Die haatveldtog teen President Burgers

Vir baie mense sal dit vreemd klink as ons President Thomas Francois Burgers ‘n Boereheld en groot Boereleier noem. Hy was dit. Hoekom sal dit dan vreemd klink? Want hy word swart gesmeer deur sy eie mense. Nie net sy tydgenote nie, vandag nog steeds. Hy word vals beskuldig as ‘n liberalis, ‘n vrymesselaar, ‘n verraaier en ‘n swakkeling. In werklikheid was hy ‘n skrander en talentvolle man wat die fluit bespeel het, hy het met sy skryfwerk uitgemunt, hy was ‘n goeie spreker en het ‘n fyn humorsin gehad. En hy was sy tyd ver vooruit.

Thomas Francois Burgers was ‘n Boerseun, gebore 1834 in Graaff-Reinet. Hy het op Graaff-Reinet groot geword en skool gegaan. Na skool het hy in Nederland vir predikant studeer en verwerf daar sy doktorsgraad. Hy is in 1858 getroud met ‘n Skotse meisie en in dieselfde jaar word hy leraar van die NG Kerk Hanover. Burgers het hom teen die oppergesag van sy kerk se formuliere en geloofsleer verset en eerder verkondig wat in die Woord van God staan. In sy eie gemeente was hy besonder gewild en was gereken as ‘n goeie prediker.

Sy eerste probleme met die Kaapse NG Kerk het begin, voor hy nog ‘n gemeente gehad het, oor sy  “onaanvaarbareˮ fluitspelery. In 1861 is hy aangespreek omdat van sy gemeentelede, vervul met die Heilige Gees, al singend deur Graaff-Reinet se strate gery het. In 1862 is ‘n formele klag teen hom ingebring deur iemand wat hom nog nooit gesien of gehoor het nie. Hierdie klag is nie op die manier wat die kerkwet voorskryf, hanteer nie. Hierna volg ‘n lang reeks ongerymdhede in die hantering van die klag. Uiteindelik is Burgers in 1864 skuldig bevind omdat hy bepalings van die belydenisskrifte sou oortree het en is as predikant geskors.

Burgers het die saak na die hooggeregshof geneem. Die hooggeregshof bevind in 1865 dat die Sinode se vonnis van nul en gener waarde is en dat die kerk al die regskostes moes betaal. Die Sinode appelleer na die Privy Council in Londen. In 1867 gee die Privy Council uitspraak ten gunste van Burgers. Die Sinode wou hulle nie daarin berus nie en wou die Koningin van Engeland nader, maar regsadvies het bevind dat hulle geen gronde het nie. Met die Sinodesitting van 1870 was dit duidelik dat daar twee kampe in die kerk was. Na heftige argumente is met 52 teen 44 stemme besluit om Burgers weer tot die kerk toe te laat.

Die groot vyandskap teen Burgers het blykbaar van die teoloë van Stellenbosch gekom. Hy is beskuldig dat hy liberale teologie aanhang en dat hy met die rasionalisme besmet is. Daar is geen duidelike bewyse hiervoor gelewer nie. Daar was klaarblyklik ‘n persoonlike vendetta teen hom.

In hierdie tyd van vervolging begin hy skryf. Hy skryf sketse oor sy ondervindings en waarnemings. Die sketse getuig van sy besondere talent om te hekel sonder om simpatie met die gehekeldes te verloor. Hy skryf Nederlands maar die dialoog was in die spreektaal, Afrikaans. Sy sketse gee aan die leser ‘n kyk op die kultuur en gebruike in sy tyd. Vandag word sy skryfwerk beskou as ‘n hoogtepunt van sy tyd se prosa.

Thomas Francois Burgers was nie onbekend in die Transvaal nie. Die Transvalers het nie ooghare vir die Kaapse Kerk gehad nie. Die Kaapse Kerk het die Voortrekkers onder tug geplaas. Burgers het in 1871 die Transvaal besoek en by etlike gemeentes van die Hervormde Kerk eredienste gelei. Met sy Schetsen uit de Transvaal het Burgers goed gepraat van die Transvalers, hulle kerk en hulle toekomsmoontlikhede.

In 1871 was daar ‘n ernstige politieke krisis in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Dit het ontstaan as gevolg van die diamantvelde aan die Wesgrens. Daar was verskeie volksraadslede wat aangedring het dat President M.W. Pretorius ontslaan moes word. Pretorius het oneervolle ontslag vrygespring deur self te bedank. Die Volksraad het D.J. Erasmus as waarnemende staatspresident aangewys. ‘n Vereiste is gestel dat ‘n nuwe president bekwaam moes wees om die Britse Diplomasie die hoof te bied. Omdat dit twyfelagtig was dat daar binne die republiek ‘n geskikte persoon gevind sou word, is die grondwet gewysig om dit moontlik te maak dat nie-burgers as president verkies kan word. Moontlike kandidate was Theophilus Shepstone van Natal, hoofregter Harding van Natal, die Vrystaatse president Jan Brand en dr. T.F Burgers van Hanover. Uiteindelik was die keuse tussen Burgers en William Robinson met Burgers wat, in 1872, met ‘n oorweldigende meerderheid verkies is as die nuwe president.

Daar was etlike ernstige sake wat die dringende aandag van die nuwe president vereis het. Daar was die krisis op die Wesgrens. Die land se finansies was in ‘n haglike toestand en daar was min ekonomiese vooruitsigte. Die onderwys was in ‘n treurige toestand. Swartes binne die land was gereeld opstandig. Dan was daar die Britse koloniale ambisies om te hanteer.

Burgers se oplossing vir die diamantveld krisis was om direk met die Tswana stamleiers te onderhandel. So het hy die Keate-uitspraak ongedaan gemaak. Die vorige president, M.W. Pretorius, en sy tesourier-generaal het glad nie geweet wat met die land se finansies aangaan nie. Daar was geen rekordhouding nie. Burgers het ‘n lening by die Cape Commercial Bank gemaak om die waardelose note en skuldbriewe te vervang. Die ontdekking van goud by Lydenburg het gehelp om die land se ekonomie te verbeter. Die eerste Burgersponde is in 1874 geslaan. Die grootste enkele uitgawe van die ZAR was die betaling van kommandolede. Burgers was verplig om dit te staak. Hieroor was daar groot ongelukkigheid. Om die onderwys te standardiseer en uit te bou het Burgers die kerkskole vervang met Staatskole. Daarmee het hy die vyandskap van sommige predikante op die hals gehaal. Die probleme wat die ZAR met swartes gehad het, het die voortbestaan van die staat bedreig. Daar was groot druk uit die buiteland deur antislawerny groepe. Die Paswet, wat voor Burgers se termyn opgestel is, het nie gewerk nie. Hy het gemeen die Britte kan dit teen die ZAR gebruik in die diamantveld krisis.

Burgers het die eerste museum, biblioteek, botaniese tuin en gimnasium in die ZAR gevestig. Burgers het besef dat ‘n Boerekoerant nodig is en het met Jan Celliers ooreengekom om De Volkstem in Pretoria uit te gee. President Burgers en die volksraad was ten gunste van ‘n verandering van die landsvlag en landswapen, maar die burgers nie.

President Burgers wou toegang tot ‘n nie-Britse hawe hê en het Europa besoek om geld te leen vir die bou van ‘n spoorlyn na Delagoabaai. Die Britte het alles in hul vermoë gedoen om Burgers in Europa te diskrediteer. Die spanning hieroor het sy gesondheid geknou. In 1876 het die firma Insinger ingewillig om die geld aan die ZAR te leen en is die Lebombo Spoorwegmaatskappy gestig.

Britse wapensmokkelaars het 400,000 gewere aan swart stamme verkoop. Delwers in die Lydenburg omgewing het in konflik met die swart hoofman Sekhukhune gekom. Die Britse regering het na geleenthede gesoek om die ZAR te annekseer. Toe die Sekhukhune-oorlog uitbreek, was Burgers in Europa. Die waarnemende president wou nie die verantwoordelikheid op hom neem nie. Toe Burgers terug is, gee die volksraad hom opdrag om die oorlog te beëindig. Die kommandos het steeds vir Burgers verkwalik dat hy hulle vergoeding weggeneem het en het geweier om te help. Die oorlog kon ook die planne vir ‘n spoorlyn verongeluk. Uit desperaatheid het Burgers verbande op sy plase in die Richmond omgewing gaan uitneem om huursoldate te kry om die oorlog te beëindig. Burgers het persoonlik die leiding geneem en Sekhukhune tot oorgawe gedwing.

Burgers het by verskeie geleenthede die volksraad gewaarsku oor Brittanje se anneksasieplanne. Hulle het hom nie ernstig opgeneem nie en dit as bangmaakstories afgemaak. In 1877 daag Shepstone met 25 polisiemanne en 8 amptenare in Pretoria op, kwansuis om griewe te bespreek. Ten spyte van Burgers se protes, word die Transvaal as Britse gebied geannekseer. Vir Burgers was dit ‘n persoonlike ramp, hy was verarm omdat hy sy persoonlike bates moes verpand ten einde sy land te help. Die Britte het onderneem om aan hom ‘n jaarlikse pensioen van £500 te betaal mits hy wegbly uit die Transvaal. Dit is laat betaal en ook net vir ‘n kort tydjie. Hy kon nie werk kry nie en hy en sy gesin swerf rond in uiterste armoede. Verder is hy ernstig siek met inwendige bloeding en in een oog bykans blind. Hy probeer om op gehuurde grond te boer maar is nie suksesvol nie. Hy sterf in 1881 op 47-jarige ouderdom. Sy weduwee, Mary Burgers, is verarmd en verneder deur haar man se volk. Sy gaan egter voort om haar kinders op te voed om trou te wees aan sy volk. Tydens die Anglo-Boere Oorlog sluit haar seuns as vrywilligers aan by die Boerekommandos en haar dogters dien as verpleegsters by Boere-ambulanse.

Burgers se vyande het, na anneksasie, tot hulle eie voordeel by die Britte ingeskakel. In later jare verstaan Paul Kruger vir Burgers. Hy volg in ‘n groot mate dieselfde beleid as Burgers. In 1895 laat hy Burgers se stoflike oorskot met eerbewys in Pretoria herbegrawe. Hy het nie toegelaat dat daar in sy teenwoordigheid afbrekende aanmerkings oor Burgers gemaak word nie. Kruger sou van Burgers gesê het:  “Hij had zijn Land en Volk erg lief, maar was zijn tyd ver vooruit.”

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui