Die Broederbond, ‘n adder in die boesem

Foto: http://stopwhitegenocideinsareports.blogspot.co.za

Ek het groot geword in die tyd toe die Afrikaner-Broederbond (AB) die hele volkslewe gedomineer het. Hulle het die Afrikaanse kerk, skool, universiteit, sakewêreld, kultuur, politiek, media en nog meer oorheers en beheers. Dit het hulle agter die skerms gedoen en waarskynlik was baie mense nie eers bewus hiervan nie. Ons het verneem dat hulle dit doen vir die beswil van die volk. Niemand was seker wie die lede van hierdie organisasie was nie, daar is vermoed dat hulle ledetal bestaan het uit vername en suksesvolle persone, die elite onder die volk. Ons dominee, ‘n dubbel-doktor, was wyd en syd beskou as ‘n leier in die plaaslike AB. Jare later het ‘n kennis, ook ‘n dominee, ‘n lys van lede van die plaaslike tak in die hande gekry en ons dominee was nie eers ‘n lid nie. Die eintlike leier was ‘n ander dominee wat nie prominent in die gemeenskap was nie. So kon mens jou misgis.

Die AB was ‘n hoogs geheime organisasie, baie soos die Vrymesselaars. Jy kon nie iewers aansoek doen om lid van die Afrikaner-Broederbond te word nie, hulle het jou genader. Jy sou eerstens ‘n lid van die Rapportryers moes wees en daar jouself onderskei. Dan sal jy genader word om by die Ruiterwag aan te sluit. As jy daar raakgesien word, sal die AB jou nader. Vereistes waaraan jy ook moes voldoen was dat jy Afrikaanssprekend en ‘n aktiewe lid van een van die Afrikaanse kerke moes wees. Verder moes jy manlik wees en die potensiaal hê om invloedryk te word.

Die Afrikaner-Broederbond is in 1918 gestig en het onder daardie naam bestaan tot 1994 toe. Die naam is toe verander na die Afrikanerbond. Daar word beweer dat hulle op ‘n stadium 17,000 lede gehad het, maar dat daar nou net 4,000 is. Daar word vermoed dat ‘n groot groep in 1994 weggebreek en deel van ‘n ander, nog meer geheime, organisasie geword het.

Die stigtingsdoel van die AB was dat dit ‘n a-politiese organisasie sou wees wat agter die skerms sou werk om aan die Afrikaner sy regmatige plek in die Unie van Suid-Afrika te gee. In die 1920 grondwet het die AB hom verbind tot ‘n Christelik-nasionale grondslag, om eensgesindheid onder alle Afrikaners na te streef en om ‘n nasionale selfbewussyn by Afrikaners op te wek.  In hulle beginjare het hulle ‘n groot rol gespeel in die bevordering van Afrikaner-nasionalisme, die Ossewatrek van 1939, die Ekonomiese Volkskongres en ook om Afrikaners ‘n vastrapplek in die Engels-oorheersde ekonomie te gee. Hulle het Sanlam, die Reddingsdaadbond en die Afrikaanse Handelsinstituut gestig. Soos hulle invloed toegeneem het, het hulle hul stigtingsdoelwitte verlaat. Dit is waarskynlik dat hulle die volksbenaming “Afrikaner ” bo die naam “Boer” verkies het en bevorder het. Die naam “Boer” het blykbaar verleentheid by Engelse vriende veroorsaak.

In 1927 het die Broederbond die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) gestig waarmee die meeste kultuurorganisasies, sonder hulle wete, nou onder die AB se beheer gekom het. Die skeuring in 1933 tussen genl. Hertzog en dr. Malan het tot gevolg gehad dat lede van die Broederbond hulle in twee politieke kampe bevind het. Toe die Nasionale Party in 1948 aan bewind kom, was dit te danke aan die groeiende eenheid onder Afrikaners. Die AB het nou gestreef om beheer te verkry oor alle vertakkinge van die volkslewe. Lede moes mekaar help om beter en belangriker posisies te verkry. Komitees van “deskundiges” is gevorm om feitlik alles binne en buite die politiek te bestudeer en studiestukke op te stel. Deur hierdie studies kon die AB die regering van raad bedien. Die regering, daarenteen, het die AB gebruik om die volk te kondisioneer om beleidsafwykings te aanvaar. Lede van die AB was orals en kon in skole, universiteite, die staatsdiens, kultuurorganisasies, groot staats- en private maatskappye, koerante en die kerk die volk “sagmaak”.

Waarmee kan mens die Broederbond vergelyk? Hulle was soos ‘n seekat met baie arms. Na die moord op dr. Verwoerd het adv. John Vorster Eerste Minister geword. Hy was nie bestand teen drukgroepe nie en daar het ‘n krisis oor die sportbeleid ontstaan. Dit het in 1969 tot die eerste skeuring in die Nasionale Party gelei. Die probleem met die sportbeleid het nie weggegaan nie en Vorster kon nie ‘n beleid formuleer nie. In 1971 het die Broederbond tot sy redding gekom en vir die regering ‘n sportbeleid opgestel. Verder het die Broederbond besluit dat die implikasies nie dadelik aan die kiesers bekend gemaak moet word nie en dat dit deur remming en vertraging geïmplimenteer moet word. Daar is verder besluit om deur veranderde terminologie die beleid beter te laat klink. 1971 was ‘n belangrike keerpunt. Die Broederbond was nie meer net raadgewend nie, maar het direk begin om regeringsbeleid te maak. Daar was dus ‘n geheime onverkose regering binne in die verkose regering. Die kiesers is doelbewus in die duister gehou.

Dit word vertel dat dr.  Verwoerd die antwoord geken het voordat hy ‘n vraag gevra het. Die Apartheidsbeleid wat hy voorgestaan het, was moreel regverdigbaar en weldeurdag. Nogtans het hy baie teenstanders in die Broederbond gehad – die linkses. Die Broederbond en die Nasionale Party het twee magsgroeperinge gehad. Die Suidelike (Kaapse) groep wat links was en die Nasionale Pers beheer het. Die Noordelike groep was beskou as regs en het Perskor beheer. Die linkse groep het nie kans gesien om weg te breek en ‘n nuwe party te stig nie en het verkies om die Broederbond en Nasionale Party van binne af oor te neem. Een struikelblok was die Noordelike pers. Die aanslag het in 1974 begin met die stigting van die koerant “Beeld” as teenvoeter van Perskor se koerante in Johannesburg en Pretoria. Perskor het staatskontrakte vir drukwerk verloor en is uiteindelik verslaan en toegemaak. Van toe af was die linkse Nasionale Pers, saam met die SAUK wat ook deur die Broederbond beheer is, die propagandamasjien vir die Nasionale Party en die Broederbond.

Soos die AB se invloed gegroei het, het opportuniste geleenthede gesien om eiebelang te bevorder. Nepotisme, bevoorregting van lede bo nie-lede en die verwesenliking van persoonlike ambisies was aan die orde van die dag. Broeders het nie gehuiwer om volksgenote in die modder in te trap tot eie bevoorregting nie.

Vir my persoonlik was die Broeders se invloed in die Afrikaanse kerke die hartseerste. Die meerderheid dominees was lede van die AB. Die AB het die kerke beheer. Hoe het die Broeders dit reg gekry om ‘n kerkraad, waarvan die meerderheid nie Broeders was nie, se besluitneming te beïnvloed? Net twee Broeders, behalwe die dominee, hoef kerkraadslede te wees. Indien die kerkraad iets wil besluit waarvan die Broeders nie hou nie, het een Broeder dan ‘n heftige argument geloods wat op ‘n groot rusie afstuur. Die tweede Broeder het dan ‘n versoenende standpunt ingeneem en gevra dat die besluit oorgedra word na ‘n volgende vergadering. Die dominee het dit ondersteun. Van uitstel kom afstel. Remming en vertraging.

Na die stigting van die Herstigte Nasionale Party (HNP), het die Broederbond in 1972 van sy lede geëis om ‘n geheime onderneming te teken waarin hulle alle assosiasie met die HNP afsweer. (Dit was die enigste party van wie dit verwag was.) Die meerderheid predikante was lede van die Broederbond en het hulle dus gedisassosieer van hulle lidmate wat ‘n sekere politieke party ondersteun. Met die 1992 referendum het predikante openlik hul lidmate aangemoedig om “ja” te stem. Hoeveel prediking het propaganda gemaak vir die Broederbond se sienings?

Baie regters was lede van die AB. Wat sal ons vind as ons hulle hofbeslissings ondersoek? Was hulle uitsprake onpartydig en het geregtigheid geskied? Wat van Kommissies van Ondersoek? Was die resultate die waarheid?

Top akademiese poste was gereserveer vir Broederbonders. Gevolglik was baie akademiese publikasies geskryf deur Broederbonders. Dit laat mens wonder. Is ‘n teologiese werk deur ‘n Broeder onpartydig? Is ‘n boek oor geskiedenis deur ‘n Broeder geloofwaardig? Het ‘n professor, wat ‘n Broeder is, se boek oor volkskunde enige integriteit? ‘n Boom word aan sy vrugte geken. Het die Broederboom gesonde vrugte gedra of was alles vrot?

Die eerste probleem met geheime organisasies is, dat dit ‘n sameswering is, ‘n gekonkel in die donker, ‘n groepie wat eenkant staan en fluister. Ou Testamentiese profete het dit veroordeel. Die verskoning van goeie bedoelings hou nie water nie. Aanvanklike goeie bedoelings verander altyd in kwade uitkomste. Die wet van die gevalle natuur van die mens.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Hoekom word die Bloedrivier Gelofte verdraai?

Bloukrans

‘n Gelofte is ‘n plegtige onderneming teenoor God om iets te doen. In 1 Samuel 1:11 maak Hanna ‘n gelofte aan YHWH, dat indien Hy aan haar ‘n seun skenk, sal sy hierdie kind afsonder vir YHWH. YHWH het aan haar versoek voldoen. Was Hanna nou verplig om haar seun vir YHWH af te sonder? En as sy dit nie doen nie? Wat sal YHWH geregtig wees om te doen?

Die Voortrekkers het by Bloedrivier ‘n gelofte aan God gemaak. Indien hulle dit nie nagekom het nie, wat sou God daaromtrent kon doen? Sou God geregtig wees om dit wat Hy vir hulle gedoen het, weer weg te vat? Om hulle terug te plaas in die situasie waarin hulle voor Bloedrivier was? As ons, vandag, gebonde is aan die Gelofte, en ons kom dit nie na nie, wat kan ons van God verwag? Kan Hy ons dalk oorgee in die hande van vyande wat ons wil uitwis?

Ongelukkig was daar deur die jare verskeie pogings om die Gelofte van Bloedrivier te verdraai. Meestal vir kerklike of politieke redes. Die eerste verdraaiing was met die bewoording van die Gelofte. Die oorspronklike bewoording is te vinde in die amptelike notule van die Boere-Volksraad: Des Zondags morgens, vóordat de godsdienst begon, liet de Hoofd- Kommandant degenen die de godsdienst zouden verrigten, by malkander komen, en verzocht hen, met de gemeente te spreken, dat zy allen volyverig in geest en in waarheid, tot God mogten bidden, om Zyne hulp en bystand, in het slaan tegen de vyand; dat hy aan de Almagtigen ‘n gelofte doen wilde, (indien allen wel willen), – “om zo de Heere ons de overwinning geven mogt, ‘n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen,” – en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen, en dat wy de dag der overwinning, in ‘n boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdat het ter Eere van God gevierd mag worden. Let op die “stigting” van ‘n huis en “in ‘n boek aanteken”.

Hierdie oorspronklike en outentieke bewoording verskil van die “aanvaarde” bewoording wat gewoonlik by Geloftefeeste voorgelees word: Hier staan ons voor die heilige GOD van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n sabbat sal deurbring, en dat ons ‘n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan hom te gee. Let op die “oprig” van ‘n huis, “soos ‘n sabbat” en geen melding van ‘n boek nie. Hoe het dit gebeur dat die woorde verander is?

Die verantwoordelikheid en gesag van die aflegging en nakoming van die Gelofte het by die Boere-Volksraad gelê. Andries Pretorius en sy kommando was die Volksraad se “weermag” en Sarel Cilliers was een van die ouderlinge en ook een van Pretorius se “kapelane”. Wanneer mens hieroor oplees, klink dit of mense vereer word en nie of God alleen geëer word nie.

Daar was geen kerkgenootskap betrokke by die Groot Trek of die aflegging van die Gelofte nie. Die Kaapse Kerk (NG Kerk) was gekant teen die Groot Trek en het al die Voortrekkers uit die kerk geskop. Die Voortrekkers se pogings om ‘n predikant te kry het misluk. Eerwaarde Erasmus Smit, ‘n sendeling maar nie ‘n geordende predikant nie, is deur Piet Retief as predikant aangestel. Eerwaarde Smit, hoewel sieklik, was dus tydens Bloedrivier die geestelike leier. Hy is in 1841 opgevolg deur die presbiteriaanse dominee Daniel Lindley, ‘n Amerikaanse sendeling. Die eerste NG predikant in Natal was HE Faure wat in 1853 (15 jaar na Bloedrivier) bevestig is. Sy pa, Abraham Faure het die Voortrekkers aanstoot gegee weens sy lojaliteit aan Brittanje en die destydse koningin. Vandag is die NG Kerk ook een van die groot teenstanders van die Gelofteherdenking. Hulle het blykbaar in 1994 besluit dat: Geloftedag en versoening en vrede in Suid-Afrika met mekaar versoenbaar is. In 1998 het hulle besluit: 16 Desember vanjaar as ‘n dag van vrede en verdraagsaamheid gevier word. Hulle is dus lojaal aan die hedendaagse politieke bestel. Daar was geen kerkgenootskap betrokke by Bloedrivier nie en geen kerkgenootskap behoort betrokke te wees by die nakoming van die Gelofte nie.

Gedurende die 20ste eeu is die Gelofte deur leiers op godsdienstige, maatskaplike en politieke terrein gebruik tot die bevordering van Afrikaner-Nasionalisme. Die Slag van Bloedrivier en die Gelofte het ‘n belangrike rol gespeel in die Eeufeesherdenking in 1939 en ook met die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949. Die opwekking van Afrikaner-Nasionalisme het gelei tot die 1948 oorwinning van die Nasionale Party. Hierdie aktiwiteite was agter die skerms georkestreer deur die Afrikaner-Broederbond. Van die 1970’s af, het die linkse faksie in die Broederbond al hoe meer invloed verkry. Hulle het nou Geloftevierings al meer begin aanpas by hul eie ideologie. Na die Nasionale Party se kapitulasie het die ideologie van versoening pos gevat en is dit op die Gelofte afgedwing. Hieruit kan gesien word dat die Gelofte deur magsgroepe misbruik word om hulle ideologie te bevorder – eers nasionalisme, nou globalisme. Sedert 1994 word onderhouding van die Gelofte getipeer as ‘n regse aktiwiteit en word gepoog om dit te verander tot die ideologie van versoening. Politieke partye en ideologieë hoort nie by ‘n gelofte aan God nie.

Is die outentieke en oorspronklike Gelofte nagekom? Ons bedoel nie dat ‘n kerkie in Pietermaritzburg gebou is nie. Is ‘n huis vir God gestig? Ons bedoel ook nie dat die dag soos ‘n sabbat gevier word nie, maar dat die eer van God gevier word. Dit is wel deur die Volksraad in ‘n boek opgeteken:  “Journal der Ekspeditie van de uitgewekene Boeren, onder hunnen Hoofd-Kommandant Andreas Wilhelmus Jacobus Pretorius, (voormaals van Graaff-Reinet), tegen Dingaan, Koning der Zulus, in de maand(en) November en December 1838; – ondernomen met oogmerk om wraak te nemen, wegens den wreedaardigste en onmenselikste moord van het gewezen Hoofd der Uitgewekenen, Pieter Retief, en zyne zestig med-gezellen, en de daarop gevolgde onmenselike slagting, van mannen, vrouwen en kinderen, gepleegd door Dingaan, en zyn volk; – alsmede ter herovering der goederen en bezittingen, by die gelegenheid door hen geroofd”. Die boek gee die redes vir die Gelofte en dit is vandag seker polities inkorrek. Vrede, verdraagsaamheid en versoening word nie vermeld nie.

Die geskiedkundige werklikheid is dat die Gelofte deur die Boerevolk gemaak is tot God en dat God wel die oorwinning gegee het. Vir ‘n christen om aan te voer dat die Gelofte rassisties is, beteken dat hy God veroordeel as ‘n rassis. Deur ‘n mede-christen te probeer weerhou om ‘n belofte aan God na te kom, is om ‘n broer te laat struikel. Om die woorde van die Gelofte te verander, is om God te beroof van die eer wat Hom toekom.

Dit is die Boerevolk se plig om te sorg dat die Gelofte onderhou word. As daar ‘n amptelike instelling moet wees wat die herdenking namens die volk behartig, moet dit ‘n Boere-volksraad, bestaande uit verteenwoordigers van die volk, wees. As iemand ‘n christen is en hy is ook lid van die Boerevolk, behoort hy die Gelofte te onderhou. As iemand ‘n christen is en hy is nie lid van die Boerevolk nie, behoort hy sy broer se nakoming daarvan te respekteer.

Tussen die moord op Piet Retief en sy manne op 6 Februarie 1838 en die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838, het die Groot Moord by Bloukrans plaasgevind. Daar was Voortrekkers wat nie in die 3 groot laers gewoon het nie, hulle het vir omtrent 38 kilometer verspreid langs die Tugela en sy sytakke gekamp. Op 17 Februarie 1838, om een uur die oggend en terwyl dit donkermaan was, het 10,000 Zoeloes hulle aangeval. 41 Voortrekkermans, 56 vroue, 185 kinders en 200 bediendes is daardie nag vermoor. Die vermoordes se liggame was oopgeskeur, kinders is teen wawiele doodgeslaan, vroue is met skerpgemaakte stokke in hulle geslagsdele deurboor.

Die Plaasmoorde wat tans gepleeg word herinner aan Bloukrans. Dit word gekenmerk deur marteling, verkragting en moord. Wat beteken dit? Is God ontevrede met ons gelofteherdenkings?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin