Lig jou glas vir die vertaler

Ek weet nie van jou nie, maar ek het grootgeword met die lees van talle klassieke verhale. Jy weet Die Avonture Van Sherlock Holmes deur Arthur Conan Doyle, Die Swart Tulp deur Alexander Dumas, Die Kon-Tiki Ekspedisie deur Thor Heyerdahl, 20 000 Myl Onder Die See deur Jules Verne, Die Skarlaken Pipernel deur Barones Orczy, Die Gevangene van Zenda deur Anthony Hope en nog baie meer. In Afrikaans.

Nie net hierdie boeke nie, daar is talle meer. Die Tarzan boeke was ook in Afrikaans vertaal. Die boeke van skrywers soos Heinz G. Konzalik, Wilbur Smith, Ian Fleming en nog ander was ook in Afrikaans beskikbaar. Vandag is dit natuurlik nog steeds beskikbaar in biblioteke en tweedehandse boekwinkels. Daar is blykbaar sprake dat daar heruitgawes van sommige van hierdie boeke beplan word.

In daardie dae was daar nie Google Translate nie. Iemand het ‘n boek in ‘n vreemde taal woord vir woord en sin vir sin op ‘n tikmasjien oorgeskryf in Afrikaans. Uit al wat ‘n vreemde taal is. Dit moes ‘n groot werk gewees het. Om te vertaal, moes die vertaler sekerlik meer as net ‘n gangbare kennis van die vreemde taal en ook van Afrikaans gehad het. Wat van woorde in die vreemde taal wat nie in Afrikaans voorkom nie? Wat van vreemde woorde se spelling?

Dit is moontlik gemaak deur uitgewers. Maar wie was hierdie vertalers? Dit staan nie op die voorblad nie. Jy moet soek om die naam te kry, klein gedruk aan die binnekant. Dan as jy die naam het, wat dan? Jy het heel moontlik nog nooit van daardie persoon gehoor nie. Onbekend en onbemind.

Wie is of was A. Crafford? Hierdie persoon het uit Duits vertaal. Ek weet van boeke deur Heinz G. Konzalik en Herbert Kranz wat deur A. Crafford vertaal is. Frans van Zyl het Jan de Hartog se Hollands Glorie in Afrikaans vertaal as Stuurman van die Furie. Ek weet ook nie wie hy is of was nie. A.M. van Schoor onthou ek. Hy was redakteur van Die Vaderland en het ‘n program op die radio aangebied. Hy het die Tarzan boeke vertaal. Dr H.A. Steyn het Ben Hur vertaal. Ek vermoed hy was betrokke by die Skoolwoordeboek. H.J. Pama was blykbaar van Nederlandse afkoms en ‘n entoesiastiese leser van die Duitse skrywer Karl May. Hy het dan ook May se Winnetou in Afrikaans vertaal. S.G. Meiring het Die Kinders van die Groot Sneeuveld deur Laura Fitinghoff vertaal. Die Avonture van Sherlock Holmes en Die Gevangene van Zenda is deur iemand met die naam Jacques van Zijl vertaal. Ek vermoed die woordeboekmaker J. Kromhout was die vertaler van Paddeltjie (oorspronklik Paddeltje – De Scheepsjongen van Michiel de Ruyter), uit Nederlands. Frank S. Stuart se boek City of Bees is uit Engels vertaal deur ene H. v.d. Merwe Scholtz as Byestad. Is dit die bekende H. v.d. Merwe Scholtz wat ook as Merwe Scholtz bekend is?

Die bekende digter, dokter, kok en plantkenner C. Louis Leipoldt was ‘n besige man. Behalwe sy gedigte, toneelstukke, romans, kinderverhale en kookboeke het hy ook speurverhale geskryf. Sy speurder was ‘n afgetrede predikant en fynproewer wat deur navorsing die skuldige vastrek. Hy het ook onder verskeie skuilname geskryf soos Africanus, C.L.L., F.W. Bancombe, F.W. Baxter ensomeer. Leipoldt het ook Alexandre Dumas se Die Swart Tulp en Carl Ewald se Natuursprokies vertaal.

W.O. Kühne was van Duitse afkoms en het gewerk as onderwyser en joernalis. As joernalis was hy ondermeer betrokke by Die Jongspan. Hy is bekend as skrywer van kinderboeke, veral die Huppel boeke. Die karakter Huppel woon by sy Oupa en hy reis gereeld na die fantasiewêreld van Lekkerland. Kühne vertaal onder meer Die wonderbaarlike avonture van Baron von Münchhausen uit Duits. Hy vertaal ook Die Ou Huis deur Hans Christian Andersen en verhale oor persone in die Bybel.

Ray Knox het heelwat boeke vertaal uit Engels, boeke geskryf deur Desmond Bagley, Evelyn Anthony en Wilbur Smith. Onder die naam Johan Strydom het sy Westerns vertaal. Sy het ook haar eie boeke geskryf. Sy is getroud met die skrywer Derick Jacobs.

Derick Jacobs het al op skool begin skryf. Hy het van standerd 9 af sakgeld gemaak deur die skryf van opstelle. Hy sal drie tot vier opstelle skryf, die beste een vir homself hou en die ander aan klasmaats verkoop. Derick Jacobs het by verskillende tydskrifte en koerante gewerk. Die name waaronder hy boeke skryf is Stefan Radlof, Len Anthony, Rena de Kock, Henriette Fouché en Susan Maree. Van sy leermeesters was skrywers soos Dewald Brink, Gerrie Radlof, Adriaan Roodt, Basil Stoltz en Johan van der Post. Benewens sy eie werk, vertaal hy ook boeke van Ian Fleming, Louis L’Amour en nog ander.

Leon Rosseau het seker meer boeke in Afrikaans vertaal as enige iemand anders. Hy was van beroep ‘n skrywer en uitgewer. As skrywer is hy bekend vir sy biografie oor Eugene N Marais, Die Groot Verlange, so ook sy boek oor ‘n eie volkstaat, ‘n Toevlug in die Weste en die wetenskapfiksie reeks Fritz Deelman. As uitgewer was hy ‘n medestigter van Human & Rosseau in 1959. Hy en Gerrit van Zyl (Gerrie Radlof) het Uniale Persdiens saam begin. In 1979 begin hy Ibis-pers en in 1982 Rubicon Pers. Hy het ook in 1983 die Storieman reeks begin, kinderverhale met ‘n kasset (later ‘n CD) wat in die boek ingesluit was. As vertaler vertaal hy meer as ‘n honderd boeke in Afrikaans. Van dit was klassieke verhale soos “’n Reis na die middelpunt van die aarde” deur Jules Verne, “White Fang die wolfhond” van Jack London en “Die muitery op die Bounty” deur Charles Hall Nordhoff en James Norman. Hy het ook kinderverhale en jeugboeke vertaal.

Hierdie is maar enkele van die vertalers. Daar is nog vele ander. Die vertalers het aan ons van die beste en bekendste boeke uit die wêreld gebring in ons eie taal. Daarmee het die aantal Afrikaanse boeke op ons boekrakke vermeerder. Ek glo ook dat die hoë kwaliteit van die oorspronklike verhale aan ons ‘n standaard gestel het om na te volg – wat ons eie skrywers gedoen het.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Wat van die 10 verlore stamme van Israel?

Die Israeliete van die Bybel laat my stom geslaan. Hoe verklaar jy dit? Hulle was die mees bevoorregte volk op aarde en het dit geminag en weggegooi. Hulle was die uitverkore volk, die een volk wat ‘n verbond met die ware God gehad het, Hy het met hulle gepraat, hulle het met hulle eie oë Sy wonderdade en heerlikheid gesien. Aan hulle het God die beloftes van die Gesalfde gegee. Dit het hulle met stank vir dank beantwoord.

Die Bybelse Israel het ‘n groot swakheid vir afgode gehad. Moses was nog besig om die Tien Gebooie te ontvang, toe breek hulle die heel eerste gebod en maak vir hulle ‘n afgod. So het dit regdeur hulle geskiedenis gegaan, hulle kon maar net nie wegbly van afgode af nie. Een van hulle profete het opgemerk dat daar nêrens op aarde ‘n heidense volk was, wat so ontrou aan hulle valse gode was, as wat Israel aan die ware God was nie. YHWH, die enigste ware God, het alles probeer om hulle terug te bring na Hom toe. Droogtes, peste, vyande. Hy het profete gestuur. Vir ‘n kort rukkie sal hulle terugkeer na die ware God toe, maar dan weer agter afgode aanloop. Uiteindelik het YHWH genoeg gehad en hulle uit hulle land laat wegsleep as bannelinge.

Dit het so gebeur. Aanvanklik was hulle regeringsvorm ‘n teokrasie, YHWH het self oor hulle regeer. Na ‘n paar eeue was hulle ongelukkig daarmee en wou hulle ‘n monargie hê, nes die heidense volke. Na ‘n paar honderd jaar van regering deur ‘n koning, was hulle weer ongelukkig en skeur die een koninkryk in twee. Suidelike Israel word Juda genoem en hulle hoofstad was Jerusalem, noordelike Israel word Efraim genoem en hulle hoofstad was Samaria. Dit was hierdie noordelike Israel wat van hulle ontstaan af “verdraagsaam” teenoor afgode was. Hulle was die eerste deel van Israel wat in ballingskap weggevoer is.

Die volk Israel het uit twaalf stamme bestaan en die populêre opvatting is dat die suidelike koninkryk uit twee stamme bestaan het, en dat die noordelike koninkryk uit 10 stamme bestaan het. Daaruit volg dan die opvatting dat toe noordelike Israel in ballingskap weggevoer is, al tien stamme weggevoer is en nooit weer teruggekeer het nie. Dus word daar gepraat van die “Tien verlore stamme van Israel”. Die 2 en 10 stamme idee is afkomstig uit 1 Konings 11:31: en hy sê vir Jeróbeam: Neem vir jou tien stukke, want so spreek die HERE, die God van Israel: Kyk, Ek gaan die koninkryk uit die hand van Salomo afskeur en aan jou die tien stamme gee; Die 10 stamme word weer genoem in 1 Konings 11:35, maar nêrens anders nie.

Elders word Suidelike Israel (Juda) beskryf as bestaande uit die stamme Juda, Benjamin, Simeon en ‘n deel van Levi. Vier stamme (of as jy wil drie-en-‘n-half), nie twee nie. Daar moet onthou word dat daar ‘n verskil is tussen die mense van ‘n stam en die grondgebied wat aan ‘n stam toegeken is. Toe Noordelike Israel (Efraim) hulle eie alternatiewe godsdiens instel, was daar mense in hulle gebied wat nie tevrede daarmee was nie en uit hulle stamgebiede getrek het na Suidelike Israel (Juda).

In omtrent 732 v.C. het Tiglath-Pileser III, koning van Assirië, Noordelike Israel ingeval. Hy het die stamgebiede van Reuben, Gad en Manasse geannekseer en van die inwoners weggevoer na Assirië toe. Die gebied van Naftali het ‘n Assiriese goewerneur gekry. Noordelike Israel het bly voortbestaan met ‘n kleiner grondgebied tot omtrent 720 v.C. Toe is dit weer ingeval deur Assirië se Sargon II. Daar word gereken dat ‘n vyfde van Noordelike Israel se bevolking weggevoer is en in ander gebiede van die Assiriese Ryk hervestig is. Dit wil sê vier-vyfdes het oorgebly. Die Assiriërs het ook persone uit ander verowerde gebiede in Noordelike Israel hervestig, wat met die plaaslike Israeliete verbaster het. Hulle nageslag was die Samaritane, vernoem na die hoofstad Samaria. Al sou ons aanvaar dat die meerderheid Israeliete verbaster het, beteken dit nie dat almal verbaster het nie. Daar is geen rekords dat die bevolkings van Dan, Aser, Issaskar, Sebulon en westelike Manasse weggevoer is nie. Dus was daar minstens ses stamme (Naftali ingesluit) wat nie weggevoer is nie. Die mense wat weggevoer was, het ten tyde van die skrywe van Konings en Kronieke nog bestaan en was bekend aan hulle volksgenote. Dit is slegs die stamme van Reuben, Gad en Oos-Manasse wie se name nie verder in die Ou Testament voorkom nie. Dit was hulle wat aan die oostekant van die Jordaan gewoon het (Perea in die Nuwe Testament).

Met die Assiriese inval het so baie mense uit Noordelike Israel na Suidelike Israel gevlug dat Koning Hiskia van Juda ‘n nuwe muur om Jerusalem moes bou en ‘n nuwe waterbron moes voorsien. Die bevolking van Jerusalem het blykbaar vyfvoudig toegeneem. In 2 Kronieke 30:1-11 word beskryf hoe Hiskia die mense wat oorgebly het in Noordelike Israel uitgenooi het om die pasga in Jerusalem by te woon. Dit was mense van Efraim, Manasse, Aser, Issaskar en Sebulon wat deur die Assiriërs gespaar is. Ons tel Efraim en Manasse as een stam, die stam van Josef.

Josia van Juda was die laaste goeie koning. Hy het skynbaar oor die oorspronklike grondgebied van Israel se twaalf stamme regeer. Hy het deur die hele gebied gegaan en die altare van afgode vernietig. 2 Kronieke 34:6-7: En in die stede van Manasse en Efraim en Símeon en tot by Náftali, in hulle puinhope rondom, het hy die altare omgegooi, en die heilige boomstamme en gesnede beelde het hy tot stof vergruis en al die sonpilare in die hele land van Israel het hy omgekap. Daarna het hy na Jerusalem teruggekom. 2 Kronieke 34:9: Toe hulle by die hoëpriester Hilkía kom, het hulle die geld afgegee wat in die huis van God gebring was, wat die Leviete, die drumpelwagters, versamel het uit Manasse en Efraim en uit die hele oorblyfsel van Israel en uit die hele Juda en Benjamin en die inwoners van Jerusalem. Net voor die koninkryk van Juda geval het voor Babilonië, het die bevolking van die koninkryk van Juda bestaan uit mense van al twaalf die stamme.

Na die Babiloniese ballingskap, keer die ballinge terug onder leiding van Esra en Nehemia. Esra noem die teruggekeerdes agt keer “Jode” en veertig keer “Israel”. Nehemia noem hulle elf keer “Jode” en twee-en-twintig keer “Israel”. Blykbaar het die benaming “Jode” (Judeërs) en “Israel” dieselfde beteken.

Die ou manier om die land in stamgebiede te verdeel, het verander. In die Nuwe Testament is die land Israel verdeel in vier gebiede, naamlik Judea in die suide, Samaria in die middel, Galilea in die noorde en Perea oos van die Jordaan. Mense van die volk Israel het in al vier gebiede gewoon. In die Nuwe Testament is die profetes Anna van die stam van Aser. Die apostel Paulus sê in Handelinge 26:7: waartoe ons twaalf stamme wat God aanhoudend dag en nag dien, hoop om te kom; oor hierdie hoop, koning Agríppa, word ek deur die Jode beskuldig.

Waar kom die storie van die “Tien verlore stamme van Israel” vandaan? In die 17de eeu was daar ‘n paar uiteenlopende sake gewees wat saamgewerk het om aan hierdie teorie geboorte te gee. Die ontdekking van ‘n klein groepie Sjinese-Jode in Kaifeng, ‘n Joods-Portugese reisiger wat gemeen het dat hy “verlore Israelietiese stamme” in die Andes-berge in Suid-Amerika ontdek het,  en ‘n Joodse Rabbi wat ‘n boek geskryf het oor die Messiaanse eeu wat volgens hom voor die deur was. Deur die jare was daar baie pogings om hierdie “verlore stamme” te identifiseer. Van die aanspraakmakers is die Amerikaanse Rooihuide, Ethiopiese Jode, die Pasjtoene van Pakistan en Afghanistan, Japannese, die Lemba van Suid-Afrika, Britse Israel en vele ander.

Toe Yeshua, die Gesalfde, gekom het, het die mense van Israel twee keuses gehad: hulle kon Hom aanvaar het of hulle kon Hom verwerp het. Indien hulle Hom aanvaar het, en hulle het uit net twee stamme bestaan, sou die Messiaanse Ryk maar klein gewees het.

My vraag is: waarom sou mense graag die “verlore stamme” wou wees? Hulle was afgodedienaars wat deur YHWH verwerp is.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Ons stamouers was vlugtelinge

Wat op aarde het die Hugenote besiel om na die Kaap te kom? Hulle het tog nie ‘n kolonie kom stig nie. Hulle was nie setlaars nie. Hulle was ook nie fortuinsoekers nie. Hulle was opgevoede en opgeleide mense in beskaafde Europa, hoekom het hulle na wilde Donker Afrika gekom? Sekerlik nie vir avontuur nie, hulle was gesinsmense wat na die toekoms van hulle kinders moes omsien. Ek, met my Franse van, is van Hugenote afkoms. Omtrent almal van die Boerevolk, al het hulle nie ‘n Franse van nie, het ook Hugenote bloed in hulle are.

Ons Hugenote voorouers was vlugtelinge. Of hulle word in Frankryk uitgemoor of hulle vlug, dit was die keuses voor hulle. Hulle was nie politieke vlugtelinge nie, ook nie misdadigers nie. Volgens hulle koning, het hulle die verkeerde godsdiens beoefen en moes hulle uitgeroei word. Watter soort koning, van alle dinge, laat sy volksgenote uitmoor? Die koning was Rooms-Katoliek en die Hugenote was Protestante. Hulle kon ook nie na enige land toe vlug nie, hulle is slegs toegelaat om na Protestantse lande te vlug. Switserland, Duitssprekende state, Engeland, Nederland en enkele ander was veilig. As vlugtelinge was hulle armoedig, hulle het al hulle besittings verloor. Hulle was middelklas mense met huise, plase of besighede. Van hulle kon in die veilige lande geakkommodeer word, ander is aangemoedig om na nedersettings in Amerika, Afrika en die Ooste te gaan. So het dit gebeur dat ‘n klein klompie na die Kaap gekom het om met niks van voor af te begin. My eie stamvader wou nie Kaap toe kom nie, maar hy het met die seereis so siek geword dat hy nie verder kon nie. Hy was verplig deur omstandighede om aan die Kaap te bly.

Die moeilikheid in Frankryk het begin toe mense die Bybel begin lees het. Dit is gevaarlik wanneer daar Bybels beskikbaar is, dit is hoogs gevaarlik wanneer dit wel gelees word. Voorheen, voor die Bybel vertaal was en voor die drukpers uitgevind is, was die Bybel slegs in Latyn beskikbaar en daar was maar net hier en daar ‘n Bybel op ‘n boekrak. In omtrent 1294 het ‘n priester, Guyard de Moulin, ‘n Franse vertaling gedoen. In die 12de eeu het Pierre de Vaux (ook bekend as Pieter Waldo) ‘n Provensaalse vertaling gedoen. Die moeilikheid met Waldo was dat hy nie net die Bybel gelees het nie, maar dat hy oortuig was dat dit in die praktyk toegepas moes word. Hy word dikwels beskou as die een wat die kerkhervorming vooruitgegaan het. Olivetan het in 1488 ‘n Franse Bybel vir die Waldense gepubliseer. Jacques Lefevre het in 1523 die Nuwe Testament in Frans vertaal en in 1528 die hele Bybel. Nie almal kon lees en skryf nie, maar die adel en middelklas kon. Hulle het die Bybel begin lees en dit met mekaar bespreek. Toe hulle self die Bybel lees, sien hulle alles wat verkeerd en onbybels was in die die Rooms-Katolieke Kerk. Van die Katolieke praktyke was as afgodery beskou. Hulle het standpunt ingeneem en hewige kritiek uitgespreek. Die getalle mense wat wou hê dat die kerk hervorm moet word, het toegeneem en hulle vyande het hulle “Hugenote” genoem. Waar die benaming vandaan kom is onseker.

Die Protestante se invloed en ywer teen wat hulle as afgodery beskou het, het toegeneem en die Katolieke teenreaksie het meer gewelddadig geword. Daar het uiteindelik agt burgeroorloë uitgebreek (die Godsdiensoorloë). Twee belangrike adelike families het betrokke geraak. Die Huis van Guise was Katoliek en die Huis van Bourbon was protestants. Die Hugenote het ‘n gedugte weermag, onder die leierskap van Admiraal Gaspard de Coligny, op die been gebring. Hendrik van Navarre en die Bourbons het hulle ondersteun. Die massamoord op Hugenote vind plaas op Bartholomeüsnag in 1572. Die massamoord was uitgevoer op bevel van Koning Karel IX.

In 1589 word Hendrik van Navarre koning van Frankryk as Hendrik IV. In 1598 het hy die Edik van Nantes uitgereik wat ‘n einde aan die vyandelikhede gemaak het. Dit het geduur tot sy kleinseun, Lodewyk XIV, aan bewind gekom het. Lodewyk XIV het die Edik van Nantes herroep in 1685. Hierna het Hugenote in groot getalle (skattings wissel van 200,000 tot 1,000,000) gevlug uit hulle geboorteland.

Nederland het toe 2.5 miljoen inwoners gehad en word toegeval met tussen 50,000 en 70,000 vlugtelinge. Daar was groot meegevoel by die Nederlanders teenoor die Hugenote en hulle het veel gedoen om die vlugtelinge te help. Die VOC (Verenigde Oos-indiese Kompanjie) het, onder meer, ‘n verversingstasie aan die Kaap van Goeie Hoop bedryf. Hoewel dit ‘n maatskappy met ‘n winsmotief was, het hulle gekyk hoe hulle die Hugenote vlugtelinge kon akkommodeer. Die eerste groot groep Hugenote het in 1688/89 in die Kaap aangekom. Voor 1688 was daar reeds enkele Hugenote vryburgers. Na die aankoms van die groot groep het kleiner groepe gevolg.

Die Boerevolk stam van hierdie Hugenote af. Die dogters van die Hugenote het met Hollanders en Duitsers ondertrou en hulle kinders was gevolglik ook Hugenote-afstammelinge. Hierdie voorsate van ons het hulle geloof belangriker geag as hulle aardse besittings en hulle liggaamlike veiligheid. Hulle sou eerder omkom as om hulle oortuigings af te sweer.

Daar word soms die romantiese idee geopper dat van die Hugenote adelikes was. Ongelukkig nie, hulle was almal van die middelklas. Dit beteken hulle kon lees en skryf. Voorheen was hulle van beroep boere en vakmanne, opgeleide en geleerde mense. Die mense wat gewoonlik as die rugmurg van ‘n volk beskou word.

Die Hugenote was die mense wat die Bybel gelees het, tot die gevolgtrekking gekom het dat dit ernstig opgeneem moet word en die oortuiging gehad het dat dit in die alledaagse lewe prakties toegepas moet word. Die meeste ander Europeërs aan die Kaap het presies dieselfde siening gehad en die Hugenote kon gemaklik by hulle aansluiting vind.

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Profeet te Huur. Billike Tariewe. Kontak Bileam.

God’s Angels: The Angel in the Path. Artwork for the illustration on p9 of Treasure no. 251.

Wie wil nie ‘n profeet wees nie? Dit moet koel wees om ‘n profeet te wees. ‘n Profeet is iemand wat sê wat God aan hom gesê het. Met ander woorde, God praat met die profeet en maak dinge aan hom bekend wat ander mense nie weet nie. Wie wil nie hê dat God direk met hom praat nie?

Profete in die Bybel het dit nie so maklik gehad nie. Hulle het nie vriende gehad nie, hulle eie gesinne was teen hulle, hulle is gemartel en doodgemaak. Dan was daar ook die groot verantwoordelikheid wat op hulle gerus het om die boodskap van YHWH oor te dra – en korrek oor te dra.

Daar is ‘n verskil tussen ‘n siener en ‘n profeet. ‘n Siener sien iets in ‘n visioen of in ‘n droom wat hy dan oordra. ‘n Profeet is iemand wat hoor wat YHWH sê. Presies hoe dit gebeur dat ‘n profeet kan hoor is iets waaroor baie mense wonder, dikwels die profeet self ook.

Daar is ‘n hele paar dinge omtrent Bileam wat anders is as wat ons verwag. Bileam word in die Bybel beskryf as ‘n waarsêer. Dit wat hy gesê het, het waar geword. Hy het ook nie net uit sy eie gesê nie, YHWH het vir hom gesê wat hy moet sê. Hy was nie ‘n Israeliet nie, tog het hy YHWH geken. Hy was ‘n Midianiet en was wyd bekend as ‘n profeet in die gebied oos van die Jordaanrivier. Midian was een van Abraham se seuns by Ketura. Abraham het waarskynlik sy kinders groot gemaak om YHWH te aanbid. Eeue later was daar, behalwe Israel, ook ander mense wat YHWH geken en aanbid het. Onder andere Job, hy was blykbaar ‘n Edomiet.

Numeri 22 tot 24 vertel van Bileam. (Hy is ook die enigste profeet wat in ‘n buite Bybelse teks vermeld word. Dit is in ‘n teks wat in 1967 ontdek is.) Balak, koning van Moab, het ‘n groot probleem gehad en hy het gemeen Bileam sal kan help.

Omtrent 40 jaar vantevore het Israel uit Egipte getrek. By Sinai het YHWH ‘n verbond met hulle gesluit. YHWH wou hulle toe na die Beloofde Land neem, maar Israel wou nie gaan nie. Die gevolg was dat hulle vir 40 jaar moes ronddwaal. Toe het hulle ingestem om die land te gaan inneem en nou is hulle op die grens van Moab. Die bekommernis van Moab se koning is dat hierdie groot getal Israeliete sy land se ekonomie gaan vernietig. Heel moontlik het hy en sy raadgewers alle moontlike opsies oorweeg, maar kon geen ander oplossing kry nie. Sy laaste opsie was Bileam. Balak wou hê Bileam moet kom en Israel vervloek, want almal weet dat wat Bileam sê, gebeur. Om Bileam te oorreed, het Balak ‘n stewige vergoeding aangebied.

Bileam het YHWH geraadpleeg, maar Hy wou nie toestemming gee nie. Balak het toe ‘n tweede afvaardiging gestuur met ‘n nog groter beloning. Bileam het weer vir YHWH geraadpleeg. Bileam kry nou toestemming om te gaan, maar hy mag slegs sê wat YHWH sê. Toe Bileam saam met Balak se mense vertrek, het die Engel van YHWH hom voorgekeer. Dit was hier waar Bileam se donkie met hom gepraat het om hom te waarsku.

Balak het Bileam drie keer geleentheid gegee om Israel te vervloek, maar elke keer het hy hulle, in opdrag van YHWH, geseën. Balak het geweier om Bileam te betaal vir sy dienste. Toe gee Bileam ‘n vierde profetiese uitspraak gratis en verniet. Dit is oor die Gesalfde, Num 24:17. Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: ‘n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ‘n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver. Dit is die ster wat die wyse manne uit die ooste gevolg het toe Yeshua gebore is.

Tot hier is dit moeilik om met Bileam fout te vind. Dit is hierna wat hy ‘n slegte naam gekry het.

Blykbaar het hy aan Balak advies gegee hoe om Israel te kry om ‘n vloek oor hulleself te bring. Num 25:1-3 beskryf wat gebeur het: Toe Israel in Sittim gebly het, het die volk begin hoereer met die dogters van die Moabiete— dié het die volk na die offers van hulle gode uitgenooi; en die volk het geëet en hulle neergebuig voor hulle gode. So het Israel hom dan gekoppel aan Baäl-Peor, en die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam. YHWH het ‘n plaag oor Israel laat kom waarin 24 000 omgekom het. Moses kry opdrag om wraak te neem teen die Midianiete en Bileam is een van die wat sneuwel.

Op drie plekke in die Nuwe Testament word ongunstig na Bileam verwys. 2 Petrus 2:15-16: Hulle het die regte pad verlaat en verdwaal, en die weg gevolg van Bíleam, die seun van Beor, wat die loon van ongeregtigheid liefgehad het, maar die bestraffing van sy eie oortreding ontvang het: die stom lasdier het met die stem van ‘n mens gepraat en die waansinnigheid van die profeet verhinder. Judas 1:11:  Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom. Openbaring 2:14: Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer.

Bileam was nie ‘n valse profeet nie. Wat hy geprofeteer het, het waar geword. Sy probleem was geld. Deur te sê wat YHWH gesê het, het hy nie ‘n sent gekry nie. Maar hy kon aan koning Balak advies gee, bose advies, hoe om Israel te laat struikel. As adviseur kon hy sy waarsêersloon verdien.

Die verhouding tussen YHWH en ‘n profeet berus op ‘n persoonlike verhouding. Die profeet het nie ‘n maklike lewe nie. Die profeet moet YHWH blindelings vertrou, hy moet van YHWH afhanklik wees, hy moet op YHWH staatmaak. Die wêreld en wêreldse dinge moet geen invloed of houvas op hom hê nie, sy integriteit moet bo verdenking wees. Hy tree op as YHWH se verteenwoordiger tussen die mense, wat hy doen of nie doen nie reflekteer op YHWH. Die profeet stel ‘n voorbeeld om nagevolg te word.

 

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die aanslag van die Industriële Revolusie op die Boerevolk

Hoe lank bestaan die mens? Party sê 6 000 jaar, ander sê ‘n paar miljoen jaar. Hoe lank gelede het die Industriële Revolusie plaasgevind? Omtrent 200 jaar gelede. Die Industriële Revolusie was die begin van die moderne era. Indien die mens 6 000 jaar bestaan, is die moderne era omtrent 3% van die mens se geskiedenis. ‘n Ander manier van kyk is as ons dit omsit na die lewe van een of ander indiwidu. As hy 60 jaar oud is, is die moderne tyd slegs 2 jaar van sy lewe. Bestaan die mens vir een miljoen jaar, dan is die moderne tyd 0.02% van die menslike geskiedenis.

Vir die grootste deel van sy geskiedenis was die hoogste snelheid waarteen ‘n mens kon beweeg, op die rug van ‘n perd. Byna oornag het dit verander. Skielik kon hy op ‘n trein teen hoë snelheid beweeg. Destyds was daar bekommernis dat die mens se gestel dit nie sou kon hanteer nie. Die Industriële Revolusie het ook die lewenswyse van die mens ingrypend verander. Die moderne tyd is ‘n baie klein deeltjie van die menslike geskiedenis, en so gesien is dit ‘n abnormale tyd. Vir ‘n baie lang tyd het die mens reggekom sonder die moderne tyd se vervoer, se medies, se masjiene en se kommunikasie.

Iewers tussen die Groot Trek en die Anglo-Boere Oorlog het ons volk die moderne era ingegaan. Die Voortrekkers was pioniers en het kakebeenwaens en voorlaaiers gehad. Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, was daar bokwaens en mausers. Maar dit is nie al nie, daar was baie ander veranderings ook. Dink maar aan kameras, telegrawe en doringdraad.

In die tyd toe die kompanjie in die Kaap aan bewind was, het hulle ‘n monopolie op koop en verkoop gehad. Die dorpe het nie winkels gehad nie, mense moes Kaapstad toe gaan om sake te doen. Dit het gelei tot die ontstaan van die smous. Die smous het ‘n voorraad winkelware by die kompanjie gekoop, dit op ‘n wa gelaai en dan van plaas tot plaas getrek. Sy winkelware het hy geruil vir lewendehawe wat hy dan weer aan die kompanjie verkoop het. Die Britte het nie die Kaap as ‘n verversingstasie bedryf nie en het toegelaat dat daar winkels en vakmanne op dorpe kon wees. Die Boere wat ver van ‘n dorp was het net met nagmaal dorp toe gegaan. Verder het hulle steeds met smouse sake gedoen.

In die vroeë jare was die verbouing van koring en vrugte sonder landboumasjiene gedoen. Handearbeid en osse is gebruik. Die ossewa was die belangrikste vervoermiddel. Omdat osse so belangrik was, was die ontwikkeling van ‘n inheemse beesras, die Afrikaner, die eerste stap na modernisering. Die oorskakeling na Merino skape was nog ‘n belangrike ontwikkeling vir die veetelers. In Brittanje was daar ‘n groot aanvrag na wol en huide en velle.

Daar was van Van Riebeeck af tot in 1840 (amper 200 jaar) geen paaie nie. In die Kaapkolonie het Andrew Geddes Bain die padbouer geword. Sy paaie het dit moontlik gemaak dat poskoetse ingestel kon word. Voor 1870 was daar nog nie enige spoorlyne om van te praat nie. Seereise van en na Europa het eers verbeter toe stoomskepe ingestel is. Dit het nie net die posdiens verbeter nie, dit het ook gehelp met invoere en uitvoere. Die groter skeepsverkeer het weer veroorsaak dat hawens opgegradeer moes word. Kommunikasie is verbeter met poskoetse wat hardlopers vervang het. Die instelling van die telegraaf was nie net plaaslik van hulp nie, dit het ook verbindinge met Europa en die Ooste moontlik gemaak.

Meeste fabrieksgoedere moes ingevoer word aangesien daar nie plaaslike fabrieke was nie. Die enigste plaaslike vervaardigers was wamakers, meulenaars, stokerye en brouerye. Min lede van die Boerevolk was hierby betrokke. Om ontwikkeling moontlik te maak, is ‘n bankstelsel deur die Britte ontwikkel. Daarmee saam is die Britse geldstelsel ingestel. Dit het handeldryf bevorder en gehelp om kapitaal te skep. Met kapitaal beskikbaar, kon nuwe ontwikkelings gefinansier word.

Hoewel die Groot Trek in 1835 begin het, het die Vrystaat eers in 1854 tot stand gekom en die ZAR eers in 1856. Oor die algemeen het die ontwikkelings in die Kaapkolonie ook deurgewerk na die republieke. Die belangrikste probleem met republiekwording was dat die staat ‘n inkomste moes hê. Die regering kon net soveel doen en niks meer nie. Die Vrystaat het ‘n belasting ingestel op plaasgrond en op die oordrag van grond. Die burgers was redelik getrou in die betaal daarvan. In die ZAR was die burgers nie ten gunste van belastings nie en staatsinkomste het bly krimp.

Tot 1870 toe, was boerdery die belangrikste bedryf in die Kaapkolonie, Natalkolonie, Republiek van die Vrystaat en die Zuid-Afrikaansce Republiek. Die meeste blankes het op die platteland gewoon. Hoewel die Industriële Revolusie toe al in volle swang was, het dit min invloed op die lewenswyse van ons pionier-voorouers gehad.

Toe word minerale rykdomme onder die grond ontdek. Eers koper, toe diamante, toe goud en toe steenkool. Hierdie ontdekkings het groot en belangrike veranderings gebring. Die ontwikkeling van die mynbou het gelei tot omwentelings in vervoer, handel en bankwese. Masjinerie moes ingevoer word en vakmanne moes aangestel word om dit te onderhou. Maatskaplike toestande het ingrypend verander. Die myne het duisende mense uit die buiteland gelok. So ontstaan daar toe ‘n “uitlander” probleem. Die myne word maatskappye en “kapitaliste” verkry groot mag en invloed. Die myne kort arbeiders en duisende werkers word in swart stamgebiede gewerf en kort voor lank is daar baie swartmense waar daar voorheen hoofsaaklik witmense was. Verstedeliking vind plaas en plaasjapies word stadsjapies.

In die bestaan van die mens, is die moderne era ‘n kort tydjie. In die bestaan van die Boerevolk is die moderne era ‘n groot faktor. Sedert 1857, toe die eerste Vryburgers toegelaat is, tot nou is 360 jaar. Van die ontdekking van diamante af tot nou is 147 jaar, of 40% van ons bestaansgeskiedenis. Die veranderinge as gevolg van die Industriële Revolusie was traumaties vir ons volk. Alles het vir ons verkeerd geloop. Die Anglo-Boere Oorlog het gevolg, armoede en ellende het gebeur, groot ontwrigting het plaasgevind, daar was morele verval.

Die vraag is nou: het die aard en karakter van die Boerevolk verander sedert die ontdekking van minerale? Indien die antwoord “ja” is, is die tweede vraag: in watter opsigte het ons verander? Vanselfsprekend is daar uiterlike veranderings. Maar het ons innerlik verander? Is ons wesentlik nog dieselfde mense as ons voorouers? Kan ons, sonder om skaam te kry, ons voorouers in die oë kyk en met trots sê ons is hulle nageslag? Hulle het bitter swaar gekry en baie gely sodat ons vandag hier kan wees.

Die wêreld wat die Industriële Revolusie tot stand gebring het, is kosmopolities. Dit is ‘n wêreld waar volke en etnisiteit nie meer tel nie. Sekerlik sal daar etniese volke wees wat, ten spyte van die aanslag teen hulle, sal bly voortbestaan. Sal die Boerevolk een van daardie volke wees?

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Makkabeërs en die vagevuur

Die Makkabeërs was ‘n dapper Israelse priesterlike familie wat vir hulle volk in die bres getree het. Hulle het nie bedoel om ‘n oorlog te begin nie, hulle het net geweier om afgode te dien. Daarom was hulle lewens in gevaar en moes hulle die wildernis invlug. Daar in die wildernis het ander wat ook geweier het om afgodery te aanvaar by hulle aangesluit. Saam het hulle ‘n rebellemag op die been gebring om die Griekse afgodery en die Griekse kultuur teen te staan. Keer op keer het hulle teen ‘n groot oormag te staan gekom en oorwin. Voor elke geveg het hulle YHWH se hulp gevra en na die tyd het hulle Hom gedank.

Die eerste leier van die familie was Mattathias. Na sy dood is hy opgevolg deur sy seun Judas. Judas is opgevolg deur sy broers Simon en Jonathan. Die boek 1 Makkabeërs vertel die volledige geskiedenis van die “Makkabeër-familie” (al die broers) terwyl die boek 2 Makkabeërs hoofsaaklik handel oor Judas die Makkabeër. Die familie was leiers in Israel van 167 vC tot 63 vC. Dit was die tyd tussen die Ou en Nuwe Testamente.

Dit wat in hierdie tydperk sou gebeur, is lank voor die tyd aan die Profeet Daniël geopenbaar. Daniël 8, 10 en 11 verwys na die ontstaan van die Griekse Ryk en hoe dit later in vier verdeel sou word. Alexander die Grote, koning van Masedonië, het in ‘n kort tydjie ‘n groot gebied verower, maar sy ryk het ook net ‘n kort tydjie geduur. Na sy dood is sy ryk deur sy vier generaals onder mekaar verdeel en het elkeen van hulle ‘n deel gekry om oor te regeer. Die generaal wat Babilonië gekry het se naam was Seleucus I en die generaal wat Egipte gekry het se naam was Ptolemaeus I. Die ander 2 generaals (wat nie in die Bybel genoem word nie) was Lysimachus wat Thrakië gekry het, en Kassander wat Masedonië gekry het. In Daniël 11 word daar gepraat van die “Koning van die Noorde” en die “Koning van die Suide”. Die Koning van die Noorde was die regeerder van Babilonië en die Koning van die Suide was die regeerder van Egipte. Die oorloë tussen die konings van die Noorde en Suide het 200 jaar geduur en Israel was in die middel daarvan vasgevang.

Een van die konings van die Noorde, Antiochus IV Epiphanes, was ‘n tipe van die Antichris en het die tempel in Jerusalem onteer. Sommige Israelse leiers in Judea wou graag die Griekse lewenswyse hul eie maak en die Griekse gode aanbid. Antiochus IV Epiphanes was ingenome hiermee en het die Israelse godsdiens verbied. Hy het, onder andere, die skatte van die tempel gesteel en varke op die altaar geoffer. Hy het ook beveel dat die Israelse volk offers aan afgode moet bring, varkvleis moet eet en dat besnydenis met die dood strafbaar sal wees. Dit het daartoe gelei dat ‘n plattelandse priester (dus ‘n Leviet), met die naam Mattathias, hierteen in verset gekom het. Mattathias se seun Judas se bynaam was Makkabeus en dit is waar die naam Makkabeërs vandaan kom. Die geskiedenis van Mattathias en sy seuns is opgeteken in die boeke 1 en 2 Makkabeërs.

Die twee boeke volg nie op mekaar nie, dit is 2 heeltemal verskillende boeke. Albei word as deuterokanoniek beskou deur die Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse Kerke. Protestante en Judaïsme dink nie hierdie boeke behoort in die Bybel te wees nie. 1 Makkabeërs is meer van ‘n geskiedenisboek, daar is nie veel godsdiens daarin nie. 2 Makkabeërs is ‘n godsdiensboek wat ook geskiedenis in het. Ander bronne bevestig dat albei boeke ‘n betroubare weergawe van die geskiedenis gee.

Ten opsigte van 2 Makkabeërs bestaan daar ‘n leerstellige geskil. Die Rooms-Katolieke Kerk het ‘n lering wat bekend is as die “vagevuur”. Na die dood gaan die siele van afgestorwenes na die “vagevuur” om daar gelouter te word. Dit wil sê dit is geredde mense wie se sondes nog nie deur die bieg, voor hulle dood, verwyder is nie. Hierdie siele moet dan gesuiwer word. Die persoon se familie en vriende kan sy verblyf in die “vagevuur” verkort deur gebede en goeie dade. 2 Makkabeërs 12 word gebruik as ‘n bevestiging van hierdie leer.

Daar is interessante inligting in 2 Makkabeërs wat nie in die Bybel voorkom nie. 2 Mak 1:18-36 vertel van hoe die vuur van die altaar, wat voor die ballingskap weggesteek was, verander het in ‘n vloeistof (nafta). In 2 Mak 2:1-8 word vertel hoe die profeet Jeremia die tent en die verbondsark in ‘n grot weggesteek het en die ingang verseël het. Die marteldood van die bejaarde Eleazar, omdat hy geweier het om die varkvleis wat geoffer was, te eet, word verhaal in 2 Mak 6:18-31. Hoofstuk 7 gaan oor ‘n moeder wie se 7 seuns, een na die ander, voor haar oë dood gemartel is. Hulle wou ook nie die geofferde vark eet nie. 2 Mak 12:39-45 vertel die volgende van gebede vir gevalle vegters: On the next day, as by that time it had become necessary, Judas and his men went to take up the bodies of the fallen and to bring them back to lie with their kinsmen in the sepulchres of their fathers. Then under the tunic of every one of the dead they found sacred tokens of the idols of Jamnia, which the law forbids the Jews to wear. And it became clear to all that this was why these men had fallen. So they all blessed the ways of the Lord, the righteous Judge, who reveals the things that are hidden; and they turned to prayer, beseeching that the sin which had been committed might be wholly blotted out. And the noble Judas exhorted the people to keep themselves free from sin, for they had seen with their own eyes what had happened because of the sin of those who had fallen. He also took up a collection, man by man, to the amount of two thousand drachmas of silver, and sent it to Jerusalem to provide for a sin offering. In doing this he acted very well and honorably, taking account of the resurrection. For if he were not expecting that those who had fallen would rise again, it would have been superfluous and foolish to pray for the dead. But if he was looking to the splendid reward that is laid up for those who fall asleep in godliness, it was a holy and pious thought. Therefore he made atonement for the dead, that they might be delivered from their sin.

Dit is die aangehaalde gedeelte in hoofstuk 12 wat vir Rooms-Katolieke die regverdiging vir die leer van die “vagevuur” gee. ‘n Heel ander interpretasie is ook moontlik. Die marteldood van Eleazar en die moeder en haar 7 seuns het in die middeleeue mense se verbeelding aangegryp en hulle is tot heiliges verklaar. Daar is ‘n mening dat Hebreërs 11:35 na hierdie persone se marteldood verwys.

Die Makkabeërs het daarin geslaag om te verhoed dat hulle volk vergrieks. Hulle het die afgodery in Israel uitgeroei. Hulle het, nadat Antiochus IV Epiphanes die tempel ontheilig het, weer die tempel gereinig.

Moet 1 en 2 Makkabeërs in die Bybel ingesluit word? Vir my klink 1 Makkabeërs nie na ‘n Bybelboek nie, maar dit is die moeite werd om gelees te word. 2 Makkabeërs is ‘n perd van ‘n ander kleur. Vir my klink dit na ‘n Bybelboek. As ons Ester insluit in die Bybel, hoekom dan ook nie vir 2 Makkabeërs nie? Die bid vir afgestorwenes in hoofstuk 12 het, ten regte of onregte, gebeur. Beteken dit dat ons dit moet sien as ‘n opdrag of voorbeeld om te volg? Ek dink nie so nie.

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerevolk van Rhodesië

Ek was nog nooit in Zimbabwe nie, maar ek was al in Rhodesië. Dit wil sê Suid-Rhodesië. Eens op ‘n tyd was daar ‘n deel van die Boerevolk wat in Suid-Rhodesië gewoon het. Hulle het Afrikaans gepraat, was lidmate van die drie Susterkerke, het hul eie kultuurverenigings gehad en het selfs hulle eie Afrikaanse koerante gehad. Dit was, maar is nie meer nie.

Lede van die Boerevolk was die eerste blankes wat die gebied verken het. Die Voortrekkers het in 1836 ondersoek ingestel na ‘n moontlike vestigingsgebied noord van die Limpopo. Hierna het Boerejagters al verder die gebied binnegedring totdat die Zambesirivier en die Victoria-waterval bereik is. Dit was voor Livingstone dit “ontdek” het. Daar was ook ‘n goeie verhouding tussen die ZAR (Zuid-Afrikaansche Republiek) en swart stamme wat daar gewoon het. Onder andere het die Banjaistamme in 1880 die ZAR gevra vir beskerming teen die Matabeles. In Augustus 1890 het Louis Adendorff en ander ‘n konsessie van die Banjaihoofmanne gekry om daar te gaan woon. Dit kon nie uitgevoer word nie want Cecil John Rhodes het hulle voorgespring.

Rhodes se maatskappy, BSAC (British South Africa Company), het reeds in Januarie 1890 ‘n kontrak met die Sjonas gesluit wat hulle sou toelaat om Masjonaland binne te gaan. Die Sjonas het gedink hulle wil net kom prospekteer. Rhodes se doelwit was die uitbreiding van die Britse Ryk en hy wou die hele gebied annekseer. Die BSAC het pionierskolonne gebruik om blankes daar gevestig te kry. Die pionierskolonne het hulle voorgedoen as trekgeselskappe. Daar aangekom, het hulle 5 forte gebou. Die aankoms van die kolonne was ‘n verrassing vir die Sjonas. Die gebied is Rhodesië genoem (vernoem na Rhodes) en die belangrikste fort se naam was Salisbury. Spoelgoud neerslae is ontdek en dit het goudkoors laat opvlam. Daar was ook avonturiers wat na die verlore stad Monomotapa wou soek. Die gebied was die BSAC se besitting tot Britse anneksasie in 1923.

Rhodes het advertensies in koerante geplaas om mense aan te moedig om daarnatoe te verhuis. Daar was belangstelling onder lede van die Boerevolk om soheentoe te trek. Afgevaardigdes uit die ZAR en Oranje-Vrystaat het kontak met Rhodes gemaak. Die voorwaardes van Rhodes was aantreklik. Anders as die goudsoekers, het die Boere in landbou geleenthede belang gestel. Alhoewel hulle burgers van die Boere republieke was, was daar tog ook ontevredenheid met hulle regering oor verskeie sake. Ten spyte daarvan dat die pionierstydperk verby was, was daar nog mense wat kans gesien het om pioniers te wees. Verskillende trekgeselskappe is georganiseer en in 1891 het die eerstes vertrek na die onbekende.

Die Boere het saam met Engelssprekendes Rhodesië ingetrek. Die meerderheid was Engels en daar was net een amptelike taal, naamlik Engels. Die Boere was ‘n minderheidsgroep onder die blankes, net soos die Grieke. Nogtans het hulle nie verengels nie, maar hulle eie taal en kultuur behou. Die onderrigtaal in hulle skole was wel Engels, maar Afrikaans kon as ekstra vak aangebied word. Hulle het ook hulle eie kerke gehad. Die Boere was oorwegend landbouers van beroep. Die Boere het hulle in net ‘n paar distrikte gevestig met die gevolg dat hulle hul eie volkskarakter kon behou. In Enkeldoorn was 85% van die mense Afrikaanssprekend. Hulle het ook hul eie kultuurorganisasies gehad wat saamgewerk het as AKUR (Afrikaanse Kultuurunie van Rhodesië). In 1965 het die GRA (Genootskap van Rhodesiese Afrikaners) tot stand gekom.

Dit wil voorkom asof daar in Rhodesië nie die probleem van Boerehaat, soos in Suid-Afrika, was nie. Miskien omdat die Boere min was en nie veel invloed gehad het nie.

Hoewel die Boere onder die blankes ‘n minderheidsgroep was, was hulle ten volle betrokke by hulle land se sake. So was daar van hulle wat staatsamptenare was, sommiges in senior poste. Hulle was lede van die polisie, hulle het deel gevorm van hul land se weermag en het in oorloë hulle deel gedoen. Hulle het ook in die sakewêreld en landbou hulle bydraes gebring. Ook op sportgebied het hulle hul land verteenwoordig. Hulle was lojale Rhodesiërs maar steeds ook lojale lede van die Boerevolk.

Rhodesië het bekwame leiers gehad en die land het op ekonomiese gebied floreer. Veral na die Tweede Wêreldoorlog het daar ‘n groot ekonomiese oplewing plaasgevind en het heelwat blankes uit ander lande immigreer na Rhodesië. In 1953 het Brittanje die Federasie van Rhodesië en Njassaland gestig. Dit het bestaan uit Suid-Rhodesië (vandag Zimbabwe), Noord-Rhodesië (vandag Zambië) en Njassaland (vandag Malawi). Die plan wou Swart aspirasies, Blanke belange en koloniale behoeftes akkommodeer. Dit misluk en word in 1964 ontbind. Suid-Rhodesië het ‘n groter blanke bevolking gehad as die ander en hierdie blankes was permanente inwoners met eiendomme. In 1965 verklaar Suid-Rhodesië UDI (Unilateral Declaration of Independence) wat beteken dat hulle nie meer ‘n Britse kolonie was nie. Die Rhodesiese Bosoorlog breek uit tussen die blankes en die kommunistiese swart “bevrydingsbewegings”. Dit lei tot internasionale sankies. Nogtans bly hulle staande met die hulp van die Suid-Afrikaanse Regering. Uiteindelik gee die Suid-Afrikaners toe aan die buiteland en in 1980 kom Mugabe aan bewind. Dit was die einde van Rhodesië en die begin van Zimbabawe.

Vir amper 90 jaar was daar ‘n aansienlike aantal lede van die Boerevolk wat Rhodesiërs was. Ons kan ons indink hoe moeilik dit vir hulle as pioniers was om ‘n beskawing in ‘n wildernis te skep. Alles wat bereik was, was kosbaar en die moeite werd. Hulle het hulle plig nagekom, hulle het hul beste gedoen. Dit was alles tevergeefs. Hulle was net ‘n pion in die groter geo-politieke spel.

Die Rhodesiese leier in 1980 was Ian Smith. ‘n Beginselvaste persoon wat nie van sy beginsels afgewyk het nie. Kort voor sy dood het hy na bewering gesê: “Suid-Afrika het Rhodesië as offerlam gegee om vir homself tyd te koop. En daardie geleende tyd sal ook uitloop en dan sal die geskiedenis hom hier ook herhaal.”

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin