Boeremedisyne destyds en nog steeds

Ons het bederf geraak met mediese fondse. Nie lank terug nie, was die gemiddelde persoon lid van ‘n mediese fonds. Het jy ‘n kwaal, gaan jy dokter toe. Die dokter gee ‘n voorskrif, jy gaan apteek toe. Indien nodig, gaan jy hospitaal toe. Die fonds betaal. Vandag is daar baie mense wat nie meer aan ‘n mediese fonds behoort nie. Jy kan nog mediese hulp kry by ‘n kliniek of hospitaal wat aan die staat behoort. As dit moet. Die soort mediese hulp wat jy by die dokter, apteek en hospitaal kry, staan bekend as skoolgeneeskunde.

Ons pionier-voorouers het min met skoolgeneeskunde te doen gekry. Doer op die voorposte was daar nie dokters, apteke en hospitale nie. Die mediese hulp wat hulle gebruik het, staan bekend as volksgeneeskunde. Onder ander volke sal volksgeneeskunde toordokters en uitdryf van bose geeste insluit, maar nie by die Boerevolk nie. Ons erfenis was Boeremedisyne en Boererate. Ons voorouers het ook riglyne oor siektes in die Bybel gesoek. Hulle het ook tydskrifte, almanakke en doktersboeke geraadpleeg. Natuurlik het hulle ook die ouer geslag, wat meer ondervinding van siektes het, gevra. Oor die algemeen was die pioniers baie gesond. Hulle was aktief en die lug was skoon. Hulle voedsel was organies en gesond.

Nog voor Van Riebeeck na die Kaap gekom het, was die Hollanders bekend vir hulle mediese kennis en medisyne. Aan die Kaap het ‘n eiesoortige geneeskunde ontstaan. Dit was gebaseer op die Hollandse volksgeneeskunde maar is aangevul met nuwe kennis en is aangepas by plaaslike omstandighede. Pioniers kon ‘n bliktrommeltjie koop met talle vakkies en hokkies binne-in. Dit was die Hollandse huisapteek en het ‘n groot verskeidenheid middels bevat. Hierdie apteek was ‘n noodsaak en het orals saamgegaan. Hoewel die trommeltjie nie meer gemaak word nie, word meeste van die medisynes nog gemaak en is dit by apteke en supermarkte beskikbaar.

Van die bekendste middels wat in so ‘n trommeltjie was, was: Arnikatinktuur, Balsem-Kopiva, Bruindulsies, Duiwelsdrek, Entressdruppels, Groen Amara, Haarlemensis, Helmontskruie, Hoffmannsdruppels, Jamaikagemmer, Kanferolie, Lewensessens, Naeltjie-olie, Paragoriese-elikser, Rabarberpoeier, Rooilaventel, Ruitersalf, Staaldruppels, Turlington, Versterkdruppels, Witdulsies en Wonderkroonessens. (Ongelukkig word Staaldruppels nie meer gemaak nie. Dit was, volgens my, die doeltreffendse middel om bloeding mee te stop.)

Hierdie medisynes kan in sekere klasse ingedeel word: Druppels wat direk op die aangetaste deel gedrup word of in ‘n klein bietjie water gedrup word en gedrink word. Poeiers wat met water gedrink word. Pille word ook gedrink. Balsems is vloeibare plantaardige produkte wat op wonde en sere gesmeer word. Tinkture is ‘n aftreksel in alkahol wat verdun moet word. Salwe word uitwendig aangesmeer. Essens is ‘n gekonsentreerde aftreksel in vloeistofvorm. Bitters word uit kruie gemaak en het ‘n onaangename smaak.

In elke trommel was daar ‘n boekie met beskrywings van verskillende siektes en ‘n opsomming van die medisynes wat gebruik kan word.  Deur ondervinding is baie kennis opgedoen van algemene siektes en watter middele daarvoor help. Indien hierdie medisyne opgeraak het, en hulle kon nie ander kry nie, het hulle gaan soek vir plante wat bekend was as geneeskragtige plante. Meestal kon dit in die kruietuin gevind word.

Vir uitslagsiektes is kruidjie-roer-my-nie-wortels en wilde dagga-wortels, elk afsonderlik of saam, gekook. Vir stuipe by babatjies het hulle tiemie, wynruit en kougoed gebruik.  Kougoed, wat in die Noordkaap groei, was ook ‘n goeie slaapmiddel.  Tandpyn is behandel met die blare van garingbome en gekneusde malvablare was gebruik vir liddorings. Plante wat ‘n moet vir die kruietuin was, was kankerbossie, beukesbossie, kruisement en roosmaryn. Kruie wat in die veld gegroei het, was helmontskruie, boegoe, wilde olien, kalkoentjiebos, en kersbos.

Behalwe die Hollandse medisyne en kruie, het die pioniers ook ander huishoudelike middels gebruik. Medisinale terpentyn en boegoe-asyn was vir wonde en kneuse gebruik. Asyn was gebruik vir verstuitings. Ander middels was wit uie vir swere en swelsels, bokvet en naeltjies vir sere, blomswawel vir uitslae.

Dan was daar ook ‘n wondermiddel, iets wat vir alles werk, ‘n middel vir die wat desperaat is. Dassiesweet. Op die kranse waar dassies bly, is daar ‘n donkerkleurige aanpaksel op die rotse. Hierdie aanpaksel moet met hamer en beitel afgehaal word. As dit warm gemaak word, word dit sagter. Gekook in water word dit vir inwendige siektes gebruik. Gesmelt en gemeng met bokvet is dit gebruik vir sere en wonde. Moet net nie, voor jy dit gebruik, vra wat die oorsprong van dassiesweet is nie. Vra eers wanneer jy dit klaar gebruik het.

Ons voorouers het nie juis bygelowe en vreemde goed vir behandeling van siektes gebruik nie. Hulle het die beste mediese kennis en medisyne wat tot hulle beskikking was, gebruik. Deur oorlewering van een geslag na die ander het hierdie mediese kennis behoue gebly. Wanneer daar nuwe inligting ontvang was, het hulle dit bygevoeg. Natuurlik is daar siektes en kwale wat nie so gesond gemaak kon word nie, waar ‘n dokter noodsaaklik was. Maar as daar nie ‘n dokter was nie, dan was dit maar so. Die mens is ‘n sterflike wese. Dit is hartseer, maar dit is die werklikheid.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui