Is die Boek van Jubileë gesaghebbend?

Ek het so pas die Boek van Jubileë gelees. In Engels. Die boek is ook bekend onder die name Klein Genesis, Apokalips van Moses en nog meer. Die boek word as ‘n gesaghebbende Bybelboek beskou deur Beta Israel (die swart Jode wat oorspronklik van Ethiopië afkom) en die Ethiopiese Ortodokse Kerk. Die oudste en beste manuskripte is vertalings in die Ge’ez taal van Ethiopië.

Die boek word ‘n pseudepigrafiese geskrif genoem. Dit verwys na ‘n ou geskrif, wat tussen omtrent 200 v.C. en 200 n.C. ontstaan het en wat ten onregte aan ‘n bekende persoon toegeskryf is. Dit was die tydperk van die opkoms van die skrifgeleerdes waartydens Judaïsme wetties geword het. Die naam “pseudepigrafies” beteken “onder ‘n vals naam” geskryf. Waar dit op die Ou Testament betrekking het, verwys dit na ‘n Joodse godsdienstige geskrif. Sulke geskrifte moet onderskei word van kanonieke, deuterokanonieke en apokriewe geskrifte.

Oor presies wanneer die Boek van Jubileë geskryf is, kan ons nie seker wees nie. Sommige geleerdes meen tussen 150 en 160 v.C. Dit is geskryf nadat die Ou Testament in Grieks vertaal is (die Septuagint). Die boek self beweer dat ‘n engel dit dikteer het, en dat Moses dit neergeskryf het. Dit het gebeur terwyl Moses op die berg Sinaï was (meer as ‘n duisend jaar voor Christus). Geleerdes dink dat dit in werklikheid geskryf is deur ‘n Fariseër in die tyd van die Makkabeërs.

Dit is interessant hoe die boek ooreenstemming toon met die Bybelboek Genesis. Die manier hoe dit geskryf is, is soortgelyk aan hoe die Bybelboeke geskryf is. Vir die leser klink dit gesaghebbend. Dit voorsien meer besonderhede oor sekere sake wat nie in Genesis is nie, byvoorbeeld die name van die vroue van Bybelse persone.

Die benaming “Jubileë” kom daarvan dat die boek die geskiedenis van Genesis 1 af tot by Moses, interpreteer in veelvoude van sewe. ‘n Jubilee is ‘n tydperk van 7 sabbatsjare of 49 jaar. Die Boek van Jubileë gebruik ‘n heel ander kalender en berekening van tyd as wat Moses ingestel het. Die boek gee die lengte van ‘n jaar aan as 364 dae, volgens die son, en nie die Hebreeuse kalender volgens die maan nie.

Die boek gee ook bykomende inligting oor die engele. Vier klasse engele word genoem. Henog was die eerste skrywer en hy is deur engele geleer om te kan skryf. Die Ethiopiese weergawe vertel dat, voor die vloed van Noag, die kinders van Set en die kinders van Kain vermeng het en reuse verwek het. Ander weergawes volg die Boek van Henog wat beweer dat engele en mense vermeng het en reuse verwek het.

Volgens die Boek van Jubileë is Hebreeus die taal wat in die hemel gepraat word. Dit was die oorspronklike taal van die mensdom. Na die spraakverwarring by die toring van Babel, het Hebreeus verlore gegaan en het die mense net hul eie nuwe tale geken. Gevolglik moes engele vir Abraham leer om Hebreeus te praat en skryf.

Daar is ‘n paar leerstellige probleme tussen die Boek van Jubileë en die kanonieke Bybelboeke. Volgens Jubileë was die gevolge van die Sondeval beperk tot Adam en die diere (die diere het die vermoë om te praat, verloor) Die gevalle toestand van die mens word eerder toegeskryf aan die dade van die gevalle engele voor die vloed.

Die (Ou Testamentiese) wet is op tablette in die hemel geskryf en is vir ewig vas. Die wet word deur engele aan mense geopenbaar. Daar is dus nie profesie of verdere openbaring moontlik nie.

Die Boek van Jubileë het die Islamitiese boek, die Koran, beïnvloed. Dit het dieselfde siening van hoe openbaring plaasvind: Hemelse geskrifte wat deur engele bekend gemaak word. Daar is ooreenkoms tussen Jubileë en Koran oor die rol van Abraham. Die Koran noem Bybelse persone profete, ook vanuit Jubileë. Verskeie ander sake is ook deur die Koran ontleen uit Jubileë.

Die boek maak weinig melding van die Messias en niks belangriks word aan Hom toegeskryf nie. Die Messiaanse ryk sal geleidelik tot stand kom. Soos die mens ten goede verander, sal die natuur ook verander totdat daar ‘n nuwe hemel en aarde is. Dan sal mense 1 000 jaar oud word en na hul liggaamlike dood onsterflik wees in die geesteswêreld. (Daar is dus nie ‘n liggaamlike opstanding uit die dood nie.)

Wat my nogal interesseer is die indeling van die geskiedenis in jubilee tydperke. Kan daar ‘n patroon wees? Sover kon ek nog nie voldoende bevestiging vind dat dit wel so is nie. Nogtans is Daniël se 70 x 7 sewes (=490) gelyk aan 10 jubilee jare van 49 jaar elk.

Die Boek van Jubileë, buiten in Ethiopië, was nog nooit ingesluit by die Bybel nie. Dit is sekerlik nie ‘n Goddelik geïnspireerde boek nie. Die bykomende inligting wat dit bevat, kan nie bevestig word nie.

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui