Die Groot Stilte tussen die Ou en Nuwe Testamente

Tussen die laaste boek van die Ou Testament, Maleagi, en die eerste boek van die Nuwe Testament, Matteus, is daar die Groot Stilte van omtrent 400 jaar. YHWH het niks verder vir Israel te sê gehad nie. Daar was nie meer profete nie en ook geen nuwe openbaring nie. Dit, op sigself, is net so skokkend as die verwoesting van die tempel in 587 voor Christus en die ballingskap van die Israeliete wat daarmee saam gegaan het. Dit moes hulle laat wakker skrik, maar dit het nie.

Daar het heelwat in daardie 400 jaar gebeur. Tydens Maleagi se lewe was Israel nog onder die heerskappy van Persië. Daarna het die Grieke oorgeneem. Soos aan Daniël geopenbaar, is die Griekse Ryk in 4 verdeel en was daar die stryd tussen die Konings van die Noorde en die Konings van die Suide, met Israel in die middel. In hierdie tyd kom Israel in opstand onder aanvoering van die Makkabeërs. Daarna het die Romeine die beheer oorgeneem en het hulle Herodes koning van Judea gemaak.

Die grootste veranderinge in Israel tydens die 4 eeue van stilte was op godsdienstige terrein. Die hoofrede vir die ballingskap en die verwoesting van die tempel was omdat hulle ook afgode aanbid het. Hulle het steeds YHWH by die tempel aanbid, as hulle Hoofgod, maar hulle het ander gode ook aanbid. Tydens die ballingskap het die leiers van Israel dit probeer regstel en het die Israelitiese godsdiens (Judaïsme) monoteïsties (die geloof dat daar slegs een god is) geword. Om te verhoed dat hulle weer terugval in afgodery, het hulle die studie en onderrig van die Torah (die Wet van Moses) die kern van Judaïsme gemaak.

Tydens die Ou Testamentiese tyd het Israel as volk YHWH slegs aanbid by die tempel in Jerusalem. Die bring van offerhandes was ‘n integrale deel daarvan. Die priesters was die godsdienstige leiers en het die diens by die tempel behartig. (Dit is nodig om te onderskei tussen die volk se verhouding met YHWH en indiwidue se persoonlike verhouding met YHWH. Talle individue het ‘n persoonlike verhouding met YHWH gehad, en Hom nie net by die tempel aanbid nie.) YHWH het profete gestuur om die volk en leiers, wanneer nodig, aan te spreek. Tydens die ballingskap was daar nie meer ‘n tempel nie en YHWH kon nie meer ritueel aanbid word nie. Om hierdie probleem te oorkom, het die leiers van Israel sinagoges gestig. Sinagoges was in hoofsaak ‘n plek waar die Wet bestudeer is en waar onderrig daarin gegee is. Tog is aanbidding ook beoefen deur die sing van Psalms en gebede. Gebede het gedien as plaasvervanger van offerhandes. Nadat Serubbabel die tempel herbou het, is godsdiens by beide tempel en sinagoge beoefen. Die sinagoge was ‘n mensgemaakte instelling en nie ‘n opdrag van YHWH nie.

Saam met die sinagoges het ‘n nuwe soort Skrifgeleerde ontstaan. Voorheen het Skrifgeleerdes hulle met die oorskryf van die Skrifte besig gehou. Hierdie nuwe Skrifgeleerdes was die voorgangers van die Rabbynse Judaïsme wat na Christus ontstaan het. Na die ballingskap was daar baie vreemde invloede wat op Israel ingewerk het. Om hulle eie identiteit te bewaar, het die onderrig en toepassing van die Torah belangrik geword. Derhalwe moes ‘n omvattende kode opgestel word en aan die volk oorgedra word. Hiervoor was opgeleide deskundiges nodig. Hierdie geleerdes moes die Skrif interpreteer en toepas. Die twee hoofbeginsels van die Skrifgeleerdes was om mondelingse tradisies te bevorder en om die wet af te baken. Daar was nou twee bronne vir die Wet: die geskrewe wet en die mondelingse tradisies van vorige geslagte geleerdes. Die mondelingse oorgelewerde tradisies is later op skrif gestel en vervat in die Talmoed. In die opstel van reëls wat deur die volk gehoorsaam moet word, het hulle afgewyk van die hart en siel van die oorspronklike Wet. Hulle interpretasies het die oorspronklike betekenis van die Wet vernietig. Die Skrifgeleerdes het in die sinagoge die Torah gelees, kommentaar daarop gelewer en hulle studente daarin onderrig.

Tydens die 400 jaar van stilte, het daar ‘n aantal sektes in Judaïsme ontstaan. Een was die Fariseërs. Hoewel iemand beide ‘n Skrifgeleerde en ‘n Fariseër kon wees, moet daar tussen hulle onderskei word. Die ideologie van die Fariseërs was afsondering op grond van beide die geskrewe en die mondelingse Wet. Hulle het aangehou om reëls en wette by te voeg totdat godsdiens ‘n te swaar las vir die mense geword het. Hulle was bekend daarvoor dat hulle in die openbaar hulle godsdienstigheid vertoon het. So sou hulle in die straat loop en elke nou en dan eers stop om neer te buig in gebed. Alhoewel hulle min was, het hulle groot invloed gehad. Hulle het ook die grootste invloed by die sinagoges gehad.

Die Sadduseërs het hoofsaaklik bestaan uit lede van die welgestelde en invloedryke families. Hulle ambisie was om hulleself onmisbaar te maak vir die regeerders van die dag. Op hierdie wyse kon hulle hul eie idees en sake bevorder. Hulle het gemeen dat God nie inmeng in politieke sake nie, hulle moet self werk om politieke doelwitte te bereik. Hulle het nie geglo in wonderwerke, engele en die opstanding uit die dood nie. Hulle het slegs die geskrewe Wet aanvaar. Na die dood van Herodes die Grote het hulle groter invloed verkry as wat hulle voorheen gehad het. Die Romeine het die Hoofpriester toegelaat om die dag tot dag sake in Jerusalem te hanteer.

Daar was nog groepe. Die Herodiane word nie in die Nuwe Testament as ‘n godsdiensgroep beskryf nie. Daar was ook die Essene, maar hulle word nie in die Nuwe Testament genoem nie.

Die Sanhedrin het ook ontstaan in die tyd tussen die Ou en Nuwe Testamente. Dit was ‘n teokratiese hof en die hoogste hof van die Joodse volk en het oor burgerlike en godsdienstige sake beslis. Die Sanhedrin het uit 71 lede bestaan: die Hoofpriester, 24 verteenwoordigers uit die priesterdom, 24 “ouderlinge” of “regeerders”, en 22 Skrifgeleerdes. Een van die Sanhedrin se pligte was om die Messias te identifiseer.

Gedurende die 400 jaar se Groot Stilte het Judaïsme verander in ‘n mensgemaakte godsdiens. ‘n Wettiese godsdiens. Die oorspronklike bedoeling van die Wet van Moses, soos ook telkemale deur die profete verduidelik is, het verlore geraak. Yeshua, die Gesalfde, het van meet af aan met die godsdienstige leiers gebots. Dit was Yeshua en Sy apostels wat die Wet korrek verstaan en toegepas het, nie die godsdienstige leiers nie. Uiteindelik het hierdie leiers aangedring dat Yeshua gekruisig moet word.

Die geskiedenis van Israel is ‘n tragiese verhaal. Van Uitverkore Volk tot Verwerpte Volk. Al waarom hulle nie volkome uitgeroei was nie, was omdat YHWH sy beloftes aan Abraham, Isak en Jakob nagekom het. Omdat Hy ‘n oorblyfsel vir Homself laat oorbly het. Omdat die Gesalfde nog moes kom. Omdat alles nog nie afgehandel is nie.

 

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui