Vastrap of aanstap

Wat is volksdanse en volksmusiek nou eintlik? Ons ken Skotse swaarddanse en doedelsakke. Ons ken ook Zoeloedanse. Maar wat van ons, die Boerevolk? Het ons nie ook ons eie etniese musiek en danse nie? Volksdanse is tradisionele danse wat deur ‘n volk beoefen is in die dae voor radio. In Nederland, byvoorbeeld, sluit volksdanse die wals en polka in. Die danse word begelei deur ondermeer die viool en trekklavier. Hulle volksdanse is ook sterk beïnvloed uit Skotland en Engeland.

Voordat daar gedans kan word, moet daar musiek wees, en voordat daar musiek kan wees, moet daar musiekinstrumente wees. Die eerste mens wat musiekinstrumente gemaak het, was ‘n afstammeling van Adam se seun Kain – die een wat sy broer Abel vermoor het. Dit staan in Genesis 4:21: Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die vader van almal wat op siters en fluite speel.

Die musiekinstrumente wat meestal in Boeremusiek gebruik word, is konsertina, kitaar, trekklavier, banjo en baskitaar. Die klavier, kontrabas, traporrel, elektroniese klawerbord, tjello, mondfluitjie en viool word ook gebruik. Hier en daar word ‘n saag, klarinet en teekis-bas gebruik. Meestal word die musiek op gehoor gespeel en nie van bladmusiek af nie. Elke orkes het sy eie manier van speel en sy eie unieke klank. Boeremusiek is informele musiek wat bedoel is om sosiale danse te begelei. Van die oudste Boeremusiek nommers is nooit genoteer nie en die oorspronklike komponiste is onbekend. Dit is van een geslag na die volgende oorgedra. Die gebruik is om nommers waarvan die komponis onbekend is, te klassifiseer as “tradisioneel”.

Ons stamouers het danse en musiek uit verskillende streke in Europa saamgebring. Hierdie danse was oorspronklik volksdanse en plattelands. Hier het dit ingeburger geraak en ‘n eie karakter ontwikkel. Die tydmate is dieselfde, maar Boeremusiek het ‘n eie kenmerkende klank daaraan gegee. Boeremusiek en Boeredanse gaan hand aan hand.

Daar is nie veel inligting oor musiek en dans aan die Kaap van Goeie Hoop tussen 1652 en 1800 nie. Na die Britse Besetting in 1806 het musiekinstrumente meer beskikbaar geword. Boeremusiek is by danse en partytjies gespeel met instrumente wat beskikbaar was. Dansplekke was redelik ver van mekaar af en musiekinstrumente moes vervoerbaar wees. Die viool, en later die konsertina, het min plek gevat en kon maklik vervoer word.

Boeredanse verwys na dansvorme wat gekoppel is aan ooreenstemmende Boeremusiek-wysies. Die verskillende Boeredanse is die wals, seties, polka, masurka, paddika, kadriel, lansers en kotiljons. Elkeen van hierdie danse het ‘n eie tradisie.

Die een dansritme wat oorspronklik en eie is aan die Boerevolk is die vastrap. Die woord vastrap het ‘n idiomatiese betekenis as: moed hou en aanhou. Hoewel die vastrap algemeen is by Boeremusiek, is die dans self nie meer bekend nie. Daar is drie uiteenlopende beskrywings van vastrap as ‘n soort dans. Die eerste is dat dit ‘n soort riel was wat deur een persoon alleen gedans word. Die tweede is dat dit met die “barn dance” ooreenstem en baie populêr was by jongmense. Die derde is dat dit verwant was aan die polka. Die naam vastrap het ook verwys na ‘n dansparty.

Tot omstreeks 1940 was Boeredanse baie populêr by partytjies, troues en ander dansgeleenthede. Ten spyte van sommige kerke se siening dat dans sonde is, het dans ‘n behoefte onder die Boerevolk vervul. Mense het moeite gedoen en groot afstande afgelê om danse by te woon.

Daar is gedans in huise, buitegeboue, skure en selfs op grasperke. By uitsonderlike geleenthede is ‘n saal gehuur. Die dansplek is versier met lanterns, kerse en lampe. Sitplekke was dikwels strooibale, kissies of selfs sakke mielies. Dansplekke se vloere het bestaan uit grond, klei, beesmis, hout, perskepitte en sement. In die ou dae was misvloere algemeen, maar dit was ook stowwerig. Die vloer moes gereeld besprinkel word. Die woorde “balke toe” het beteken die dansers moet aan die balke hang sodat die vloer besprinkel kon word. Die vloere moes ook glad gemaak word. Daarvoor is semels, meel, poeier, seepvlokkies of kersvet gebruik.

Vandat die eerste 78-spoed plate gemaak is, is Boeremusiek opgeneem en het orkeste soos die Vyf Vastrappers, die Vier Transvalers en die Ses Hartbrekers landswyd bekend geword. Met die landswye Groot Trek eeufeesviering in 1938, het Boeremusiek ‘n groot oplewing beleef. Vandag is daar klubs wat die Boeredanse bewaar en beoefen.

Volkspele is iets anders as Boeredanse. Dit het in die 1940’s ontstaan as ‘n georganiseerde poging om tradisionele danse daar te stel. Sweedse volksdanse was die inspirasie en as basis is piekniek-speletjies gebruik. Die eerste danse wat gebruik was, is uit Sweeds vertaal. In 1941 is ‘n handleiding opgestel en die Reddingsdaadbond het by die organisasie daarvan betrokke geraak. Kursusse is aangebied om Volkspele te vestig as ‘n kulturele aktiwiteit.

Van die piekniek-spele wat gebruik is om Volkspele te ontwikkel, was speletjies soos “Siembaba” en “Japie my Skapie”. Kenmerkend van Volkspele is die gebruik van die aanspreekvorms “neef” en “niggie”. Die kleredrag wat voorgeskryf word, is die Voortrekkersdrag van omstreeks 1836. Spesifiek die deftige drag van destyds wat by spesiale geleenthede gedra is.

Boeremusiek en Boeredanse het ‘n kragtige assosiasie met ‘n spesifieke volksgroep. Dit dateer uit ‘n tyd toe hierdie volksgroep internasionaal bekend was as die Boere. Volkspele het ontstaan as ‘n poging om Afrikanernasionalisme te bevorder. Verder was Volkspele (wat veronderstel was om ‘n spel en nie ‘n dans te wees nie) waarskynlik meer aanvaarbaar vir kerke as wat Boeredanse was.

Beide Boeredanse en Volkspele maak aanspraak daarop om ons volk se etniese danse te wees. Kan daar twee wees?

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Wanneer jy jou eie kop wil volg

Aanvanklik, voor ek begin het om op te let, het ek nogal simpatie met koning Saul van Israel gehad. Ek het al ongeduldig geword, oorhaastig gewees, verkeerde besluite geneem. Dit het vir my geklink asof dit Saul se oortredings was en dat hy as gevolg daarvan die koningskap verloor het.

Plaas jou in sy skoene. ‘n Oormag Filistyne was op pad om Israel aan te val. Saul se manne was besig om te dros, party het gaan wegkruip,die res was bewend van vrees. Hy moes iets doen. Die mense het van hom, die koning, verwag om beslissend op te tree. Maar hy moet wag tot Samuel kom, en Samuel sloer om te kom. Dit was ‘n krisis. Het hy nie maar net ‘n menslike fout gemaak nie? Was hy nie dalk net oorhaastig nie? Is hy nie onregverdig behandel nie?

Saul se geskiedenis begin toe Israel ‘n koning wou hê. Die regeringsvorm wat deur YHWH aan hulle gegee was, was ‘n teokrasie. Geen regering deur ‘n koning nie, geen regering deur priesters nie, geen regering deur stamhoofde nie. Slegs God regeer. Dit het wel van tyd tot tyd gebeur dat YHWH vir hulle ‘n rigter gegee het, maar dit was net tydelik en was bedoel om slegs op ‘n sekere situasie van toepassing te wees. Na amper 400 jaar van teokrasie wou Israel toe ‘n monargie hê.

Om ‘n koning te hê is baie duurder as om ‘n rigter te hê. Met ‘n rigter is daar nie ‘n paleis, ‘n staatsdiens, staande mag, raadgewers en personeel nodig nie. ‘n Koning sal dit alles nodig hê en sal ook vergoeding moet ontvang. Gevolglik sal die koning belasting moet instel om die koste van regering te dek.

YHWH het voorsien dat dit mag gebeur en het in Deuteronomium 17:14-20 Sy vereistes gestel waaraan ‘n toekomstige koning moet voldoen. Ten eerste mag die koning nie ‘n uitlander wees nie. Tweedens mag hy nie homself verryk met baie perde, baie vroue, baie silwer en goud nie. Derdens moet hy ‘n afskrif van die wet maak deur dit in ‘n boek te skryf. Ten laaste moet hy sy lewe lank die Bybel (toe was dit seker net die eerste 8 boeke van die Ou Testament gewees) gereeld lees.

Hoe vind jy iemand uit jou eie volk om koning van die volk te word? Dit is ‘n permanente aanstelling, ‘n koning kan nie weer afgedank word nie. As ‘n monargie eers ingestel word, is dit oorerflik en sal die koning se kinders hom opvolg. Al is die volk tevrede met die huidige koning, mag sy opvolgers dalk glad nie soos hy wees nie.

Daar is op 3 maniere bevestig dat Saul die keuse vir koning was. Hy was YHWH se keuse en YHWH het dit aan Samuel, die laaste rigter, gesê. 1 Samuel 9:17: Toe Samuel vir Saul sien, het die HERE hom geantwoord: Hier is die man van wie Ek jou gesê het: Hy sal oor my volk heers. Tweedens moes Saul oortuig word dat hy inderdaad YHWH se keuse vir die koningskap is. Samuel gee aan Saul drie tekens wat sy keuse as koning sal bevestig. Laastens moet die volk oortuig word dat Saul die regte persoon vir die koningskap is. Deur die lot is almal uitgeskakel todat Saul alleen oorgebly het. 1 Samuel 10:24: En Samuel sê aan die hele volk: Sien julle hom wat die HERE uitgekies het? Want daar is nie een onder die hele volk soos hy nie. Toe juig die hele volk en sê: Mag die koning lewe!

In 1 Samuel 10:8 het Samuel die volgende opdrag aan Saul gegee in geval van oorlog: En jy moet voor my uit na Gilgal afgaan, en kyk, ek sal na jou afkom om brandoffers te offer, om dankoffers te slag; sewe dae lank moet jy wag, totdat ek by jou kom en jou bekend maak wat jy moet doen.

Blykbaar het daar niks noemenswaardig gebeur in die eerste jare van Saul se bewind nie. Sy seun Jonatan het ‘n volwasse man geword en was een van die aanvoerders van Saul se staande mag van 3,000 man. Dit was dan ook Jonatan en sy 1,000 man wat die eerste aanval teen die Filistyne geloods het. 1 Samuel 13:3-4: En Jónatan het die wagpos van die Filistyne verslaan wat in Geba was, en die Filistyne het dit gehoor. Daarop het Saul op die ramshoring laat blaas in die hele land om te sê: Laat die Hebreërs dit hoor! En die hele Israel het hoor sê: Saul het die wagpos van die Filistyne verslaan, en ook het Israel homself gehaat gemaak by die Filistyne. So is dan die manskappe opgeroep agter Saul aan na Gilgal toe. Saul het die eer van Jonatan vir homself gevat. 

Saul het die reserviste opgeroep en hulle moes by Gilgal aanmeld. In 1 Samuel 13:5-14 word vertel wat gebeur het en waar Saul gefaal het. Saul was onder groot druk. ‘n Groot mag Filistyne was in aantog. Die Israeliete het hulle wit geskrik, hulle dros en kruip weg. Die wat oorgebly het, was bewend van vrees. Saul het 7 dae lank gewag, maar Samuel kom nie. Hy kon nie langer wag nie, en offer toe self die brandoffer en dankoffer. Net toe daag Samuel op. Saul se verduideliking is nie vir Samuel aanvaarbaar nie. 1 Samuel 13:13: Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die HERE jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die HERE jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het.

Wat was nou so erg hieraan? Goed, hy het nie Samuel se opdrag uitgevoer nie, maar hy was onder groot druk. Wat moes hy doen as Samuel glad nie opdaag nie? Hierdie opdrag van wag vir sewe dae was nie net ‘n opdrag van Samuel nie, dit was ‘n opdrag van YHWH. Saul was dus ongehoorsaam aan YHWH. Slegs die priesters was toegelaat om offers aan YHWH te bring, die koning mag dit nie gedoen het nie. Saul het die offers onteer. Saul het skynbaar gedink dat die offers net ‘n seremonie was. Hy het nie veel gedink oor die betekenis daarvan nie. Het hy ooit die wet, wat hy moes ken, gelees? Het hy gedink hy en sy soldate sal die oorlog in eie krag wen, dat YHWH se hulp nie nodig is nie? Saul het nie op YHWH vertrou nie. Saul het nie goeie oordeel gebruik nie. Saul was ‘n dwaas.

Hierna was dit afdraend vir Saul. In 1 Samuel 14 lees ons van die nuwe laagtepunte in sy koningskap. Hy stuur sy manne teen die vyand sonder dat hulle mag eet. Hy hou ook die Verbondsark by hom op die slagveld.

Dan kom ons by die heel ergste in 1 Samuel 15. Israel veg teen Amalek. YHWH gee duidelik opdrag aan Saul wat hy moet doen. Saul doen dit nie. Vir sy oorwinning oor Amalek rig hy ‘n gedenkteken vir homself op. Ergste van alles, hy sê aan Samuel dat hy YHWH se opdrag uitgevoer het. Dit was opsigtelik onwaar. Hoekom doen hy dit? Sê hy maar net so om Samuel tevrede te stel of glo hy werklik dat hy die opdrag uitgevoer het? Dit is verstaanbaar as iemand oor iets lieg en hy weet hy lieg. Dit is ‘n heel ander saak as iemand lieg en hy glo sy eie leuen.

So het dit gebeur dat ‘n man wat in sy jeug groot belofte ingehou het, te gronde gegaan het. Hy het nie vir YHWH ernstig opgeneem nie.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerevolk van Suidwes

Een van my oumagrootjies was ‘n Dorslandtrekker. Ek het lank gesoek na inligting oor haar, en ek meen ek het haar opgespoor onder die oorlewendes van die rampspoedige tweede Dorslandtrek. Dit was die trek wat bestempel is as “the most painful chapter in the whole history of the Afrikaner race“.

Reeds in 1738 het die eerste blanke pioniers hulle oorkant die Oranje, in die latere Suidwes-Afrika, gevestig. In 1786 het sewe gesinne hulle naby Keetmanshoop gevestig. Ander klein groepe het voor 1870 hulle ook daar gevestig. Die Dorslandtrekkers het eers na Angola getrek, maar later verhuis na Suidwes-Afrika.

Wanneer daar van die Dorslandtrek gepraat word, word daar verwys na ‘n reeks trekke uit die Transvaal, deur die Kalahari, tot in Angola. Hierdie trekke het tussen 1874 en 1927 plaasgevind. Die “dorsland” is die sentrale deel van die Kalahari.

Een van die redes vir die trekke was godsdienstig van aard. President T.F. Burgers was ‘n Vrymesselaar en sy regering was gesien as ongodsdienstig en liberaal. Die predikante van veral die Gereformeerde Kerk se leierskap was gebrekkig en bedenklik. ‘n Gedeelte van die trekkers was “Jerusalemgangers” wat geglo het hulle moet aanhou trek totdat hulle Jerusalem bereik het. Profete, visioene en drome het ‘n belangrike rol gespeel in besluitneming. Nog ‘n rede was dat daar teen 1890 nie meer grond beskikbaar was in Transvaal nie. Daar word gesê die meerderheid Dorslandtrekkers was welaf en leiers in die gemeenskap, maar was ook bywoners as gevolg van die min grond.

Die eerste drie trekke was tussen 1874 en 1877 toe omtrent 700 mense plus hulle arbeiders die Transvaal verlaat het. In 1881 het hulle in Angola aangekom en hulle daar gevestig. Die eerste trek van 60 mense het groot veeverliese gelei. Die tweede trek was omtrent 600 mense. As gevolg van swak beplanning en twiste tussen leiers het alles verkeerd geloop en het hulle ongekende lyding beleef. Dors, malaria en tsetsevlieë het hulle geteister. Een van die probleme was dat hulle nie in klein groepe getrek het nie, en dus nie die waterputte toegelaat het om weer nuwe water te kry nie. Los beeste het weggehol en wanneer die mense by die putte kom, moes hulle eers dooie beeste uithaal voor hulle kon water kry. Party mense het skape keelafgesny om bloed vir hulle kinders te gee om hulle dors mee te les. Panne is deur die beeste tot modder getrap en die mense moes probeer om vog uit die modder te suig vir die dors. Sterftes was nie direk van dors nie maar hoofsaaklik weens malaria. Die derde trek het uit 40 mense bestaan. In 1878 het die drie groepe verenig. Na hulle ‘n ruk lank by Etoshapan en Kaokoland oorgestaan het, het hulle na Angola getrek. Slegs 370 persone het hul bestemming bereik. Omtrent 230 het gesterf en die res het teruggekeer Transvaal toe.

In 1884 het sommige Dorslandtrekkers besluit om Angola te verlaat. Dit was of terug Transvaal toe, of vestiging in Suidwes-Afrika. In 1885 het hulle grond in Grootfontein bekom. Hier het hulle die Republiek van Upingtonia gestig. Die mense het aanvanklik bymekaar gebly en hutte rondom die fonteine by Grootfontein bewoon. Later het hulle hartbeeshuisies gebou. In laagliggende gebiede het hulle koring, mielies en tabak verbou. Na ‘n aantal moorde deur Herero’s en voortdurende aanvalle deur Boesmans (San), is Upingtonia se naam verander na Lydensrust. Malaria was steeds ‘n probleem. Hoewel hulle in 1886 onder Duitse beskerming gekom het, het dit niks beteken nie omdat daar nog nie beskermingstroepe was nie. Teen 1887 het etlike mense Grootfontein verlaat. Sommiges het hulle op Omaruru gevestig as transportryers.

Die wat in Angola gebly het, het hulle op die waterryke hoogland by Humpata gevestig. In 1883 was daar 325 blankes en 43 swart arbeiders. Mettertyd het party hulle op ander plekke gaan vestig en klein Boeregemeenskappe gevorm. Hulle het ‘n bestaan uit landbou, transportry en jag gemaak.

Die vierde trek was ‘n klompie kleiner trekke wat verenig het en in 1892 in Humpata aangekom het. Die vyfde trek het in 1893 in Humpata aangekom.

Hoewel Upingtonia nie meer bestaan het nie, het Grootfontein die basis gevorm vir die vestiging van nog Boere. Die gebied het in 1892 behoort aan die Suidwes-Afrika Maatskappy. Die maatskappy was die Boere goedgesind en wou hulle graag daar hou. Die Boere was toegelaat om grond te koop en te betaal met kontant of plaasprodukte. Die Boere moes hulle verbind tot permanente vestiging, militêre diens en hulle moes Duitse burgers word. Nadat die moerasse gedreineer is, het Grootfontein meer geskik geword vir bewoning. In 1899 het Grootfontein ‘n eie distrik geword.

Die sesde trek het in 1893 begin. Een groep was onder die leierskap van die bekende kommandant J.M. Lombard. 100 gesinne het getrek, 70 na Angola en die res na Suidwes-Afrika. Die wat na Angola is, het in die sentrale dele gaan woon. Hulle het min kontak met die Boere in Humpata gehad. Die sewende trek was in 1905 en het uit 31 volwassenes en 27 kinders bestaan. Van 1880 tot 1927 was daar kleiner trekke en individue wat hulle by die Boere in Angola aangesluit het.

Na die Anglo-Boereoorlog het ‘n aantal individue na Angola verhuis. Hulle was meestal enkellopende mans wat alles in die oorlog verloor het. Van die Boere het na die oorlog nie kans gesien om Britse onderdane te wees nie. Hulle het hul in Suidwes-Afrika, wat toe ‘n Duitse kolonie was, hervestig. Een van hulle was genl. Andries de Wet. Hy het hom beywer vir ‘n georganiseerde vestiging van Boere in Duits-Suidwes-Afrika. Met die Eerste Wêreldoorlog het hy die Vrykorps gestig om Duits-Suidwes-Afrika teen die Britsgesinde  Suid-Afrika te beskerm. Die Vrykorps het dan ook met die leiers van die Rebellie saamgewerk. In later jare het hy hom beywer vir die repatriasie van die Boere in Angola na Suidwes-Afrika.

In 1928 het die Boerebevolking besluit om Angola te verlaat. In 1929 is die oorgrote meerderheid na Suidwes-Afrika gerepatrieer. Hulle word gevestig op plase in die omgewing van Gobabis, Aranos, Grootfontein en Otjiwarongo. Hulle was geprys vir hulle christelike lewenswaardes en die suiwer gebruik van hulle taal. Die omtrent 400 mense wat agtergebly het, is in 1958 na Suid-Afrika en Suidwes-Afrika gerepatrieer.

Die leiers van Suid-Afrika het die Boerevolk van Suidwes-Afrika in die steek gelaat en in 1990 word Suidwes-Afrika die onafhanklike staat Namibië. Afrikaanse kultuurorganisasies het oornag uit Suidwes-Afrika onttrek. Daar was nie meer Afrikaanse skole nie. Die getalle van die Boerevolk het erg gekrimp. Erfenisterreine het verlate geword.

Die oorblywende Boere in Namibië het daarop hul eie kultuurorganisasies gestig, hul eie erfenisplekke gebou en hul eie helde ontwikkel. Hulle het ook hul eie simbole. Hulle is nie meer die “vyfde provinsie” van Suid-Afrika nie, hulle staan op hul eie voete.

Dit is merkwaardig dat die Boerevolk, ten spyte van al die trekkery en die ver uitmekaar woon, bitter min van mekaar verskil. Uiterlik is daar verskille, maar innerlik is ons een volk. Indien dit sou gebeur dat die Boerevolk verenig word, sal ons oor heelwat sake moet herbesin. Byvoorbeeld, nie almal sal die ou ZAR-vierkleur as hulle vlag erken nie. Nie almal sal “Die Stem van Suid-Afrika” wil sing nie.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Gideon en sy bende

Lees enige iemand die Bybelboek Rigters? Dit wil sê in die regte Bybel, nie in die Kinderbybel nie. Is daar nut in om Rigters te lees? Is dit nie maar net mooi stories vir Sondagskool nie?

Van die begin van Rigters af tot waar Saul koning oor Israel geword het, was 346 jaar. Elke stam het in sy eie gebied, wat deur YHWH aan hulle toegeken is, gewoon. Die regeringstelsel wat in hierdie tyd in Israel in gebruik was, was ‘n teokrasie. Dit het beteken dat YHWH die alleenheerser oor hulle was. Daar word by herhaling in die boek gesê: In dié dae was daar geen koning in Israel nie. Rigters was nie konings nie, ook nie priesters nie en ook nie regters nie, hulle was militêre leiers.

Voordat Israel die land Kanaan verower het, was dit YHWH se opdrag dat Israel die mense wat toe daar gewoon het, heeltemal moet verdryf. Deuteronomium 20:16-18 gee die redes: Maar van die stede van hierdie volke wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, moet jy niks wat asem het, laat lewe nie. Maar jy moet hulle heeltemal met die banvloek tref: die Hetiete en Amoriete, die Kanaäniete en Feresiete, die Hewiete en Jebusiete, soos die HERE jou God jou beveel het; sodat hulle julle nie leer om te handel volgens al hulle gruwels wat hulle vir hul gode gedoen het, en julle teen die HERE julle God sondig nie. Dit het Israel nie gedoen nie. Hulle was verdraagsame mense en het  in godsdiensvryheid geglo.

Ons lees in Rigters 3:5-7: So het die kinders van Israel dan onder die Kanaäniete, Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete gewoon, en húl dogters vir hulle as vroue geneem en hulle eie dogters aan húl seuns gegee en hul gode gedien. En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en die HERE hulle God vergeet en die Baäls en die heilige boomstamme gedien.

Waar hulle wel hierdie volke verslaan het, het Israel verkies om eerder oor hierdie mense te regeer as om hulle uit die land te verdryf. Die gevolge van hierdie versuim om YHWH se opdragte uit te voer, het hulle vir geslagte lank geteister. Wat een geslag duld sal die volgende geslag omhels.

So het dit met Israel gegaan: Dien afgode, word verslaan deur vyande, pleit by YHWH om genade, YHWH wek ‘n rigter op, die rigter verslaan die vyand. Dit gaan ‘n rukkie goed, dan herhaal alles weer. Dit is nie elke keer die hele Israel nie, dit is miskien net een stam. En elke keer ‘n ander rigter. As ek reg tel, was daar altesaam 15 rigters.

In die tyd van Gideon het dit ook so gegaan. Die nuwe geslag het weer in afgodery verval en YHWH stuur toe die Midianiete teen hulle. Elke jaar met oestyd val die Midianiete Israel binne op kamele en roof die oeste en plunder wat geplunder kan word. Dan klim hulle op hulle kamele en gaan huis toe. Tot volgende jaar. Toe die noordelike stamme YHWH om hulp smeek, stuur Hy eers ‘n profeet om hulle te onderrig. Die profeet vertel hulle die geskiedenis, van YHWH se wonderdade en van die verbod op afgodery. Hulle moet eers weet waarom hulle verdruk word.

Sover ons weet, verskyn YHWH vir die eerste keer sedert Moses weer aan ‘n mens, naamlik Gideon. Gideon se sterk punt was sy oortuiging dat YHWH wonderwerke doen. Die Engel van YHWH gee aan Gideon ‘n teken om sy roeping te bevestig. Gideon se eerste taak is die uitroei van afgode aanbidding. Om dit te doen, moet hy teen sy eie vader optree. Dit moet hy doen terwyl hy steeds sy vader respekteer en eer. Almal is kwaad vir Gideon en die mans van die stad wil hom doodmaak. Gideon wil graag seker wees dat hy YHWH reg verstaan en vra ‘n teken as bevestiging dat YHWH vir hulle sal veg.

Die oorlog wat volg is nie tussen Israel en Midian nie, dit is tussen YHWH en Midian. Midian is 135,000 man sterk. In Rigters 7:2-4 verminder YHWH Israel se troepe: Toe sê die HERE vir Gídeon: Die manskappe by jou is te veel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te sê: My eie hand het my verlos. Roep dan nou tog uit voor die ore van die manskappe en sê: Die wat bang is en bewe, kan teruggaan en wegdraai van die gebergte van Gílead af. Toe het daar van die manskappe twee en twintig duisend omgedraai, en tien duisend het oorgebly. Daarop sê die HERE vir Gídeon: Die manskappe is nog te veel; bring hulle af na die water, dan sal Ek hulle daar vir jou uitsoek; en van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag met jou saamgaan—dié mag met jou saamgaan; maar elkeen van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag nie met jou saamgaan nie—dié mag nie gaan nie. Daar bly toe 300 oor. YHWH het 1 soldaat vir elke 450 Midianiete. Die Midianiete is toegerus met oorlogswapens, die 300 Israeliete het elkeen ‘n kruik met ‘n fakkel en ‘n ramshoring.

Die Midianiete het onrustig begin word na een van hulle ‘n slegte droom gehad het. Die slag word beskryf in Rigters 7:20-23: Toe blaas die drie dele op die ramshorings en breek die kruike en hou met hulle linkerhand die fakkels en met hulle regterhand die ramshorings om te blaas, terwyl hulle uitroep: Die swaard van die HERE en van Gídeon! En hulle het bly staan elkeen op sy plek, rondom die laer. Daarop hardloop die hele laer, en hulle skreeu en vlug. En toe die drie honderd op die ramshorings blaas, het die HERE die swaard van die een teen die ander gerig, ja, in die hele laer; en die laer het gevlug na Bet-Sitta, na Seréda toe, tot by die oewer van Abel-Mehóla by Tabbat. En die manskappe van Israel uit Náftali en uit Aser en uit die hele Manasse is opgeroep, en hulle het die Midianiete agternagejaag.

Mens sou dink dat al die Israeliete nou sal saam staan en die Midianiete heeltemal verdryf. Dit het nie gebeur nie. Van hulle het dwars getrek, ander weer het gedink dat Gideon die vyand was. Nadat Gideon hulle gedissiplineer het, vra die Israeliete hom om hulle koning te wees. Dit vind ons in Rigters 8:22-23: Daarop sê die manne van Israel vir Gídeon: Heers oor ons, u sowel as u seun en u kleinseun, want u het ons verlos uit die hand van die Midianiete. Maar Gídeon antwoord hulle: Ek wil nie oor julle heers nie, en ook my seun mag nie oor julle heers nie: die HERE sal oor julle heers. Hulle het die eer aan ‘n mens gegee, nie aan YHWH nie. Gideon was ‘n held en gewild by die vroue. Hy was ook die vader van baie kinders.

Dit is maar treurig as iemand nie in wonderwerke glo nie. Dan glo hy ook nie in ‘n klomp ander goed nie. Hy glo nie die Bybel nie, hy glo nie in Yeshua die Gesalfde se opstanding nie. So ‘n persoon het eintlik geen hoop nie. In ons eie volksgeskiedenis is daar ook gebeure wat ons as wonderwerke beskou. Ons sal ook net uit ons huidige situasie ontkom deur wonderwerke.

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin