Die laaste Pasga

Hier by ons is Paasfees altyd ‘n lang naweek want Vrydag en Maandag is openbare vakansiedae. Die ideale geleentheid om iewers heen te gaan of om jou jaarlikse verlof te neem. Terwyl jy jou welverdiende rus geniet, vier jy nog Paasfees? Hoeveel mense weet nog waarom daar ‘n Paasfees is?

Behalwe om vakansie te hou, is daar drie elemente betrokke by ons hedendaagse Paasfees: die oeroue Europese lente feesvierings,  die Ou Testamentiese Pasga (Pesach) en die kruisiging en opstanding van Christus.

Die Europese lentefeeste het ingesluit lentevure, simboliese verbranding van ‘n pop, die eet van eiers, die simbool van die haas, paasbolletjies met groen takkies en bloeisels. Lentevure het die son, na die winter, terug verwelkom. Na die winter was vrugbaarheid van mens, dier en plant belangrik. Die mense het rondom die vure gedans. ‘n Pop is verbrand as simbool dat die winter oorwin is.  Die Germane se fees het simboliese handelinge, offerhandes en ‘n offermaaltyd ingesluit. Die eier was die simbool van ontkieming en nuwe lewe. Eiers was weggesteek en moes gesoek word. Die haas is gesien as ‘n besondere vrugbare dier en is met die eier verbind. Die paasmaaltyd was om die oorwinning oor die winter te vier. Dit was die paganistiese gebruikte in Europa.

As gevolg van die verspreiding van die evangelie, het die Kerk tot stand gekom. Aanvanklik was die Rooms-Katolieke Kerk die enigste Kerk in Wes-Europa. Reeds vroeg was die Kerk in kompetisie met die paganisme en is van die paganistiese gebruike oorgeneem in die Kerk. Die Kerk het ‘n ander interpretasie aan die paganistiese gebruike gegee. Die lentevuur word die Paasvuur, die simbool van Nuwe Lig en die simbool van vreugde oor die opstanding van Christus. Die verbranding van die pop word die simboliese verbranding van Judas Iskariot. Die eier word die Paaseier en die simboliese betekenis daaraan gegee is die herrysenis van Christus. Die paasbolletjie  (“hot-cross bun”) en die paasmaaltyd word die Paaslam en is die simbool van Christus se offerhande aan die kruis en oorwinning oor die dood.

Die Protestante het gepoog om die Kerk te suiwer van paganistiese gebruike. Gevolglik het ons voorouers nie hierdie gebruike geken nie, dit is eers later tydens Britse Kolonisasie ingevoer. Beskrywings van Paasfees aan die Kaap vertel dat op Goeie Vrydag mense in die oggend gewerk het en in die middag kerk toe gegaan het. Hulle het nie Christus se lyding gevier nie, net Sy dood en begrafnis. Paasfees was Maandag namiddag verby.

Die Kommersiële wêreld het die paganistiese gebruike ingevoer om omset oor Paasfees te bevorder. Die mens hou van kleurryke en geromantiseerde tradisies en koop graag sulke produkte. Vandag is toerisme oor Paasfees ‘n belangrike bron van inkomste.

Die oorspronklike Paasfees is die Pasga in die Ou Testament (Hebreeus: pesach). Dit is die herdenking van toe YHWH Israel uit Egipte bevry het. Met die Tiende Plaag is Israel aangesê om ‘n lam te slag en die bloed daarvan op die deurkosyne te smeer. Die Engel van YHWH het in die nag deur die hele Egipte gegaan en elke gesin wat nie die teken van die lam se bloed gehad het nie, se eersgebore seun en/of dier het gesterf. Waar gesinne wel deur die bloed van die lam beskerm is, het die Engel van YHWH verby gegaan (in Engels “passed over”). Omdat die Pasga onmiddellik gevolg word deur die Fees van Ongesuurde Brode, word ongesuurde brood tydens die Pasga geëet. Hierna was die opdrag dat hulle dit eers, wanneer hulle in die beloofde land is, moet vier. (‘n Uitsondering het plaasgevind na die tabernakel voltooi is.) Daarna moes dit jaarliks in hulle eie land gevier word. Die Pasga is een van die belangrikste feeste van Judaïsme en word by hulle gesien as ‘n fees wat eksklusief op hulle van toepassing is. Daar is wel christelike groepe wat dit ook onderhou.

Bybelgelowige christene vier oor die algemeen nie die Pasga nie. Hulle vier die dood en opstanding van Christus. Yeshua, die Gesalfde, is die paaslam wat vir die mensdom geslag is. Dit was die laaste Pasga want daarna was die instelling nie meer nodig nie, alles is volbring. Yeshua is gekruisig op die dag van die Pasga. Die Dood gaan verby diegene wat deur Sy bloed bedek word.

Die dag van die kruisiging het begin die Donderdag met sononder en geduur tot die Vrydag sononder. Daardie laaste dag het begin met die aandete van Yeshua en Sy volgelinge. Daartydens het Hy, onder andere, die nagmaal ingestel. Na die ete, in die vroeë oggendure, is Yeshua gearresteer en gemartel. Vroegoggend het Sy verhoor begin. Die middag is Hy gekruisig en is Hy dood. Laatmiddag is Hy begrawe. Dit was die gebeure op Goeie Vrydag. Die Sondagoggend vroeg was Yeshua se graf leeg. Hy het in Sy eie krag liggaamlik uit die dood  opgestaan. Op die Sondag, en daarna, het Hy groot getalle mense ontmoet en hulle het bevestig dat Hy lewe. Hierdie Sondag word Opstandingsdag genoem. Opstandingsdag is die belangrikste dag in die geskiedenis van die mensdom. Het Hy nie opgestaan nie, was daar geen christene en geen christendom nie. Die christendom bestaan slegs omdat Hy opgestaan het uit die dood. Dit is hierdie gebeure wat deur christene as Paasfees gevier word.

Vir die wat op die Gesalfde vertrou, was die kruisiging en opstanding van Yeshua die laaste pasga. Vir Judaïsme het Yeshua nie opgestaan nie en handhaaf hulle hul tradisie van jaarlikse pasga vierings. Vir die kommersiële wêreld is daar geld om te maak. Vir paganiste is daar eiers om te eet. Vir vakansiegangers is daar pret en plesier.

Die volgelinge van Yeshua herdenk Sy kruisiging en opstanding deur die viering van die nagmaal. Dit gebeur nie net een keer per jaar nie, dit word gereeld gedoen. Alhoewel die nagmaal op Paasfees dieselfde behoort te wees as enige ander nagmaal, voel baie om iets spesiaal op Paasfees te doen.

My besorgdheid is oor die Boerevolk. Ons is die nageslag van Protestante. Wat beteken Paasfees vandag vir ons? Is Paasfees bloot ‘n tyd om te ontspan en te kuier? Of is dit ‘n tyd vir afgode? Dink ons aan die Gesalfde van YHWH? Wat ons op Paasfees doen, bepaal ons volk se aard en toekoms.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui