Die Boerevolk en sy sondes

Jy kan nie die Boerevolk bepeins, bespreek of beskryf sonder dat godsdiens in ag geneem word nie. Spesifiek kan jy nie by Bloedrivier verby kom nie. Dit was ook so met die Amerikaanse skrywer van historiese romans, James Mitchener. Sy verhaal oor ons se naam is The Covenant. Die Gelofte van Bloedrivier kan selfs gesien word as die oomblik toe ons ‘n volk geword het.

Bloedrivier was ‘n wonderwerk. Hoe jy ook al wil redeneer, iets buitengewoon het daar gebeur. Die Voortrekkers daar het nie oorlewe oor hulle tegnologies gevorderde voorlaaiers nie. Ook nie oor hulle groot spiere gehad het nie. Ook nie omdat hulle so dapper was nie. Hulle was vrek bang. In die dae voor die aanval, het hulle gesien wat by Bloukrans en Moordspruit gebeur het. Hulle kon verwag om op dieselfde grusame manier vermoor te word. Hulle het nie eers die Gelofte gemaak omdat hulle so vroom was nie, hulle het dit gedoen want dit was die laaste uitweg.

Geen kerk het iets met die saak te doen gehad nie. Al die Voortrekkers was onder sensuur en daar was nie eens een predikant daar nie. Hulle was leke en hulle voorgangers was leke. Hulle het niks van teologie af geweet nie. Al wat hulle geweet het, was dat hulle sonder God se ingryping daarmee heen was.

Wie was die God wat die Voortrekkers by Bloedrivier gered het? Dit was die God van die Bybel. Die God van die Ou Testament en van die Nuwe Testament. Hoe het die Voortrekkers die Bybel verstaan? Ons weet nie. Hulle was op hulle self aangewese en kon moontlik gedwaal het. Maar dit maak nie saak nie. Die God van die Bybel het hulle nogtans gered. Hoekom? Het hulle dit verdien? Ek dink nie so nie. Was hulle wonderlike mense? Ek dink nie so nie. Die een ding wat hierdie wonderwerk gedoen het, was om ‘n getuienis te wees vir die God van die Bybel.

As ons vandag nie die Gelofte respekteer nie, respekteer ons nie die getuienis daarvan nie, ons respekteer ook nie die God van die Bybel nie. Is dit nie ons eerste groot sonde nie? Is dit nie afgodery nie?

Een van die klagtes wat vandag teen ons as volk ingebring word, is dat ons valse trots het. Party van ons glo dat die Boerevolk uitverkore is en dat God ons noodwendig sal help. Ons hoef net te bid, of dalk nie eers nie want God het reeds besluit om ons te help. Ons is spesiaal en nie soos die ander volke nie. Wat vir hulle geld, geld nie vir ons nie. Wat beteken dit wanneer ons gebede nie beantwoord word nie? Wat beteken dit wanneer profesieë nie waar word nie? Wat beteken dit wanneer alles net hagliker word? Valse trots is ‘n mensgemaakte godsdiens met ‘n god wat na die beeld van die mens is.

Dan is daar die wat meen dat ons op ons eie vermoëns kan staatmaak. Ons moet iets doen en hoef net te vra dat God dit moet seën. Dit is mos vanselfsprekend dat Hy aan ons kant is, of hoe? Maar ook dit is ‘n mensgemaakte godsdiens. Is ‘n mensgemaakte godsdiens nie ook afgodery nie?

Tog is daar baie van ons volk wat aan ‘n kerk, of iets soortgelyk onder ‘n ander naam, behoort. Ons is, soos Paulus aan die Atheners gesê het, baie godsdienstig. Beteken dit iets? Ek is bevrees nie. Hoewel die kerke die God van die Bybel mag verkondig, beteken dit nie dat hulle noodwendig toepas wat hulle verkondig nie. Kerklikheid is rituele en tradisies, dit wil sê vormgodsdiens.

Ons is besonder godsdienstig. As ons ‘n vergadering hou, begin ons dit met Skriflesing en gebed. Voor ‘n sportbyeenkoms bid ons dat ons span mag wen. Die ander span doen dit ook. Wat beteken dit vir die span wat verloor? Dan is daar die godsdiens in die politiek en die politiek in die godsdiens. Dit ken ons goed. So is die Boerevolk verraai in die naam van godsdienstigheid. Want die godsdiens word verander en aangepas by die politiek van die dag. Is dit nie ook ‘n groot sonde nie?

Hoe werk dit? Doen die kinders minder sonde as hulle ouers, of doen hulle meer? Leer die kinders uit die foute van hul ouers? Neem byvoorbeeld die seksuele. Die God van die Bybel het ‘n definitiewe standpunt hieroor. Het die ouers dit gehoorsaam? Het die ouers hulle kinders reg hieroor onderrig? Doen die kinders dit wat reg is? Of is dit ‘n geval van ons doen wat almal doen? Die slegte nuus is dat dit nie ‘n verskoning is nie. Die ouers dra ‘n dubbele verantwoordelikheid: hulle eie sondes en die onderrig van hulle kinders. Die kinders word nie geoordeel vir die oortredings van hulle ouers nie, maar vir hul eie oortredings. Dit is nie net die seksuele nie. Daar is soveel ander dinge wat gedoen word “want almal doen dit”. Die blindelingse navolging van ander is ook ‘n sonde.

Selfs mense wat dit eers ontken het, besef nou dat die Boerevolk die teiken van ‘n volksmoord is. Binnekort gaan ons presies wees waar die Voortrekkers was op die vooraand van Bloedrivier. Ongelukkig vir ons, kan ons nie gou-gou ‘n gelofte maak om gered te word nie. Ons kom nie eers die eerste Gelofte na nie. Ons besef nie dat ons ons weë sal moet verander nie. Dit is nie die Zoeloes buite die laer wat die probleem is nie, dit is ons binne die laer wat die probleem is.

Wil ons gered word? Hoe graag wil ons gered word?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die soektog na ‘n eerbare lewe

Word mense nog skaam? Rooi in die gesig, verleë. Is daar vandag nog iets om oor skaam te word? Is daar nog skaam mense? Wat beteken die woord “skaam”? Iemand kan ‘n skaam persoon wees, dit wil sê iemand is bedees of skugter. Om skaam te kry beteken jy voel verleë of verneder omdat jy iets verkeerd gedoen het. Of jy kry skaam omdat jy in ‘n situasie van oneer verkeer. Om skaam te wees is nie noodwendig ‘n skande nie.

As daar nie skaamte is nie, is daar nie oneer nie. As daar nie oneer is nie, is daar nie eer nie. As daar nie skaamte is nie, is daar nie ‘n besef dat daar verkeerd gedoen is nie. As niemand iets verkeerd doen nie, is daar nie skuld en onskuld nie. As niemand skuldig is nie, het niemand vergifnis nodig nie.

Skaamte is nie presies die teenoorgestelde van eer nie, maar is naby verwant daaraan. Skaamte is nou verwant aan skande en blootstelling. Skande is wanneer goedkeuring, status en respek verloor word. Sommige dinge is nie bedoel om in die openbaar vertoon te word nie, en blootstelling daarvan lei tot skaamte. Skaamte kan verwoestend wees en lei tot gevoelens van waardeloosheid. Daar moet onderskei word tussen skaamte en skuld. Iemand mag onskuldig wees en nogtans onder skaamte ly.

Die moderne Westerse wêreld verstaan nie meer die konsep van eer nie. Ook nie van skaamte nie. Hoofsaaklik omdat hulle nie meer die tradisionele christelike moraliteit erken nie. Verder erken hulle ook nie meer verskillende groepe en kulture nie. Elkeen van ons behoort aan een of meer groepe en elke groep maak aanspraak op ‘n goeie naam en reputasie. Daar is ook individue wat hulle eie persoonlike kode van eer het en nastreef. By so ‘n persoon is die verkryging van eer en skaamte ‘n privaat saak.

Eer gaan oor respek en ordentlikheid. Iets of iemand is eerbaar en kan aangeprys word. Eer verwys na ‘n groep se gedeelde moraliteit. Dit moedig die nakoming van algemeen aanvaarde gedragstandaarde aan. Eer is ‘n manier waarmee ‘n groep sy goeie naam handhaaf. Dit is ook, deur middel van skaamte en skande, ‘n manier hoe ‘n groep dissipline toepas.

Eer kan toegeskryf of verwerf word. Eer word toegeskryf aan persone wat tot ‘n sekere stand of status behoort, op grond van die posisie wat hulle in die samelewing beklee. Dit is waarom ouer mense en meerderes geëer word. Sommige mense streef na ‘n hoër status want dan kan hulle aanspraak maak daarop dat ander mense hulle moet eer. Ander persone verwerf eer op grond van sy gedrag in uitdagende omstandighede. So word iemand dan geëer vir byvoorbeeld dapperheid. Eer word verwerf by minderes, gelykes en meerderes.

Die ridders in die middeleeue het ‘n kode van eer gehad. Ondermeer moes ‘n ridder die swakkes en weerloses beskerm, weduwees en wese help, nie moedswillig aanstoot gee nie, nie hulp verleen teen betaling nie, gehoorsaam wees aan diegene wat in gesag geplaas is, onbillikheid en bedrog vermy, altyd die waarheid te praat, volhard tot die einde toe. Om dapper te wees het groot eer ingehou, maar om nie dapper te wees nie was nie ‘n skande nie. Lafhartigheid was wel ‘n groot skande.

‘n Ware heer (gentleman) tree ridderlik op. Hy behandel vroue en ouer persone met respek ongeag hoe hulle hulself gedra. Hy is altyd beleefd en geduldig. Hy praat nie heeltyd oor homself nie, en kan in ‘n gesprek gemene grond met ander vind en iets opbouend bydra. Hy vind nie fout met ander nie want hy onderskryf die standpunt van “niemand kwaad aandoen nie”. Hy sal aan ander die voordeel van twyfel gee. Hy skinder nie en hou intieme sake privaat. Hy is betroubaar en kom sy verpligtinge na. Hy bied, sonder om gevra te word, aan om te help.

Sommige akademiese instellings het ‘n kode waarmee studente onderneem om nie te lieg, kul, steel of te bedrieg nie.

Die christelike konsep van die bewys van eer is dat dit nie ‘n plig is nie, maar ‘n keuse is om ander persone goed te behandel. Om mense selfs met meer respek te behandel as wat hulle verdien. Indien nederigheid die manier is hoe ons ons eie reputasie moet benader, dan is eer die manier hoe ons ander mense se reputasie moet benader. Ons eer ook ander persone deur diskreet te wees. Eerstens omdat die ander persoon ook na die beeld van God geskape is. Tweedens omdat dit ‘n liefdesdaad is om iemand anders te beskerm teen die wat liefdeloos teenoor hom of haar optree.

Ou verhale vertel hoe die hoofkarakter op ‘n soektog vertrek om iets te vind. Iets soos die Heilige Graal of sy fortuin of homself. Daar is avonture om te beleef, vyande om te verslaan, ‘n mooi meisie om te ontmoet. Voor hy kon vertrek, moes hy twee vrae kon beantwoord: Waarna soek hy? Wat is sy Kode van Eer? Die Kode van Eer is die padkaart wat hy volg. In werklikheid is sy soektog eintlik na homself en na die doel waarvoor hy lewe. ‘n Kode van Eer is daardie morele of etiese beginsels wat ‘n individu sy lewe mee inrig. Dit is daardie persoon se vrywillige keuse of hy ‘n eerbare of eerlose mens wil wees.

Hierdie persoonlike beginsels neem hy met hom saam op sy reis deur die lewe. As hy daarin slaag om getrou aan sy beginsels te wees, is sy lewe in sy eie oë ‘n sukses. As hy nie daarin slaag nie, is hy in sy eie oë ‘n mislukking, sy persoonlike skande. Die vraag is of hy getrou aan homself kan wees. Kan hy die tipe mens wees wat hy graag wil wees?

Dit mag wees dat ‘n indiwidu se Kode van Eer, wat vir hom onbreekbaar en ononderhandelbaar is, verskil van die norme van die samelewing waarbinne hy leef. Daar is ‘n botsing tussen die eer wat hy nastreef en die leefwyse van ander mense met wie hy te doen kry. Hy sal dan die innerlike krag moet hê om nie net sy eie kode na te kom nie, maar ook om dit wat daarmee bots teen te staan. Dit is waar sy karakter getoets word, waar hy gemeet en geweeg word.

Uiteindelik is die soektog om ‘n mens van eer te wees, ‘n eensame pad. Jy sal mense op die pad ontmoet wat jou goedgesind is en wil help. Maar jy sal ook vyande ontmoet wat jou ondergang wil bewerk. Jou sukses of mislukking is in jou hande.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Watter kerk is die Boerekerk?

Is daar iets soos ‘n Boerekerk of volkskerk? Die ding is dat alle kerkgenootskappe eintlik internasionalisties is. Dit is om twee redes so. Die eerste is dat die Evangelie vir alle mense van alle etniese groepe is, sendingwerk moet gedoen word. Die tweede is dat kerkgenootskappe gewoonlik bande het met ander kerke en organisasies wat in ander lande is en wat ander tale praat. Nasionalisme is boonop ‘n politieke begrip en kerke behoort nie politiek te bedryf nie.

Nog iets om in gedagte te hou, is dat kerkverwantskap nie deur volkskunde ingesluit word nie. Dit sal wel aandag gee aan ‘n volk se geestelike kultuur, wat byvoorbeeld spookstories insluit, maar nie kerklikheid as sodanig nie. As ek aan die Iere dink, dan dink ek Katoliek. Hoewel die oorgrote meerderheid Iere Katoliek mag wees, word dit nie as ‘n etniese eienskap gereken nie. Een rede daarvoor is dat dit nie net Iere is wat Katoliek is nie, daar is ander lande en volke wat ook Katoliek is. As ‘n Ier ophou om ‘n Katoliek te wees, hou hy nie op om ‘n Ier te wees nie.

Tydens die bewind van die Kompanjie was daar nie godsdiensvryheid nie, hulle het slegs die Nederduitse Gereformeerde Kerk toegelaat. Dit was nie ‘n probleem nie, want die Vryburgers was hoofsaaklik vlugtelinge wat aan soortgelyke kerke behoort het. Die Kompanjie het die aanstelling van predikante en die vestiging van gemeentes beheer. Daar is tydens die Kompanjie se bewind slegs 5 gemeentes gevestig – almal nie verder as 130 kilometer van Kaapstad af nie. Die Pioniers in die binneland het die predikant en kerk maar min gesien en moes self die Bybel lees en probeer verstaan.

Nadat die Britte die Kaap gekoloniseer het, is godsdiensvryheid ingestel. Die Kaapse Nederduitse Gereformeerde Kerk het uitgebrei en het in 1824 reeds 14 gemeentes gehad. Die houding van hierdie kerk teenoor die pioniers in die binneland was teleurstellend. Ondermeer het hulle die Groot Trek afgekeur, Voortrekkers is onder sensuur geplaas en nie een van hulle predikante wou die Voortrekkers bedien nie. Hulle het hul eie mense in die steek gelaat.

Die Voortrekkers het dus hulle eie kerk in 1837 gestig – die Nederduits Hervormde Kerk. In opdrag van Piet Retief is Erasmus Smit in 1837 as predikant georden. ‘n Amerikaanse sendeling, ds. Daniel Lindley, het tussen 1841 en 1846 ook gehelp. Van 1882 af was daar samesprekings tussen die Nederduits Hervormde Kerk en die Nederduits Gereformeerde Kerk oor kerkvereniging. Dit is in 1885 deurgevoer. Baie lidmate het verkies om nie deel van die vereniging te wees nie en die Nederduits Hervormde Kerk het bly voortbestaan.

In die vroeë 1800’s het die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Kaapkolonie die “nuwe” Psalmboek ingevoer. Vir sommige lidmate was van hierdie liedere onaanvaarbaar. Verder is daar in die regering van die kerk meer mag aan die staat en sinodes gegee en is die gesag van plaaslike kerkrade ondergeskik gemaak. In 1859 is ‘n vergadering belê waar 300 lidmate hulle laat inskrywe het as lidmate van die Gereformeerde Kerke in Suidelike-Afrika.

Die Afrikaanse Baptiste Kerk is in 1867 op Cornelia in die Vrystaat gestig. Dit was die direkte gevolg van een persoon, JD Odendaal, se strewe om te weet wat God omtrent die doop verwag. JD Odendaal het self die Bybel bestudeer om ‘n antwoord te soek. Hy het self nog nooit van die Baptiste gehoor nie. Hy ontmoet toe ‘n perdeverkoper wat sy begrip van die Bybel as tipies Baptisties herken het. Hy word in 1867 gedoop en in 1875 tot die bediening georden as leraar. Die Afrikaanse Baptiste Kerk het ‘n tipiese Afrikaanssprekende kultuur en ‘n evangelies-behoudende benadering tot kerkwees.

Die Sewendedagadventistekerk in Suidelike-Afrika het in 1887 ontstaan. Pieter Wessels het in 1885 uit die Gereformeerde Kerk bedank om Saterdag as die sabbatdag waar te neem. Eindelik het agt gesinne sy voorbeeld gevolg. Die Sewendedagadventisme glo dat Yeshua (Jesus) in die nabye toekoms na die aarde sal terugkeer. Hulle onderhou Saterdag as hul godsdienstige rusdag.

Die Christelike Vereniging van Suid-Afrika is gestig in 1892. ‘n Klompie mense in die Wes-Transvaal het die behoefte gehad aan ‘n dieper geloofslewe en het begin met die hou van gereelde bidure. By een so ‘n biduur was daar ‘n manifestasie van die Heilige Gees. Dit het tot gevolg gehad dat bywoning van die bidure vermeerder het. Dit was die begin van die Pinksterbeweging. Nie lank nie, toe is daar teenstand uit die kerk en is die persone wat die bidure bywoon onder sensuur geplaas. Dit het gelei tot die stigting van ‘n nuwe kerk.

Hierdie was die kerklike toneel tot en met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog.  Lidmate van al die kerke het op die slagveld gesneuwel en in die konsentrasiekampe gesterf. Predikante en ouderlinge is as krygsgevangenes weggestuur en verskeie kerke en argiefstukke is verbrand. Na die oorlog was daar groot geestelike behoeftes by die Boerevolk.

In Suidelike-Afrika het die 1860-herlewing in die Kaapse Nederduits Gereformeerde Kerk, die heiligheidsbeweging van Dr Andrew Murray en die Sionistebeweging van John Alexander Dowie die pad voorberei vir die Pinksterbeweging. Die armblankevraagstuk na die Anglo-Boere Oorlog het ook ‘n rol gespeel. Die Apostoliese Geloofsending het in 1908 ontstaan. Daar was nie ‘n kerkskeuring nie, dit was as gevolg van ‘n ondervinding van vervulling met die Heilige Gees. Die Volle Evangelie Kerk het ‘n groot aanhang onder Afrikaanssprekendes. Die kerk het in 1910 ontstaan toe ‘n groep weggebreek het uit die AGS. Die Spadereën Kerk het in 1928 van die AGS afgeskei. Die Pinkster-Protestantse Kerk het in 1958 van die AGS afgeskei.

Die Heiligheidsbeweging het onder invloed van John Wesley in Amerika ontstaan. Dr Andrew Murray het in Suidelike-Afrika ook ‘n soortgelyke invloed gehad. Die Kerk van die Nasarener het hieruit ontstaan en is in 1917 gestig. Die Heilsleër het ook uit die Heiligheidsbeweging ontstaan.

Die Evangelies-Gereformeerde Kerk is in 1944 gestig weens ‘n siening dat daar afvalligheid binne die NG Kerk was. Die Vrye Gereformeerde Kerke het saam met immigrante uit Nederland gekom en is in 1950 gestig.

Die Charismatiese beweging het in die 1960’s ontstaan binne die historiese kerke. Hulle het ook die doop met die Heilige Gees verkondig. In die 1970’s het daar ook onafhanklike Charismatiese Kerke ontstaan. Oor die algemeen is hulle veelrassig en Engelstalig, nogtans het hulle ook heelwat Afrikaanssprekende lidmate.

Die Afrikaanse Protestantse Kerk is in 1987 gestig deur ontevrede lidmate van die NG Kerk. Verskeie sake het ‘n rol gespeel: die NG Kerk se politieke standpunte, die 1983-bybelvertaling en sekere leerstellige verskille. Die Afrikaanse Protestantse Kerk se standpunt is dat die Kerk van Christus onder elke volk en kultuur verinheems moet word. Om dieselfde taal te praat, beteken nie noodwendig dat mense aan dieselfde kultuur behoort nie. Dit was die kerklike toneel onder Afrikaanssprekende Blankes voor die magsoorgawe.

Al meer mense het ‘n weerstand ontwikkel teen die dogma en rituele van die gevestigde kerkgenootskappe. Hulle is organisasies en nie organismes nie. Daar is ‘n gebrek aan die ervaring van ware geestelike lewe. Die boodskap van bekering en wedergeboorte word nie verkondig nie. Dit het gelei tot die ontstaan van “huiskerke”. Sommiges steeds onder toesig van ‘n kerkgenootskap, ander heeltemal los van kerkgenootskappe.

Daar is ook mense wat, om verskeie redes, nie kerklik inskakel by enige van die bogenoemde nie. Dit beteken nie noodwendig dat almal van hulle geen godsdiens het nie. Ook nie dat hulle ‘n ander godsdiens as die christelike geloof aanhang nie. Daar is wel onder die kerkloses volgelinge van Yeshua, die Gesalfde, maar hulle kon nog nie ‘n groep opspoor wat aan hulle behoeftes voldoen nie.

Die Boerevolk is verspreid onder baie verskillende kerkgenootskappe en kerkbewegings. Nie een van hierdie kerkgenootskappe kan aanspraak daarop maak dat hy die volk verteenwoordig nie. Die een gemeenskaplike kerklike kenmerk is die protestantisme. Ons sou dus kon sê dat die Boerevolk van vandag Protestants is, maar niks meer nie. Om te sê dat die volk Calvinisties is, is nie korrek nie. Sommige kerkgenootskappe mag Calvinisties wees, maar nie almal nie. Dink byvoorbeeld aan die groot getal mense in die pinkstertradisie. Die gewone lidmate weet ook nie wat Calvinisme nou eintlik is nie.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin