Die Nuwe Testamentiese gemeente en die hedendaagse kerk

Wanneer mens die Nuwe Testament lees, word jy getref deur hoeveel die Nuwe Testamentiese gemeentes verskil het van die hedendaagse kerk. Soos dag by nag. Hoe het so ‘n groot afwyking gebeur? Ons vra dit nie bloot uit nuuskierigheid nie, ons vra dit want dit is wesentlik om te verstaan wat gebeur het en wat vandag van ons verwag word. Die verlede verklaar die hede.

Die tydperk direk na die Apostels en tot die Eerste Konsilie van Nicea word die pre-Niceaanse tydperk genoem. Dit word onderverdeel in die tydperk van die Apostoliese Vaders (skrywers wat tussen ongeveer 90 en 160 n.C. geskryf het) en die Pre-Niceaanse Kerkvaders (skrywers wat tussen ongeveer 120 en 325 n.C. geskryf het). Die Eerste Konsilie van Nicea, in 325 na Christus, was die finale doodskoot van die gemeentes wat deur die Apostels tot stand gebring was. Dit was toe daar ‘n verenigde kerk (kerkgenootskap of kerkorganisasie) ontstaan het. Hierdie kerkgenootskap is terselfdertyd deur die staat erken en die vervolging van christene het opgehou. Die proses van verandering het dus al voor 325 n.C. begin.

Die Nuwe Testament is geskryf deur persone wat Yeshua (Jesus) persoonlik geken het en daarna deur die Heilige Gees geïnspireer was om alles wat die volgelinge van Yeshua sal nodig hê op skrif te stel. Na die Apostels nie meer daar was nie, moes vasgestel word watter geskrifte geïnspireerd was en watter nie. Van hierdie pre-Niceaanse skrywers het lyste gemaak van geskrifte wat deur christene in hulle omgewing gebruik was. Dit was geskrifte wat deur die gelowiges self as geïnspireerd beskou was. Dit is aan hierdie skrywers te danke dat ons weet watter geskrifte van vroeg af gebruik was. Die Fragment van Muratori dateer uit ongeveer 170 n.C. en bevestig dat 22 geskrifte as betroubare Apostoliese geskrifte gereken was. In 185 n.C. het Irenaeus (Frankryk) na 21 boeke verwys. Hippolytus (Italië) het in 220 n.C. ook ‘n lys van boeke opgestel. Origenes (Egipte) het in 225 n.C. 27 boeke uitgewys. Eusebius (Palestina) het 26 boeke in 324 n.C. genoem. Deur vas te stel watter boeke as geïnspireerd beskou is, kon ook vasgestel word watter boeke nie geïnspireerd was nie. Die latere besluite oor die kanonieke boeke het slegs bevestig wat reeds praktyk was.

Die Apostels het al te doen gekry met dwaalleringe. Hulle grootste probleem was die Judaïseerders, christene wat Judaisme wou toepas binne die liggaam van Christus. Ketterse groepe het, volgens die pre-Niceaanse geskrifte, eers in die tweede eeu na Christus ontstaan. Kettery is ‘n bewustelike en opsetlike afwyking van die fundamentele geloofsleer. ‘n Groot probleem met hulle was dat hulle dieselfde boeke gebruik het as wat die gemeentes gebruik het. Die pre-Niceaanse skrywers het gevolglik aandag gegee aan die verwerping van ketterse leerstellings, geskrifte wat nie geïnspireerd was nie en die verdediging van die christelike geloof.

Docetisme was een van die eerste ketterse groepe. Hulle het geleer dat Yeshua (Jesus) nie ‘n fisiese liggaam gehad het nie, dit het net gelyk of Hy een het. Ignatius van Antiogië het hulle weerlê. Marcionisme was die leer van ‘n sekere Marcion. Vir Marcion was die God van die Ou Testament en die God van die Nuwe Testament twee verskillende gode. Hy het die hele Ou Testament verwerp en het slegs Lukas en dele van Paulus se briewe as Heilige Skrif erken. Verskeie van die vroeë skrywers het teen sy leerstellings geskryf. Vroeg in die tweede eeu het die Gnostisisme ontstaan. Die naam kom van ‘n Griekse woord wat  “kennisˮ beteken. Dit was ‘n mengsel van die christelike leer en ander heidense gelowe en filosofieë.

Dit het by sommige christelike gemeentes gebeur dat hulle nie meer die leiding van die Heilige Gees gevolg het nie. Hulle het al meer vertrou op menslike leiers. Hulle het ook nie meer as die liggaam van Christus gefunksioneer nie. Dit het die Heilige Gees bedroef. Sulke gemeentes het geestelik “doodˮ geword. Iewers in die 160’s het ‘n sekere Montanus getuig dat hy ‘n besoek van die Heilige Gees ontvang het en dat hy geroep is om te profeteer. Twee vroue het ook ‘n roeping as profetesse gekry. By die Montaniste was profesie meer gesaghebbend as uitsprake van menslike leiers. Die pre-Niceaanse skrywer Tertullianus het later by die Montaniste aangesluit. Hoewel hulle ketters genoem was, sou hulle vandag waarskynlik deel van die pinksterbeweging gewees het.

Die versterking van menslike leierskap is voorgestaan deur Ignatius van Antiogië (35 – 107 n.C.). Hy was ‘n Apostoliese Vader, dit wil sê hy het een of meer van die Apostels persoonlik geken. Hy het homself as ‘n opvolger van die Apostels beskou. Hy was Biskop van Antiogië en het 7 briewe geskryf. In die Nuwe Testament is ‘n ouderling en biskop dieselfde amp. Ignatius was die eerste persoon wat geleer het dat elke gemeente ‘n biskop moet hê en dat dit ‘n hoër amp as ouderling is. Hierdie leer het eers laat in die 2de eeu algemeen geword. Hy was ook die eerste persoon wat van ‘n “katolieke kerkˮ gepraat het.

Hierdie leer van Ignatius was die begin van die agteruitgang binne die christelike gemeentes. Een mens het nou die hoofleier in die gemeente geword, Yeshua was nie meer die hoofleier nie. Die gemeente het ‘n gewone menslike instelling geword. Die kerkgenootskap wat in die 4de eeu tot stand gekom het, was georganiseer volgens die model van die Romeinse Ryk – hierargies. Die kerkgenootskap was nou ‘n “regspersoonˮ en kon grond besit vir kerkgeboue, begraafplase en kerklike amptenare. Die biskoppe was gesien as die direkte opvolgers van die Apostels. In Later jare het die kerkgenootskap betrokke geraak by die burgerlike administrasie en het biskoppe ‘n belangrike politieke rol vervul.

Die volgende stap agteruit was dat sommige leiers hulle heil in geleerdheid gesoek het. Die opvolgers van die Apostoliese Vaders, word Kerkvaders genoem. Dit was vanuit die geledere van die pre-Niceaanse Kerkvaders wat die eerste teoloë gekom het. Clemens van Alexandrië (150 – 215 n.C.) het gewerk daaraan om die christelike leer en die Griekse wysbegeerte met mekaar te versoen. Origenes van Alexandrië (185 – 254 n.C.) het die eerste filosofiese uiteensetting van christelike leerstellings gemaak. Van sy sienings was so onbybels dat hy as ketter verklaar is. Athanasius van Alexandrië (293 – 373 n.C.) word onthou vir sy rol in die Eerste Konsilie van Nicea. Oor die algemeen word teologie gesien as soortgelyk aan filosofie, ‘n intellektuele besinning oor God en mens. Dit het gelei daartoe dat daar ‘n skeiding gekom het tussen geleerdes (ingewydes wat hul eie “taalˮ praat) en leke (buitestaanders) wat aangewese is op wat aan hulle gesê word. Leke het meestal nie ‘n Bybel besit nie, kon niks vir hulleself vasstel nie en was geestelik afhanklik van die kerkgenootskap.

En dit is die tragiese verhaal van hoe die liggaam van Christus, wat ‘n organisme is, die kerk, wat ‘n organisasie is, geword het. Maar alles was nie verlore nie. Regdeur die geskiedenis was daar groepe buite die kerkgenootskappe wat waarlik die Nuwe Testamentiese gemeente was. Die betroubare getuienis was en word steeds gelewer.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

2 thoughts on “Die Nuwe Testamentiese gemeente en die hedendaagse kerk”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui