslae.

Dan was daar ook ‘n wondermiddel, iets wat vir alles werk, ‘n middel vir die wat desperaat is. Dassiesweet. Op die kranse waar dassies bly, is daar ‘n donkerkleurige aanpaksel op die rotse. Hierdie aanpaksel moet met hamer en beitel afgehaal word. As dit warm gemaak word, word dit sagter. Gekook in water word dit vir inwendige siektes gebruik. Gesmelt en gemeng met bokvet is dit gebruik vir sere en wonde. Moet net nie, voor jy dit gebruik, vra wat die oorsprong van dassiesweet is nie. Vra eers wanneer jy dit klaar gebruik het.

Ons voorouers het nie juis bygelowe en vreemde goed vir behandeling van siektes gebruik nie. Hulle het die beste mediese kennis en medisyne wat tot hulle beskikking was, gebruik. Deur oorlewering van een geslag na die ander het hierdie mediese kennis behoue gebly. Wanneer daar nuwe inligting ontvang was, het hulle dit bygevoeg. Natuurlik is daar siektes en kwale wat nie so gesond gemaak kon word nie, waar ‘n dokter noodsaaklik was. Maar as daar nie ‘n dokter was nie, dan was dit maar so. Die mens is ‘n sterflike wese. Dit is hartseer, maar dit is die werklikheid.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Voortrekker met die baie boeke

Gerrit Maritz was nie sommer enige hierjy nie. Voor die Groot Trek was hy ‘n gerespekteerde persoon in Graaff-Reinet. Hy was bekend by die sendelinge en het die sendingwerk onder die Khoi en San ondersteun. Hy was ook veldkornet en wykmeester en die owerheid wou graag ‘n goeie verhouding met hom handhaaf. By sy eie mense was hy bekend as ‘n godvresende persoon wat ander gehelp het waar hy kon. Verder was hy ‘n belese persoon, ‘n ware demokraat en gesteld op die handhawing van wet en orde. Dit word vertel dat hy ‘n goeie grap kon waardeer en dat hy lekker kon lag. Maar Gerrit Maritz was ook ‘n Boer: hardwerkend, ongeduldig en kort van draad. Hy was presies met sy werk en het ‘n kreatiewe gees gehad.

Gerhardus Marthinus Maritz (noemnaam Gert of Gerrit) is in 1797 gebore in die Suurveld, Graaff-Reinet distrik. Gedurende sy kinderjare het die Suurveld die aanvalle van Xhosas en Khoi (Hottentotte) beleef. In 1811 het sy vader hom op Graaff-Reinet gevestig as baaspadmaker en timmerman. Gerrit Maritz het hier homself as wamaker bekwaam en ‘n suksesvolle onderneming gevestig. Mettertyd het hy een van die vermoëndste persone op Graaff-Reinet geword. Dit word vertel dat sy waens van die beste kwaliteit was en ook baie mooi was. Waar ander waens groen geskilder was, het hy syne blou geskilder. Ander waens het ronde tente gehad, die Maritzwaens het kaptente gehad.

Op 22 het Gerrit in die huwelik getree met die vyftienjarige Angenitha Olivier. Hulle het 4 seuns en 2 dogters gehad. Hy koop ‘n huis in Caledonstraat vir 2700 riksdaalders en betaal dit kontant in 2 paaiemente. Teen 1830 is die huis te klein en hy bou ‘n groter huis in Noordekantstraat. Hy bekom ook die plaas Welgevonde aan die voet van die Ouberg.

Dit is nie bekend wat die redes was wat Gerrit Maritz laat besluit het om te trek nie. Sy trekgeselsskap het uit 100 waens en 700 mense bestaan. Sy broer het met ‘n tweede groep getrek. Hyself het met 7 waens getrek. Behalwe dat sy mooi waens uitgestaan het, het hy ‘n verskeidenheid goedere saamgeneem. Daar was, onder andere, 2 kanonne en baie boeke. Hy het ‘n verskeidenheid teologiese boeke, woordeboeke en boeke oor die regte saamgeneem.

Die Maritz-trek vertrek September 1836 uit Graaff-Reinet en bereik Sanddrif aan die Oranjerivier in November. Hier verneem hy van die moord op die Liebenbergs aan die Vaalrivier. Daarna ontmoet hy Andries Hendrik Potgieter en verneem van die slag by Vegkop in Oktober. Hierdie skokkende nuus oortuig hom om vinniger te trek en hulp te verleen aan die mense wat in nood is.

In Desember 1836 is ‘n groot groep Voortrekkers bymekaar by Thaba Nchu en verkies hulle hul eerste bestuur. Maritz word verkies as voorsitter en hoof van die bestuur, Potgieter word verkies as laerkommandant. Hulle onderneem ‘n aksie teen die Matabeles en behaal ‘n oorwinning by Mosega in Januarie 1837. In Maart het Piet Retief en sy trek by hulle aangesluit en in April word ‘n nuwe bestuur verkies. Retief word “goewerneur” en Maritz “magistraat”.

Vyf maande later trek Retief na Natal terwyl die res ‘n suksesvolle tweede ekspedisie teen die Matabeles onderneem. Maritz was ook ten gunste daarvan om sy mense in Natal te vestig. In Noord-Natal beplan Maritz en Retief om ‘n sending te stuur na die Zoeloe-koning, Dingane. Hulle het groot meningsverskille hieroor: Retief wil met ‘n groot kommando gaan maar Maritz wil dat net ‘n klein groepie moet gaan. Maritz het nie vir Dingane vertrou nie. Maritz word reg bewys en Retief en sy manne word vermoor in Februarie 1838. Net meer as ‘n week later vind die Groot Moord by Bloukrans en Moordspruit plaas. Maritz se laer word ook aangeval, maar hulle slaag daarin om dit af te slaan. C.R. Swart het vertel van die dapperheid van Maritz se kinders tydens hierdie aanval.

In Mei 1838 gaan Maritz en Karel Landman (die nuwe Hoofkommandant) met 150 man na Port Natal om die Britse Setlaars teen Dingane te help. In Junie vestig Maritz sy laer aan die Klein-Tugela en dit word bekend as Sooilaer en later Saailaer.

Maritz, hoewel nog ‘n jong man, sukkel geruime tyd met sy gesondheid. Middel September 1838 word hy ernstig siek en sterf op 23 September. Hy is aanvanklik by Maritzdam begrawe, maar op Geloftedag 1895 herbegrawe by die Bloukrans-monument. Net voor sy afsterwe, het hy gesê: “Dit het met my gegaan soos Moses, ek het die beloofde land gesien, maar bewoon sal ek dit nie.”

Die doel van die Groot Trek was om ‘n nuwe land te stig. ‘n Beskaafde land met goeie bestuur en wet en orde. Hulle het ‘n republiek in gedagte gehad, ‘n beter regering as wat in die Britse kolonie was. Gerrit Maritz se pligte as Voortrekkerleier was juis die bestuur, administrasie en regspraak. Dit het hy met bekwaamheid uitgevoer. Deel daarvan was om voorgenome huwelike te ondersoek, boedels te beredder en as regter op te tree – dinge wat wysheid geverg het. Vir sy mede-Trekkers was hy ‘n bron van krag. Hy het die noodlydendes gehelp en die mismoediges moed ingepraat. Hy het ook, toe dit nodig was, belangrike militêre suksesse behaal.

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Groot Stilte tussen die Ou en Nuwe Testamente

Tussen die laaste boek van die Ou Testament, Maleagi, en die eerste boek van die Nuwe Testament, Matteus, is daar die Groot Stilte van omtrent 400 jaar. YHWH het niks verder vir Israel te sê gehad nie. Daar was nie meer profete nie en ook geen nuwe openbaring nie. Dit, op sigself, is net so skokkend as die verwoesting van die tempel in 587 voor Christus en die ballingskap van die Israeliete wat daarmee saam gegaan het. Dit moes hulle laat wakker skrik, maar dit het nie.

Daar het heelwat in daardie 400 jaar gebeur. Tydens Maleagi se lewe was Israel nog onder die heerskappy van Persië. Daarna het die Grieke oorgeneem. Soos aan Daniël geopenbaar, is die Griekse Ryk in 4 verdeel en was daar die stryd tussen die Konings van die Noorde en die Konings van die Suide, met Israel in die middel. In hierdie tyd kom Israel in opstand onder aanvoering van die Makkabeërs. Daarna het die Romeine die beheer oorgeneem en het hulle Herodes koning van Judea gemaak.

Die grootste veranderinge in Israel tydens die 4 eeue van stilte was op godsdienstige terrein. Die hoofrede vir die ballingskap en die verwoesting van die tempel was omdat hulle ook afgode aanbid het. Hulle het steeds YHWH by die tempel aanbid, as hulle Hoofgod, maar hulle het ander gode ook aanbid. Tydens die ballingskap het die leiers van Israel dit probeer regstel en het die Israelitiese godsdiens (Judaïsme) monoteïsties (die geloof dat daar slegs een god is) geword. Om te verhoed dat hulle weer terugval in afgodery, het hulle die studie en onderrig van die Torah (die Wet van Moses) die kern van Judaïsme gemaak.

Tydens die Ou Testamentiese tyd het Israel as volk YHWH slegs aanbid by die tempel in Jerusalem. Die bring van offerhandes was ‘n integrale deel daarvan. Die priesters was die godsdienstige leiers en het die diens by die tempel behartig. (Dit is nodig om te onderskei tussen die volk se verhouding met YHWH en indiwidue se persoonlike verhouding met YHWH. Talle individue het ‘n persoonlike verhouding met YHWH gehad, en Hom nie net by die tempel aanbid nie.) YHWH het profete gestuur om die volk en leiers, wanneer nodig, aan te spreek. Tydens die ballingskap was daar nie meer ‘n tempel nie en YHWH kon nie meer ritueel aanbid word nie. Om hierdie probleem te oorkom, het die leiers van Israel sinagoges gestig. Sinagoges was in hoofsaak ‘n plek waar die Wet bestudeer is en waar onderrig daarin gegee is. Tog is aanbidding ook beoefen deur die sing van Psalms en gebede. Gebede het gedien as plaasvervanger van offerhandes. Nadat Serubbabel die tempel herbou het, is godsdiens by beide tempel en sinagoge beoefen. Die sinagoge was ‘n mensgemaakte instelling en nie ‘n opdrag van YHWH nie.

Saam met die sinagoges het ‘n nuwe soort Skrifgeleerde ontstaan. Voorheen het Skrifgeleerdes hulle met die oorskryf van die Skrifte besig gehou. Hierdie nuwe Skrifgeleerdes was die voorgangers van die Rabbynse Judaïsme wat na Christus ontstaan het. Na die ballingskap was daar baie vreemde invloede wat op Israel ingewerk het. Om hulle eie identiteit te bewaar, het die onderrig en toepassing van die Torah belangrik geword. Derhalwe moes ‘n omvattende kode opgestel word en aan die volk oorgedra word. Hiervoor was opgeleide deskundiges nodig. Hierdie geleerdes moes die Skrif interpreteer en toepas. Die twee hoofbeginsels van die Skrifgeleerdes was om mondelingse tradisies te bevorder en om die wet af te baken. Daar was nou twee bronne vir die Wet: die geskrewe wet en die mondelingse tradisies van vorige geslagte geleerdes. Die mondelingse oorgelewerde tradisies is later op skrif gestel en vervat in die Talmoed. In die opstel van reëls wat deur die volk gehoorsaam moet word, het hulle afgewyk van die hart en siel van die oorspronklike Wet. Hulle interpretasies het die oorspronklike betekenis van die Wet vernietig. Die Skrifgeleerdes het in die sinagoge die Torah gelees, kommentaar daarop gelewer en hulle studente daarin onderrig.

Tydens die 400 jaar van stilte, het daar ‘n aantal sektes in Judaïsme ontstaan. Een was die Fariseërs. Hoewel iemand beide ‘n Skrifgeleerde en ‘n Fariseër kon wees, moet daar tussen hulle onderskei word. Die ideologie van die Fariseërs was afsondering op grond van beide die geskrewe en die mondelingse Wet. Hulle het aangehou om reëls en wette by te voeg totdat godsdiens ‘n te swaar las vir die mense geword het. Hulle was bekend daarvoor dat hulle in die openbaar hulle godsdienstigheid vertoon het. So sou hulle in die straat loop en elke nou en dan eers stop om neer te buig in gebed. Alhoewel hulle min was, het hulle groot invloed gehad. Hulle het ook die grootste invloed by die sinagoges gehad.

Die Sadduseërs het hoofsaaklik bestaan uit lede van die welgestelde en invloedryke families. Hulle ambisie was om hulleself onmisbaar te maak vir die regeerders van die dag. Op hierdie wyse kon hulle hul eie idees en sake bevorder. Hulle het gemeen dat God nie inmeng in politieke sake nie, hulle moet self werk om politieke doelwitte te bereik. Hulle het nie geglo in wonderwerke, engele en die opstanding uit die dood nie. Hulle het slegs die geskrewe Wet aanvaar. Na die dood van Herodes die Grote het hulle groter invloed verkry as wat hulle voorheen gehad het. Die Romeine het die Hoofpriester toegelaat om die dag tot dag sake in Jerusalem te hanteer.

Daar was nog groepe. Die Herodiane word nie in die Nuwe Testament as ‘n godsdiensgroep beskryf nie. Daar was ook die Essene, maar hulle word nie in die Nuwe Testament genoem nie.

Die Sanhedrin het ook ontstaan in die tyd tussen die Ou en Nuwe Testamente. Dit was ‘n teokratiese hof en die hoogste hof van die Joodse volk en het oor burgerlike en godsdienstige sake beslis. Die Sanhedrin het uit 71 lede bestaan: die Hoofpriester, 24 verteenwoordigers uit die priesterdom, 24 “ouderlinge” of “regeerders”, en 22 Skrifgeleerdes. Een van die Sanhedrin se pligte was om die Messias te identifiseer.

Gedurende die 400 jaar se Groot Stilte het Judaïsme verander in ‘n mensgemaakte godsdiens. ‘n Wettiese godsdiens. Die oorspronklike bedoeling van die Wet van Moses, soos ook telkemale deur die profete verduidelik is, het verlore geraak. Yeshua, die Gesalfde, het van meet af aan met die godsdienstige leiers gebots. Dit was Yeshua en Sy apostels wat die Wet korrek verstaan en toegepas het, nie die godsdienstige leiers nie. Uiteindelik het hierdie leiers aangedring dat Yeshua gekruisig moet word.

Die geskiedenis van Israel is ‘n tragiese verhaal. Van Uitverkore Volk tot Verwerpte Volk. Al waarom hulle nie volkome uitgeroei was nie, was omdat YHWH sy beloftes aan Abraham, Isak en Jakob nagekom het. Omdat Hy ‘n oorblyfsel vir Homself laat oorbly het. Omdat die Gesalfde nog moes kom. Omdat alles nog nie afgehandel is nie.

 

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Jan van Riebeeck en die padstal

Die verversingstasie wat Jan van Riebeeck aan die Kaap kom stig het, kan vergelyk word met ‘n padstal wat langs ‘n grootpad opgerig is. Gewoonlik is daar eers ‘n plaas en daarna ‘n padstal. In Van Riebeeck se geval was daar nog nie ‘n plaas nie. Hulle moes die plaas en die padstal tegelykertyd aan die gang kry. Van Riebeeck self het blykbaar nie veel van boerdery af geweet nie, ook nie veel van winkels af nie. Hy was die eerste dokter in Suid-Afrika wat gaan boer het. Hoe het dit toe verloop? Vandag sal hulle sê dit was ‘n “challenge”. Murphy se Wet het oortyd gewerk. Probleme, skelms en teenspoed het hulle geteister.

Die Verenigde Oosindiese Kompanjie (VOC) was die wêreld se eerste publieke maatskappy. Hulle was ook die eerste groot internasionale korporasie. Hulle het takke en kantore van Europa tot in Japan gehad. Hulle hoofkantoor in die Ooste was in Indonesië (ook genoem Batavia). Hulle skepe het hoofsaaklik tussen Europa en Indonesië gevaar, ‘n baie lang seereis met baie gevare. Een van die groot probleme met hierdie seereise was die gebrek aan vars produkte vir die bemannings daarvan. Die maatskappy het toe besluit om ‘n verversingstasie aan die Kaap van Goeie Hoop te vestig, min of meer halfpad tussen Europa en Indonesië. Hiervoor het hulle ‘n span werknemers aangestel met Jan van Riebeeck as die bestuurder (sy postitel was Kommandeur). Die getroude mans se vrouens het saamgekom.

Op 6 April 1652 land drie skepe van die VOC in Tafelbaai en word begin om die materiaal, wat saamgebring is, af te laai. Die eerste paar dae het die personeel op die skepe oornag terwyl hulle in die dag op land gewerk het.

Op 8 April stuur Van Riebeeck sy manne aan land om ‘n fort te bou. Huisvesting en stoorplek was die eerste prioriteit. Van die begin af was daar ‘n gesukkel. Die hout waarmee hulle plankhutte moes bou, was onder die ander vrag in die skepe gelaai. Toe die huisies klaar was, was hulle nie bestand teen die Kaapse weer nie, alles word nat, die kos bederf en water stroom in. Die bouery aan die fort word vertraag deur siekte, reën en stormwind. Die personeel word opstandig oor die min kos en die harde werk. Vier mans dros (wat het hulle gedink?), maar kom later weer terug. Eers op 3 Augustus is die fort klaar. Van Riebeeck self het ‘n klipgebou met ‘n plat dak binne die fort as huis. Hulle maak ‘n steengroef en bou brandvrye pakhuise van klip. Stompe word met osse aangesleep. Hulle besef dat, anders as in Europa, houthuise nie gaan werk nie en van 1654 af maak hulle kleibakstene vir huisbou. Dit was die begin van die baksteenbedryf.

Alles wat gedoen moes word was hoë prioriteit en moes tegelykertyd gedoen word. Hulle het skaars geland, toe begin hulle al met tuinmaak. Hulle het groentesaad uit Europa saamgebring en reeds in April 1652 saai Hendrik Boom, die Eerste Tuinier, die eerste saad. Maar die rampe tref hulle. Die groente word deur hael en wind verpletter, net die radyse en kropslaai oorleef. Die ertjies, beet en spinasie spoel weg. Hieruit leer hulle dat hulle die grond moet dreineer en ook wanneer dit die beste planttye is.

Die Kaap het geen inheemse vrugtebome gehad nie. Jan en sy span het vooruit beplan en saad saamgebring. In Augustus 1652 word lemoen- en appelpitte geplant, maar dit het nie opgekom nie. Omdat die saadplantery nie gewerk het nie, was hulle verplig om bome in te voer. Appel, lemoen, suurlemoen en pompelmoes is uit Europa ingevoer. Okkerneut, kweper, peer, kersie, kastaiing en pruim is uit Nederland ingevoer en duisende is geplant. Piesang is uit Batavia ingevoer, maar dit was ‘n mislukking. Daar is ook aarbeie, aalbessie en kruisbessie ingevoer. Die eerste vrugtebome is uiteindelik eers in 1659 geplant. Van Riebeeck het geglo dat druiwe aan die Kaap sou aard en dit was ook so. Daar is druiwestokke ingevoer van St Helena, Brasilië, Spanje, Italië en Duitsland af. In 1659 is die eerste wyn gepars. Van Riebeeck se opvolgers het nog meer wingerde geplant en wyn kon in later jare na Batavia uitgevoer word.

Die eerste gars en koring was reeds in 1652 gesaai. Ten spyte van die wind en tekort aan trekdiere, was die proefneming suksesvol. Rys wou nie aard nie. Later van tyd kon koring uitgevoer word.

Die verkryging van hout vir boudoeleindes was ‘n kopseer. Aan die Kaap was daar nie uitgestrekte bosse nie, die bruikbare bome het in moeilik toeganklike bergklowe gegroei. Geelhout, witstinkhout en swartysterhout was die geskikste. Van Riebeeck het die gebruik van hierdie bome beperk en die gebruik daarvan vir brandhout verbied. Die bosse en struike by Tafelberg was nie goeie skadubome nie en gevolglik moes hulle skadubome plant. Synde beskaafde mense, wou hulle blomme ook hê. Hulle het die inheemse blomme van die Kaap glad nie raakgesien nie en Van Riebeeck het angeliere en rose uit Nederland ingevoer.

Die plan was om nie vee saam te bring nie, maar om by die Khoi (Hottentotte) te ruil. Van Riebeeck maak kontak met Herrie die Strandloper, maar die sê hy en sy mense het nie beeste nie, hulle eet vis. Van Riebeeck slaag daarin om met die Saldanhars kontak te maak en hy ruil koper vir beeste. In 1653 het hulle 40 beeste, maar Herrie vermoor die veewagter en steel die beeste. Nou was daar net vis en pikkewyneiers om te eet. Herrie keer 1655 terug en weet van 40 beeste wat gekoop kan word. Willem Muller word gestuur om te koop, maar na betaling word net 13 gelewer. Herrie beweer hy is beroof van die res. In 1658 bekom Jan van Herwaerden 25 beeste en 203 skape by ‘n Khoi stam. In 1657 bekom hulle 30 skape uit Nederland en in 1658 het hulle 28 uit Bengale gekry. Van Riebeeck ontdek dat sebras nie mak gemaak kan word nie en moet by herhaling vra dat perde ingevoer moet word. In 1653 bekom hulle 2 perde uit Batavia, teen 1660 is daar 20. As jy nie vleis het nie en jy het boonop ook nie slagvee nie, dan moet jy jag. Maar jagters skiet nie net vir die pot nie, hulle skiet ander diere ook. Die uiteinde was dat jaglisensies in 1680 ingestel moes word. Elande was blykbaar gewild vir hulle vleis.

Die VOC het redelik gou tot die gevolgtrekking gekom dat boerdery nie hulle kernbesigheid is nie. Hulle het toe besluit om sekere dele daarvan te privatiseer. Hulle werknemers aan die Kaap was aangestel met 3 en 5 jaar kontrakte. In 1657, 5 jaar na aankoms, bied die VOC vryburgerskap aan vir die wat belangstel. Die idee was dat die Vryburgers hulle eie plase sal bedryf soos hulle goedvind en dan hulle produkte aan die VOC verkoop.

Jan van Riebeeck het nie ‘n Nederlandse kolonie kom stig nie, hy het nie ‘n nuwe land kom beset nie, hy het ‘n verversingstasie vir die VOC kom vestig. Dit was die privatisering deur die VOC wat tot permanente inwoners van Europese afkoms gelei het. Een ding het tot ‘n ander gelei, en die Vryburgers se nasate word die Boerevolk. Die stigting van ‘n nuwe volk was onbepland, dit was ‘n onvoorsiene gevolg van die stigting van ‘n verversingstasie.

Jan Van Riebeeck het vir homself naam gemaak en bevordering gekry. In sy 10 jaar aan die Kaap het hy ‘n hospitaal, ‘n meule, werkswinkels en skure, huise, en stalle gebou. ‘n Hawehoof is ook tot stand gebring. Hy het ook die boerdery op dreef gebring. Die wildernis wat hy gekry het, het hy as ‘n beskawing agter gelaat.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die laaste Pasga

Hier by ons is Paasfees altyd ‘n lang naweek want Vrydag en Maandag is openbare vakansiedae. Die ideale geleentheid om iewers heen te gaan of om jou jaarlikse verlof te neem. Terwyl jy jou welverdiende rus geniet, vier jy nog Paasfees? Hoeveel mense weet nog waarom daar ‘n Paasfees is?

Behalwe om vakansie te hou, is daar drie elemente betrokke by ons hedendaagse Paasfees: die oeroue Europese lente feesvierings,  die Ou Testamentiese Pasga (Pesach) en die kruisiging en opstanding van Christus.

Die Europese lentefeeste het ingesluit lentevure, simboliese verbranding van ‘n pop, die eet van eiers, die simbool van die haas, paasbolletjies met groen takkies en bloeisels. Lentevure het die son, na die winter, terug verwelkom. Na die winter was vrugbaarheid van mens, dier en plant belangrik. Die mense het rondom die vure gedans. ‘n Pop is verbrand as simbool dat die winter oorwin is.  Die Germane se fees het simboliese handelinge, offerhandes en ‘n offermaaltyd ingesluit. Die eier was die simbool van ontkieming en nuwe lewe. Eiers was weggesteek en moes gesoek word. Die haas is gesien as ‘n besondere vrugbare dier en is met die eier verbind. Die paasmaaltyd was om die oorwinning oor die winter te vier. Dit was die paganistiese gebruikte in Europa.

As gevolg van die verspreiding van die evangelie, het die Kerk tot stand gekom. Aanvanklik was die Rooms-Katolieke Kerk die enigste Kerk in Wes-Europa. Reeds vroeg was die Kerk in kompetisie met die paganisme en is van die paganistiese gebruike oorgeneem in die Kerk. Die Kerk het ‘n ander interpretasie aan die paganistiese gebruike gegee. Die lentevuur word die Paasvuur, die simbool van Nuwe Lig en die simbool van vreugde oor die opstanding van Christus. Die verbranding van die pop word die simboliese verbranding van Judas Iskariot. Die eier word die Paaseier en die simboliese betekenis daaraan gegee is die herrysenis van Christus. Die paasbolletjie  (“hot-cross bun”) en die paasmaaltyd word die Paaslam en is die simbool van Christus se offerhande aan die kruis en oorwinning oor die dood.

Die Protestante het gepoog om die Kerk te suiwer van paganistiese gebruike. Gevolglik het ons voorouers nie hierdie gebruike geken nie, dit is eers later tydens Britse Kolonisasie ingevoer. Beskrywings van Paasfees aan die Kaap vertel dat op Goeie Vrydag mense in die oggend gewerk het en in die middag kerk toe gegaan het. Hulle het nie Christus se lyding gevier nie, net Sy dood en begrafnis. Paasfees was Maandag namiddag verby.

Die Kommersiële wêreld het die paganistiese gebruike ingevoer om omset oor Paasfees te bevorder. Die mens hou van kleurryke en geromantiseerde tradisies en koop graag sulke produkte. Vandag is toerisme oor Paasfees ‘n belangrike bron van inkomste.

Die oorspronklike Paasfees is die Pasga in die Ou Testament (Hebreeus: pesach). Dit is die herdenking van toe YHWH Israel uit Egipte bevry het. Met die Tiende Plaag is Israel aangesê om ‘n lam te slag en die bloed daarvan op die deurkosyne te smeer. Die Engel van YHWH het in die nag deur die hele Egipte gegaan en elke gesin wat nie die teken van die lam se bloed gehad het nie, se eersgebore seun en/of dier het gesterf. Waar gesinne wel deur die bloed van die lam beskerm is, het die Engel van YHWH verby gegaan (in Engels “passed over”). Omdat die Pasga onmiddellik gevolg word deur die Fees van Ongesuurde Brode, word ongesuurde brood tydens die Pasga geëet. Hierna was die opdrag dat hulle dit eers, wanneer hulle in die beloofde land is, moet vier. (‘n Uitsondering het plaasgevind na die tabernakel voltooi is.) Daarna moes dit jaarliks in hulle eie land gevier word. Die Pasga is een van die belangrikste feeste van Judaïsme en word by hulle gesien as ‘n fees wat eksklusief op hulle van toepassing is. Daar is wel christelike groepe wat dit ook onderhou.

Bybelgelowige christene vier oor die algemeen nie die Pasga nie. Hulle vier die dood en opstanding van Christus. Yeshua, die Gesalfde, is die paaslam wat vir die mensdom geslag is. Dit was die laaste Pasga want daarna was die instelling nie meer nodig nie, alles is volbring. Yeshua is gekruisig op die dag van die Pasga. Die Dood gaan verby diegene wat deur Sy bloed bedek word.

Die dag van die kruisiging het begin die Donderdag met sononder en geduur tot die Vrydag sononder. Daardie laaste dag het begin met die aandete van Yeshua en Sy volgelinge. Daartydens het Hy, onder andere, die nagmaal ingestel. Na die ete, in die vroeë oggendure, is Yeshua gearresteer en gemartel. Vroegoggend het Sy verhoor begin. Die middag is Hy gekruisig en is Hy dood. Laatmiddag is Hy begrawe. Dit was die gebeure op Goeie Vrydag. Die Sondagoggend vroeg was Yeshua se graf leeg. Hy het in Sy eie krag liggaamlik uit die dood  opgestaan. Op die Sondag, en daarna, het Hy groot getalle mense ontmoet en hulle het bevestig dat Hy lewe. Hierdie Sondag word Opstandingsdag genoem. Opstandingsdag is die belangrikste dag in die geskiedenis van die mensdom. Het Hy nie opgestaan nie, was daar geen christene en geen christendom nie. Die christendom bestaan slegs omdat Hy opgestaan het uit die dood. Dit is hierdie gebeure wat deur christene as Paasfees gevier word.

Vir die wat op die Gesalfde vertrou, was die kruisiging en opstanding van Yeshua die laaste pasga. Vir Judaïsme het Yeshua nie opgestaan nie en handhaaf hulle hul tradisie van jaarlikse pasga vierings. Vir die kommersiële wêreld is daar geld om te maak. Vir paganiste is daar eiers om te eet. Vir vakansiegangers is daar pret en plesier.

Die volgelinge van Yeshua herdenk Sy kruisiging en opstanding deur die viering van die nagmaal. Dit gebeur nie net een keer per jaar nie, dit word gereeld gedoen. Alhoewel die nagmaal op Paasfees dieselfde behoort te wees as enige ander nagmaal, voel baie om iets spesiaal op Paasfees te doen.

My besorgdheid is oor die Boerevolk. Ons is die nageslag van Protestante. Wat beteken Paasfees vandag vir ons? Is Paasfees bloot ‘n tyd om te ontspan en te kuier? Of is dit ‘n tyd vir afgode? Dink ons aan die Gesalfde van YHWH? Wat ons op Paasfees doen, bepaal ons volk se aard en toekoms.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Wet van Abraham

YHWH het aan Noag en sy kinders sekere opdragte gegee. Omdat alle mense van Noag en sy seuns afstam, was hierdie opdragte geldig vir die hele mensdom. Genesis 9:1-7 gee die besonderhede: En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel: alles wat op die aarde beweeg, en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee. Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle. Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie. Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis. Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak. Maar julle, wees vrugbaar en vermeerder; wemel op die aarde en vermeerder daarop.

Volgens die leerstellings van Judaïsme (in die Talmoed), het YHWH die Sewe Wette van Noag aan die mensdom gegee. Volgens die Rabbyne is dit die volgende: (1) Verbod op afgodery, (2) verbod om God se Naam te minag, (3) verbod op moord, (4) verbod op onsedelikheid, (5) verbod op diefstal, (6) verbod op die eet van ‘n lewendige dier se vleis, (7) verpligting om ‘n regstelsel in te stel. Volgens die Rabbyne is enige nie-Jood wat hierdie wette onderhou ‘n “regverdige heiden” en verseker van ‘n plek in die wêreld wat kom.

YHWH het geen ander wette aan mense gegee voor Moses nie. Dus van Noag tot Moses het slegs die Wet van Noag gegeld. Dit het ook vir Abraham, Isak en Jakob gegeld. Moses se wette het eers 430 jaar ná Abraham gekom.

Galasiërs 3:6 verduidelik dit so: Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Galasiërs 3:11-14 sê verder: En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe. Maar die wet is nie uit die geloof nie, maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe. Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang— sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang. 

Abraham is dus nie geregverdig omdat hy die Wet van Noag nagekom het nie, hy is geregverdig omdat hy YHWH geglo en vertrou het. Judaïsme is dus verkeerd. Dit was dan ook waar van Isak en Jakob. Wat van Abraham se ander nageslag? Ismael en sy nageslag, die kinders wat Abraham by Ketura gehad het, sy kleinseun Esau. Abraham het sekerlik almal grootgemaak om YHWH te glo en te vertrou. Is dit dus geldig om te sê dat ook hulle geregverdig sou wees indien hulle YHWH geglo en vertrou het?

Wat dan van Noag se ander nageslag? Noag het sekerlik hulle ook geleer van YHWH. Sou hulle ook regverdig verklaar kon word as hulle YHWH geglo en vertrou het? Net soos Abraham. Ons weet natuurlik nie of daar sulke persone was nie, want die geskiedenis praat nie van hulle nie. Nogtans was dit, selfs al is dit teoreties, moontlik gewees. Soos met Job.

Die ware “regverdige heidene” is dus nie die wetsonderhouders nie, dit is die wat YHWH vertrou. Soos Abraham en Isak en Jakob gedoen het. Moses seker ook?

Natuurlik sou ons verwag dat almal wat “regverdige heidene” is, nie misdadigers was nie. Hulle sou seker nie gesteel en gemoor het nie. Hulle sou ook nie afgode gedien het nie. Hoe kan jy YHWH vertrou en ook ‘n afgod dien? Omdat hulle YHWH geglo en vertrou het, sou hulle Hom gerespekteer het. Waarvoor was Noag se wet dan nodig? Vir die wat nie “regverdige heidene” was nie?

Die Wet van Abraham was om YHWH te glo en vertrou. Niks meer en niks minder nie.

 

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Is die Boek van Jubileë gesaghebbend?

Ek het so pas die Boek van Jubileë gelees. In Engels. Die boek is ook bekend onder die name Klein Genesis, Apokalips van Moses en nog meer. Die boek word as ‘n gesaghebbende Bybelboek beskou deur Beta Israel (die swart Jode wat oorspronklik van Ethiopië afkom) en die Ethiopiese Ortodokse Kerk. Die oudste en beste manuskripte is vertalings in die Ge’ez taal van Ethiopië.

Die boek word ‘n pseudepigrafiese geskrif genoem. Dit verwys na ‘n ou geskrif, wat tussen omtrent 200 v.C. en 200 n.C. ontstaan het en wat ten onregte aan ‘n bekende persoon toegeskryf is. Dit was die tydperk van die opkoms van die skrifgeleerdes waartydens Judaïsme wetties geword het. Die naam “pseudepigrafies” beteken “onder ‘n vals naam” geskryf. Waar dit op die Ou Testament betrekking het, verwys dit na ‘n Joodse godsdienstige geskrif. Sulke geskrifte moet onderskei word van kanonieke, deuterokanonieke en apokriewe geskrifte.

Oor presies wanneer die Boek van Jubileë geskryf is, kan ons nie seker wees nie. Sommige geleerdes meen tussen 150 en 160 v.C. Dit is geskryf nadat die Ou Testament in Grieks vertaal is (die Septuagint). Die boek self beweer dat ‘n engel dit dikteer het, en dat Moses dit neergeskryf het. Dit het gebeur terwyl Moses op die berg Sinaï was (meer as ‘n duisend jaar voor Christus). Geleerdes dink dat dit in werklikheid geskryf is deur ‘n Fariseër in die tyd van die Makkabeërs.

Dit is interessant hoe die boek ooreenstemming toon met die Bybelboek Genesis. Die manier hoe dit geskryf is, is soortgelyk aan hoe die Bybelboeke geskryf is. Vir die leser klink dit gesaghebbend. Dit voorsien meer besonderhede oor sekere sake wat nie in Genesis is nie, byvoorbeeld die name van die vroue van Bybelse persone.

Die benaming “Jubileë” kom daarvan dat die boek die geskiedenis van Genesis 1 af tot by Moses, interpreteer in veelvoude van sewe. ‘n Jubilee is ‘n tydperk van 7 sabbatsjare of 49 jaar. Die Boek van Jubileë gebruik ‘n heel ander kalender en berekening van tyd as wat Moses ingestel het. Die boek gee die lengte van ‘n jaar aan as 364 dae, volgens die son, en nie die Hebreeuse kalender volgens die maan nie.

Die boek gee ook bykomende inligting oor die engele. Vier klasse engele word genoem. Henog was die eerste skrywer en hy is deur engele geleer om te kan skryf. Die Ethiopiese weergawe vertel dat, voor die vloed van Noag, die kinders van Set en die kinders van Kain vermeng het en reuse verwek het. Ander weergawes volg die Boek van Henog wat beweer dat engele en mense vermeng het en reuse verwek het.

Volgens die Boek van Jubileë is Hebreeus die taal wat in die hemel gepraat word. Dit was die oorspronklike taal van die mensdom. Na die spraakverwarring by die toring van Babel, het Hebreeus verlore gegaan en het die mense net hul eie nuwe tale geken. Gevolglik moes engele vir Abraham leer om Hebreeus te praat en skryf.

Daar is ‘n paar leerstellige probleme tussen die Boek van Jubileë en die kanonieke Bybelboeke. Volgens Jubileë was die gevolge van die Sondeval beperk tot Adam en die diere (die diere het die vermoë om te praat, verloor) Die gevalle toestand van die mens word eerder toegeskryf aan die dade van die gevalle engele voor die vloed.

Die (Ou Testamentiese) wet is op tablette in die hemel geskryf en is vir ewig vas. Die wet word deur engele aan mense geopenbaar. Daar is dus nie profesie of verdere openbaring moontlik nie.

Die Boek van Jubileë het die Islamitiese boek, die Koran, beïnvloed. Dit het dieselfde siening van hoe openbaring plaasvind: Hemelse geskrifte wat deur engele bekend gemaak word. Daar is ooreenkoms tussen Jubileë en Koran oor die rol van Abraham. Die Koran noem Bybelse persone profete, ook vanuit Jubileë. Verskeie ander sake is ook deur die Koran ontleen uit Jubileë.

Die boek maak weinig melding van die Messias en niks belangriks word aan Hom toegeskryf nie. Die Messiaanse ryk sal geleidelik tot stand kom. Soos die mens ten goede verander, sal die natuur ook verander totdat daar ‘n nuwe hemel en aarde is. Dan sal mense 1 000 jaar oud word en na hul liggaamlike dood onsterflik wees in die geesteswêreld. (Daar is dus nie ‘n liggaamlike opstanding uit die dood nie.)

Wat my nogal interesseer is die indeling van die geskiedenis in jubilee tydperke. Kan daar ‘n patroon wees? Sover kon ek nog nie voldoende bevestiging vind dat dit wel so is nie. Nogtans is Daniël se 70 x 7 sewes (=490) gelyk aan 10 jubilee jare van 49 jaar elk.

Die Boek van Jubileë, buiten in Ethiopië, was nog nooit ingesluit by die Bybel nie. Dit is sekerlik nie ‘n Goddelik geïnspireerde boek nie. Die bykomende inligting wat dit bevat, kan nie bevestig word nie.

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Op soek na ‘n tipiese Boer

Hoe lyk ‘n tipiese Boer? Dis maklik, jy kyk hoe lyk die slagoffers van plaasaanvalle. Hulle is tipiese Boere. Lyk jy soos ‘n slagoffer dan lyk jy ook soos ‘n tipiese Boer.

Die Boerehaters het hul eie voorstelling van hoe ‘n Boer veronderstel is om te lyk. Volgens hulle, is ‘n Boer ‘n onbeskaafde lummel, iemand wat ander mense haat. Hierdie voorstelling is eintlik niks nuut nie, dit was voorheen ook gedoen. Kyk maar na die Britse propaganda tydens die Anglo-Boere Oorlog. Of selfs vroeër tydens die probleme aan die Oosgrens. Vir hierdie mense is daar niks wat ons reg doen nie.

Boerehaters het redes hoekom hulle ons so voorstel. Hulle haat ons as ‘n volk. Hulle haat alle volke want etnisiteit staan in hulle pad. Etnisiteit en nasionalisme gaan saam en hulle is internasionaliste en globaliste. Ons is ‘n baie klein en onbelangrike volkie. Ons het nie mag nie en ons kan niks aan hulle maak nie. Nogtans wil hulle ons uitroei.

Die metodes wat hulle teen die Boerevolk gebruik is om alles omtrent ons negatief te stel. Hulle stel ons voor as onredelik, onsedelik en sonder integriteit. Hulle bevraagteken ons motiewe en stel ons as ongevoelig voor. Hulle ontken die bestaan en bestaansreg van die Boerevolk. Hulle beroep hulle op emosie en sentiment. Hulle gee voor dat hulle omgee vir die armes en verdruktes, maar hulle is skynheilig. In die geheim staan hulle gevoelloos teenoor die armes en verdruktes. Hulle is ook leuenaars en propagandiste. Propaganda is om die leuen te herhaal tot dit geglo word. Die eienaardige is, dat alles waarvan hulle ons beskuldig, eintlik waar is van hulleself. Ons weet hoe die tipiese Boerehater lyk.

Sommige van ons drink brandewyn met coke, ander weer drink net skoon coke, ek hou die meeste van koffie. Sommiges dra baarde, ander is glad geskeer. Party vloek lekker, ander sal nie dat ‘n vloekwoord oor hulle lippe gaan nie. Party van ons mense haat mense van ander rasse, maar die meeste doen nie.

Wat het ons wat lede van die Boerevolk is in gemeen met mekaar? Dit is aan ons wit velle wat plaasaanvallers ons uitken. Meeste van ons praat Afrikaans, dit wil sê Boereafrikaans (ook bekend as Standaard Afrikaans). Daar is die wat lede van die susterskerke is, daar is die wat lede van pinksterkerke is, daar is die wat aan ander kerke behoort, daar is die wat aan huiskerke behoort, daar is ander wat nie aan enige kerke behoort nie. Ek meen die meeste lede van die Boerevolk is protestants, maar nie noodwendig calvinisties nie. Daar is niks tipies aan ons nie, ons verskil van mekaar. Dit is met ander volke ook so. Die individue wat ‘n etniese groep opmaak, verskil.

Ons identifiseer met dieselfde hoogtepunte en laagtepunte in ons geskiedenis. Soos iemand een keer gesê het: “We came with different ships, but now we are in the same boat”. Ons woon op verskillende plekke maar nogtans is ons een volk. Ons doen verskillende beroepe. Die wat op lande werk, dra kakieklere. Die wat in fabrieke werk, dra blou oorpakke. Die kantoorwerkers dra ‘n pak klere en ‘n das. Daar is die wat ons voorstel as draers van tweekleurhemde. Ek het myne gekoop want dit was die enigste hemde in die winkel wat twee sakke het en wat 100% katoen is. Die etiket sê dit is in Sjina gemaak. Die Sjinese maak seker nie net daardie hemde vir Boere nie.

Gestel dat ons, vir een of ander rede, nodig het om tradisionele kleredrag te dra. Wat is ons tradisionele kleredrag? Daar is al lang debatte daaroor gevoer, maar ek is nie bewus daarvan dat ‘n algemeen aanvaarde oplossing gevind is nie. Dit sal waarskynlik iets uit ons pioniersgeskiedenis moet wees. Hulle het meestal tuisgemaakte klere gedra.  Sommige het die drag van die Voortrekkers voorgestel, ander die drag wat tydens die Anglo-Boere Oorlog gedra is. Dit kan ook nie kisklere wees nie, maar ook nie alledaagse werksklere nie. Ons kleredrag word nie meer tuisgemaak nie, dit word in winkels gekoop. Die koste daarvan moet nie te hoog wees nie want baie van ons het dit nie te breed nie.

So, hoe lyk ‘n tipiese Boer? Dalk kan iemand die slagoffers van plaasaanvalle se gewoontes en gebruike gaan bestudeer. Wat was hulle voorkeur drankie? Aan watter kerk het hulle behoort? Het hulle graag rugby op die TV gekyk? Gereeld gebraai?

Indien iemand nog nie agtergekom het wat aan die gang is nie, daar is ‘n volgehoue aanslag teen die Boerevolk. ‘n Aanslag om die Boere uit te roei, te vernietig. ‘n Volksmoord is aan die gang.

 

 

 

 

 

 

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin