Daar staan ‘n huis op die voorposte

Die Boerevolk het allerlei goed wat eie aan ons is en waarna ons met trots kan wys. Die vraag is of die Boerevolk ook ‘n eie huisbou-styl ontwikkel het as deel van ons kultuur. Het ons ‘n eie unieke boustyl wat nêrens anders voorkom nie? Die probleem is dat die Britte tydens die Anglo-Boereoorlog ‘n groot deel van ons erfenis afgebrand het. Gevolglik is daar min voorbeelde in die Vrystaat en Transvaal van ‘n eiesoortige huisbou-styl.

Hoe ‘n volk se bouwerk lyk, wys ook iets van die volk se karakter – wie hy is en waar hy vandaan kom. ‘n Volksboustyl het uit ‘n sekere volk ontwikkel om aan praktiese behoeftes, in ‘n bepaalde tydvak en omstandighede, te voldoen. Dit volg nie die style wat elders in gebruik is nie, dit volg ook nie die modes nie, en dit volg ook nie die nuutste boumetodes nie. Daar is ‘n verskil tussen welgestelde mense se argiteksontwerpte huise en huise wat self gebou word met materiaal wat plaaslik beskikbaar is.

Die eerste huise aan die Kaap was tydelike plankhuise. Later was daar Kaapse kothuise met een deel die kombuis en sitkamer en die ander deel die slaapvertrek. Dit was van klei of klip, het dik mure gehad met rietdakke. Hierdie styl was die voorloper vir die Kaaps-Hollandse styl. Die Kaaps-Hollandse styl het teen die einde van die Kompanjiestydperk ontwikkel. Welvarende mense aan die Wes-Kaap het argitekte gehuur en swierige wonings opgerig. Kenmerkend van hierdie styl is die Nederlandse gewel, groot vensters met klein ruite, bolig, staldeur, luike, houtwerk groen geverf, staandak en die huis naby aan die hoofweg.

Op die voorposte in die binneland is hierdie styl nie nagevolg nie. Die pioniers het, by aankoms op ‘n nuwe plek, net tydelike huisvesting opgerig – hulle het nie eiendomsreg op die grond gehad nie. Aanvanklik was die wa die woning. Dan is ‘n kookskerm gebou met pale in die grond en toegemaak met lang gras en velle. Binnekant die skerm is klei teen die pale gegooi en glad gepleister. Droë velle is gebruik vir die deur.

Wanneer hulle lank op een plek gebly het, het hulle hartbeeshuise gebou. (Die naam kom waarskynlik van harde+bies+huis). Die afmetings van die beplande huis is op die grond geteken, dan is vore al met die buitelyn gegrawe. Binne die vore is lang slap pale geplant. Die twee rye pale se bopunte is na mekaar toe gebuig en aan mekaar vasgemaak. Dit was die kantmure en dak. Tussen die pale is kleiner latte ingevleg om die mure te vorm. Dit is dan met klei bedek. Bolangs is harde biesies en gras gebruik as dekking. Sommige hartbeeshuise het regop mure gehad met ‘n aparte gras- of rietdak. Binne is dit dan verdeel in slaapkamers en voorhuis, met die kookskerm buite. ‘n Hartbeeshuis was vinnig om te bou maar nie baie sterk nie.

Wat maak mens as jy op ‘n plek is waar daar nie bome en biesies is nie? Dan bou jy ‘n kleihuis. Daar word ‘n voor gegrawe vir die fondament, dit word met klippe opgevul. Die mure word bo-op met klein klippe en klei gebou. ‘n Alternatiewe boumetode was om lae klei bo-op die fondament te bou. Die klei is gemaak van grond en beesmis en word getrap tot dit soos ‘n deeg is. Miershope is gebruik om ‘n klei te maak vir die vloer. Die vloer is dan met beesmis gesmeer. As daar nie gras vir ‘n grasdak was nie, is ‘n platdak opgesit. Die platdak het ‘n helling gehad sodat reënwater kan afloop. Die platdak is gemaak van pale wat teen mekaar gepak is en toegesmeer is met klei. Nog ‘n manier was om roustene te maak en daarmee te bou. Houtkissies word gemaak waarin gebreide klei gedruk is. Dit word dan gelos tot dit goed droog is en gebruik om mure te bou.

Sommige pioniers het dadelik ‘n permanente huis gebou. Die ander het eers vir ‘n ruk in ‘n tydelike huis gebly en dan later ‘n permanente huis gebou. Die boumateriaal het gewissel volgens wat in die omgewing beskikbaar was. Gewoonlik het die eienaar self die huis ontwerp en gebou.

Voordat ‘n plaashuis gebou kon word, moes daar besluit word waar op die plaas die werf gaan wees. Die werf bestaan nie net uit die huis nie, maar daar is ander geboue – soos waenhuis en skure – ook nodig. Die beskikbaarheid van water was die belangrikste oorweging van waar die werf uitgelê gaan word. Die helling van die grond was ook belangrik vir die afloop van reënwater. Dikwels is die geboue op die werf so geplaas dat dit vir verdediging gebruik kon word.

Die Diepkloof Plaasmuseum (Suikerbosrand Natuurreservaat, Heidelberg, Transvaal) is die oorspronklike werf en geboue wat ‘n Marais-gesin in die 1850’s opgerig het. Die plaas was een van die min wat nie tydens die Anglo-Boere Oorlog afgebrand is nie. Dit is gerestoureer tot so na moontlik aan die oorspronklike. Die geboue is die hoofhuis, ‘n tweede huis vir die oudste seun, ‘n skool en ‘n waenhuis met ‘n werkswinkel. Voor die geboue is ‘n stroompie met ‘n klein dammetjie. Daar is ‘n tuin, ‘n vrugteboord en krale – almal met klipmure rondom. Vir my onkundige oog lyk die boustyl soos die Karoo-boustyl.

Omtrent 1873/74 het Paul Kruger, die latere president van die ZAR, ‘n verdiepinghuis op sy plaas Boekenhoutfontein (naby Rustenburg) gebou. Eenvoudige boumetodes en materiaal uit die omgewing is gebruik. Die mure is dik en ru afgewerk, die vloere was perskepitte en in ‘n ander deel beesmis en bloed. Die huis het ‘n portaal, voorhuis, kombuis, drie slaapkamers, kelder en solder. Ander geboue was ‘n waenhuis, buitegeboue, varkhok en lemoenboord. Die huis word beskryf as Karoo-styl en is vandag ook ‘n museum.

Vir ‘n dorpshuis was leiwater belangrik. Daarvoor is kanale aangelê en was daar ‘n waterfiskaal aangestel om leibeurte te administreer.  ‘n Dorpshuis het gewoonlik aan die straat gegrens en die groot agterplaas was gebruik vir tuine. Die sakedeel was uitgelê op die droë erwe. Daar was plek gemaak vir ‘n kerk, winkel, poskantoor, polisie, landdros en skool. Daar was ook ‘n kerkplein waar waens parkeer kon word. Die markplein was vir produkverkope en die dorpsmeent was die openbare weiveld.

Die Karoo het nie deurgeloop onder die verskroeide aarde taktiek van die Britte nie. Daar staan nog baie ou huise wat deur pioniers gebou is. Hierdie huise is van natuurlike materiale soos roustene, klei en klippe gebou. Die vloere was ondermeer met perskepitte gemaak. Die vensters het skuiframe en hortjies. Die deure is “kruisdeure”. Die plafonne is hoog en die stoepdakke is geboë. Die huise is aangenaam om in te woon en is aantreklik vir die oog. Dit is dieselfde soort huise as wat op Diepkloof en Boekenhoutfontein gebou is. Blykbaar staan hierdie boustyl bekend as die Karoo-styl. In Oranië word nuwe huise en woonstelle in hierdie styl gebou met groen dakke en wit mure.

Die Kaaps-Hollandse styl is te danke aan Wes-Kaapse patrisiërs. Die Karoo-styl is ontwikkel deur die Oos-Kaapse pioniers en saam met die Groot Trek geneem. Die Karoo-styl is die volksboustyl van die Boerevolk.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui