Die 1992 Referendum: slapriem of flater?

Die huidige situasie waarin blankes in Suid-Afrika verkeer, is direk as gevolg van die Referendum van 17 Maart 1992. Almal wat toe nog nie kon stem nie, dit wil sê almal wat in 2018 nie ouer as 44 is nie, is dus nie verantwoordelik daarvoor dat ons nou in tamatiestraat sit nie. Die van ons wat toe kon stem, almal ouer as 44, moet ons verantwoord teenoor die jonger geslag.

Sedert 1992 het blankes bykans alle politieke mag verloor. Baie het ook hul werk verloor of het na die buiteland geëmigreer. Daar is deesdae etlike plakkerskampe waar witmense woon. Hulle is geheel en al afhanklik van private skenkings van voedsel en klere. Die nuwe grondwet van FW de Klerk, ‘n beloofde regstaat, bied weinig beskerming aan minderheidsgroepe. Baie blankes voel dat hulle tenagekom is en deur hulle eie mense uitverkoop en verraai is. Afrikaans as ampstaal is bykans volledig afgeskaf ten gunste van Engels. Dit word alhoemeer duidelik dat ons die slagoffers van volksmoord geword het. Die moord, verkragting en marteling van blankes is steeds aan die toeneem. Die referendum het die Boerevolk tot op die rand van uitwissing gebring.

Sedert die Nasionale Party (NP) in 1948 aan bewind gekom het, het hy met elke verkiesing net sterker geword. Teenstanders het besef dat hulle nooit op ‘n demokratiese manier die NP tot ‘n val sou bring nie. Gevolglik het hulle die NP begin rysmier en kort voor lank is die party van binne verander tot iets anders as wat dit oorspronklik was. Dit het in die geheim gebeur en die meeste NP-ondersteuners het dit nie agtergekom nie. Dit is gedoen onder die dekmantel van “hervorming”. Die wat nie hiermee wou saamgaan nie, het geen ander keuse gehad as om pad te gee uit die NP en om nuwe politieke partye en organisasies te stig nie. Onder die leierskap van FW de Klerk het die NP die dienaars van internasionale belange geword. Die NP het aansienlike steun van sy oorblywende ondersteuners verloor en daar het ‘n wesentlike gevaar ontstaan dat die Konserwatiewe Party (KP) die volgende algemene verkiesing kon wen. Indien dit gebeur, sou nie net die NP se “hervormings” daarmee heen wees nie, dit sou ook ‘n terugslag vir die internasionale belange wees.

De Klerk en sy raadgewers het ‘n briljante oplossing gekry en ‘n referendum uitgeroep. Slegs blankes kon stem en moes die volgende vraag goedkeur of afkeur: Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ‘n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is? Hierdie keuse voor blanke kiesers sou onherroeplik wees, daar sou nie weer ‘n geleentheid wees om hieroor te stem nie. Omtrent 86% van die blankes het in hierdie referendum gestem en 68% van hulle het “ja” gestem. Hierdie uitslag het almal, binnelands en buitelands, verras.

Dit was verbasend dat veral die Afrikaanssprekende blankes, wat altyd as rassiste voorgehou is, vrywillig hulle politieke mag en voorregte prys gegee het. Daar was selfs persone wat dit as ‘n wonderwerk beskou het. Wat het die meerderheid blankes oortuig om so ‘n besluit te neem? Het hulle so ‘n blindelingse vertroue in die bekwaamheid van de Klerk en sy span gehad? Het niemand hulle gewaarsku dat hulle ‘n fout sal maak om aan de Klerk ‘n blanko tjek te gee nie? Of was dit hul christelike naasteliefde wat hulle so laat besluit het?

Een moontlikheid waarom die blankes “ja” gestem het, kan wees omdat hulle inherent goedhartig en mensliewend was. Dat hulle aan nie-blankes dieselfde gegun het as wat hulle self gehad het. Daar was, en is moontlik nog steeds, ‘n kerklike leerstelling van sosiale geregtigheid (social justice) onder die naam van christelike naasteliefde. Dit moet onthou word dat dit nie die blanke publiek was wat allerlei apartheidsvergrype gepleeg het nie, dit was die staat, onder beheer van die Nasionale Party, wat dit gedoen het. (Let daarop dat die grootste vergrype plaasgevind het nadat die “verligtes” beheer oor die NP verkry het.)

Nog ‘n moontlikheid is dat die blankes vir FW de Klerk geglo en vertrou het. Hy is gesien as een van ons mense wat nie sy eie mense in die steek sal laat nie. Hy het op televisieskerms voorgekom as ‘n redelike en beredeneerde persoon. Die media het vertel dat hy, ‘n gewone prokureur, ‘n briljante regsgeleerde was en dat sy konsep van ‘n “regstaat” die oplossing vir die toekoms was. Daar is geglo dat hy, vanweë sy posisie, oor inligting beskik wat die publiek nie het nie en dat hy dus beter weet. Hy is voorgehou as ‘n eerbare persoon wat sy bes gedoen het, maar wat deur sy onderhandelaars in die steek gelaat is.

‘n Verdere moontlikheid is dat blankes “ja” gestem het as gevolg van intimidasie. Dat hulle bang was vir die gevolge indien hulle “nee” sou stem. Dat hulle, hulle gesinne, hulle loopbane en hulle besighede teenspoed gaan kry. Andersins kon dit wees dat hulle, oor baie jare, ‘n soort “breinspoeling” ondergaan het wat hulle denke gekondisioneer het. Of dalk was hulle slagoffers van doeltreffende propaganda.

Die NP se “ja” veldtog was iets wat nog nooit voorheen in Suid-Afrika gesien was nie. Die NP het groot vergaderings gehou, advertensies in koerante en op televisie geplaas. Die koerante het spesiale afslag op die advertensies gegee. Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (deesdae die SABC) was ‘n staatsbeheerde korporasie en het die NP gesteun. Hulle het allerlei metodes gebruik om die NP gunstig en sy opponente ongunstig te laat lyk. Die NP se veldtog is deur die media, die Demokratiese Party (DP), die internasionale gemeenskap en die groot korporasies gesteun. Verskeie groot maatskappye (Anglo-American, Barlow Rand, BP, Caltex, FNB, Murray & Robberts, Shell, Standard Bank) het openlik hulle werknemers bearbei om “ja” te stem. Verskeie sakeleiers het die Private Sector Referendum Fund gestig en omtrent R1-miljoen ingevorder om die NP te ondersteun. Daar was ook klagtes dat sommige werkgewers gedreig het om werknemers wat “nee” stem te ontslaan. Verder was daar predikante wat tydens eredienste hulle lidmate aangemoedig het om “ja” te stem. Daar is persone wat meen dat sport ‘n deurslaggewende rol gespeel het in die keuse om “ja” te stem. Suid-Afrikaanse blankes het ‘n beheptheid met sport en hulle wou die sportboikot beëindig. Bekende professionele sportlui het op televisie verskyn en die kiesers aangemoedig om “ja” te stem.

Die enigste werklike bedreiging vir de Klerk en sy bondgenote was die “regse gevaar”. Baie tyd, energie en geld is spandeer om die KP en ander konserwatiewe groepe te bestry. Hulle was ‘n groter gevaar vir de Klerk as die ANC en die SAKP met hulle gewapende magte. Een plakkaat het ‘n foto vertoon van ‘n gemaskerde en gewapende blanke met die woorde: “Jy kan hierdie man stop!” Dit was in ooreenstemming met die propaganda wat konserwatiewes as onbeskaafde geweldenaars voorgestel het. De Klerk het by herhaling die versekering gegee dat hulle nie mag gaan prysgee nie, maar dat hulle magsdeling gaan instel. Die “nee” veldtog het min geld gehad, het nie afslag by koerante gekry nie, het geen ondersteuning by die media gekry nie en moes hoofsaaklik deur plakkate hulle boodskap oordra. Die “nee” veldtog het gewaarsku dat die NP se onderhandelings op ‘n swart meerderheidsregering gaan afstuur. Hulle het ook selfbeskikking vir blankes voorgestaan. Dit was eers na die referendum dat die KP vir ‘n volkstaat te vinde geword het.

Vandag weet ons een ding met sekerheid. Om “ja” te stem was die verkeerde besluit. Daaraan kan niks gedoen word nie, ons kan dit nie herroep nie.

Die wêreld praat van die 1992 Referendum as die einde van apartheid. Gaan daar in die toekoms ook gesê word dit was die einde van die Boerevolk?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

1 thought on “Die 1992 Referendum: slapriem of flater?”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui