Vaarwel, die Nuwe Suid-Afrika

Foto: kitmantv.blogspot.com

In 1966 is die dokumentêre rolprent Africa Addio (Vaarwel Afrika) vrygestel. Hierdie rolprent dokumenteer gebeure na die ontrekking van Europese lande uit hulle kolonies in Afrika. Dit is ‘n skokkende film wat verskriklike gebeure in verskeie Afrikalande uitbeeld. Dit het drie jaar geneem om te verfilm en is die werk van gerespekteerde Italiaanse vervaardigers van dokumentêre films. Ondermeer bevat dit die enigste beelde wat bestaan van die massamoord in 1964 op Zanzibar (tussen 5,000 en 20,000 Arabiere en Asiërs is vermoor). Dit toon ook die heldhaftige redding van blankes in Leopoldville, Kongo, deur huursoldate. Daar is verskillende weergawes van hierdie film op die internet beskikbaar. Internet Archive se weergawe kan gratis afgelaai word en is in Italiaans met Engelse onderskrifte. Let daarop dat persone onder 18 liefs nie die film moet kyk nie.

Hoekom is dit belangrik om hierdie film te sien? Eerstens is dit gebeure wat werklik plaasgevind het, dit is ‘n rekord van hoe moderne Afrika begin het. Ten tweede bevat dit ook beelde van Suid-Afrika in daardie jare en toon die groot kontras tussen Suid-Afrika en die res van Sub-Sahara Afrika. In daardie jare was Dr. Verwoerd aan bewind en het Suid-Afrika ongekende voorspoed beleef. Die Bosoorlog het in 1966 begin, dieselfde jaar as wat die film vrygestel is. Dr. Verwoerd is ook in 1966 vermoor. Derdens toon die film wat ons in die nabye toekoms te wagte kan wees. Ons kan baie daaruit leer.

In Africa Addio word die Ou Suid-Afrika beskryf as nie soos Europa nie, maar ook nie soos Afrika nie. In Kenia was die meeste blankes Kolonialiste wat nog dieselfde lewensstyl probeer volg het as in Brittanje (byvoorbeeld vosjagtery). In Suid-Afrika het die meerderheid blankes ‘n eie inheemse kultuur gehad en word ons in die film beskryf as “Boers”. Bantoes in Suid-Afrika het ‘n hoër lewenstandaard as elders in Sub-Sahara Afrika gehad.

Die Ou Suid-Afrika het in 1910 ontstaan en is in 1994 vernietig, amper 30 jaar na die film vrygestel is. Nou behoort die Ou Suid-Afrika tot die geskiedenis. Dit kan en sal nie weer herleef nie. Die Nuwe Suid-Afrika bestaan sedert 1994 en is na 24 jaar besig om al meer te lyk na wat in Africa Addio gedokumenteer is. Dit wil voorkom of hierdie geskiedenis hom in Suid-Afrika gaan herhaal. Waar laat dit ons, die blankes in Suid-Afrika?

In hierdie dae wat amper almal op sosiale media (Facebook, WhatsApp, ensovoorts) bedrywig is, sou mens verwag dat almal ingelig sal wees oor wat om ons aangaan. En wat met sommiges van ons aan die gang is. Ek verwys na plaasmoorde, onteiening sonder vergoeding, die veldtog teen Afrikaans, swart bemagtiging, wit plakkerskampe en sulke dinge. Dinge wat ons direk, fisies en andersins, bedreig. Die wolf is besig om die deur af te breek.

Ons veronderstel dat almal behoort te weet, maar blykbaar is daar baie van ons mense wat nog nie weet nie. Hoekom hulle nie weet nie is ‘n raaisel. Dalk kom die boodskap nie by hulle uit nie. Dalk kom die boodskap by hulle uit, maar hulle verstaan dit nie. Dalk kom die boodskap by hulle uit, maar hulle luister nie. Dalk wil hulle nie luister nie. Dan is daar die wat die boodskap gehoor het en dit nie glo nie. Sommige reaksies oor onteiening sonder vergoeding wat ek gesien het, lui: hulle sal dit nie doen nie want dit is net praatjies, hulle mag dit nie doen nie want dit is teen die wet of hulle kan dit nie doen nie want dit is nie moontlik nie. Die slegte nuus is dat hulle dit kan doen, hulle wil dit doen en hulle sal dit doen. Hulle is reeds besig daarmee. Hoe gaan jy dit verhoed? Dit is nog net die begin.

Die een groot probleem in Suid-Afrika waaroor niemand praat nie en wat waarskynlik nie opgelos kan word nie, is die aanwas van mense. Dit was die eintlike rede waarom Apartheid nie wou werk nie. Die Bantoes se getalle neem hand-oor-hand toe, terwyl Blankes se getalle afneem. Soos die Bantoes se getalle toeneem, so word hulle behoefte aan grond al hoe meer. Waar moet hulle woon, waar moet hulle werk kry? Daar is nie genoeg skole en hospitale nie. Alles word duurder en die bietjie inkomste word minder. Die woede van die massas word al hoe meer. Ons stuur af op ‘n onafwendbare breekpunt.

Vergeet van die Ou Suid-Afrika, dit bestaan nie meer nie. Die Nuwe Suid-Afrika stuur af op chaos. ‘n Ander politieke party is nie die antwoord nie, die huidige politieke stelsel is nie die antwoord nie. Daar is nie oplossings nie. Ons sal radikaal anders moet dink as voorheen.

Asof ons situasie nie haglik genoeg is nie, gun ons onsself die weelde van verdeeldheid. Eerstens is daar die groot aantal organisasies wat elkeen sy eie doelwitte en insigte het. Hoe kan ons verdeeldheid as gevolg van organisasies verminder? Ons benadering moet wees: is die organisasie aan ons kant of nie? Die wat aan ons kant is, kan ons ondersteun. Niks verhoed my en jou om meer as een organisasie te ondersteun nie. Ons kan mekaar se petisies en optogte ondersteun. Vergeet die twiste van die verlede, vergeet die etikette, vergeet die neusoptrekkery. Laat ons met mekaar praat, inligting uitruil, na mekaar se opinies luister.

Ek weet nie of daar leiers is wat verdeeldheid saai nie. ‘n Goeie leier kan uitgeken word aan sy liefde vir sy eie mense en die opofferings wat hy maak in belang van sy mense. Elkeen van ons het ‘n ander opinie oor wie leiers moet wees. Om daaroor te stry en argumenteer bring ons niks verder nie. Die houding dat ons nie sus-en-so as leier sal aanvaar nie is die grootste rede vir verdeeldheid. Ons sal van hierdie houding ontslae moet raak. Ons sal ook van mense wat hiermee volhard, ontslae moet raak want dit is dieselfde as muitery. Ons is almal in dieselfde bootjie. Kleinlike twiste en opinies en vooroordele gaan die bootjie sink. Ons sal moet leer om mekaar te verdra en te ondersteun.

Ons het wel ‘n gesagsliggaam nodig wat ons verteenwoordig en namens ons kan optree. Ons het nie ‘n koningshuis nie, ons het nog nooit in diktators geglo nie, ons voorvaders was republikeine en het altyd eerste ‘n volksraad ingestel. By Bloedrivier het die Volksraad vir Andries Pretorius gewerf en aangestel. Sonder die Volksraad was daar nie ‘n Andries Pretorius nie. Wie gaan vir ons vandag ‘n Hoofkommandant aanstel? Of gaan almal maak soos hulle lus voel? Die een groepie doen een ding, die ander groepie doen iets anders. Nie een weet wat die ander doen nie en partykeer werk hulle teen mekaar. Sonder ‘n volksraad sit ons met anargie.

Ons moet wel bedag wees op vyande tussen ons – die wat voorgee om van ons te wees maar wat in werklikheid ons vernietiging soek. Daar is ongelukkig baie van ons mense wat ‘n soort breinspoeling ondergaan het. Die media het hulle bekeer tot vyandskap teen hulle eie mense. Die geskiedenis toon dat die wat hulle beroep op gematigheid of neutraliteit altyd die vyand se kant kies. Ons moet ook onthou dat ekonomiese stand ‘n rol speel. Blykbaar was die meeste hensoppers in die Anglo-Boere Oorlog bywoners. Iemand wat reeds alles verloor het, sien dinge anders as die wat nog nie het nie.

Indien daar een of ander oorlogstoestand ontstaan waar ons onsself moet verdedig, gaan ons probleme hê. Ons het nie onder die jonger geslag ervare en opgeleide soldate nie. Die heel jonges het nie dissipline of respek vir hulle meerderes nie. Die meeste voormalige offisiere het oud geword. Ons het ook nie oorlogstuig nie.

Die vraag word gevra: Wanneer gaan dit stop? Die antwoord is: Nie gou nie. Daar word gereeld gesê: Genoeg is genoeg! Ons kan net so praat as ons iets aan die saak kan doen – en ons kan nie. Al die tekens dui daarop dat ons grootskaalse geweld teen ons moet verwag. Soortgelyk aan hoe dit in Africa Addio gedokumenteer is. Ons beurt is ons beurt. Om onder die bed weg te kruip gaan nie help nie. Ons het dit nie gevra nie, maar ons kry dit in elk geval.

Dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid om ingelig te wees. As iemand nou nog nie weet nie en nie voorbereid is nie, gaan hy en sy geliefdes daaronder lei. Daar gaan nie iemand anders wees wat hom kan kom red nie.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui