Die twee verbonde by Sinai en die Wet van Moses

YHWH het nie ‘n verbond met Israel gesluit omdat hulle spesiaal of besonders was nie. Dit is as gevolg van Abraham, wat YHWH vertrou het, dat daar ‘n verbond met Israel gesluit was. YHWH het aan Abraham, toe hy nog geen kind gehad het nie, belowe dat hy ‘n groot nageslag sal hê en dat hulle die land wat YHWH aan Abraham gewys het, sal bewoon. Hierdie belofte is aan Abraham se seun, Isak, en sy kleinseun, Jakob, oorgedra. Uiteindelik het Israel, die nageslag van Jakob, die land ontvang en bewoon. Hierdie verbond wat YHWH met Abraham gesluit het, het nie voorwaardes gehad nie.

‘n Verbond is ‘n ooreenkoms of kontrak. Anders as die verbond met Abraham, het die Eerste Verbond met Israel ‘n voorwaarde gehad. Hulle kon dit aanvaar of nie aanvaar nie. Indien Israel die bepalings daarvan nakom, was daar vir hulle ‘n beloning. Indien Israel dit nie nakom nie, was daar vir hulle ‘n straf. Nadat hulle die Eerste Verbond verbreek het, was die Tweede Verbond verpligtend. Hulle het nie meer ‘n sê gehad nie.

Dit gaan oor die verbonde wat by Sinai, ook bekend as Horeb, tot stand gekom het. Hierdie verbonde word uiteengesit in die Bybelboeke Eksodus, Levitikus en Numeri. Hierdie 3 boeke is eintlik een boek, maar dit was te groot vir een boekrol en is toe in 3 boekrolle verdeel. Die gebeure wat ter sprake is, strek oor al 3 boeke.

Die Eerste Verbond word in Eksodus 19 – 24:11 gevind. Die bepalings daarvan was die grondbeginsels van die verbond tussen YHWH en Israel (ook bekend as die Tien Gebooie). Dan volg daar instruksies oor hoe YHWH aanbid moet word. Daar is ook instruksies oor slawe, geweld, ongelukke, skade, uitbuiting en korrupsie. Watter feeste deur Israel gehou moet word, word ook uiteengesit. Ook word bepaal hoe hulle YHWH se boodskapper moet hanteer. Indien hulle al die bepalings nakom, sal hulle ‘n eie land kry en voorspoedig wees. Israel het die verbond met sy bepalings aanvaar in Eksodus 24:3: Toe Moses kom en aan die volk al die woorde van die HERE en al die verordeninge vertel, antwoord die hele volk met een stem en sê: Al die woorde wat die HERE gespreek het, sal ons doen.

Hierna het YHWH vir Moses die besonderhede vir die bou van die tabernakel gegee. Hy het ook die twee kliptafels waarop die getuienis (vermoedelik die Tien Gebooie) geskryf was aan Moses gegee. Vir Israel vat YHWH toe te lank om vir Moses te wys en te sê wat gedoen moet word. Hulle was haastig. Toe maak hulle vir hulle ‘n afgod, ‘n goue kalf. Daarmee het Israel die verbond verbreek. YHWH was woedend en wou die hele Israel uitwis. Moses pleit vir sy volk en YHWH begenadig hulle en besluit om hulle nog ‘n kans te gee.

Die Tweede Verbond is te vinde in Eks 34:10-27.  Eksodus 34:27 lui so: Verder het die HERE vir Moses gesê: Skrywe vir jou hierdie woorde op, want volgens hierdie woorde het Ek ‘n verbond gesluit met jou en met Israel. Die bewoording van hierdie verbond verskil van die vorige.

Hierna word die tabernakel gebou volgens YHWH se instruksies. Dan gee YHWH opdragte oor wie die priesters mag wees en wat hulle werk sal wees. Hierna gee YHWH breedvoerige opdragte oor offerhandes. Dit is die eerste keer dat YHWH opdragte oor offerhandes gee. Daar sal net een sentrale plek van aanbidding wees en daar was slegs sekere offerhandes wat op ‘n voorgeskrewe manier gebring moes word. In die Nuwe Testament word aangetoon dat die offerhandes na die Gesalfde gewys het. Die verskillende soorte offers wat gebring moes word, was brandoffers, graanoffers, vredesoffers, sondoffers en oortredingsoffers.

Dan volg daar opdragte oor rituele reinheid. Die Dag van Versoening word ingestel. Dit is die heiligste dag in die Ou Testamentiese kalender en is ‘n dag van versoening met YHWH. Die Dag van Voorsiening hou nie verband met enige bekende historiese gebeure nie en daar word gemeen dat dit ‘n profetiese betekenis het. Daarna volg opdragte oor afgesonderdheid, die belangrikheid van bloed en oor seksuele gedrag. Hierna volg strafbepalings oor verbreking van die opdragte oor afgesonderdheid. Die afgesonderdheid van priesters en offers sonder gebrek word aangespreek.

Die laaste opdragte wat YHWH gee, is vasgestelde tye. Die Shabbat, die Pesag (paasfees) en die fees van ongesuurde brode, die eerste vrugte (pinkster), die blaas van die ramshorings (trompette), die Dag van Versoening), die Huttefees, die Sabbatsjaar en die Jubeljaar. Heel laaste word die beloning en straf in terme van die verbond uitgespel. Voorspoed in die land of teenspoed in die land. Dit vind ons in Levitikus 26.

Hier is vir ons ‘n vraag. Is hierdie twee verbonde een verbond of is dit twee? Die meerderheid kommentators meen daar is net een verbond, maar die teks sê daar is twee.

Meeste mense verwar verbond en wet. Verbond sluit in die wette, die bou van die tabernakel, wie as priesters mag dien, die offerhandes wat gebring moet word en die feeste wat gehou moet word. Volgens Judaisme is daar nie net 10 gebooie nie, daar is meer as 600.

Op wie is hierdie verbond of verbonde van toepassing? Volgens die teks, Israel en slegs Israel. Daar is nie ‘n “sendingopdrag” aan Israel om die heidene te bekeer nie. (Heidene is die ander volke, almal wat nie Israel is nie). Inteendeel, Israel moet die ander volke uitdryf om die Beloofde Land te ontvang. As volk wat vir YHWH afgesonder was, mag hulle nie met die heidene gemeng het nie.

Waarom het YHWH een volk bo die ander volke uitgekies?  YHWH wou een volk afsonder om Hom te ken en ‘n getuie vir Hom te wees. Dit beteken hulle moes anders as die ander volke wees. Deur hierdie een volk het hy Homself aan alle mense bekend gemaak.

Die nakoming van die verbond en wet het nie vergifnis van sonde bewerk nie. Yeshua, die Gesalfde, het vergifnis bewerk – net Hy. (Hebreërs 10). Ook het die nakoming van die verbond en wet niemand regverdig verklaar nie. Dit kan net gebeur deur vertroue op Yeshua. (Hebreërs 11). Die wet het gewys wat vir YHWH aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. Galasiers 3:24: Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.

Die verbond tussen YHWH en Israel het ‘n verbondsverhouding tot stand gebring. Dit is iets anders as ‘n persoonlike verhouding. ‘n Israeliet, sê maar Dawid, se verhouding met YHWH was tweeledig: as lid van die volk was hy in ‘n verbondsverhouding met YHWH, en as indiwidu was hy in ‘n persoonlike verhouding met YHWH. ‘n Ander Israeliet wat nie ‘n persoonlike verhouding met YHWH gehad het nie, sal steeds in ‘n verbondsverhouding met Hom gewees het.

Die verbond en die wet het nie die ewige lewe gegee aan die wat dit nakom nie. Daar kan ook nie gesê word dat iemand hemel toe gaan omdat hy die verbond nagekom het nie. Ware lewe kom slegs deur Yeshua, die Gesalfde. Johannes 1:4: In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.

Die enigste metode vir mense om met YHWH versoen dit word, is deur Yeshua, die Gesalfde.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui