Die Nuwe Testamentiese gemeente en die hedendaagse kerk

Wanneer mens die Nuwe Testament lees, word jy getref deur hoeveel die Nuwe Testamentiese gemeentes verskil het van die hedendaagse kerk. Soos dag by nag. Hoe het so ‘n groot afwyking gebeur? Ons vra dit nie bloot uit nuuskierigheid nie, ons vra dit want dit is wesentlik om te verstaan wat gebeur het en wat vandag van ons verwag word. Die verlede verklaar die hede.

Die tydperk direk na die Apostels en tot die Eerste Konsilie van Nicea word die pre-Niceaanse tydperk genoem. Dit word onderverdeel in die tydperk van die Apostoliese Vaders (skrywers wat tussen ongeveer 90 en 160 n.C. geskryf het) en die Pre-Niceaanse Kerkvaders (skrywers wat tussen ongeveer 120 en 325 n.C. geskryf het). Die Eerste Konsilie van Nicea, in 325 na Christus, was die finale doodskoot van die gemeentes wat deur die Apostels tot stand gebring was. Dit was toe daar ‘n verenigde kerk (kerkgenootskap of kerkorganisasie) ontstaan het. Hierdie kerkgenootskap is terselfdertyd deur die staat erken en die vervolging van christene het opgehou. Die proses van verandering het dus al voor 325 n.C. begin.

Die Nuwe Testament is geskryf deur persone wat Yeshua (Jesus) persoonlik geken het en daarna deur die Heilige Gees geïnspireer was om alles wat die volgelinge van Yeshua sal nodig hê op skrif te stel. Na die Apostels nie meer daar was nie, moes vasgestel word watter geskrifte geïnspireerd was en watter nie. Van hierdie pre-Niceaanse skrywers het lyste gemaak van geskrifte wat deur christene in hulle omgewing gebruik was. Dit was geskrifte wat deur die gelowiges self as geïnspireerd beskou was. Dit is aan hierdie skrywers te danke dat ons weet watter geskrifte van vroeg af gebruik was. Die Fragment van Muratori dateer uit ongeveer 170 n.C. en bevestig dat 22 geskrifte as betroubare Apostoliese geskrifte gereken was. In 185 n.C. het Irenaeus (Frankryk) na 21 boeke verwys. Hippolytus (Italië) het in 220 n.C. ook ‘n lys van boeke opgestel. Origenes (Egipte) het in 225 n.C. 27 boeke uitgewys. Eusebius (Palestina) het 26 boeke in 324 n.C. genoem. Deur vas te stel watter boeke as geïnspireerd beskou is, kon ook vasgestel word watter boeke nie geïnspireerd was nie. Die latere besluite oor die kanonieke boeke het slegs bevestig wat reeds praktyk was.

Die Apostels het al te doen gekry met dwaalleringe. Hulle grootste probleem was die Judaïseerders, christene wat Judaisme wou toepas binne die liggaam van Christus. Ketterse groepe het, volgens die pre-Niceaanse geskrifte, eers in die tweede eeu na Christus ontstaan. Kettery is ‘n bewustelike en opsetlike afwyking van die fundamentele geloofsleer. ‘n Groot probleem met hulle was dat hulle dieselfde boeke gebruik het as wat die gemeentes gebruik het. Die pre-Niceaanse skrywers het gevolglik aandag gegee aan die verwerping van ketterse leerstellings, geskrifte wat nie geïnspireerd was nie en die verdediging van die christelike geloof.

Docetisme was een van die eerste ketterse groepe. Hulle het geleer dat Yeshua (Jesus) nie ‘n fisiese liggaam gehad het nie, dit het net gelyk of Hy een het. Ignatius van Antiogië het hulle weerlê. Marcionisme was die leer van ‘n sekere Marcion. Vir Marcion was die God van die Ou Testament en die God van die Nuwe Testament twee verskillende gode. Hy het die hele Ou Testament verwerp en het slegs Lukas en dele van Paulus se briewe as Heilige Skrif erken. Verskeie van die vroeë skrywers het teen sy leerstellings geskryf. Vroeg in die tweede eeu het die Gnostisisme ontstaan. Die naam kom van ‘n Griekse woord wat  “kennisˮ beteken. Dit was ‘n mengsel van die christelike leer en ander heidense gelowe en filosofieë.

Dit het by sommige christelike gemeentes gebeur dat hulle nie meer die leiding van die Heilige Gees gevolg het nie. Hulle het al meer vertrou op menslike leiers. Hulle het ook nie meer as die liggaam van Christus gefunksioneer nie. Dit het die Heilige Gees bedroef. Sulke gemeentes het geestelik “doodˮ geword. Iewers in die 160’s het ‘n sekere Montanus getuig dat hy ‘n besoek van die Heilige Gees ontvang het en dat hy geroep is om te profeteer. Twee vroue het ook ‘n roeping as profetesse gekry. By die Montaniste was profesie meer gesaghebbend as uitsprake van menslike leiers. Die pre-Niceaanse skrywer Tertullianus het later by die Montaniste aangesluit. Hoewel hulle ketters genoem was, sou hulle vandag waarskynlik deel van die pinksterbeweging gewees het.

Die versterking van menslike leierskap is voorgestaan deur Ignatius van Antiogië (35 – 107 n.C.). Hy was ‘n Apostoliese Vader, dit wil sê hy het een of meer van die Apostels persoonlik geken. Hy het homself as ‘n opvolger van die Apostels beskou. Hy was Biskop van Antiogië en het 7 briewe geskryf. In die Nuwe Testament is ‘n ouderling en biskop dieselfde amp. Ignatius was die eerste persoon wat geleer het dat elke gemeente ‘n biskop moet hê en dat dit ‘n hoër amp as ouderling is. Hierdie leer het eers laat in die 2de eeu algemeen geword. Hy was ook die eerste persoon wat van ‘n “katolieke kerkˮ gepraat het.

Hierdie leer van Ignatius was die begin van die agteruitgang binne die christelike gemeentes. Een mens het nou die hoofleier in die gemeente geword, Yeshua was nie meer die hoofleier nie. Die gemeente het ‘n gewone menslike instelling geword. Die kerkgenootskap wat in die 4de eeu tot stand gekom het, was georganiseer volgens die model van die Romeinse Ryk – hierargies. Die kerkgenootskap was nou ‘n “regspersoonˮ en kon grond besit vir kerkgeboue, begraafplase en kerklike amptenare. Die biskoppe was gesien as die direkte opvolgers van die Apostels. In Later jare het die kerkgenootskap betrokke geraak by die burgerlike administrasie en het biskoppe ‘n belangrike politieke rol vervul.

Die volgende stap agteruit was dat sommige leiers hulle heil in geleerdheid gesoek het. Die opvolgers van die Apostoliese Vaders, word Kerkvaders genoem. Dit was vanuit die geledere van die pre-Niceaanse Kerkvaders wat die eerste teoloë gekom het. Clemens van Alexandrië (150 – 215 n.C.) het gewerk daaraan om die christelike leer en die Griekse wysbegeerte met mekaar te versoen. Origenes van Alexandrië (185 – 254 n.C.) het die eerste filosofiese uiteensetting van christelike leerstellings gemaak. Van sy sienings was so onbybels dat hy as ketter verklaar is. Athanasius van Alexandrië (293 – 373 n.C.) word onthou vir sy rol in die Eerste Konsilie van Nicea. Oor die algemeen word teologie gesien as soortgelyk aan filosofie, ‘n intellektuele besinning oor God en mens. Dit het gelei daartoe dat daar ‘n skeiding gekom het tussen geleerdes (ingewydes wat hul eie “taalˮ praat) en leke (buitestaanders) wat aangewese is op wat aan hulle gesê word. Leke het meestal nie ‘n Bybel besit nie, kon niks vir hulleself vasstel nie en was geestelik afhanklik van die kerkgenootskap.

En dit is die tragiese verhaal van hoe die liggaam van Christus, wat ‘n organisme is, die kerk, wat ‘n organisasie is, geword het. Maar alles was nie verlore nie. Regdeur die geskiedenis was daar groepe buite die kerkgenootskappe wat waarlik die Nuwe Testamentiese gemeente was. Die betroubare getuienis was en word steeds gelewer.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die penvoerder van die Boek van die Gelofte

Hoekom is die Gelofte van Bloedrivier so ‘n groot probleem vir so baie mense? Dit lyk of alles moontlik gedoen word om dit te diskrediteer. Die rede is dat Bloedrivier ‘n getuienis is. Dit is die getuienis wat stil gemaak moet word. Ons het reeds gesien dat die bewoording van die Gelofte weens onbekende redes verander is.

Het jy byvoorbeeld geweet dat die Voortrekkers, as deel van die Gelofte van Bloedrivier, onderneem het om die oorwinning in ‘n boek op te teken? Is dit gedoen? Het hulle hierdie belofte nagekom? Dit is nagekom. Die boek staan bekend as: Jan Gerritze Bantjes se joernaal oor die Slag van Bloedrivier en is in pdf-formaat beskikbaar by http://www.bloedrivier.org/gelofte/index.php/geskiedenis/die-bloedrivier-gelofte Die oorspronklike joernaal was ook in De Zuid-Afrikaan gepubliseer in Januarie en Februarie 1839.

Jan Gerritze Bantjes, wat die joernaal gehou het, is op 8 Julie 1817 in die Graaff-Reinet distrik gebore. Hy het op 1 Januarie 1837 by die Groot Trek aangesluit. Hy was toe 19 jaar oud en ongetroud. Dit wil voorkom of hy die enigste een van sy familie was wat aan die Groot Trek deelgeneem het. Die leke-prediker Erasmus Smit het gemeen Bantjes is skrander en talentvol en het hom gevra om met die godsdiens-oefeninge te help. Bantjes was ook vaardig met die pen en was Gerrit Maritz se sekretaris. Hy het ook die verdrag tussen Retief en Dingaan opgestel.

Hierna het Bantjes sekretaris van Andries Pretorius geword en het ook vir die Boere-Volksraad ‘n joernaal bygehou. As gevolg van sy pligte, was hy teenwoordig by die vergaderings van die Volksraad en van die Hoof-Kommandant. Hy was ook teenwoordig toe die besluit oor die Gelofte geneem is. Hy was verder ook een van die manskappe in die Bloedrivier-laer wat teen die Zoeloes geveg het. Jan Gerritze Bantjes was gevolglik ‘n ooggetuie van alles. Die joernaal wat hy gehou het, was die amptelike dokument van die Volksraad en is deur hulle goedgekeur. Indien daar enige iets was wat hy neergeskryf het wat nie korrek was nie, was daar genoeg ander ooggetuies wat beswaar kon maak.

Na Bloedrivier was hy Klerk van die Volksraad en prokureur in Pietermaritzburg. In 1840 het hy na die Kaapkolonie teruggekeer en verskillende betrekkings op verskillende plekke beklee. Hy is in 1887 op Potchefstroom oorlede. Hy is omstreeks 1839 getroud met Matthysina Germina Clasina Knoedzen (weduwee van Jan Oosthuizen). Een van sy kinders, ook Jan Gerritze, was ‘n medeontdekker van die hoofgoudrif in Johannesburg. Daar was ook ‘n Bantjes wat op St Helena as krygsgevangene gesterf het, maar dit is tans onbekend of daar ‘n verwantskap was.

As jy nie die Gelofte en Bloedrivier kan stil maak nie, kan jy die probeer om die persoon wat alles neergeskryf het te diskrediteer. Met ander woorde, as jy nie iets aan die boodskap kan doen nie, dan kry jy iets teen die boodskapper. Daar word gesê dat Jan Gerritze Bantjes ‘n kleurling was.

Hierdie aantyging word geïllustreer in die volgende 2 aanhalings. Die eerste aanhaling is ‘n verdraaiing in Afrikaans van Erasmus Smit se dagboek: Die Voortrekkers se dominee, Erasmus Smit, het in sy dagboek geskryf: “Mnr. De Klerk het ’n jong kleurlingman saam met hom gebring, en aangesien laasgenoemde sekere talente had, het ek hom versoek om ’n passasie te lees en te sing. Sy naam is Jan Bantjes.” Let op dat Erasmus Smit hier as ‘n dominee voorgestel word om gewig aan sy woorde te gee. Let verder daarop dat Erasmus Smit se woorde in aanhalingstekens gegee word. Die oorspronklike Nederlandse teks lees: In Erasmus Smit se Dagboek is daar op Zondag, 1 Jan. 1837 die volgende inskrywing: ‘De hr. De Klerk heeft ‘n schrander brein jonkman met zich medegebracht; en daar deze enige talenten heeft, verzocht ik hem in de kerk voor te lezen en te zingen. Hij voldeed mij zeer wel; zijn naam is Jan Bantjes; maar hij heeft zich binnenkort zelf aan deze diens onttrokken; en hij vond veel schrijfwerk bij de heren in dit leger. Let daarop dat die jongman ‘n skrander brein het en nie ‘n skrander bruinman is nie. Die gedeelte in aanhalingstekens verskil heeltemal van die vorige. Let ook op dat Bantjes hom van die godsdienstige pligte onttrek het omdat hy baie skryfwerk gekry het.

Nêrens elders word Jan Gerritze Bantjes ‘n kleurling genoem nie. Hy was nie gereken saam met die kleurlinge wat by Bloedrivier was nie. Hy is deurgaans deur die Voortrekkerleiers as ‘n gelyke behandel. Ook in sy huwelik en latere loopbaan het hy deurgegaan as ‘n blanke. Die foto van hom wat op die internet vertoon word, toon ook duidelik aan dat hy nie soos ‘n kleurling gelyk het nie.

Jan Gerritze Bantjes se stamvader (sy oupagrootjie) was Jan Gerrit Bantjes van Winschoten in Nederland. Hy het in 1755 met die skip “Stadwyk” in die Kaap aangekom. Hy tree, in Paarl, op 5 Maart 1758 in die huwelik met Hilletje Agnita Jacobsz. Sy was die dogter van Jan Jacobsz en Johanna Agnita (Pieterz) Jacobsz. In 1760 word hy ‘n burger en tree vir die tweede keer in die huwelik. Uit sy huwelik met Hilletje Agnita het hy net een seun gehad, hy was ook as Jan Gerrit gedoop. Hy was getroud met Maria Adriana Vermeulen. Hy was die oupa van Jan Gerritze van Bloedrivier. Bernhard Louis Bantjes (getroud met Isabella Johanna Adriana Swanepoel) was die vader van Jan Gerritze van Bloedrivier.

Daar was ‘n greintjie waarheid in die bewering dat Jan Gerritze Bantjes ‘n kleurling was. Sy een oumagrootjie was van gemengde afkoms. Van sy 8 grootjies was 1 van gedeeltelike slawe afkoms. Dit was Hilletje Agnita Jacobsz van de Caab, sy stammoeder. Die beskrywing “van de Caabˮ is gebruik waar iemand nie ‘n van gehad het nie en plaaslik gebore was. Hilletje Agnita het wel ‘n van gehad, dus is dit onduidelik hoekom sy as “van de Caabˮ beskryf is. Die meeste persone wat so beskryf was, was slawe – maar nie almal nie. Die meeste geslagsregisters identifiseer haar vader as: Jan Jacobus/Jacobs/Jacobsz, gebore in 1685 en oorlede 1737. Hy was die seun van Jacob van Macassar en Maria van Guinea (albei slawe). Hilletje Agnita se moeder word geïdentifiseer as Anna/Johanna Agnita Pieters/Pietersze, gebore 1695,  dogter van Andreas Pietersze (van Lubeek, Noord-Duitsland) en Maria Domingo, ‘n voormalige slavin (moontlik van Bengaalse afkoms, die Bengale is etnies Indo-Aries). Hilletje Agnita Jacobsz is in 1737 gedoop. Die doopgetuies was Theunis van Aart en Hilletje (Kervel) van Aart. Dit kom voor of Hilletje Agnita vernoem is na Hilletje van Aart (peetma?) en haar moeder Johanna Agnita Pieterze.

Die “gemengde bloedˮ in Jan Gerritze Bantjes se are was so min dat dit eintlik geen effek op hom gehad het nie. Dit het nie van hom ‘n kleurling gemaak nie en hy is nie as een aangesien nie. Dit alles het natuurlik net mooi niks te doen met die Gelofte, Bloedrivier, of die amptelike verslag daaroor nie.

Deur te sê dat hy kleurling was, word geïmpliseer dat kleurlinge minderwaardig is want hulle sou nie in staat gewees het om ‘n betroubare verslag oor die Gelofte en Bloedrivier te gee nie. Aan die ander kant, as hy wel ‘n kleurling was, bewys dit dat die Voortrekkers nie rassiste was nie en ook nie die uitvinders van apartheid was nie.

Jan Gerritze Bantjes se joernaal oor die Slag van Bloedrivier is die korrekte en amptelike verslag wat die Voortrekkers beloof het om te laat opteken. Hierdie joernaal is die getuienis wat hulle aan hul nageslag nagelaat het.

(Terloops, in die joernaal is geen melding van kersfees nie. Waarskynlik was die Voortrekkers glad nie bekend met kersfees nie.)

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Waarom is die woorde van die Gelofte verander?

Oor die laaste klompie jare het ek Geloftefeeste op 5 verskillende plekke bygewoon. Volgens die organiseerders groei die bywoning en is daar elke jaar meer mense as die vorige jaar. Interessant ook is die groot getalle jongmense, met klein kindertjies, wat dit bywoon. Nog iets wat ek waarneem is die Boerestyl kleredrag van die jonger manne.

Mens wonder of daar ‘n oplewing in belangstelling is. Sedert die Groot Verraad was daar ‘n groot aanslag teen die Gelofte en Geloftedag. Die groter kerkgenootskappe, kultuurorganisasies en politici het hulle gedistansieer van hierdie dag. Diegene wat deur die Boerehaat geïntimideer was, het nie meer die dag ondersteun nie. Wat het verander? Moontlik het die besef begin deurdring dat ons as volk tans in ‘n soortgelyke situasie verkeer as waarin die Voortrekkers was by Bloedrivier.

Geloftefeeste was sedert 1838 nog altyd jaarliks gevier. Wat wel verskil het, is die aard van die feeste. Sommige was tuis as ‘n familiefees gevier. Ander was as groot volksfeeste gevier. Daar was ook die wat as kerkdienste gevier was. Die bywoning van feeste het ook gewissel. Soms min mense, ander kere enorme skares.

Die meeste Geloftefeeste word gereël deur ‘n plaaslike Feeskomitee. Die Feeskomitee bestaan uit vrywilligers wat alles beplan en organiseer. Landwyd is daar, volgens een webwerf, meer as 70 onafhanklike Geloftefeeskomitees. Sover ek kan vasstel, is daar nie een saambindende Geloftefees organisasie nie. Die feeste waar ek was, het 4 verskillende elemente: daar is ‘n soort kerkdiens, daarna volg ‘n feesrede, die Gelofte word voorgelees en daar is verskillende kultuuraktiwiteite. Die komitee benodig dus ‘n predikant, iemand wat die feesrede kan lewer, mense wat die verversings verskaf en mense om die kultuuraktiwiteite te behartig. Die aktiwiteite moet ook vir kleiner kinders voorsiening maak. ‘n Perseel word benodig. Sommige komitees beskik oor hul eie persele maar ander moet ‘n plek huur. Alles kos geld en fondse moet verkry word. Om die fees by te woon, is gewoonlik gratis, maar daar word wel ‘n kollekte opgeneem.

Die hou van ‘n kerkdiens as deel van die fees het in 1864 in Natal ontstaan. Van 1910 tot omstreeks 1990 het die groter kerkgenootskappe toenemend betrokke geraak by Geloftefeeste. Sedert 1990 het van die groter kerkgenootskappe hulle onttrek aan Geloftefeeste. Die kerkdiens as deel van die fees het nogtans bly voortbestaan as ‘n tradisie. Derhalwe is dit vir die Geloftefeeskomitees nodig om ‘n predikant te soek wat bereid is om die diens te behartig. Baie predikante stel nie belang nie of dalk verbied hulle kerkgenootskappe dit. Blykbaar is predikante van die Evangelies Gereformeerde Kerk, die Hervormde Kerk, die Afrikaanse Protestantse Kerk en die Vrye Gereformeerde Kerk meer gewillig om die diens by Geloftefeeste te lei.

In die tydperk na 1880 het die lewering van ‘n feesrede gebruiklik geword. Op 16 Desember is volksvergaderings gehou en het bespreking van aktuele sake plaasgevind. Die gedagte van die feesrede is dat die spreker die eietydse situasie en die gebeure by Bloedrivier met mekaar moet verbind. Om sin en betekenis aan die Gelofte te gee. Om vandag ‘n geskikte spreker te kry is moeilik. Eerstens moet dit iemand wees wat bereid is om dit te doen. Daar is heelwat persone wat bang is om in die openbaar standpunt in te neem. Die spreker moet ook in staat wees om ‘n toepaslike boodskap oor te dra. Hy sal ook interessant moet wees en dit sal help as hy ‘n redelik bekende persoon is. Die feesrede moet nie net nog ‘n vervelige toespraak wees nie, maar dit moet mense kan trek en iets gee om oor te dink.

Die kultuuraktiwiteite wissel volgens die bronne en talente wat plaaslik beskikbaar is. ‘n Boerekommando in tradisionele drag met historiese vlae is altyd gewild. Sommige komitees het ‘n kanon wat gevuur word. Op een plek is daar ‘n demonstrasie van skiet met ‘n voorlaaier, by ‘n ander een ‘n demonstrasie van sweepslaan. Partykeer is daar tradisionele eet- en drinkgoed beskikbaar. Daar is ook Boeresport wat aangebied word. ‘n Ander een het ‘n interessante museum. Baie van die aktiwiteite is in die buitelug. As dit reën moet daar ‘n ander plan gemaak word. Dit is waarskynlik die pret van die kultuuraktiwiteite wat die grootste trekpleister na Geloftefeeste is.

Een item wat by alle Geloftefeeste teenwoordig is, is die lees van die Gelofte. Die weergawe van die Gelofte wat vandag algemeen gebruik word (die Moderne Gelofte), is in die begin van die 20ste eeu inmekaargeflans uit die vier oorspronklike Geloftebeskrywings. Die eerste beskrywing is die amptelike notulering van die Boere Volksraad (Oorspronklike Gelofte), soos opgeteken deur J.G. Bantjes (klerk van die Volksraad) tydens die gebeure by Bloedrivier. Die tweede is die Kommandantsverslag van A.W.J. Pretorius aan die Volksraad twee weke na die Slag van Bloedrivier. Die derde is die brief van die Volksraad aan ‘n Kaapse koerant. Die vierde is die herinneringe van Sarel Cilliers 30 jaar later op sy sterfbed. Die eerste drie stem ooreen met mekaar, Sarel Cilliers se herinneringe verskil daarvan.

Die Oorspronklike Gelofte lui soos volg: “om zo de Heere ons de overwinning geven mogt, ‘n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen,” – en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen, en dat wy de dag der overwinning, in ‘n boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdat het ter Eere van God gevierd mag worden.

Die Moderne Gelofte is so bewoord: Hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring, en dat ons ‘n Huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van Sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.

Soos gesien kan word is daar verskille tussen die Oorspronklike Gelofte en die Moderne Gelofte. Die eerste groot verskil is dat die oorspronklike beloof om ‘n huis te stig (instel of vestig) tot God se gedagtenis, terwyl die moderne ‘n huis wil oprig (bou) tot God se eer. Die betekenis van “huis” is ‘n woonplek, “stig” is om tot stand te bring. Die bedoeling was klaarblyklik dat die Voortrekkers beloof het om ‘n volk tot stand te bring tussen wie daar ‘n woonplek vir God sou wees. Daar is dus nie verwys na die bou van ‘n kerkgebou nie. Ten tyde van die Gelofte was al die Voortrekkers in elk geval onder tug en kerkloos. Hulle het ook nie ‘n predikant gehad nie, ‘n leek het die dienste gelei. Die gebeure van 16 Desember 1838 was nie net die redding van een groepie Voortrekkers nie, dit was ook die geboorte van ‘n volk. Om ‘n volk te wees wat deur ‘n Gelofte tot stand gekom het, is nie ‘n geringe saak nie. Minagting of losmaking van die Gelofte bring die volk se bestaansreg in gedrang.

Die moderne weergawe het die woorde: ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring. Dit staan glad nie in die oorspronklike nie. Dit kan seker nie kwaad doen om Geloftedag as ‘n afgesonderde dag te vier nie. Maar dit is nie beloof nie en word nie vereis nie. Die aard van Geloftedag is ‘n dag van dankbaarheid en blydskap, derhalwe ‘n feestelike geleentheid. In die oorspronklike is die voorneme om die gebeure in ‘n boek op te teken (die Volksraad se Joernaal?), terwyl die moderne weergawe dit weglaat.

Hoe het dit gebeur dat die Gelofte wat voorgelees word (Moderne Gelofte), verskil van die amptelike beskrywing (Oorspronklike Gelofte)? Die een moontlikheid is dat daar mense was wat verkeerdelik vir J.G. Bantjes as ‘n kleurling aangesien het. Gevolglik is die Volksraad se amptelike beskrywing verander omdat die sekretaris as ‘n kleurling aangesien is. Let wel, die Volksraad was self ooggetuies van alles en het die beskrywing van die Gelofte goedgekeur. ‘n Ander moontlikheid is dat daar in die twintigste eeu persone was wat die bewoording verander het om met hul eie ideologie ooreen te stem. Indien dit die geval was, sou dit skandalig wees.

Die Gelofte en die gebeure by Bloedrivier was in meer as een opsig ‘n keerpunt in die geskiedenis. Die militêre oorwinning oor Dingaan het die Zoeloes se tirannie (Mfecane) in Suidelike-Afrika finaal gebreek. Daarna kon ander swart volke bly voortbestaan. Ten spyte van die werk van sendelinge, was daar voor Bloedrivier geen bekeerlinge tot Christus onder die Zoeloes nie. Bloedrivier het die deur tot die kerstening van die Zoeloes oopgemaak. Na Bloedrivier het die meerderheid Nederlandssprekendes van Suidelike-Afrika besef dat hulle ‘n gesamentlike lotsverbondenheid het. 16 Desember 1838 was die geboortedag van die Boerevolk.

Die gebed was om te bly voortbestaan. Die belofte was dat ons onderneem om vir God ‘n woonplek tussen ons te maak. Die nakoming van die Gelofte bepaal of die Boerevolk ‘n toekoms het, of daar ‘n rede is dat ons mag bly voortbestaan.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Gesalfde Lewe

As jy vir my wil vertel dat Yeshua, die Gesalfde (Jesus Christus), nie bestaan nie, moet jy dit liewers vir iemand anders gaan vertel. Ek weet Hy bestaan net so seker as wat ek weet my eie broer bestaan. As jy vir my wil vertel dat die Bybel nie die geïnspireerde Woord van God is nie, moet jy dit ook vir iemand anders gaan vertel. Ek weet net so seker as wat ek weet dat die HAT ‘n woordeboek is, dat die Bybel die Woord van God is. Kan ek dit bewys? Moet ek? Moet ek ook bewys dat die son vanoggend opgekom het?

As ‘n reël is dit nutteloos om in redenasies betrokke te raak met mense wat vyandig is teenoor Yeshua en diegene wat op Hom vertrou. Dit is nutteloos want sulke persone kan en wil nie oortuig word nie, ongeag wat jy sê of doen. Daardie persoon kan nie oortuig word tot ‘n ander standpunt nie, en hy kan die volgeling van Yeshua ook nie oortuig van sy standpunt nie. Waarop hy ookal sy argument baseer, wetenskap of filosofie of religie of wat ook al, dit is nie relevant nie. Vertroue op Yeshua is gebou op ‘n persoonlike verhouding met Yeshua.

Dit is iets anders wanneer iemand deur sulke redenasies op soek is na antwoorde. Dan is daar vrae wat gevra word om inligting te bekom of om iets te verstaan. In so ‘n geval is dit moontlik om ‘n sinvolle gesprek te hê, al sou daardie persoon ook nie jou siening of antwoorde  aanvaar nie. Dan is dit ‘n debat en nie ‘n argument nie.

Die mens is nie net ‘n liggaam nie. Daar is iets binne hom wat meer is as sy liggaam, hyself. Van oudsher af word hierdie self die siel genoem. Van nog altyd af weet mense dat hulle ‘n siel is wat in ‘n liggaam woon. Hulle het ook nog altyd geweet dat daar ‘n skeiding kom wanneer die liggaam sterf. Weet jy dit of weet jy dit nie? Die vraag wat mense nog altyd gevra het, was: wat gebeur met die siel wanneer die liggaam sterf?

Daar is nog iets in die mens, iets wat diep binne in sy self is. Dit is ‘n bewussyn dat daar iets groter en meer as die mens is. Ek vermoed meeste mense is nie bewus van hierdie bewussyn nie, jy moet eers iets uitsonderlik beleef om daarvan bewus te word. Hierdie bewussyn word gees genoem en dit is waar sommige mense bewus word van iets groters as hulleself.

Wat beteken dit alles? Dat daar meer aan die mens is as wat die oog kan sien. Jy kan dit aanvaar of verwerp. Jou keuse.

Wanneer iemand op die punt kom waar hy Yeshua aanvaar, gebeur daar iets. Daar kom ‘n groot vrede binne daardie persoon, ‘n vrede wat die verstand te bowe gaan. As jy dit nie wil glo nie, gaan vra daardie persoon, gaan vra almal wat op Yeshua vertrou. Almal sal dieselfde ding sê. Dit is maar die begin, daarna sal daar nog goed gebeur. Onder andere sal daardie persoon ‘n ongekende blydskap ervaar. Nou kan jy op en af spring, jy kan spoeg en skree, maar wat hierdie persoon ondervind is werklik en direk as gevolg van sy aanvaarding van Yeshua.

Die van ons wat op Yeshua vertrou, het ‘n verhouding met hom. Nie in ons verbeelding nie, in ons binneste, in ons gees. Sien, in jou gees het iets gebeur – dit het lewend geword. Yeshua het deur die Heilige Gees binne in jou gees kom woon. Nou leef Hy Sy lewe in en deur jou. Dit is ‘n realiteit, ‘n daaglikse belewing, ‘n praktiese werklikheid.

Dit is nie al nie, dit is nog net die begin. Hierdie gees in jou wat lewend geword het, is by wyse van spreke nog ‘n baba. Hy moet nog groot gemaak word en ‘n volwassene word. Hoe gebeur dit?

Die handboek wat jy in jou opvoeding nodig het is die Bybel. Kom ons noem dit jou akademiese onderrig. Ek weet nie of dit verpligtend is om die Bybel te bestudeer nie, maar dit is definitief wys. Jy kan ander christelike boeke ook gebruik, maar slegs indien hulle die Bybel korrek verstaan en oordra. Ongelukkig is baie van hierdie boeke net goed om jou te mislei. Om een of meer te kry wat die moeite werd is, is nie maklik nie. Jy moet persone soek wat betroubaar is en wat jou raad kan gee.

Vir jou praktiese opleiding het jy die hulp van die Heilige Gees nodig. Hierdie praktiese opleiding kan vergelyk word met vakleerlingskap. Jy moet leer om dinge te kan doen. In die proses moet iemand jou sê wat jy moet doen en jou dan wys hoe om dit te doen. Daarna moet jy dit self doen. Die eerste paar pogings mag jy dalk misluk, maar uiteindelik kry jy dit reg. Wat presies is dit wat jy moet leer om te doen? Wel dit is geestelike dinge. Soos hoe om YHWH te vertrou. Hoe jou karakter verander moet word. Om op te hou om verkeerde dinge te doen (soos om ongeduldig te wees) en om regte dinge te doen (soos om geduldig te wees). Natuurlik ook om op te hou slegte dinge te doen (soos om selfsugtig te wees) en om goeie dinge te doen (om ander mense bo jouself te stel). Ensovoorts.

Die leerproses word aangehelp deur swaarkry en beproewings. Om in swaarkry standvastig te wees is nie ‘n kleinigheid nie. Beproewinge en teenspoed maak jou sterker. Maar daar is ook vervolging.

Jou Meester, Yeshua, was nie populêr nie. Hy het die mense, insluitend die godsdienstige leiers, teengestaan. Die meeste mense het hom gehaat hoewel hy niks gedoen het om dit te verdien nie. Jy is nie belangriker as jou Meester nie. As hy vervolg was, sal jy ook vervolg word. Bloot omdat jy Hom volg en vertrou. Vir my lyk dit of selfs vreemde mense wat jou nie ken en niks van jou weet nie, op ‘n manier besef jy is anders as hulle. Sommige vind jou afstootlik maar ander voel aangetrokke tot jou. Dit nog voor jy iets gesê of gedoen het.

Om Yeshua te vertrou is nie ‘n ideologie nie. Jou opinie tel nie. Vat dit of los dit. Niemand is verleë oor jou nie.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Waar is al die Apostels heen?

Almal is bewus daarvan dat die “kerk” van die Nuwe Testament en die kerk van vandag nie dieselfde ding is nie. Waar en wanneer het die Vergadering van Uitgeroepenes, wat deur Yeshua se Afgevaardigdes (Apostels) tot stand gebring is, verander in ‘n mensgemaakte godsdienstige organisasie? Om dit vas te stel, moet ons op die geskiedenis ingaan. Eers die apostels, dan hulle opvolgers die Apostoliese Vaders, dan die wat daarna gekom het.

Soos almal weet, het Yeshua (Jesus) 12 persone gekies as Sy studente (dissipels). Een van hulle, Judas Iskariot, het Hom verraai en selfmoord gepleeg. Die oorblywende 11 het Hy aangestel as Sy Afgevaardigdes (Apostels) om Sy boodskap bekend te maak aan alle mense. Wat het van hulle geword? Waarheen het hulle gegaan en wat het hulle gedoen? Het hulle kerke gestig en biskoppe aangestel?

Inligting oor die Apostels se doen en late is skraps. Boonop is dit wat wel beskikbaar is, nie altyd betroubaar nie. Baie daarvan kan beskryf word as “fop inligting”. Kerkgroepe het elkeen hul eie oorlewerings en tradisies wat drasties van mekaar verskil. Selfs die werk van geskiedkundiges is dikwels nie betroubaar nie. Nie eers Sherlock Holmes sal nie kan ontrafel wat waar en wat verdigsel is nie. Dit is die aard van kerkgeskiedenis.

Andréas en sy broer, Simon Petrus, was afkomstig van Betsáida. Hy was die eerste volgeling van Yeshua en het sy broer Petrus van Yeshua vertel. Eusebius, die geskiedkundige, skryf dat Andréas in Skithië die boodskap van Yeshua verkondig het. Dit is min-of-meer die moderne Wit-Rusland, Rusland en Ukraine. Daarna het hy noordwaarts gegaan en die boodskap verkondig tot by die hedendaagse Kiëf en Nowgorod. Hy het ook in die omgewing van die Swart See en die Dnieperrivier gewerk. Daarna was hy in Thracië en toe suid na Achaea waar hy op ‘n X-vormige kruis gekruisig was.  Wladimir die Grote het hom in 988 tot die christendom bekeer en die christelike godsdiens as staatsgodsdiens ingestel. Voor Wladimir was die hele Kiëf-Roes heidens. Ek kon nog nie inligting opspoor wat vertel hoe die gemeentes voor Wladimir daar uitgesien het nie. Blykbaar is die eerste biskop in 864 deur die Patriarg van Konstantinopel aangestel.

Bartholoméüs (ook bekend as Nataniël) was vanaf Kana in Galilea. Hy en Filippus het in Sirië en Klein-Asië die boodskap verkondig. Bartholoméüs en Thaddéüs het ook in Armenië die evangelie verkondig. Blykbaar is Bartholoméüs se vel afgeslag terwyl hy nog gelewe het en daarna is sy kop afgekap. In Armenië is die christene vir die volgende 2 eeue vervolg. Dit het geëindig toe die koning van Armenië die christelike geloof aanvaar het en dit die staatsgodsdiens gemaak het. Die eerste biskop van Armenië was Gregorius die Verligter. Hy was gebore in 257 na Christus en is nie deur ‘n Apostel aangestel nie.

Jakobus seun van Sebedéüs en broer van Johannes, was een van die “binnekring” van die twaalf dissipels. Hy het as apostel opgetree in Jerusalem en Judea. Hy was die eerste apostel wat as martelaar gesterf het. Herodus Agrippa het hom in 44 na Christus laat onthoof.

Jakobus seun van Alpheus, se moeder was Maria. Hierdie Maria was blykbaar ‘n suster van Maria die moeder van Yeshua, en was getroud met Cleophas. Sy broer was Judas Thaddéüs. Dit word vertel dat hierdie Jakobus die evangelie in Egipte verkondig het en in Ostrakine deur heidene gekruisig is. Daar is geen verdere inligting oor hom beskikbaar nie.

Johannes seun van Sebedéüs en Salomie, broer van Jakobus, was ook ‘n lid van Yeshua se “binnekring”. Paulus het Johannes, Petrus en Jakobus die broer van Yeshua as die “drie pilare” van die gemeente in Jerusalem beskou. Paulus het gepraat van ‘n groot deur wat in Efese oopgegaan het. Efese het, na die christene uit Jerusalem gevlug het, die Apostels se “hoofkantoor” geword. Johannes het hom ook daar gevestig. Klein-Asië was van groot belang in die verspreiding van Yeshua se boodskap en Johannes was gemoeid met al die gemeentes daar. Die Sewe Gemeentes in Openbaring was almal in Klein-Asië. Die briewe in Openbaring is gerig aan die “boodskapper van die gemeente” – nie aan ‘n biskop nie. Johannes was ook vir ‘n tyd verban na die eiland Patmos. Hy het die Evangelie van Johannes, 1 Johannes, 2 Johannes, 3 Johannes en Openbaring geskryf.  Polycarpus, latere ouderling van Smyrna, was een van Johannes se studente. Polycarpus het vertel dat Johannes in ‘n vat kokende olie gegooi is, maar dat hy niks oorgekom het nie. Johannes het omtrent 100 jaar oud geword en van natuurlike oorsake gesterf.

Judas Thaddéüs was ook bekend as Lebbéüs of Taddai of Adai. Blykbaar was hy die broer van Jakobus seun van Alpheus. Volgens onbevestigde tradisie het hy Yeshua se boodskap verkondig in Armenië, Mesopotamië en Persië. ‘n Verhaal word vertel dat hy in Edessa die evangelie verkondig het aan die Joodse gemeenskap en die eerste gemeente begin het. Hy het ook die kort brief Judas geskryf. Later het hy ook na ander plekke gegaan en is met pyle in Ararat doodgemaak. Daar was duidelike verskille tussen die gemeentes binne die Romeinse Ryk en die, soos Edessa, in die Ooste.

Matthéüs, ook bekend as Levi, was ‘n belastinggaarder van beroep toe hy Yeshua ontmoet het. Hy was die seun van Alpheus. Dit is onseker of hy verwant was aan Jakobus en Judas. As belastinggaarder was hy deur die Jode gesien as ‘n erge sondaar. Toe Yeshua hom roep, het hy alles net so gelos en Yeshua gevolg. Hy het die Evangelie van Matthéüs in Hebreeus geskryf. Daar is geen betroubare inligting oor wat later van Matthéüs geword het nie. Volgens Nicephorus het Matthéüs die boodskap van Yeshua in Ethiopië verkondig. Daar was ‘n Joodse gemeenskap daar. Matthéüs het ook ‘n student gehad met die naam Platon.

Simon, ook genoem Petrus of Kefa, was ‘n broer van die Apostel Andréas. Hy was ook ‘n lid van Yeshua se “binnekring”. Hy was afkomstig van Galilea en getroud. Petrus was dikwels die segsman vir die 12 dissipels en dit kom voor of hy as ‘n leier opgetree het. Petrus was die Apostel aan die Jode, terwyl Paulus die Apostel aan die nie-Jode was. Yeshua het aan Petrus die “Sleutels van die Koninkryk” gegee. Hiermee het Petrus vir die Romein Cornelius, asook alle nie-Jode, toegelaat tot die Koninkryk. Petrus het baie gereis om bestaande gemeentes te besoek, dikwels saam met Johannes. Hy was in Samaria, Joppe, Ceasarea, Antiochië, Klein-Asië en selfs in Babilon. Hy het ook twee briewe geskryf: 1 Petrus en 2 Petrus. Daar is ‘n vertelling dat die Evangelie van Markus deur Petrus gedikteer is. Hierdie Markus het ook die boodskap van Yeshua in Alexandria, Egipte, gebring. Daar is geen betroubare getuienis dat Petrus ooit in Rome was nie. Dit word deur verskeie bronne vertel dat hy gekruisig is, maar die besonderhede daarvan is onbekend. Daar word beweer dat sy graf op die Olyfberg in Jerusalem gevind is, met sy naam daarop.

Filippus die Apostel en Filippus die Evangelis was twee verskillende persone. Die Apostel was vanaf Bethsaida. Hy het 3 dogters gehad en sy suster, Mariamne het saam met hom gereis. Nadat Yeshua hom geroep het, het hy vir Nataniël vertel dat hy die Gesalfde ontmoet het. Volgens Ortodokse bronne was hy eers in Jerusalem, daarna in Galilea en daarna in Griekeland. Hy was ook vir ‘n ruk in Efese saam met Johannes. Later is hy na Frigië (sentraal Turkye) en word in Hierapolis onderstebo gekruisig. Hy word ook verbind met Narcissus van Athene en Nikodemus van Azota. Na sy dood het sy suster Mariamne sy werk voortgesit.

Simon die Yweraar is die onbekendste van al die Apostels. Daar is geen sekerheid oor waarom hy  “die Yweraar“ genoem word nie. Een tradisie oor hom vertel dat hy na Yeshua se hemelvaart na Egipte gegaan het, daarna deur Noord-Afrika na Spanje en Brittanje. ‘n Ander tradisie vertel dat hy na Georgië gegaan het. Hy sou as martelaar gesterf het in Brittanje of Persië of Georgië.

Thomas was van Galilea af. Hy was die dissipel wat getwyfel het oor Yeshua se opstanding. Hippolytus skryf dat Thomas die boodskap verkondig het van Parthië af, deur Persië en Afghanistan tot in Indië. Dit word gesê dat hy in 72 na Christus in Indië met ‘n spies doodgesteek is. Die eerste christene in Indië was die Thomaschristene, wat in 1552 Katoliek geword het. Aanvanklik het hulle min kontak met ander christene gehad en het hulle gefunksioneer soos Thomas hulle geleer het.

Matthías is deur die ander Apostels gekies om Judas Iskariot te vervang. Volgens geskiedkundige bronne is hy in 80 na Christus dood en is in Jerusalem begrawe. Hy het die boodskap verkondig in die omgewing van die Kaspiese See en Kappadosië in sentraal-Turkye. Hy sou ook die apokriewe boek Die Evangelie van Matthías geskryf het (hierdie boek is tans verlore).

Die Heilige Gees het dit goedgevind om die werk en woorde van Paulus, die buitestaander, te bewaar. Van al die Apostels is dit Paulus wat ons die beste inligting gee oor hoe die Vergadering van Uitgeroepenes (gemeente) gelyk het en gefunksioneer het. Die boodskap van Yeshua is altyd eerste, weens hulle spesiale status, aan die Jode gebring. Daarna is dit aan nie-Jode verkondig. Die Uitgeroepenes het meestal in huise vergader. Daar was nie spesiale geboue nie. Daar was ook nie ‘n saambindende organisasie nie. Wanneer hulle ‘n ruk aan die gang was, is daar geskikte persone uit hul eie geledere as  “ouderlinge” aangestel. Oorspronklik was “biskop” en  “ouderling” dieselfde ding. Die mensgemaakte “amp” biskop het na die Apostels ontstaan en dit was ‘n heerser oor ‘n groot gebied se gemeentes. Hulle was van buite af aangestel, dikwels as ‘n politieke aanstelling, en was nie uit die geledere van die gemeentes nie en ook nie op grond van die voortreflikheid van hulle lewe en getuienis nie.

Dit wat die Heilige Gees deur die Apostels tot stand gebring het, was iets heeltemal anders as dit wat ons “kerk” noem. Het die Heilige Gees in later jare Yeshua se volgelinge anders gelei as wat Hy die Apostels gelei het? Of het die oorspronklike Vergadering van Uitgeroepenes bly voortbestaan tot vandag toe?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Vreemde gebeure met die verwoesting van die Tweede Tempel

Die Tweede Tempel in Jerusalem is in die jaar 70 na Christus verwoes en verbrand en niks het oorgebly nie. Dit was maar omtrent 37 jaar na die kruisiging, opstanding en hemelvaart van Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus). Die Nuwe Testament was toe al (behalwe miskien vir Openbaring) klaar geskryf. Baie van die apostels was al dood. Die meeste volgelinge van Yeshua het alreeds uit Jerusalem gevlug weens vorige vervolging deur hulle volksgenote. Dit was die einde van ‘n era en ‘n belangrike gebeurtenis om van te weet.

Daar het eienaardige goed gebeur met die vernietiging van die stad en van die tempel. Die tempel is vernietig op die 9de van die maand Av in die jaar 70 na Christus. “Toevallig” is die Eerste Tempel vernietig op die 9de van die maand Av in die jaar 587 voor Christus. Maar dit is nie al nie. Na die Eksodus stuur Moses verkenners na Kanaan, hulle kom terug en 10 uit die 12 rapporteer dat Kanaan nie verower kan word nie. Die Israeliete weier om na Kanaan te gaan – op die 9de dag van die maand Av – en moet 40 jaar in die woestyn rondswerf. Toe die Jode in 133 na Christus teen die Romeine rebelleer, rig die Romeine ‘n slagting onder hulle aan. Natuurlik op die 9de van die maand Av. In 1290 na Christus word Jode uit Engeland gesit op die 9de van die maand Av. In 1492 word Jode uit Spanje verban, weereens op die 9de van die maand Av. Die Jode herdenk hierdie datum as ‘n dag van hartseer.

Aan Daniël, die profeet, is geopenbaar dat die Jode uit ballingskap sal terugkeer na die Eerste Tempel verwoes was in 587 voor Christus. Dan sal hulle Jerusalem en die tempel herbou. Daarna sal die Gesalfde kom en deur Israel verwerp word. Nadat die Gesalfde verwerp is, sal Jerusalem en die tempel weer verwoes word. Let op dat die Gesalfde dus voor 70 na Christus moes gekom het. Daniël 9:26: Ná die twee en sestig tydperke van sewe weke sal Die Gesalfde Een doodgemaak word en die stad sal sonder ‘n heerser wees en die afgesonderde stad sal saam met die komende koning vernietig word en die einde daarvan sal ‘n reuse verbanning wees en aan die einde van die oorlog, word verlatenheid vasgestel. (Aanhalings uit die PWL-vertaling).

Yeshua het oor Jerusalem en die tempel geprofeteer in Lukas 21:5-6: Toe sommige oor die tempel praat, sy mooi klippe en versierings van geskenke, sê Yeshua vir hulle: “Die tyd sal kom dat al hierdie dinge wat julle na kyk afgebreek sal word en daar nie een klip op ‘n ander gelaat sal word nie.”  En ook in Lukas 21:20: en wanneer julle sien dat Yerushalayim omsingel is deur troepe, dan moet julle weet dat sy vernietiging naby is. Ek is van mening dat hierdie profesie aansluit by die gelykenis in Lukas 20:9-16 en veral vers 16: Hy sal kom en daardie werkers vernietig en die wingerd aan ander gee.”

Die Joodse historikus, Flavius Josephus, was in Jerusalem tydens die val van die stad. Hy was ‘n ooggetuie van alles wat plaasgevind het. Hy het alles wat gebeur het, opgeteken in sy werk The Jewish War. Onder andere rapporteer hy dat daar, voor die verwoesting begin het, allerlei vreemde tekens plaasgevind het. Hy het hierdie tekens gesien as afkomstig van God, maar dit was deur die meeste mense en hul leiers geïgnoreer.

Daar was ‘n sekere Jesus, die seun van Ananus, wat vier jaar voor die oorlog begin het, in ‘n tyd toe daar vrede en voorspoed was, Jerusalem toe gekom het vir die Huttefees. Hy het onverwags begin uitroep: “’n Stem uit die Ooste, ‘n Stem uit die Weste, ‘n Stem uit die Vier Winde, ‘n Stem teen Jerusalem en die Heilige Tempel, ‘n Stem teen hierdie hele volk!”. Hy het dit dag en nag in al die strate van die stad gedoen. Sommige vooraanstaande mense was verontwaardig hieroor. Hulle het die man laat vang en hom laat slaan. Ten spyte daarvan het hy aangehou om deur die strate te loop en roep. Hierop het die heersers gedink dat daar iets boos in die man was en het hom na die Romeinse Prokurator geneem. Die Prokurator het hom verder laat slaan totdat die bene in sy liggaam sigbaar was. Tog het die man nie gepleit of trane gestort nie. By elke slag van die sweep was sy antwoord: “Wee, wee Jerusalem!” En toe die Prokurator hom uitgevra het, het hy niks geantwoord nie. Die Prokurator het tot die gevolgtrekking gekom dat die man mal is. Hierdie man Jesus het vir sewe jaar en vyf maande hiermee aangehou sonder om hees of moeg te word.

Tydens die Pesag was ‘n ster wat na ‘n swaard gelyk het bokant die stad. Daar was ook ‘n komeet wat vir ‘n hele jaar gesien kon word. Op die 8ste van die maand Nissan, teen die negende uur van die nag, was daar ‘n sterk lig wat vir ‘n halfuur lank rondom die altaar binne die tempel geskyn het. By dieselfde fees was daar ‘n koei, wat deur die hoëpriester gelei is om geslag te word, wat binne die tempel geboorte gegee het aan ‘n lam.

Die oostelike hek van die binnehof was van koper en baie swaar. Dit het twintig mans gevat om met moeite die hek oop en toe te maak. Hierdie hek het op die sesde uur van die nag vanself oopgegaan. Die wagte in die tempel het na die owerste van die tempel gegaan en hom daarvan vertel. Die owerste het gaan kyk en die hek kon nie weer sonder groot moeite toegemaak word nie. Die meer ernstige mense het dit verstaan as ‘n teken dat die veiligheid van die heilige tempel beëindig was en dat die poort vir hulle vyande oopgemaak is. Hulle het openlik daaroor gepraat en gesê dat verwoesting oor hulle kom. ‘n Paar dae later het ‘n ongelooflike verskynsel plaasgevind. Net voor sonsondergang kon strydwaens en gewapende soldate gesien word wat tussen die wolke beweeg en die stad omsingel.

Tydens die Pinksterfees, toe die priesters in die binnehof van die tempel ingaan om hul gebruiklike werk te doen, het hulle ‘n aardskudding gevoel en ‘n harde geluid gehoor. Daarna hoor hulle stemme binne die tempel wat sê:  “Laat ons hiervandaan weggaan”. Dit herinner aan Esegiel 10:18: Toe het die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van YHWH vanaf die drumpel van die tempel vertrek en oor die gérubs gaan staan.

Die opstand van die Jode teen die Romeine het in 66 na Christus begin toe die Prokurator beslag gelê het op die silwer in die tempel. Die Romeine het, in die proses om die opstand te onderdruk, 3,600 burgerlikes dood gemaak. Nie lank nie, toe is Judea en Galilea ook in opstand. Daar was verskeie Joodse faksies en hulle het teen mekaar begin veg. Daar was swak dissipline, swak leierskap en swak voorbereiding. Op een stadium het hulle, heel onverklaarbaar, hul eie voedselvoorraad vernietig. Die Romeine het die stad omsingel en geïsoleer. Niks kon in of uit nie. Mense het van hongersnood en siektes gesterf. Die hoëpriester se vrou moes oorskiet kos op straat bedel. Daar was kannibalisme. Uiteindelik het die Romeine deur die mure gebreek en ‘n groot slagting onder die Joodse bevolking aangerig. Wie nie gesterf het nie, is as slawe verkoop.

Die Jode het eerste met brandstigting begin, en die Romeine het daarmee voortgegaan. Toe daar niks meer was om te plunder nie en niemand meer om te vermink en dood te maak nie, het die Romeinse soldate die stad verwoes en die tempel aan die brand gesteek. Toe hulle klaar was, was daar niks oor om te wys dat daar ‘n stad was nie. Die bome, tuine en versierings was nie meer daar nie. Feitlik alle tekens dat daar ‘n groot en belangrike stad bestaan het, was uitgewis.

Die Romeinse soldate het die bevel van hulle generaal verontagsaam deur die tempel aan die brand te steek. Daar was groot hoeveelhede goud en silwer wat in die tempel bewaar was. Die hitte van die vuur het die goud en silwer gesmelt en dit het in die krake tussen die klippe ingeloop. Die soldate, in hulle gierigheid, het die reuse klippe losgebreek om by die goud en silwer uit te kom. Toe hulle klaar was, was daar letterlik nie meer een steen op ‘n ander oor nie.

Vir ons is dit belangrik om kennis te neem dat die argiewe ook vernietig is. Die argiewe sou oorspronklike manuskripte van die Ou Testament, manuskripte van ander boeke, geslagsregisters en so meer bevat het. Die oorspronklike rekords van die Jode se geskiedenis, kultuur en godsdiens was daarmee heen.

Waaraan skryf die Jode die verwoesting van Jerusalem en die tempel toe? Hulle gee toe dat die Eerste Tempel verwoes was omdat die volk skuldig was aan afgodery, losbandigheid en moord. Israel het God verwerp. Volgens hulle is die Tweede Tempel verwoes as gevolg van onderlinge haat onder mekaar. Dit was nie omdat hulle God verwerp het nie.

70 na Christus was ‘n draaipunt. Daar het ‘n verdere verwydering tussen Judaïstiese Jode en Christen Jode gekom. Verder het die nie-Joodse christene meer dominant as die Joodse christene geword.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin