Ons Nederlandse stamouers was Geuse

Dat daar Geuzen was, was Martin Luther se skuld. Hy het in 1517 die Kerkhervorming begin. Ekskuus, nee, dit was Johannes Gutenberg se skuld. Hy het die drukpers in 1440 uitgevind. Die drukpers het geletterdheid veroorsaak, ‘n middelklas tot stand gebring, die gebruik van eie tale bevorder en nasionalisme laat ontstaan. En het die Bybel aan die menigtes gebring. Toe vind die kerkhervorming plaas en teen 1560 wemel dit van Protestante in die noorde van Europa.

Op daardie stadium het die Spaanse koning ook die Nederlande besit. En die Protestante was ‘n probleem vir die Spaanse koningshuis wat Rooms-Katoliek was. Die eerste optrede deur die koning teen die Protestante, ook bekend as ketters, was die Nederlandse Inkwisisie. Van 1521 tot 1564 was die Inkwisisie toegerus as die hoogste hof, sonder reg tot appèl, met geen beperkings om mense te arresteer, te martel en tereg te stel nie. Mans het die brandstapel gekry, vrouens is lewend begrawe. Die Anabaptiste het erg deurgeloop.

Teen 1560 het die aantal Protestante vermeerder, en hoewel hulle ‘n minderheid was, het hulle ‘n invloed begin uitoefen. Petisies aan Koning Philip het geen resultate behaal nie. In 1566 het omtrent 400 lede van die adel ‘n petisie aan die goewerneur gerig. Dit was bekend as die Verbond der Edelen. Die vername mense van daardie tyd het Frans gepraat en hierdie 400 is uitgeskel as gueux, oftewel “bedelaars”. Hierop het die Protestante besluit om hulleself Geuzen te noem, om die skeldnaam om te keer in ‘n erenaam. Daar was twee groepe Geuzen, die Bosgeuzen en die Watergeuzen.

In daardie tyd het die Beeldenstorm plaasgevind waar Protestante die beelde in Katolieke kerke vernietig het. Die Protestante was van mening dat hierdie beelde afgodery was. In 1567 het die Spaanse goewerneur die Raad van Beroerten ingestel om die Protestante te straf. Dit het die bynaam Bloedraad gekry omdat daar so baie ter dood veroordeel is. Die Opstand van die Nederlande, ook bekend as die Tagtichjarige Oorlog, het van 1568 tot 1648 geduur. Die oorlog was tussen die Protestante provinsies van Nederland en koning Philip II van Spanje.

Vir die Geuzen was die inname van Den Briel in 1572 ‘n riem onder die hart. Dit was dan ook by Den Briel dat die Prinsevlag (die oranje, blanje, blou) vir die eerste keer gebruik is. Vir die Spanjaarde was die verlies van Vlissingen nog ‘n groter skok. Die Geuze kry ook die steun van Willem die Swyer. Die Unie van Dordrecht kom tot stand. Die Geuze het nou beheer oor die handelsroetes. Spanje kan nie hulle huursoldate betaal nie en dit lei tot die Spaanse Furie, ook bekend as die Plunderingen van Antwerpen, in 1576. Dit lei tot die verlies van 8,000 lewens. In 1579 slaag Willem die Swyer om Holland, Zeeland, Utrecht, Guelders, Groningen, Brabant en Vlaandere in die Unie van Utrecht te verenig. Die 17 Nederlandse provinsies was nou in twee verdeel: die noordelike Protestantse provinsies en die suidelike Katolieke provinsies.

In 1584 word Willem die Swyer vermoor en sy seun, Maurits, word aangestel as kaptein-generaal. In 1585 val Spanje vir Antwerp in en meer as die helfte van die stad se bevolking vlug na die noorde. Die noordelike provinsies was nie in staat om ‘n geskikte koning (uit die bestaande Europese koningshuise) te kry nie en verklaar hulleself tot ‘n republiek. Onder Maurits se leierskap was daar vrede in die noordelike binneland en het dit vooruitgang beleef. Die tydperk van 1602 af word die Gouden Eeuw genoem. Die Vereenigde Oost-Indiesche Compagnie is ook in 1602 gestig.

Die Twaalfjarig Bestand was ‘n wapenstilstand wat in 1609 tussen die noordelike en suidelike provinsies gesluit is. In hierdie tyd het die noordelike provinsies moeite gedoen om hulle vloot op te bou. Die oorlog met Spanje het voortgeduur. In 1625 is Maurits dood en word opgevolg deur sy halfbroer Frederik Hendrik. Frederik Hendrik het heelwat suksesse behaal, maar die grootste was die verowering van die Spaanse Silwervloot deur Piet Hein. Nog ‘n groot oorwinning was die Slag bij Duins in 1639 toe Maarten Tromp en Witte de With ‘n groot Spaanse oorlogsvloot verslaan het.

Die Tachtigjarige Oorlog eindig in 1648 met die Vrede van Münster. Die Republiek der Verenigde Provinciën word as ‘n soewereine staat erken. Die Vrede van Münster was ‘n onderdeel van die Vrede van Westfalen wat die Dertigjarige Oorlog beëindig het. By Westfalen is die begrip “soewereine staat” opnuut gedefinieer en het ‘n nuwe stelsel van buitelandse verhoudings ontstaan. Die Huis van Habsburg het sy seggenskap oor die Duitse vorste verloor. Verdraagsaamheid tussen Katolieke en Protestante het verpligtend geword.

Die Dertigjarige Oorlog het ‘n enorme slagting veroorsaak. Hele stede en streke was verwoes. Noordelike Nederland het ‘n veilige hawe vir Protestante geword en daar was ekonomiese voorspoed en werksgeleenthede. As gevolg van die Tachtigjarige Oorlog en die Dertigjarige Oorlog was baie mense se lewens verwoes en het hulle hul tuisgebiede, waar hulle geslagte lank gewoon het, verlaat en ‘n heenkome in die Republiek der Verenigde Provinciën gevind.

In daardie jare was daar, in wat vandag Duitsland is, ‘n groot aantal klein state, elkeen met sy eie vors. Daar was ‘n verskeidenheid dialekte wat gepraat is. Standaardduits en Standaardnederlands het nog nie bestaan nie. Van die “Duitse” dialekte was naby aan die Nederlandse dialekte. Destyds was die bewoners van hierdie “Duitse”state, in ‘n etniese sin, naby verwant aan die Nederlanders. Die “Duitsers” wat na die Kaap gekom het was dus van dieselfde etnisiteit as die Nederlanders. Dit is dus absurd om ons volk te sien as ‘n bastervolk.

Wanneer ons ons stamouers se plekke van herkoms soek, moet ons hierdie verstrooing van die bevolking in gedagte hou.  Geboorte- en dooprekords sal wees waar iemand gebore is. Baie mense het die plekke waar hulle gebore is, verlaat. Selfs kinders het nie noodwendig groot geword waar hulle gebore is nie. Dieselfde geld vir registers van sterftes.

Die Nederlanders wat hulle aan die Kaap kom vestig het, was nie van die welvarendes nie. Hulle was meestal middelklas Protestante wat bereid was om van voor af te begin. Die Nederlanders, ook genoem Hollanders, wat na die Kaap gekom het, was die kinders en kleinkinders van die Geuzen. Die Geuzen se bloed is in ons are.

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Is Hooglied ‘n hygroman?

Hooglied is die seksboek van die Bybel. So sê party mense. Of is daar iets meer aan?

Vreeslik baie teoloë maak gebruik van veronderstellings. Een ding word veronderstel en dan volg daar ‘n klomp gevolgtrekkings op grond van die veronderstelling. Amper alles wat oor die Bybelboek Hooglied gesê of geskryf word, berus op veronderstellings. Daar is twee vrae wat oor die boek gevra moet word: Moet Hooglied in die Bybel wees? En indien wel, wat beteken dit?

Daar word wyd en syd veronderstel dat Hooglied deur Salomo geskryf is. Die opskrif sê: Die hooglied van Salomo. Verder word die naam Salomo ses keer genoem en drie keer word na ‘n ongenoemde koning verwys. Tog beteken dit nie noodwendig dat Salomo self die boek geskryf het nie, dit kan ook wees dat die boek aan hom opgedra is. Dit kon ook tydens sy koningskap geskryf gewees het. Ander opinies is dat die taalgebruik daarop dui dat dit eers na die Ballingskap geskryf is, dus lank na Salomo. Daar is ook ‘n mening dat dit deur ‘n vrou geskryf is. Daar is geen onbetwisbare sekerheid oor wie die boek geskryf het nie.

Nêrens in Hooglied is daar ‘n direkte of indirekte verwysing na God nie. Daar is geen verwysing na godsdiens of geestelike sake nie.  Daar is ook nie in enige ander Bybelboek ‘n verwysing na of aanhaling uit Hooglied nie. Yeshua (Jesus) en die apostels het ook niks oor die boek gesê nie. Wat maak so ‘n boek in die Bybel?

Verder handel die boek oor die romantiese liefde en die fisiese uitdrukking daarvan tussen ‘n man en ‘n meisie. Die beskrywing daarvan kan eroties genoem word.

Al die gewone argumente wat ons sal toepas om te bepaal of ‘n boek in die Bybel moet wees, of nie, dui daarop dat Hooglied nie in die Bybel moet wees nie. Maar dit is. Van lank gelede af.

Hooglied was al by die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuagint), wat omtrent 200 jaar voor Christus voltooi is, ingesluit. Dit beteken dit was al van vroeg af deel van die Ou Testament. Dit was voor die ontstaan van Judaïsme en die Christendom.

Stelling 1: Die Bybel is die Woord van God. Stelling 2: Hooglied is in die Bybel. Gevolgtrekking: Hooglied is die Woord van God. Indien hierdie redenasie korrek is, dan is dit ons verantwoordelikheid om dit te bestudeer en daaruit te leer. Volgens 2 Timotheus 3:16-17: Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. Voldoen Hooglied hieraan?

Oor die inhoud van die boek is daar baie vrae en elke vraag het meer as een antwoord. Is daar twee hoofkarakters of is daar drie? Hoe word die dialoog onderskei? Is die karakters gewone mense of is hulle koninklik? Wat is die struktuur van die boek? Wie het die boek geskryf? Hoeveel persone het die boek geskryf? Is dit een gedig of ‘n paar afsonderlike gedigte?

Daar is ‘n verskeidenheid interpretasies van die boek. In Judaïsme word geglo dat die meisie verwys na Israel en dat God die man is. Derhalwe beteken dit dat daar ‘n huweliksverhouding tussen YHWH en Israel bestaan. Reeds vroeg in die kerk se geskiedenis was daar ‘n interpretasie dat Hooglied verwys na Christus as die bruidegom en na die Kerk as die bruid. Albei hierdie sienings berus op spekulasie en veronderstelling en daar is niks wat dit bevestig nie.

As die boek geneem word soos dit is, volgens wat daar geskrywe staan, handel dit oor die romantiese liefde tussen ‘n man en meisie. Daar is diegene wat tevrede is daarmee en meen dat dit die enigste betekenis van die boek is. God vind die fisiese liefdesverhouding tussen man en vrou goed en mooi en daarom is die boek in die Bybel.

Sover dit die storie van die boek betref, is daar drie verskillende weergawes. Die eerste is van Koning Salomo wat verlief raak op ‘n meisie wat in sy wingerd werk en hy trou dan met haar. Een beswaar hierteen is dat die man nie altyd as ‘n koning voorgestel word nie. Daar is ook nie in Salomo se geskiedenis enige iets wat op so ‘n huwelik dui nie. Die tweede moontlikheid is dat Koning Salomo verlief raak op ‘n meisie wat in ‘n wingerd werk, maar sy is verlief op ‘n skaapwagter. Daar is dus ‘n liefdesdriehoek. Die derde moontlike verhaal is dat die meisie en die man albei gewone mense is. In haar oë sien sy die skaapwagter as ‘n koning en in sy oë sien hy die meisie as ‘n prinses.

Die beeldspraak om die beminde te beskryf, is vir ons moeilik. So beskryf die man die meisie in Hooglied 4:1-3: Hoe mooi is u tog, my vriendin, hoe mooi is u tog, u oë is soos duiwe deur u sluier heen; u hare is soos ‘n kudde bokke wat van die gebergte van Gílead afgolf. U tande is soos ‘n kudde pas geskeerde skape wat van die drinkplek opkom, wat almal tweelinge het, en geeneen onder hulle is sonder lam nie. U lippe is soos ‘n skarlaken band, en u mond is lieflik. U slape is soos ‘n granaatskyf deur u sluier heen. Hare soos ‘n kudde bokke? Tande soos ‘n kudde skape?

Wat is dan die beste interpretasie van die boek? Ons weet nie. Daar is nie een wat sterker aanspraak maak as die ander nie. Maar omdat dit in die Bybel is, en ook omdat dit moeilik is om te verstaan, sou ek dink dat daar ‘n verborge betekenis is. Dit wil sê dat YHWH nog nie die volle betekenis geopenbaar het nie. ‘n Misterie vir nou.

Tans, in ons moderne tyd, is seksualiteit vermaak en bemarking. Dit word vrylik toegepas as ontspanning en sonder verpligtinge en verantwoordelikhede. Die seksualiteit wat in Hooglied beskryf word, is anders. Dit is kuis en slegs bedoel vir een persoon lewenslank.

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Kan ons nog werk?

Ek het al verskeie kere, uit verskillende bronne, gehoor dat lede van die Boerevolk wat in die buiteland werk, ‘n goeie naam het as werkers. Hulle is hoog in aanvraag. Hulle is ou skool: goed opgelei, het goeie ondervinding en hulle skrik nie vir harde werk en lang ure nie. Hierdie mense is meestal van die ouer garde wat nog diensplig verrig het. Dit is nie noodwendig waar van almal nie, tog is dit die indruk wat by buitestaanders gewek word. Dit is goed om te hoor dat die Boerevolk nie net ‘n plan kan maak nie, maar ook goeie werk kan lewer.

Die toekoms van die Boerevolk kan deur ons werkvermoë gemaak of gebreek word. Wanneer ‘n volkstaat realiseer, sal die sukses en voortbestaan daarvan bepaal word deur volkseie arbeid en selfwerksaamheid. As ons dit kan regkry, sal dit ‘n ingrypende verandering in ons volksaard veroorsaak. Dit sal heel moontlik ook traumaties wees.

Die gebruik van goedkoop vreemde arbeid is by ons so ingeburger dat dit moeilik gaan wees om daarvan af te sien. Reeds van vroeg in ons geskiedenis af was die gebruik van vreemde arbeid algemeen. Die Khoi en die San wou nie eintlik arbeiders wees nie, gevolglik moes die Kompanjie slawe invoer. Later, na die vrystelling van slawe, het ons voorouers swart arbeiders begin gebruik. Een van die nadele daarvan was dat daar ‘n houding by ons ontstaan het dat sekere soorte werk benede ons is. Ons eie mense het nie meer ongeskoolde werk verrig nie, dit was gegee aan vreemdes wat bereid was om vir minimum lone te werk.

Volkseie arbeid sal ‘n grondbeginsel moet wees met die stigting van ‘n volkstaat. Heel moontlik iets wat in die volkstaat se grondwet verskans sal moet word. Die regering van daardie volkstaat sal streng wetgewing in plek moet hê en dit doeltreffend moet kan toepas. Die gebruik van vreemde arbeid sal op een of ander manier gepenaliseer moet word. Terselfdertyd sal gebruik van volkseie arbeid en selfwerksaamheid beloon moet word. Hoekom? Want as jy vreemde arbeid toelaat, verswak jy die samestelling van die bevolking en laat jy vreemde kulture toe in jou eie land. Dit lei ook tot toelating van vreemdes om in jou land te woon en jy sal behuising moet voorsien. Dit sal ook die brood uit jou volksgenote se monde neem want werkgewers gaan goedkoper werkers verkies. Dit is presies wat voorheen gebeur het.

Die gebruik van vreemde arbeid het ook ekonomiese implikasies. Die probleem is die koste van arbeid. Om winsgewend te wees, moet ondernemings hulle salarisse en lone so laag as moontlik hou. Vir ‘n onderneming is goedkoop vreemde arbeid die oplossing vir sy probleme. Daar sal dus ‘n konflik tussen die volkstaat se regering en die ondernemings binne die volkstaat wees – veral groot ondernemings – wat dan weer nadelig kan wees vir noodsaaklike buitelandse beleggings.

Selfwerksaamheid beteken dat elkeen sy eie vuilwerk self sal moet doen. Veral gesinne moet sonder bediendes klaarkom en alles in en om die huis self kan doen. Dit sal ook op plase en besighede toegepas moet word. Daar is ook metodes, soos meganisasie, wat gebruik kan word om selfwerksaamheid te bevorder. Dit mag egter duur wees.

Om oor te skakel na volkseie arbeid sal ‘n revolusie moet plaasvind. Beide werkgewer en werknemer sal ‘n groot verandering in denke moet maak. Die werkgewer, wat ‘n volksgenoot is, sal nie sy werknemer, wat ook ‘n volksgenoot is, dieselfde kan behandel as wat hy ‘n vreemde werker behandel nie. Die afstand tussen werkgewer en werknemer sal baie nader wees. Aan die ander kant, sal die werknemer moet besef dat daar meer van hom verwag sal word. Natuurlik is daar ook die kwessie van vergoeding. Werknemers uit die Boerevolk sal voel dat hulle ‘n gepaste lewenspeil moet kan handhaaf.

Terwyl ek hier skryf, is daar derduisende volksgenote wat werkloos is. Talle het geen heenkome nie. Daar is verskeie redes wat hiertoe aanleiding gegee het. Voor die huidige bedeling was daar maatreëls wat blanke werkers beskerm het en was werkloosheid minimaal. Laag geskoolde blankes kon ‘n leefbare loon verdien. Ander het om een of ander rede hulle werk verloor en kan nie ‘n ander aanstelling kry nie. Nog ander is ongeskik verklaar en mag nie meer werk nie. Daar is ook ‘n gedeelte wat nie wil werk nie en van welsyn afhanklik wil wees.

Ons sal ‘n nuwe werkkultuur moet ontwikkel. Harde werk alleen sal nie die wa deurtrek nie. Soos die Duitsers, sal ons moet werk maak van deeglikheid. Ons sal die trots op goeie vakmanskap moet bevorder. Ons sal slegs die pyp kan rook as ons produkte en dienste van die beste is.

Hierdie veranderings lê tans in die toekoms en dit gaan hoofsaaklik deur die jonger garde beleef word. Dit is hulle wat moet leer om hard te werk. Hulle sal moet kies om gehalte werk te lewer. Hulle sal moet gewoond raak om sonder goedkoop ongeskoolde werkers klaar te kom. Sal die jonger garde opgewasse wees? Hulle sal nou al moet begin om voor te berei. Hulle sal vaardighede moet bemeester. Dit is immers hulle en hulle kinders se toekoms wat op die spel is.

Ons, die Boerevolk, moet ons voorberei op ‘n ingrypende verandering in ons houding en benadering oor werk. Die toekoms gaan heel anders wees as die verlede en die hede. Jy kan dit sien as ‘n ramp of jy kan dit sien as ‘n uitdaging. Feit is, as daar vir ons volk ‘n toekoms is, sal hierdie verandering onafwendbaar wees.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die onkruid in jou en my

Almal wat al tuin gemaak het, sal weet van onkruid. Onkruid moet uitgeroei word, verkieslik permanent. Skoffel help nie, die wortels en saad bly agter. Onkruid moet uitgetrek word en dan verkieslik verbrand word. Daar moet niks – nie wortels, saad of klein plantjies – agterbly nie. Jy kan onkruiddoder probeer, pas net op dat jy nie jou goeie plante ook uitroei nie.

Boosheid in die mens is soos onkruid.

Die sondeval van Adam en Eva in die Tuin van Eden het niks met seks te doen gehad nie. Ook nie met appels nie. In Genesis 2:16-17 word beskryf waarmee dit wel te doen gehad het: En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. Wat gebeur toe? Adam en Eva eet van die verbode boom se vrugte. Eerstens was dit ongehoorsaamheid. Tweedens het hulle nou kennis van goed en kwaad gekry. Hierdie “kennis van goed en kwaad” was die oorsprong van boosheid in die mens. Dit word die erfsonde genoem want Adam en Eva se nageslag het dit geërf . Ons almal het dit.

Die eerste demonstrasie van boosheid was in Adam en Eva se seun Kain. Genesis 4:6-7 vertel daarvan: En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers. Kain kon nie daaroor heers nie en vermoor sy broer Abel.

Kan enige mens heers oor die boosheid binne hom? Mense het wette gemaak om boosheid te verban. Oortree iemand die wet, sal hy of sy gestraf word. Los dit die probleem op? As daar ‘n wet teen diefstal is, hou mense dan op om te steel? Sal vrees vir die straf maak dat daar nie meer diewe sal wees nie? Boosheid is binne die mens, in sy gedagtes en sy gevoelens, in sy diepste wese. Yeshua (Jesus) stel dit so in Markus 7:18-23: En Hy sê vir hulle: Is julle ook so sonder verstand? Begryp julle nie dat alles wat van buite af in die mens ingaan, hom nie onrein kan maak nie, omdat dit nie ingaan in sy hart nie, maar in die maag, en dit gaan in die heimlikheid uit en maak al die voedsel rein? En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.

Wette, reëls en regulasies is veronderstel om te sorg dat daar ‘n ordelike samelewing is waar niks verkeerd gedoen word nie. Oortreders sal gestraf word. Die straf is veronderstel om ‘n afskrikmiddel te wees. As dit werk en niemand oortree nie, lyk alles mooi van buite. Maar nie van binne nie. Die probleem van boosheid in die mens is nie opgelos nie. Boosheid is nie net moets en moenies nie, dit is die hele vrot gevalle toestand van die mensdom. Geen wette kan hierdie toestand oplos nie.

In Psalm 5:4-7 word YHWH se standpunt gestel: Want U is nie ‘n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie. Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid. U sal die leuensprekers laat omkom; van die man van bloed en bedrog het die HERE ‘n afsku. Mense verkeer dikwels onder ‘n misverstand. Hulle dink liefde en haat kan nie gelyk bestaan nie. YHWH het die mens lief, maar terselfdertyd haat Hy die “werkers van ongeregtigheid”.

YHWH haat nie net die mense wat boosheid doen nie, hy haat die bestaan van boosheid. YHWH is nie verdraagsaam met boosheid nie. Hy wil boosheid, soos met onkruid, uitroei en verbrand. Hy soek dit nie in Sy skepping nie.

Dit is die mens se skuld dat daar boosheid in hom is. Maar die mens kan niks doen om van die boosheid ontslae te raak nie. Wette, en ook nie iets anders nie, help nie.

YHWH het wel ‘n oplossing. In Markus 10:26-27 staan die volgende: En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.

Dit kan gedoen word. YHWH kan dit doen. Maar hoe? Jy moet Hom vra om die boosheid uit jou uit te haal. Dit beteken jy moet die knie voor Hom buig, jy moet Hom erken vir Wie Hy is, jy moet Hom respekteer. Dit is waar dit begin. Solank mense sonder Hom wil regkom, sal niks gebeur nie.

Dink daaraan. Mense wat nie boosheid in hulle het nie. Hoe sal dit wees?

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Is jy ‘n Boer of is jy ‘n Suid-Afrikaner?

Voor 1910 het Suid-Afrika nie bestaan nie. Daar was nie so ‘n land nie. Die woord Suid-Afrika was gebruik om ‘n geografiese gebied aan te dui, soos byvoorbeeld Noord-Afrika of Oos-Europa. Die benaming Zuid-Afrikaansche Republiek was wel gebruik vir die Transvaal gebied, maar nie vir enige ander gebied nie.

Met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910, het Britse Imperialiste ‘n lank gekoesterde ideaal bereik . Die manier hoe die storie vertel word, bring mens onder die indruk dat dit slegs oor die vereniging van die blankes gegaan het. Blykbaar het sir George Grey al in die 1850’s gedink om die verskillende lande in suidelike Afrika te verenig. Op daardie stadium was die Colonial Office nie oortuig dat dit uitvoerbaar was nie. In 1867 het Kanada as ‘n federasie van 3 Britse kolonies ontstaan. Die sukses hiermee is opgevolg met ‘n plan van aksie vir suidelike Afrika. Die probleem was dat die Britte net beheer oor ‘n kleinerige gebied gehad het. Die Boere van die republieke het hulle eie lande gehad en het nie belang gestel om hulle onafhanklikheid prys te gee nie. Daar was ook groot gebiede waar Swartmense oor hulleself regeer het. ‘n Plan moes met die wederstrewiges gemaak word.

Sir Bartle Frere was aangestel as Britse Hoë Kommissaris in suidelike Afrika om die Policy of Confederation te implementeer. Volgens hierdie beleid moes hy die verskillende Britse kolonies, die onafhanklike Boererepublieke en onafhanklike swart volke onder gesamentlike Britse beheer bring.

Die gebied wat deur die Britte Kaffraria (die lande van die Xhosas) genoem was, is stuk-stuk deur Brittanje geannekseer en by die Kaapkolonie ingelyf. Volgende aan die beurt was Transvaal. Sir Theophilus Shepstone het die Transvaalse republiek doodluiters namens Brittanje geannekseer. Hierna vestig Frere sy aandag op die Zoeloe koninkryk. Zoeloeland word ingeval, maar die Britte verloor. Die Boere van Transvaal veg terug en die Eerste Vryheidsoorlog volg. Die Britte verloor. In 1895 is daar die Leander Starr Jameson inval van Transvaal, maar dit misluk. Zoeloeland word in 1897 deur die Natalkolonie geannekseer. Hierna volg die Anglo-Boere Oorlog en die twee Boererepublieke kom onder Britse beheer. Nou was die pad oop vir die stigting van Suid-Afrika.

Daar was nou vier selfregerende Britse kolonies: Kaap, Natal, Transvaal en Vrystaat. ‘n Konferensie is belê om die vereniging van die vier selfregerende kolonies te bespreek. Natal wou ‘n federasie hê, maar die res het ‘n unitêre staat verkies. Die kompromie was ‘n unitêre staat met provinsies wat uitgebreide magte sou hê. Die geskil oor ‘n hoofstad is opgelos deur vier hoofstede te hê. Die Kaap se stemreg is verskans. Engels en Hollands het die twee amptelike tale geword. ‘n Wetsontwerp is opgestel en in Mei 1909 goedgekeur en na die Britse Regering gestuur. Die House of Commons en die House of Lords het dit onveranderd goedgekeur en koning Edward VII het dit onderteken. Die Vrede van Vereeniging was op 31 Mei 1902, die Unie van Suid-Afrika het op 31 Mei 1910 tot stand gekom. Hoekom dink ons 31 Mei is ‘n goeie datum?

Daar was nou ‘n nuwe land op die wêreldkaart, Suid-Afrika. Al die inwoners, (wit, swart of wat ook al) was Suid-Afrikaners. Nou kon begin word met die Nasiebou. Nasiebou is ‘n politieke proses wat deur propaganda die publiek wil oortuig dat iets wat nie bestaan nie wel bestaan. Nie-blankes het vir alle praktiese doeleindes geen seggenskap gehad nie. Die African National Congress is in 1913 gestig. Die Boere was onder dwang Suid-Afrikaners en die Rebellie breek in 1914 uit. Uiteindelik het Nasiebou meer gerig gewees op versoening tussen Boer en Brit en om ‘n blanke nasie tot stand te bring wat Brits sou wees. As teenvoeter is die benaming Afrikaner gebruik om al die blanke Afrikaanssprekendes saam te snoer.

Oral ter wêreld het die groot moondhede oplossings, wat etnisiteit geïgnoreer het, op verowerde gebiede afgedwing . Hulle oplossings was in hulle eie belang. Jare later, na veel lyding, dan ontplof daardie oplossing. Dink byvoorbeeld aan die Balkan, aan Sirië en Irak. Suid-Afrika sal heel moontlik dieselfde weg volg.

Intussen sing ons Ons vir jou, Suid-Afrika.

Alle Boere woon nie noodwendig in Suid-Afrika nie. Daar is ook Boere in ander lande. Etnisiteit word nie beperk deur politieke grense nie.

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin