Die aanslag van die Industriële Revolusie op die Boerevolk

Hoe lank bestaan die mens? Party sê 6 000 jaar, ander sê ‘n paar miljoen jaar. Hoe lank gelede het die Industriële Revolusie plaasgevind? Omtrent 200 jaar gelede. Die Industriële Revolusie was die begin van die moderne era. Indien die mens 6 000 jaar bestaan, is die moderne era omtrent 3% van die mens se geskiedenis. ‘n Ander manier van kyk is as ons dit omsit na die lewe van een of ander indiwidu. As hy 60 jaar oud is, is die moderne tyd slegs 2 jaar van sy lewe. Bestaan die mens vir een miljoen jaar, dan is die moderne tyd 0.02% van die menslike geskiedenis.

Vir die grootste deel van sy geskiedenis was die hoogste snelheid waarteen ‘n mens kon beweeg, op die rug van ‘n perd. Byna oornag het dit verander. Skielik kon hy op ‘n trein teen hoë snelheid beweeg. Destyds was daar bekommernis dat die mens se gestel dit nie sou kon hanteer nie. Die Industriële Revolusie het ook die lewenswyse van die mens ingrypend verander. Die moderne tyd is ‘n baie klein deeltjie van die menslike geskiedenis, en so gesien is dit ‘n abnormale tyd. Vir ‘n baie lang tyd het die mens reggekom sonder die moderne tyd se vervoer, se medies, se masjiene en se kommunikasie.

Iewers tussen die Groot Trek en die Anglo-Boere Oorlog het ons volk die moderne era ingegaan. Die Voortrekkers was pioniers en het kakebeenwaens en voorlaaiers gehad. Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, was daar bokwaens en mausers. Maar dit is nie al nie, daar was baie ander veranderings ook. Dink maar aan kameras, telegrawe en doringdraad.

In die tyd toe die kompanjie in die Kaap aan bewind was, het hulle ‘n monopolie op koop en verkoop gehad. Die dorpe het nie winkels gehad nie, mense moes Kaapstad toe gaan om sake te doen. Dit het gelei tot die ontstaan van die smous. Die smous het ‘n voorraad winkelware by die kompanjie gekoop, dit op ‘n wa gelaai en dan van plaas tot plaas getrek. Sy winkelware het hy geruil vir lewendehawe wat hy dan weer aan die kompanjie verkoop het. Die Britte het nie die Kaap as ‘n verversingstasie bedryf nie en het toegelaat dat daar winkels en vakmanne op dorpe kon wees. Die Boere wat ver van ‘n dorp was het net met nagmaal dorp toe gegaan. Verder het hulle steeds met smouse sake gedoen.

In die vroeë jare was die verbouing van koring en vrugte sonder landboumasjiene gedoen. Handearbeid en osse is gebruik. Die ossewa was die belangrikste vervoermiddel. Omdat osse so belangrik was, was die ontwikkeling van ‘n inheemse beesras, die Afrikaner, die eerste stap na modernisering. Die oorskakeling na Merino skape was nog ‘n belangrike ontwikkeling vir die veetelers. In Brittanje was daar ‘n groot aanvrag na wol en huide en velle.

Daar was van Van Riebeeck af tot in 1840 (amper 200 jaar) geen paaie nie. In die Kaapkolonie het Andrew Geddes Bain die padbouer geword. Sy paaie het dit moontlik gemaak dat poskoetse ingestel kon word. Voor 1870 was daar nog nie enige spoorlyne om van te praat nie. Seereise van en na Europa het eers verbeter toe stoomskepe ingestel is. Dit het nie net die posdiens verbeter nie, dit het ook gehelp met invoere en uitvoere. Die groter skeepsverkeer het weer veroorsaak dat hawens opgegradeer moes word. Kommunikasie is verbeter met poskoetse wat hardlopers vervang het. Die instelling van die telegraaf was nie net plaaslik van hulp nie, dit het ook verbindinge met Europa en die Ooste moontlik gemaak.

Meeste fabrieksgoedere moes ingevoer word aangesien daar nie plaaslike fabrieke was nie. Die enigste plaaslike vervaardigers was wamakers, meulenaars, stokerye en brouerye. Min lede van die Boerevolk was hierby betrokke. Om ontwikkeling moontlik te maak, is ‘n bankstelsel deur die Britte ontwikkel. Daarmee saam is die Britse geldstelsel ingestel. Dit het handeldryf bevorder en gehelp om kapitaal te skep. Met kapitaal beskikbaar, kon nuwe ontwikkelings gefinansier word.

Hoewel die Groot Trek in 1835 begin het, het die Vrystaat eers in 1854 tot stand gekom en die ZAR eers in 1856. Oor die algemeen het die ontwikkelings in die Kaapkolonie ook deurgewerk na die republieke. Die belangrikste probleem met republiekwording was dat die staat ‘n inkomste moes hê. Die regering kon net soveel doen en niks meer nie. Die Vrystaat het ‘n belasting ingestel op plaasgrond en op die oordrag van grond. Die burgers was redelik getrou in die betaal daarvan. In die ZAR was die burgers nie ten gunste van belastings nie en staatsinkomste het bly krimp.

Tot 1870 toe, was boerdery die belangrikste bedryf in die Kaapkolonie, Natalkolonie, Republiek van die Vrystaat en die Zuid-Afrikaansce Republiek. Die meeste blankes het op die platteland gewoon. Hoewel die Industriële Revolusie toe al in volle swang was, het dit min invloed op die lewenswyse van ons pionier-voorouers gehad.

Toe word minerale rykdomme onder die grond ontdek. Eers koper, toe diamante, toe goud en toe steenkool. Hierdie ontdekkings het groot en belangrike veranderings gebring. Die ontwikkeling van die mynbou het gelei tot omwentelings in vervoer, handel en bankwese. Masjinerie moes ingevoer word en vakmanne moes aangestel word om dit te onderhou. Maatskaplike toestande het ingrypend verander. Die myne het duisende mense uit die buiteland gelok. So ontstaan daar toe ‘n “uitlander” probleem. Die myne word maatskappye en “kapitaliste” verkry groot mag en invloed. Die myne kort arbeiders en duisende werkers word in swart stamgebiede gewerf en kort voor lank is daar baie swartmense waar daar voorheen hoofsaaklik witmense was. Verstedeliking vind plaas en plaasjapies word stadsjapies.

In die bestaan van die mens, is die moderne era ‘n kort tydjie. In die bestaan van die Boerevolk is die moderne era ‘n groot faktor. Sedert 1857, toe die eerste Vryburgers toegelaat is, tot nou is 360 jaar. Van die ontdekking van diamante af tot nou is 147 jaar, of 40% van ons bestaansgeskiedenis. Die veranderinge as gevolg van die Industriële Revolusie was traumaties vir ons volk. Alles het vir ons verkeerd geloop. Die Anglo-Boere Oorlog het gevolg, armoede en ellende het gebeur, groot ontwrigting het plaasgevind, daar was morele verval.

Die vraag is nou: het die aard en karakter van die Boerevolk verander sedert die ontdekking van minerale? Indien die antwoord “ja” is, is die tweede vraag: in watter opsigte het ons verander? Vanselfsprekend is daar uiterlike veranderings. Maar het ons innerlik verander? Is ons wesentlik nog dieselfde mense as ons voorouers? Kan ons, sonder om skaam te kry, ons voorouers in die oë kyk en met trots sê ons is hulle nageslag? Hulle het bitter swaar gekry en baie gely sodat ons vandag hier kan wees.

Die wêreld wat die Industriële Revolusie tot stand gebring het, is kosmopolities. Dit is ‘n wêreld waar volke en etnisiteit nie meer tel nie. Sekerlik sal daar etniese volke wees wat, ten spyte van die aanslag teen hulle, sal bly voortbestaan. Sal die Boerevolk een van daardie volke wees?

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui