‘n Boererepubliek op wiele

Die oomblik toe die Voortrekkers op die oorkantste wal van die Oranje was, dink ek, het hulle seker ‘n groot fees gehou. Hulle was, moes hulle gedink het, uit die kloue van die Britte. Die ding wat hulle wel gedoen het, was om hulle eie regeringstelsel in te stel, ‘n republiek. Hulle het nog nie ‘n grondgebied gehad nie, hulle kon nie eers saamstem oor waar ‘n grondgebied moes wees nie, maar hulle het ‘n eie regering ingestel. Daar is ‘n les of twee wat ons by die Voortrekkers kan leer.

Die Boerevolk was die eerste republikeine in Afrika. Die republikeinse ideaal het hulle in Nederland gekry. Hulle denke kon ook deur die Amerikaanse Revolusie aangevul gewees het. Voor die Groot Trek was daar al pogings in Swellendam en Graaff-Reinet om republieke te stig. Op 2 Desember 1836 het die Voortrekkers hulle eerste republiek gestig op Marokashoek, naby Thaba Nchu. Hierdie republiek is gestig deur die trekgeselskappe van Maritz en Potgieter. Kort daarna het die trekgeselskappe van Uys en Retief ook opgedaag en is daar ‘n nuwe verkiesing gehou. Op 6 Junie 1837 is Piet Retief verkies as Goewerneur (President) en Gerrit Maritz as Regter-President. Die naam van die republiek was De Vrije Provincie van Nieuw Holland in Zuid-Oost Afrika.

Die Voortrekkers het nie die uitvoerende gesag aan net een persoon opgedra nie, maar aan ‘n Raad van Politie. Hulle het ook die uitvoerende en wetgewende funksies geskei. Die beginsels wat by Morakashoek neergelê was, was dat die volkswil deur stemming deurslaggewend sou wees. Hierdie beginsels was die grondslag waarop die latere Boererepublieke gevestig is. Dit het ook later tot gevolg gehad dat die Vrystaat ‘n modelrepubliek genoem is. Dit was ‘n republiek wat nog op pad was na ‘n eie land toe. Dit was ‘n republiek van mense en nie van grond nie. Die republiek se hoofstad en kantore was op ossewaens, die raadsaal was in ‘n tent of onder ‘n boom. Ons van vandag moet oplet. Hulle was nie meer onder vreemde heerskappy nie, dit was ‘n regering uit die volk en vir die volk.

Soos dit met die Boerevolk gaan, was daar onderlinge twiste en faksies oor waarheen hulle moet trek. Potgieter was ten gunste van die binneland en betrekkinge met die Portugese hawe in Mosambiek. Die res was ten gunste van Natal met Port Natal as hawe. Na ‘n ruk is besluit om eers na Natal te trek en daar ‘n gebied te verseker. Potgieter het saam getrek maar het nie sy gekose gebied prys gegee nie. Terwyl Retief sy mense Natal ingelei het, het Potgieter die Matabeles verslaan en Transvaal en Noord-Vrystaat vir bewoning beveilig. In Natal is Retief deur die Zoeloes vermoor, Maritz is dood weens siekte en Uys het by Italeni gesneuwel. Andries Pretorius het hierna in Natal aangekom en is gevra om die leierskap op hom te neem.

Na die Slag van Bloedrivier word die Republiek van Natalia gestig. Hierdie tweede republiek het nou aanspraak gemaak op ‘n definitiewe grondgebied. Die Volksraad het die hele gemeenskap van Voortrekkers as een volk gereken en het nie net aanspraak gemaak op ‘n gedeelte van Natal nie, maar ook op die gebied wat deur Potgieter beveilig is. Die Volksraad het nie in Potgieter se gebied ingemeng nie. Daar was dus twee gebiede binne die een republiek: Winburg-Potchefstroom en Pietermaritzburg. Die Volksraad het 24 lede gehad en het ‘n grondwet opgestel. Die hoofstad was Pietermaritzburg.

Toe die Voortrekkers oor die Oranje was, het hulle gedink hulle is nou verlos van die Britte. Maar die Britte het nie so gedink nie. Hulle het steeds die Voortrekkers as hulle onderdane beskou en in 1836 die Cape of Good Hope Punishment Act uitgevaardig. Hiervolgens sou Britse magistrate steeds jurisdiksie hê oor  “onderdane” in gebiede wat nie deur Brittanje beset was nie. Een van die eerste probleme wat die Republiek van Natalia gekry het, was die Britse besetting van die Port Natal hawe. Dit is gedoen op bevel van die Kaapse Goewerneur Napier, sonder magtiging uit Engeland. Die Volksraad het protesteer, maar die Britte het hulle nie daaraan gesteur nie. Hiermee het die Voortrekkers die beginsel neergelê dat hulle vreemde onderdaanskap verwerp. Hierdie standpunt is volgehou tot by die Konvensie van Sandrivier in 1852. Napier se besettingsmag het ‘n jaar later onttrek.

Die tweede probleem wat dringend deur die Volksraad hanteer moes word, was die onenigheid tussen die Natallers en Potgieter. Hierdie onenigheid kon die voortbestaan van die republiek in gevaar stel. Die President, Andries Pretorius, het dit self hanteer en daarin geslaag om die Voortrekkers te verenig. Pietermaritzburg sou die hoofstad van die Verenigde Burgerij wees. Die Potchefstroom-trekkers sou 12 volksraadslede hê. Hulle sou ook ‘n adjunkraad op Potchefstroom  hê wat hulle plaaslike sake sal hanteer, dit was gesien as ‘n komitee van die Volksraad en nie as ‘n aparte liggaam nie. Dieselfde vlag sal oor al die Voortrekkers waai. Ons merk dat desentralisasie toe die antwoord was, en vandag nog steeds is.

Die Republiek van Natalia het nie lank bestaan nie en het in 1843 ontbind. Die Britte was nie bereid om die Republiek van Natalia te erken nie en Napier het weer in 1842 ‘n besettingsmag na Port Natal gestuur. Andries Pretorius het sy land verdedig en by Congella die Britse mag verslaan. Die Britte het versterkings gestuur en Port Natal verower. In Mei 1843 het die Britte Natal geannekseer. Die Adjunkraad van Potchefstroom het nie die oorgawe onderteken nie en hulle nie aan Britse gesag onderwerp nie. Die Adjunkraad is omskep in ‘n Burgerraad en het weer die Voortrekkerrepubliek ingestel en ‘n grondwet opgestel. Die meeste Voortrekkers in Natal, ook Andries Pretorius, het tussen 1842 en 1847 na die Vrystaat en Transvaal verhuis.

In 1848 slaan die Britte weer toe en annekseer die Vrystaat onder die naam Oranjerivier Soewereiniteit. Nie al die inwoners van die Vrystaat was Voortrekkers nie, sommiges was Trekboere wat hulleself as Britse onderdane gesien het. Daar was ook Griekwas en Basoetoes in die gebied en hulle was verdragstate van Brittanje. Die Voortrekkerrepubliek van Potchefstroom-Winburg is in twee verdeel. Andries Pretorius het probeer om die gebied te herower maar is op Boomplaas verslaan.

In Transvaal was daar verdeeldheid onder die Voortrekkers. Daar was drie hoofsentra: Potchefstroom, Ohrigstad en Zoutpansbergdorp. Pogings om die drie groepe te verenig het aanvanklik misluk. In Mei 1849 is daar ‘n groot deurbraak gemaak met die stigting van die Verenigde Bond onder ‘n verteenwoordigende volksraad. Hiermee is almal Noord van die Vaalrivier verenig.

Die Britte het ernstige probleme uit verskeie oorde gekry. In Brits Kaffraria het die Agste Grensoorlog uitgebreek, die Khoi in die Kaapkolonie was opstandig en die Britte is deur die Basoetoes verslaan. Hierdie situasie was voordelig vir die Vrystaatse Voortrekkers en hulle vra Andries Pretorius om met die Britte ‘n goeie verstandhouding aan te gaan. Die Britte was nou bereid om te onderhandel en hulle ontmoet Pretorius by die Sandrivier. Hier is die belangrike Sandrivier Konvensie onderteken op 17 Januarie 1852. Met hierdie ooreenkoms is die onafhanklikheid en soewereiniteit van die Voortrekkers Noord van die Vaal deur Groot Brittanje erken. Ongelukkig wou die Britte nie die Voortrekkers in die Oranjerivier Soewereiniteit se onafhanklikheid ook toestaan nie.

Nadat die Britte weereens deur die Basoetoes verslaan is, het hulle genoeg gehad. Op 23 Februarie 1854 word die Bloemfontein Konvensie onderteken. Daarin het die Britte die staatkundige onafhanklikheid van die gebied tussen die Oranje- en Vaalriviere erken. Die Voortrekkers wou oorspronklik net een republiek gehad het. In later jare was daar ‘n ideaal om die twee republieke en die Kaapse binneland te verenig.

Die Groot Trek het in 1835 begin met die trekke van Louis Trichardt en Lang Hans van Rensburg. Die Groot Trek het geëindig toe die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van Oranje Vrijstaat tot stand gekom het. Vir omtrent 20 jaar het die Voortrekkers gesoek na ‘n eie land en is telkens verhinder. Maar al het hulle nie ‘n eie land gehad nie, wou hulle steeds oor hulleself regeer. ‘n Republiek wat op trek was, maar wat as regering gefunksioneer het.

Blykbaar was meeste van die Voortrekkerleiers nog jong manne in hulle laat dertigs toe die Groot Trek begin het. Met die stigting van die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van Oranje Vrijstaat 20 jaar later, het hulle die leierskap oorgedra na die volgende geslag toe.

Hierdie drang na ‘n eie land en ‘n eie republiek leef nog steeds in die harte van die Voortrekkers se nasate. Die beginsel dat hulle nie onderdane van vreemdes wil wees nie, is uitgebrei met die beginsel dat hulle nie vreemdes as hulle onderdane wil hê nie. Dit word genoem die reg op selfbeskikking. Dit is waarheen ons op pad is. Die wiele draai en die osse beur vorentoe.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui