Die Boerevolk van Rhodesië

Ek was nog nooit in Zimbabwe nie, maar ek was al in Rhodesië. Dit wil sê Suid-Rhodesië. Eens op ‘n tyd was daar ‘n deel van die Boerevolk wat in Suid-Rhodesië gewoon het. Hulle het Afrikaans gepraat, was lidmate van die drie Susterkerke, het hul eie kultuurverenigings gehad en het selfs hulle eie Afrikaanse koerante gehad. Dit was, maar is nie meer nie.

Lede van die Boerevolk was die eerste blankes wat die gebied verken het. Die Voortrekkers het in 1836 ondersoek ingestel na ‘n moontlike vestigingsgebied noord van die Limpopo. Hierna het Boerejagters al verder die gebied binnegedring totdat die Zambesirivier en die Victoria-waterval bereik is. Dit was voor Livingstone dit “ontdek” het. Daar was ook ‘n goeie verhouding tussen die ZAR (Zuid-Afrikaansche Republiek) en swart stamme wat daar gewoon het. Onder andere het die Banjaistamme in 1880 die ZAR gevra vir beskerming teen die Matabeles. In Augustus 1890 het Louis Adendorff en ander ‘n konsessie van die Banjaihoofmanne gekry om daar te gaan woon. Dit kon nie uitgevoer word nie want Cecil John Rhodes het hulle voorgespring.

Rhodes se maatskappy, BSAC (British South Africa Company), het reeds in Januarie 1890 ‘n kontrak met die Sjonas gesluit wat hulle sou toelaat om Masjonaland binne te gaan. Die Sjonas het gedink hulle wil net kom prospekteer. Rhodes se doelwit was die uitbreiding van die Britse Ryk en hy wou die hele gebied annekseer. Die BSAC het pionierskolonne gebruik om blankes daar gevestig te kry. Die pionierskolonne het hulle voorgedoen as trekgeselskappe. Daar aangekom, het hulle 5 forte gebou. Die aankoms van die kolonne was ‘n verrassing vir die Sjonas. Die gebied is Rhodesië genoem (vernoem na Rhodes) en die belangrikste fort se naam was Salisbury. Spoelgoud neerslae is ontdek en dit het goudkoors laat opvlam. Daar was ook avonturiers wat na die verlore stad Monomotapa wou soek. Die gebied was die BSAC se besitting tot Britse anneksasie in 1923.

Rhodes het advertensies in koerante geplaas om mense aan te moedig om daarnatoe te verhuis. Daar was belangstelling onder lede van die Boerevolk om soheentoe te trek. Afgevaardigdes uit die ZAR en Oranje-Vrystaat het kontak met Rhodes gemaak. Die voorwaardes van Rhodes was aantreklik. Anders as die goudsoekers, het die Boere in landbou geleenthede belang gestel. Alhoewel hulle burgers van die Boere republieke was, was daar tog ook ontevredenheid met hulle regering oor verskeie sake. Ten spyte daarvan dat die pionierstydperk verby was, was daar nog mense wat kans gesien het om pioniers te wees. Verskillende trekgeselskappe is georganiseer en in 1891 het die eerstes vertrek na die onbekende.

Die Boere het saam met Engelssprekendes Rhodesië ingetrek. Die meerderheid was Engels en daar was net een amptelike taal, naamlik Engels. Die Boere was ‘n minderheidsgroep onder die blankes, net soos die Grieke. Nogtans het hulle nie verengels nie, maar hulle eie taal en kultuur behou. Die onderrigtaal in hulle skole was wel Engels, maar Afrikaans kon as ekstra vak aangebied word. Hulle het ook hulle eie kerke gehad. Die Boere was oorwegend landbouers van beroep. Die Boere het hulle in net ‘n paar distrikte gevestig met die gevolg dat hulle hul eie volkskarakter kon behou. In Enkeldoorn was 85% van die mense Afrikaanssprekend. Hulle het ook hul eie kultuurorganisasies gehad wat saamgewerk het as AKUR (Afrikaanse Kultuurunie van Rhodesië). In 1965 het die GRA (Genootskap van Rhodesiese Afrikaners) tot stand gekom.

Dit wil voorkom asof daar in Rhodesië nie die probleem van Boerehaat, soos in Suid-Afrika, was nie. Miskien omdat die Boere min was en nie veel invloed gehad het nie.

Hoewel die Boere onder die blankes ‘n minderheidsgroep was, was hulle ten volle betrokke by hulle land se sake. So was daar van hulle wat staatsamptenare was, sommiges in senior poste. Hulle was lede van die polisie, hulle het deel gevorm van hul land se weermag en het in oorloë hulle deel gedoen. Hulle het ook in die sakewêreld en landbou hulle bydraes gebring. Ook op sportgebied het hulle hul land verteenwoordig. Hulle was lojale Rhodesiërs maar steeds ook lojale lede van die Boerevolk.

Rhodesië het bekwame leiers gehad en die land het op ekonomiese gebied floreer. Veral na die Tweede Wêreldoorlog het daar ‘n groot ekonomiese oplewing plaasgevind en het heelwat blankes uit ander lande immigreer na Rhodesië. In 1953 het Brittanje die Federasie van Rhodesië en Njassaland gestig. Dit het bestaan uit Suid-Rhodesië (vandag Zimbabwe), Noord-Rhodesië (vandag Zambië) en Njassaland (vandag Malawi). Die plan wou Swart aspirasies, Blanke belange en koloniale behoeftes akkommodeer. Dit misluk en word in 1964 ontbind. Suid-Rhodesië het ‘n groter blanke bevolking gehad as die ander en hierdie blankes was permanente inwoners met eiendomme. In 1965 verklaar Suid-Rhodesië UDI (Unilateral Declaration of Independence) wat beteken dat hulle nie meer ‘n Britse kolonie was nie. Die Rhodesiese Bosoorlog breek uit tussen die blankes en die kommunistiese swart “bevrydingsbewegings”. Dit lei tot internasionale sankies. Nogtans bly hulle staande met die hulp van die Suid-Afrikaanse Regering. Uiteindelik gee die Suid-Afrikaners toe aan die buiteland en in 1980 kom Mugabe aan bewind. Dit was die einde van Rhodesië en die begin van Zimbabawe.

Vir amper 90 jaar was daar ‘n aansienlike aantal lede van die Boerevolk wat Rhodesiërs was. Ons kan ons indink hoe moeilik dit vir hulle as pioniers was om ‘n beskawing in ‘n wildernis te skep. Alles wat bereik was, was kosbaar en die moeite werd. Hulle het hulle plig nagekom, hulle het hul beste gedoen. Dit was alles tevergeefs. Hulle was net ‘n pion in die groter geo-politieke spel.

Die Rhodesiese leier in 1980 was Ian Smith. ‘n Beginselvaste persoon wat nie van sy beginsels afgewyk het nie. Kort voor sy dood het hy na bewering gesê: “Suid-Afrika het Rhodesië as offerlam gegee om vir homself tyd te koop. En daardie geleende tyd sal ook uitloop en dan sal die geskiedenis hom hier ook herhaal.”

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui