Jan van Riebeeck en die padstal

Die verversingstasie wat Jan van Riebeeck aan die Kaap kom stig het, kan vergelyk word met ‘n padstal wat langs ‘n grootpad opgerig is. Gewoonlik is daar eers ‘n plaas en daarna ‘n padstal. In Van Riebeeck se geval was daar nog nie ‘n plaas nie. Hulle moes die plaas en die padstal tegelykertyd aan die gang kry. Van Riebeeck self het blykbaar nie veel van boerdery af geweet nie, ook nie veel van winkels af nie. Hy was die eerste dokter in Suid-Afrika wat gaan boer het. Hoe het dit toe verloop? Vandag sal hulle sê dit was ‘n “challenge”. Murphy se Wet het oortyd gewerk. Probleme, skelms en teenspoed het hulle geteister.

Die Verenigde Oosindiese Kompanjie (VOC) was die wêreld se eerste publieke maatskappy. Hulle was ook die eerste groot internasionale korporasie. Hulle het takke en kantore van Europa tot in Japan gehad. Hulle hoofkantoor in die Ooste was in Indonesië (ook genoem Batavia). Hulle skepe het hoofsaaklik tussen Europa en Indonesië gevaar, ‘n baie lang seereis met baie gevare. Een van die groot probleme met hierdie seereise was die gebrek aan vars produkte vir die bemannings daarvan. Die maatskappy het toe besluit om ‘n verversingstasie aan die Kaap van Goeie Hoop te vestig, min of meer halfpad tussen Europa en Indonesië. Hiervoor het hulle ‘n span werknemers aangestel met Jan van Riebeeck as die bestuurder (sy postitel was Kommandeur). Die getroude mans se vrouens het saamgekom.

Op 6 April 1652 land drie skepe van die VOC in Tafelbaai en word begin om die materiaal, wat saamgebring is, af te laai. Die eerste paar dae het die personeel op die skepe oornag terwyl hulle in die dag op land gewerk het.

Op 8 April stuur Van Riebeeck sy manne aan land om ‘n fort te bou. Huisvesting en stoorplek was die eerste prioriteit. Van die begin af was daar ‘n gesukkel. Die hout waarmee hulle plankhutte moes bou, was onder die ander vrag in die skepe gelaai. Toe die huisies klaar was, was hulle nie bestand teen die Kaapse weer nie, alles word nat, die kos bederf en water stroom in. Die bouery aan die fort word vertraag deur siekte, reën en stormwind. Die personeel word opstandig oor die min kos en die harde werk. Vier mans dros (wat het hulle gedink?), maar kom later weer terug. Eers op 3 Augustus is die fort klaar. Van Riebeeck self het ‘n klipgebou met ‘n plat dak binne die fort as huis. Hulle maak ‘n steengroef en bou brandvrye pakhuise van klip. Stompe word met osse aangesleep. Hulle besef dat, anders as in Europa, houthuise nie gaan werk nie en van 1654 af maak hulle kleibakstene vir huisbou. Dit was die begin van die baksteenbedryf.

Alles wat gedoen moes word was hoë prioriteit en moes tegelykertyd gedoen word. Hulle het skaars geland, toe begin hulle al met tuinmaak. Hulle het groentesaad uit Europa saamgebring en reeds in April 1652 saai Hendrik Boom, die Eerste Tuinier, die eerste saad. Maar die rampe tref hulle. Die groente word deur hael en wind verpletter, net die radyse en kropslaai oorleef. Die ertjies, beet en spinasie spoel weg. Hieruit leer hulle dat hulle die grond moet dreineer en ook wanneer dit die beste planttye is.

Die Kaap het geen inheemse vrugtebome gehad nie. Jan en sy span het vooruit beplan en saad saamgebring. In Augustus 1652 word lemoen- en appelpitte geplant, maar dit het nie opgekom nie. Omdat die saadplantery nie gewerk het nie, was hulle verplig om bome in te voer. Appel, lemoen, suurlemoen en pompelmoes is uit Europa ingevoer. Okkerneut, kweper, peer, kersie, kastaiing en pruim is uit Nederland ingevoer en duisende is geplant. Piesang is uit Batavia ingevoer, maar dit was ‘n mislukking. Daar is ook aarbeie, aalbessie en kruisbessie ingevoer. Die eerste vrugtebome is uiteindelik eers in 1659 geplant. Van Riebeeck het geglo dat druiwe aan die Kaap sou aard en dit was ook so. Daar is druiwestokke ingevoer van St Helena, Brasilië, Spanje, Italië en Duitsland af. In 1659 is die eerste wyn gepars. Van Riebeeck se opvolgers het nog meer wingerde geplant en wyn kon in later jare na Batavia uitgevoer word.

Die eerste gars en koring was reeds in 1652 gesaai. Ten spyte van die wind en tekort aan trekdiere, was die proefneming suksesvol. Rys wou nie aard nie. Later van tyd kon koring uitgevoer word.

Die verkryging van hout vir boudoeleindes was ‘n kopseer. Aan die Kaap was daar nie uitgestrekte bosse nie, die bruikbare bome het in moeilik toeganklike bergklowe gegroei. Geelhout, witstinkhout en swartysterhout was die geskikste. Van Riebeeck het die gebruik van hierdie bome beperk en die gebruik daarvan vir brandhout verbied. Die bosse en struike by Tafelberg was nie goeie skadubome nie en gevolglik moes hulle skadubome plant. Synde beskaafde mense, wou hulle blomme ook hê. Hulle het die inheemse blomme van die Kaap glad nie raakgesien nie en Van Riebeeck het angeliere en rose uit Nederland ingevoer.

Die plan was om nie vee saam te bring nie, maar om by die Khoi (Hottentotte) te ruil. Van Riebeeck maak kontak met Herrie die Strandloper, maar die sê hy en sy mense het nie beeste nie, hulle eet vis. Van Riebeeck slaag daarin om met die Saldanhars kontak te maak en hy ruil koper vir beeste. In 1653 het hulle 40 beeste, maar Herrie vermoor die veewagter en steel die beeste. Nou was daar net vis en pikkewyneiers om te eet. Herrie keer 1655 terug en weet van 40 beeste wat gekoop kan word. Willem Muller word gestuur om te koop, maar na betaling word net 13 gelewer. Herrie beweer hy is beroof van die res. In 1658 bekom Jan van Herwaerden 25 beeste en 203 skape by ‘n Khoi stam. In 1657 bekom hulle 30 skape uit Nederland en in 1658 het hulle 28 uit Bengale gekry. Van Riebeeck ontdek dat sebras nie mak gemaak kan word nie en moet by herhaling vra dat perde ingevoer moet word. In 1653 bekom hulle 2 perde uit Batavia, teen 1660 is daar 20. As jy nie vleis het nie en jy het boonop ook nie slagvee nie, dan moet jy jag. Maar jagters skiet nie net vir die pot nie, hulle skiet ander diere ook. Die uiteinde was dat jaglisensies in 1680 ingestel moes word. Elande was blykbaar gewild vir hulle vleis.

Die VOC het redelik gou tot die gevolgtrekking gekom dat boerdery nie hulle kernbesigheid is nie. Hulle het toe besluit om sekere dele daarvan te privatiseer. Hulle werknemers aan die Kaap was aangestel met 3 en 5 jaar kontrakte. In 1657, 5 jaar na aankoms, bied die VOC vryburgerskap aan vir die wat belangstel. Die idee was dat die Vryburgers hulle eie plase sal bedryf soos hulle goedvind en dan hulle produkte aan die VOC verkoop.

Jan van Riebeeck het nie ‘n Nederlandse kolonie kom stig nie, hy het nie ‘n nuwe land kom beset nie, hy het ‘n verversingstasie vir die VOC kom vestig. Dit was die privatisering deur die VOC wat tot permanente inwoners van Europese afkoms gelei het. Een ding het tot ‘n ander gelei, en die Vryburgers se nasate word die Boerevolk. Die stigting van ‘n nuwe volk was onbepland, dit was ‘n onvoorsiene gevolg van die stigting van ‘n verversingstasie.

Jan Van Riebeeck het vir homself naam gemaak en bevordering gekry. In sy 10 jaar aan die Kaap het hy ‘n hospitaal, ‘n meule, werkswinkels en skure, huise, en stalle gebou. ‘n Hawehoof is ook tot stand gebring. Hy het ook die boerdery op dreef gebring. Die wildernis wat hy gekry het, het hy as ‘n beskawing agter gelaat.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui