Die penvoerder van die Boek van die Gelofte

Hoekom is die Gelofte van Bloedrivier so ‘n groot probleem vir so baie mense? Dit lyk of alles moontlik gedoen word om dit te diskrediteer. Die rede is dat Bloedrivier ‘n getuienis is. Dit is die getuienis wat stil gemaak moet word. Ons het reeds gesien dat die bewoording van die Gelofte weens onbekende redes verander is.

Het jy byvoorbeeld geweet dat die Voortrekkers, as deel van die Gelofte van Bloedrivier, onderneem het om die oorwinning in ‘n boek op te teken? Is dit gedoen? Het hulle hierdie belofte nagekom? Dit is nagekom. Die boek staan bekend as: Jan Gerritze Bantjes se joernaal oor die Slag van Bloedrivier en is in pdf-formaat beskikbaar by http://www.bloedrivier.org/gelofte/index.php/geskiedenis/die-bloedrivier-gelofte Die oorspronklike joernaal was ook in De Zuid-Afrikaan gepubliseer in Januarie en Februarie 1839.

Jan Gerritze Bantjes, wat die joernaal gehou het, is op 8 Julie 1817 in die Graaff-Reinet distrik gebore. Hy het op 1 Januarie 1837 by die Groot Trek aangesluit. Hy was toe 19 jaar oud en ongetroud. Dit wil voorkom of hy die enigste een van sy familie was wat aan die Groot Trek deelgeneem het. Die leke-prediker Erasmus Smit het gemeen Bantjes is skrander en talentvol en het hom gevra om met die godsdiens-oefeninge te help. Bantjes was ook vaardig met die pen en was Gerrit Maritz se sekretaris. Hy het ook die verdrag tussen Retief en Dingaan opgestel.

Hierna het Bantjes sekretaris van Andries Pretorius geword en het ook vir die Boere-Volksraad ‘n joernaal bygehou. As gevolg van sy pligte, was hy teenwoordig by die vergaderings van die Volksraad en van die Hoof-Kommandant. Hy was ook teenwoordig toe die besluit oor die Gelofte geneem is. Hy was verder ook een van die manskappe in die Bloedrivier-laer wat teen die Zoeloes geveg het. Jan Gerritze Bantjes was gevolglik ‘n ooggetuie van alles. Die joernaal wat hy gehou het, was die amptelike dokument van die Volksraad en is deur hulle goedgekeur. Indien daar enige iets was wat hy neergeskryf het wat nie korrek was nie, was daar genoeg ander ooggetuies wat beswaar kon maak.

Na Bloedrivier was hy Klerk van die Volksraad en prokureur in Pietermaritzburg. In 1840 het hy na die Kaapkolonie teruggekeer en verskillende betrekkings op verskillende plekke beklee. Hy is in 1887 op Potchefstroom oorlede. Hy is omstreeks 1839 getroud met Matthysina Germina Clasina Knoedzen (weduwee van Jan Oosthuizen). Een van sy kinders, ook Jan Gerritze, was ‘n medeontdekker van die hoofgoudrif in Johannesburg. Daar was ook ‘n Bantjes wat op St Helena as krygsgevangene gesterf het, maar dit is tans onbekend of daar ‘n verwantskap was.

As jy nie die Gelofte en Bloedrivier kan stil maak nie, kan jy die probeer om die persoon wat alles neergeskryf het te diskrediteer. Met ander woorde, as jy nie iets aan die boodskap kan doen nie, dan kry jy iets teen die boodskapper. Daar word gesê dat Jan Gerritze Bantjes ‘n kleurling was.

Hierdie aantyging word geïllustreer in die volgende 2 aanhalings. Die eerste aanhaling is ‘n verdraaiing in Afrikaans van Erasmus Smit se dagboek: Die Voortrekkers se dominee, Erasmus Smit, het in sy dagboek geskryf: “Mnr. De Klerk het ’n jong kleurlingman saam met hom gebring, en aangesien laasgenoemde sekere talente had, het ek hom versoek om ’n passasie te lees en te sing. Sy naam is Jan Bantjes.” Let op dat Erasmus Smit hier as ‘n dominee voorgestel word om gewig aan sy woorde te gee. Let verder daarop dat Erasmus Smit se woorde in aanhalingstekens gegee word. Die oorspronklike Nederlandse teks lees: In Erasmus Smit se Dagboek is daar op Zondag, 1 Jan. 1837 die volgende inskrywing: ‘De hr. De Klerk heeft ‘n schrander brein jonkman met zich medegebracht; en daar deze enige talenten heeft, verzocht ik hem in de kerk voor te lezen en te zingen. Hij voldeed mij zeer wel; zijn naam is Jan Bantjes; maar hij heeft zich binnenkort zelf aan deze diens onttrokken; en hij vond veel schrijfwerk bij de heren in dit leger. Let daarop dat die jongman ‘n skrander brein het en nie ‘n skrander bruinman is nie. Die gedeelte in aanhalingstekens verskil heeltemal van die vorige. Let ook op dat Bantjes hom van die godsdienstige pligte onttrek het omdat hy baie skryfwerk gekry het.

Nêrens elders word Jan Gerritze Bantjes ‘n kleurling genoem nie. Hy was nie gereken saam met die kleurlinge wat by Bloedrivier was nie. Hy is deurgaans deur die Voortrekkerleiers as ‘n gelyke behandel. Ook in sy huwelik en latere loopbaan het hy deurgegaan as ‘n blanke. Die foto van hom wat op die internet vertoon word, toon ook duidelik aan dat hy nie soos ‘n kleurling gelyk het nie.

Jan Gerritze Bantjes se stamvader (sy oupagrootjie) was Jan Gerrit Bantjes van Winschoten in Nederland. Hy het in 1755 met die skip “Stadwyk” in die Kaap aangekom. Hy tree, in Paarl, op 5 Maart 1758 in die huwelik met Hilletje Agnita Jacobsz. Sy was die dogter van Jan Jacobsz en Johanna Agnita (Pieterz) Jacobsz. In 1760 word hy ‘n burger en tree vir die tweede keer in die huwelik. Uit sy huwelik met Hilletje Agnita het hy net een seun gehad, hy was ook as Jan Gerrit gedoop. Hy was getroud met Maria Adriana Vermeulen. Hy was die oupa van Jan Gerritze van Bloedrivier. Bernhard Louis Bantjes (getroud met Isabella Johanna Adriana Swanepoel) was die vader van Jan Gerritze van Bloedrivier.

Daar was ‘n greintjie waarheid in die bewering dat Jan Gerritze Bantjes ‘n kleurling was. Sy een oumagrootjie was van gemengde afkoms. Van sy 8 grootjies was 1 van gedeeltelike slawe afkoms. Dit was Hilletje Agnita Jacobsz van de Caab, sy stammoeder. Die beskrywing “van de Caabˮ is gebruik waar iemand nie ‘n van gehad het nie en plaaslik gebore was. Hilletje Agnita het wel ‘n van gehad, dus is dit onduidelik hoekom sy as “van de Caabˮ beskryf is. Die meeste persone wat so beskryf was, was slawe – maar nie almal nie. Die meeste geslagsregisters identifiseer haar vader as: Jan Jacobus/Jacobs/Jacobsz, gebore in 1685 en oorlede 1737. Hy was die seun van Jacob van Macassar en Maria van Guinea (albei slawe). Hilletje Agnita se moeder word geïdentifiseer as Anna/Johanna Agnita Pieters/Pietersze, gebore 1695,  dogter van Andreas Pietersze (van Lubeek, Noord-Duitsland) en Maria Domingo, ‘n voormalige slavin (moontlik van Bengaalse afkoms, die Bengale is etnies Indo-Aries). Hilletje Agnita Jacobsz is in 1737 gedoop. Die doopgetuies was Theunis van Aart en Hilletje (Kervel) van Aart. Dit kom voor of Hilletje Agnita vernoem is na Hilletje van Aart (peetma?) en haar moeder Johanna Agnita Pieterze.

Die “gemengde bloedˮ in Jan Gerritze Bantjes se are was so min dat dit eintlik geen effek op hom gehad het nie. Dit het nie van hom ‘n kleurling gemaak nie en hy is nie as een aangesien nie. Dit alles het natuurlik net mooi niks te doen met die Gelofte, Bloedrivier, of die amptelike verslag daaroor nie.

Deur te sê dat hy kleurling was, word geïmpliseer dat kleurlinge minderwaardig is want hulle sou nie in staat gewees het om ‘n betroubare verslag oor die Gelofte en Bloedrivier te gee nie. Aan die ander kant, as hy wel ‘n kleurling was, bewys dit dat die Voortrekkers nie rassiste was nie en ook nie die uitvinders van apartheid was nie.

Jan Gerritze Bantjes se joernaal oor die Slag van Bloedrivier is die korrekte en amptelike verslag wat die Voortrekkers beloof het om te laat opteken. Hierdie joernaal is die getuienis wat hulle aan hul nageslag nagelaat het.

(Terloops, in die joernaal is geen melding van kersfees nie. Waarskynlik was die Voortrekkers glad nie bekend met kersfees nie.)

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui