Engelse in die Laer

Daar was Engelse Voortrekkers ook. Party was selfs by Bloedrivier.

Ons geslagsregisters begin met die Ou Kaapse Families, soos opgeteken deur de Villiers-Pama. Hierdie registers begin in 1652 (toe Van Riebeeck die verversingspos gestig het) en duur tot min-of-meer 1806 (toe die Kaap ‘n Britse Kolonie geword het). Ons kan dit beskou as DEEL I van ons familiegeskiedenis. DEEL II van ons geslagsregisters behoort die tydperk tussen 1806 tot 1854 te dek. Sedert 1806 het die 1820-Setlaars deel van die blanke bevolking geword. In 1836 het die Groot Trek begin en in 1852 en 1854 het die Sandrivier- en Bloemfonteinkonvensies tot stand gekom en is die Boererepublieke van die Vrystaat en Transvaal deur Brittanje erken.

Ons bemoei ons hier met die Boerevolk. Gevolglik stel ons belang in die nuwe bloed wat tydens die Groot Trek tot die Boerevolk toegevoeg is. Sommiges was uit die geledere van die Setlaars, ander het uit ander oorde gekom.

William Cowie se ouers was 1820-Setlaars uit Skotland. Hy is in Grahamstad gebore en hy sterf in 1856. Hy was getroud met ‘n Boeremeisie, Magdalena Josina Laas. Sy was die dogter van Andries Marthinus Laas. Die Cowies het saam met JJ Uys en sy seun Pieter, aan die Groot Trek deelgeneem. Kommandant Karel Landman het Cowie en vyf ander in April 1838 gestuur om met die Britte in Port Natal te onderhandel oor vestiging in die gebied. Cowie word ‘n veldkornet in 1838 en heemraad in 1839. Hy was een van die veldkornette by die Slag van Bloedrivier. ‘n Paar jaar later het hy ‘n uitval met die ander Voortrekkers gehad. Cowies Hill in Natal is na hom vernoem. In 1844 het hy Posmeester van Durban geword.

Samuel Liversage was ‘n boer van beroep en die leier van ‘n groep van 48 Setlaars uit Staffordshire, Engeland. Hy is gebore op 3 Julie 1788 te Bridgemere, Cheshire. Hy was getroud met Anne maar sy sterf op weg na die Kaap. Hy trou weer met Harriet Elizabeth Bond. Hy het by die Voortrekkers aangesluit en het hom gevestig naby Albert Falls, Natal. Sy kinders het met die kinders van Voortrekker families (Maartens, Uys, Van Niekerk, Van Jaarsveld en Muller) ondertrou. Hy sterf in York, Natal en is begrawe naby Hanover, Natal. Op sy grafsteen verskyn die volgende inskripsie: “In loving memory of Samuel Liversage, in whose house the Gospel was first preached in this locality on Aug 7th 1865. He lived to see his family and neighbours greatly blessed, and died in peace on June 4th 1872 aged 89 years”. Hy was nie by die Slag van Bloedrivier betrokke nie.

Thomas Jervis Biddulph is gebore op 29 Januarie 1801 en is oorlede op 2 Desember 1879. Hy was ‘n 1820-Setlaar en was een van die manskappe by Bloedrivier. Dit is nie bekend of hy saam met die Voortrekkers gekom het nie. In 1848 word hy deur Sir Harry Smith as magistraat van Winburg aangestel. Die Voortrekkers was hieroor ontsteld.

Alexander Harvey Biggar was nie ‘n Voortrekker nie, maar hy was wel by Bloedrivier teenwoordig. Hy is gebore op 28 Oktober 1781 en hy sterf by die Slag van Umfalozi op 27 Desember 1838. Hy was gebore te Cork, Ierland. Hy was die leier van sy eie groep Setlaars uit Weymouth. Hy was getroud met Mary Straton, ‘n predikantsdogter. Die Koloniale Regering het hulle gevestig by Brakrivier. Hy en twee van sy seuns was vroeë handelaars in Port Natal. Na die moord op Retief en sy geselskap het Biggar en sy seuns betrokke geraak by die konflikte met Dingaan. Al drie het in die verskillende konflikte van 1838 omgekom. Hy het by die laer by Bloedrivier aangesluit vergesel van ‘n getal swartes wat ook vir Dingaan wou verslaan. Biggar het, nes baie ander Britte in Port Natal, ‘n seun by ‘n Zoeloevrou gehad.

Edward Parker het Alexander Biggar vergesel en aan die Slag van Bloedrivier deelgeneem. Hy was moontlik dieselfde man as wat in 1841 met Sarah Jarman getroud is. Andersins kon ek niks meer omtrent hom vasstel nie.

Robert Joyce het ook vir Biggar en Parker vergesel. Nadat Alexander Biggar se seun George Biggar by Blauwkrans gesterf het, het van die handelaars in Port Natal betrokke geraak by die stryd teen die Zoeloes. In ‘n aanval op 17 April 1838 sterf die meeste van die handelaars. Joyce was een van vier wat die dood ontsnap het. Sy naam verskyn op die lys van deelnemers by Bloedrivier. Verdere inligting oor hom is skraps.

Daar is tans bitter min bekend van Kaptein Gardner wat ook betrokke was by die Slag van Bloedrivier. Hy moet nie met Kaptein Allen Gardiner, die sendeling, verwar word nie. Na die Slag het hy onderhoude met Voortrekkers gevoer en ‘n sketsplan van die terrein gemaak. Hierdie verslag van Kaptein Gardner word in die Killie Campbell-biblioteek in Durban bewaar.

Ook op die lys van persone by Bloedrivier verskyn die naam Leech – sonder voorname. Hy kan moontlik dieselfde persoon wees as James Crampton Leech. Hy is gebore in 1787 in Ierland en sterf in 1872 te Hillsboro, Natal. Verdere inligting oor hom kon nie verkry word nie.

Die nuwe bloed wat by die Boerevolk bygekom het, was nie net van Britte afkomstig nie. Daar was ook persone uit Europa wat aan die Groot Trek deelgeneem het en wat by Bloedrivier was. Friedrich Giezing (a1) is die stamvader van die Giezing-familie. Hy kon van Nederlandse afkoms gewees het en sy nageslag het skynbaar in Wes-Transvaal gewoon. Frederik Marcus (b5) moes die seun gewees het van ‘n Nederlandse familie wat aan die begin van die 18de eeu na Suidelike-Afrika gekom het. Christoffel Cornelis Fronemann (b7) was die seun van Johan Conrad Jonas Fronemann (van Hannover, Nedersakse) en Sara Helena Smit (van Stellenbosch). Hy was getroud met Maria Elizabeth Opperman en was een van die Laerkommandante by Bloedrivier. Thomas Richard Dannhauser (b6), was die seun van Georg Friedrich Dannhauser en Johanna Catharina Dannhauser. Sy eerste huwelik was met Hester Geertruida Janse van Rensburg en sy tweede huwelik was met Aletta Dannhauser. Hy was een van die manskappe by die Slag van Bloedrivier.

Die name van almal wat aan die Groot Trek deelgeneem het, is tans nog onbekend. Die deelnemers aan die Slag van Bloedrivier is bekend en ons kan hulle gebruik as ‘n deursnit van die volle getal Voortrekkers. Sekerlik moes daar nog Engelssprekendes gewees het wat aan die Groot Trek deelgeneem het. In die Oos-Kaap, by die deel van die Boerevolk wat nie aan die Groot Trek deelgeneem het nie, moes daar ook ondertrouery met Setlaars gewees het. Ditto vir ander aankomelinge uit Europa.

Daar is een bron wat dit uitdruklik stel dat al die Engelse by Bloedrivier ook die Gelofte afgelê het.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui