Waarom is die woorde van die Gelofte verander?

Oor die laaste klompie jare het ek Geloftefeeste op 5 verskillende plekke bygewoon. Volgens die organiseerders groei die bywoning en is daar elke jaar meer mense as die vorige jaar. Interessant ook is die groot getalle jongmense, met klein kindertjies, wat dit bywoon. Nog iets wat ek waarneem is die Boerestyl kleredrag van die jonger manne.

Mens wonder of daar ‘n oplewing in belangstelling is. Sedert die Groot Verraad was daar ‘n groot aanslag teen die Gelofte en Geloftedag. Die groter kerkgenootskappe, kultuurorganisasies en politici het hulle gedistansieer van hierdie dag. Diegene wat deur die Boerehaat geïntimideer was, het nie meer die dag ondersteun nie. Wat het verander? Moontlik het die besef begin deurdring dat ons as volk tans in ‘n soortgelyke situasie verkeer as waarin die Voortrekkers was by Bloedrivier.

Geloftefeeste was sedert 1838 nog altyd jaarliks gevier. Wat wel verskil het, is die aard van die feeste. Sommige was tuis as ‘n familiefees gevier. Ander was as groot volksfeeste gevier. Daar was ook die wat as kerkdienste gevier was. Die bywoning van feeste het ook gewissel. Soms min mense, ander kere enorme skares.

Die meeste Geloftefeeste word gereël deur ‘n plaaslike Feeskomitee. Die Feeskomitee bestaan uit vrywilligers wat alles beplan en organiseer. Landwyd is daar, volgens een webwerf, meer as 70 onafhanklike Geloftefeeskomitees. Sover ek kan vasstel, is daar nie een saambindende Geloftefees organisasie nie. Die feeste waar ek was, het 4 verskillende elemente: daar is ‘n soort kerkdiens, daarna volg ‘n feesrede, die Gelofte word voorgelees en daar is verskillende kultuuraktiwiteite. Die komitee benodig dus ‘n predikant, iemand wat die feesrede kan lewer, mense wat die verversings verskaf en mense om die kultuuraktiwiteite te behartig. Die aktiwiteite moet ook vir kleiner kinders voorsiening maak. ‘n Perseel word benodig. Sommige komitees beskik oor hul eie persele maar ander moet ‘n plek huur. Alles kos geld en fondse moet verkry word. Om die fees by te woon, is gewoonlik gratis, maar daar word wel ‘n kollekte opgeneem.

Die hou van ‘n kerkdiens as deel van die fees het in 1864 in Natal ontstaan. Van 1910 tot omstreeks 1990 het die groter kerkgenootskappe toenemend betrokke geraak by Geloftefeeste. Sedert 1990 het van die groter kerkgenootskappe hulle onttrek aan Geloftefeeste. Die kerkdiens as deel van die fees het nogtans bly voortbestaan as ‘n tradisie. Derhalwe is dit vir die Geloftefeeskomitees nodig om ‘n predikant te soek wat bereid is om die diens te behartig. Baie predikante stel nie belang nie of dalk verbied hulle kerkgenootskappe dit. Blykbaar is predikante van die Evangelies Gereformeerde Kerk, die Hervormde Kerk, die Afrikaanse Protestantse Kerk en die Vrye Gereformeerde Kerk meer gewillig om die diens by Geloftefeeste te lei.

In die tydperk na 1880 het die lewering van ‘n feesrede gebruiklik geword. Op 16 Desember is volksvergaderings gehou en het bespreking van aktuele sake plaasgevind. Die gedagte van die feesrede is dat die spreker die eietydse situasie en die gebeure by Bloedrivier met mekaar moet verbind. Om sin en betekenis aan die Gelofte te gee. Om vandag ‘n geskikte spreker te kry is moeilik. Eerstens moet dit iemand wees wat bereid is om dit te doen. Daar is heelwat persone wat bang is om in die openbaar standpunt in te neem. Die spreker moet ook in staat wees om ‘n toepaslike boodskap oor te dra. Hy sal ook interessant moet wees en dit sal help as hy ‘n redelik bekende persoon is. Die feesrede moet nie net nog ‘n vervelige toespraak wees nie, maar dit moet mense kan trek en iets gee om oor te dink.

Die kultuuraktiwiteite wissel volgens die bronne en talente wat plaaslik beskikbaar is. ‘n Boerekommando in tradisionele drag met historiese vlae is altyd gewild. Sommige komitees het ‘n kanon wat gevuur word. Op een plek is daar ‘n demonstrasie van skiet met ‘n voorlaaier, by ‘n ander een ‘n demonstrasie van sweepslaan. Partykeer is daar tradisionele eet- en drinkgoed beskikbaar. Daar is ook Boeresport wat aangebied word. ‘n Ander een het ‘n interessante museum. Baie van die aktiwiteite is in die buitelug. As dit reën moet daar ‘n ander plan gemaak word. Dit is waarskynlik die pret van die kultuuraktiwiteite wat die grootste trekpleister na Geloftefeeste is.

Een item wat by alle Geloftefeeste teenwoordig is, is die lees van die Gelofte. Die weergawe van die Gelofte wat vandag algemeen gebruik word (die Moderne Gelofte), is in die begin van die 20ste eeu inmekaargeflans uit die vier oorspronklike Geloftebeskrywings. Die eerste beskrywing is die amptelike notulering van die Boere Volksraad (Oorspronklike Gelofte), soos opgeteken deur J.G. Bantjes (klerk van die Volksraad) tydens die gebeure by Bloedrivier. Die tweede is die Kommandantsverslag van A.W.J. Pretorius aan die Volksraad twee weke na die Slag van Bloedrivier. Die derde is die brief van die Volksraad aan ‘n Kaapse koerant. Die vierde is die herinneringe van Sarel Cilliers 30 jaar later op sy sterfbed. Die eerste drie stem ooreen met mekaar, Sarel Cilliers se herinneringe verskil daarvan.

Die Oorspronklike Gelofte lui soos volg: “om zo de Heere ons de overwinning geven mogt, ‘n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen,” – en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen, en dat wy de dag der overwinning, in ‘n boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdat het ter Eere van God gevierd mag worden.

Die Moderne Gelofte is so bewoord: Hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring, en dat ons ‘n Huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van Sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.

Soos gesien kan word is daar verskille tussen die Oorspronklike Gelofte en die Moderne Gelofte. Die eerste groot verskil is dat die oorspronklike beloof om ‘n huis te stig (instel of vestig) tot God se gedagtenis, terwyl die moderne ‘n huis wil oprig (bou) tot God se eer. Die betekenis van “huis” is ‘n woonplek, “stig” is om tot stand te bring. Die bedoeling was klaarblyklik dat die Voortrekkers beloof het om ‘n volk tot stand te bring tussen wie daar ‘n woonplek vir God sou wees. Daar is dus nie verwys na die bou van ‘n kerkgebou nie. Ten tyde van die Gelofte was al die Voortrekkers in elk geval onder tug en kerkloos. Hulle het ook nie ‘n predikant gehad nie, ‘n leek het die dienste gelei. Die gebeure van 16 Desember 1838 was nie net die redding van een groepie Voortrekkers nie, dit was ook die geboorte van ‘n volk. Om ‘n volk te wees wat deur ‘n Gelofte tot stand gekom het, is nie ‘n geringe saak nie. Minagting of losmaking van die Gelofte bring die volk se bestaansreg in gedrang.

Die moderne weergawe het die woorde: ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring. Dit staan glad nie in die oorspronklike nie. Dit kan seker nie kwaad doen om Geloftedag as ‘n afgesonderde dag te vier nie. Maar dit is nie beloof nie en word nie vereis nie. Die aard van Geloftedag is ‘n dag van dankbaarheid en blydskap, derhalwe ‘n feestelike geleentheid. In die oorspronklike is die voorneme om die gebeure in ‘n boek op te teken (die Volksraad se Joernaal?), terwyl die moderne weergawe dit weglaat.

Hoe het dit gebeur dat die Gelofte wat voorgelees word (Moderne Gelofte), verskil van die amptelike beskrywing (Oorspronklike Gelofte)? Die een moontlikheid is dat daar mense was wat verkeerdelik vir J.G. Bantjes as ‘n kleurling aangesien het. Gevolglik is die Volksraad se amptelike beskrywing verander omdat die sekretaris as ‘n kleurling aangesien is. Let wel, die Volksraad was self ooggetuies van alles en het die beskrywing van die Gelofte goedgekeur. ‘n Ander moontlikheid is dat daar in die twintigste eeu persone was wat die bewoording verander het om met hul eie ideologie ooreen te stem. Indien dit die geval was, sou dit skandalig wees.

Die Gelofte en die gebeure by Bloedrivier was in meer as een opsig ‘n keerpunt in die geskiedenis. Die militêre oorwinning oor Dingaan het die Zoeloes se tirannie (Mfecane) in Suidelike-Afrika finaal gebreek. Daarna kon ander swart volke bly voortbestaan. Ten spyte van die werk van sendelinge, was daar voor Bloedrivier geen bekeerlinge tot Christus onder die Zoeloes nie. Bloedrivier het die deur tot die kerstening van die Zoeloes oopgemaak. Na Bloedrivier het die meerderheid Nederlandssprekendes van Suidelike-Afrika besef dat hulle ‘n gesamentlike lotsverbondenheid het. 16 Desember 1838 was die geboortedag van die Boerevolk.

Die gebed was om te bly voortbestaan. Die belofte was dat ons onderneem om vir God ‘n woonplek tussen ons te maak. Die nakoming van die Gelofte bepaal of die Boerevolk ‘n toekoms het, of daar ‘n rede is dat ons mag bly voortbestaan.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui