Noudat almal regs is

Foto: https://redice.tv/news/

Daar was ‘n tyd toe daar nie Regses was nie. Daar was Afrikaners en Engelse, Natte en Sappe, maar daar was nie Regses nie. Ook nie Nie-regses nie. In daardie dae was dr. Verwoerd die volksleier. Dr. Verwoerd het onder die Afrikaner-elite vyande gehad, maar die volk was bankvas agter hom. Die enigste blanke partye wat van dr. Verwoerd se Nasionale Party (die Nattes) verskil het, was die Verenigde Party (die Sappe) en die Progressiewe Party (die Progge). Die Sappe was meer Engels, maar was nie Links nie. Die Progge was Links, het vir jare net een setel gewen en was die ryk Jode van Houghton se party.

Regses het eers ontstaan nadat dr. Verwoerd vermoor is. Hy is deur adv. John Vorster opgevolg. Waar dr. Verwoerd se leierskap gegrond was op morele beginsels, was adv. Vorster se leierskap gegrond op politieke pragmatisme. Hierdie pragmatisme het veroorsaak dat die Nasionale Party (NP) begin afwyk het van dr. Verwoerd se pad, hulle het begin rondval oor beleid en was nie meer in staat om leiding te gee nie. Die Afrikaner-elite het hier ‘n gulde geleentheid gesien om hulle eie belange te bevorder en het daarin geslaag om groter invloed te kry. Hierdie Afrikaner-elite was hoofsaaklik in die Wes-Kaap en Johannesburg.

Daar was binne die Nasionale Party ‘n groep wat ongelukkig was met die nuwe rigting onder adv. Vorster en het probeer walgooi. Die Afrikaner-elite het hulle as ‘n ernstige gevaar gesien en het ‘n totale aanslag teen hulle geloods. Vir die Afrikaner-elite was hulle ‘n groter gevaar as die Sappe, die Progge, die ANC en die kommuniste. Reeds in 1966 het Willem de Klerk (broer van FW de Klerk) die aanslag begin. Hy het Afrikaners (Afrikaners word hier gebruik as sinoniem vir Boere) verdeel in Verkramptes (die konserwatiewes) en Verligtes (die progressiewes). Die Verkramptes was veronderstel om vooruitgang teen te staan en om enige een wat iets nuuts voorstel, verdag te maak. Die Verligtes was modern, dinamies en ten gunste van hervorming. Eers word daar etikette geskep, dan word ‘n positiewe of negatiewe betekenis aan die etiket gegee, dan word opponente gekoppel aan die negatiewe etiket en vriende aan die positiewe etiket. So het dit gebeur dat persone wat die Afrikaner-elite teengestaan het, bekend geword het as Verkramptes.

Mettertyd is die etiket Verkramp vervang met Regs en Verregs. Dit is merkwaardig dat Regses en Verregses deur die bank Afrikaners (Boere) was wat van die Nasionale Party (wat onder die beheer van die Afrikaner-elite was) verskil het. Hierdie verskil het gehandel oor die toekoms en veiligheid van die Afrikanervolk (Boerevolk). Die Afrikaner-elite was internasionalisties (deesdae globalisties) en het nie die voortbestaan van die Afrikanervolk as belangrik geag nie. Mettertyd het die bekommernis oor die volk se toekoms daartoe gelei dat meer en meer Afrikaners die Nasionale Party verlaat het en nuwe partye en organisasies gestig het.

Wat noem mens Afrikaners wat nie Regs is nie? Blykbaar niks nie. Hulle noem hulleself nooit Links nie, maar wat anders kan hulle wees? Gematigdes? Nog warm, nog koud soos die Bybel sê? Die Nasionale Party was Links en selfs Verlinks, dink aan FW de Klerk en sy trawante. Hulle het eintlik dieselfde sienings aangeneem as wat die Progressiewe Party gehuldig het. Alhoewel die Nasionale Party homself vernietig het, het hulle propaganda bly voortleef. Talle Afrikaners het so ‘n weersin in sy mede-Afrikaner, wat Regs was, gehad dat hulle eerder saam met die Verlinkes sal staan as met sy volksgenoot. In die praktyk, wêreldwyd, moet Gematigdes ‘n keuse maak en hulle kies altyd Links.

Is daar vandag nog dieselfde verdeeldheid of het Afrikaners al tot hulle sinne gekom? Dit wil tog voorkom asof voormalige Nasionale Party ondersteuners ontnugterd is. Waarskynlik sal hulle steeds nie die Regses, wat al lankal bestaan, ondersteun nie. Hulle sal eerder hulle heil in ‘n nuwe organisasie vind. Daar het in die laaste paar jaar nuwe organisasies tot stand gekom wat blykbaar vir baie Afrikaners aantreklik is. Het die gewese Nasionale Party mense nou ook Regses geword?

Die werklike verskil tussen die verskillende groepe Regses is die datum waarop hulle tot ontnugtering gekom het. Die Herstigte Nasionale Party (HNP) het in 1969 weggebreek van die Nasionale Party af, die Konserwatiewe Party (KP) in 1982, die Vryheidsfront (VF) in 1994, ander organisasies het so onlangs as 2016 ontstaan. Enige iemand wat nou nog nie Regs is nie, kan gereken word as Links. Regs en Links is nou duidelik onderskeibaar. Regs is nasionalisties, vir hul eie mense en kultuur. Regs is Bybelgelowig en vir Christelike waardes. Links is globalisties, met geen lojaliteit aan enige groep of kultuur nie. Links is nie christelik nie en ondersteun byvoorbeeld die LGBT groepe.

Afrikaners (Boere) het nog altyd ‘n probleem gehad met dislojaliteit in eie geledere. Dink maar aan die hensoppers van die Anglo-Boereoorlog en die draadsitters van die 1940’s. Ek het iewers gelees dat die hensoppers meestal verarmdes en bywoners was wat afgunstig op hulle meer welvarende volksgenote was. Of dit waar is, kan ek nie sê nie. As dit waar is, gee dit ‘n verduideliking van hoekom een volksgenoot sy mede-volksgenote verraai. Is daar vandag groepe volksgenote waarvoor die volk versigtig moet wees?

Eerstens is daar diegene wat hulleself voorhou as gematigdes. Ons is reeds in ‘n oorlog, daar is reeds ‘n proses van volksmoord teen ons aan die gang. Dink taal, kultuur, onderwys, ensovoorts. Dink plaas- en dorpsmoorde, onteiening sonder vergoeding, ensovoorts. Kan enige volksgenoot hieroor afsydig staan, onbetrokke wees, sy neus optrek vir Regses? In beginsel is ‘n gematigde niks anders as ‘n hensopper nie.

Ons het nog altyd armes en werkloses in ons volk gehad, en sal dit in die toekoms ook hê. In die dae toe ons ons eie regerings gehad het, was daar ‘n verantwoordelikheidsgevoel teenoor hulle. Omdat daar ‘n regering met ‘n belastinginkomste was, kon die staat help met onder andere werkskepping. Die hulp  was nie dieselfde as wat onder sosialisme verstaan word nie. Vandag is die armes van ons volk afhanklik van die toelaes wat die huidige regering gee en op hulp van privaat persone en volksorganisasies. Indien iemand nou moet kies tussen sy staatstoelae en lojaliteit aan sy eie volk, wat sal hy kies? Het iemand wat reeds alles verloor het en geen vooruitsigte het nie, enige belangstelling in die toekoms van volksgenote wat nog besittings en vooruitsigte het?

Ons jeug wat na 1994 op skool was, is deur die skoolstelsel geïndoktrineer. Ondermeer deur die verdraaide geskiedenis wat deur die staat verkondig word. Die skoolstelsel het nie net die jeug se begrip van die verlede verdraai nie, dit het ook ‘n volksvreemde godsdiens en kultuur aan hulle bekend gestel. Meer nog, die jeug se moraliteit en waardes is ook afgetakel. In ‘n militêre situasie is dissipline en respek vir meerderes absoluut noodsaaklik en dit wil voorkom of ons jeug dit nie meer het nie. Indien die jeug voor ‘n keuse gestel word, sal hulle hul eie volk kies? Is hulle nie dalk ‘n verlore geslag nie?

Om vandag Regs te wees, is iets heel anders as in die verlede. Die behoudendes in die westerse wêreld het misluk. Dit het gelei tot die opkoms van Alt Regs. Alt Regs se 16 Punte is die volgende (verkry by Vox Popoli):

  1. Die Alt Regsis polities “regs” in beide die Amerikaanse en Europese sin van die begrip. Sosialiste is nie Alt Regsnie. Kommuniste, Marxiste, Marxistiese ekonome, kulturele Marxiste, en neokonserwatiewes is nie Alt Regs nie.2. Die Alt Regs is ‘n ALTERNATIEF vir die hoofstroom konserwatiewe beweging in die VSA wat nominaal verwoord word deur Russel Kirk se [10 Konserwatiewe Beginsels], maar in werklikheid afgewentel het na progressivisme. Dit is ook ‘n alternatief vir libertarianisme.

    3. Die Alt Regs is nie ‘n defensiewe houding nie en verwerp die konsep van edele en beginselvaste nederlae. Dit is ‘n vooruitdenkende filosofie gefokus op offensief, in elke sin van die woord. Die Alt Regs glo in oorwinning deur volharding en deur in harmonie te verkeer met die wetenskap, realiteit, kulturele tradisie, en die lesse van die geskiedenis.

    4. Die Alt Regs glo die Westerse beskawing is die toppunt van menslike prestasie en ondersteun die drie pilare van sy fondasie: Christendom, die Europese nasies, en die Grieks-Romeinse nalatenskap.

    5. Die Alt Regs is openlik en uitgesproke nasionalisties. Dit ondersteun alle nasionalismes en die bestaansreg van nasies, homogeen en nie vervuil deur immigrasie of besetting nie.

    6. Die Alt Regs is anti-globalisties. Dit verwerp alle groepe wat streef na globalistiese ideale of doelwitte.

    7. Die Alt Regs is anti-egalitaries. Dit verwerp die idee van gelykheid vir dieselfde rede waarom dit die idees van eenhorings, “leprechauns” of die tokkelossie verwerp. Dit neem waar dat daar nie so iets soos gelykheid bestaan in enige waarneembare vorm in die wetenskaplike-, regs-, materiele-, intellektuele-, seksuele of geestelike sin nie.

    8. Die Alt Regs aanvaar die huidige gevolgtrekkings van die wetenskaplike metodiek (in Engels “scientody”), maar verstaan dat a) hierdie gevolgtrekkings onderworpe is aan toekomstige verwysing, b) dat die praktyk van wetenskap (in Engels “scientistry”) vatbaar is vir korrupsie, en c) dat die sogenaamde wetenskaplike konsensus nie gebaseer is op die wetenskaplike metodiek nie, maar op demokrasie, en daarom intrinsiek onwetenskaplik is.

    9. Die Alt Regs glo identiteit > kultuur > politiek.

    10. Die Alt Regs is gekant teen die regering of dominasie van een inheemse etniese groep deur ‘n ander, veral in die soewereine tuislande van die onderdruktes. Die Alt Regs is gekant teen enige nie-inheemse etniese groep wat buitensporige invloed in die samelewing bekom deur nepotisme, stamgebondenheid, of enige ander metode.

    11. Die Alt Regs verstaan dat diversiteit + nabyheid = oorlog.

    12. Die Alt Regs gee nie om wat jy daarvan dink nie.

    13. Die Alt Regs verwerp internasionale vrye handel en die vrye beweging van mense wat deur vrye handel vereis word. Die voordele van intra-nasionale vrye handel tussen lande is nie bewyse van die voordele van internasionale vrye handel nie.

    14. Die Alt Regs glo dat ons die voortbestaan van witmense en ‘n toekoms vir wit kinders moet verseker.

    15. Die Alt Regs glo nie in die inherente oppergesag van enige ras, nasie, volk of subspesie nie. Elke ras, nasie, volk en menslike subspesie het sy eie unieke sterk- en swakpunte en beskik oor die soewereine reg om sonder inmenging van buite te verkeer in die kultuur wat dit verkies.

    16. Die Alt Regs is ‘n filosofie wat waarde heg aan vrede tussen die verskeie nasies van die wêreld en staan geweld om een nasie se waardestelsel op ‘n ander nasie af te dwing teen, sowel as pogings om individuele nasies uit te wis deur oorlog, volksmoord, immigrasie of genetiese assimilasie.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Inleiding tot Eksodus, Levitikus en Numeri

Foto: Berg Sinai https://wyattmuseum.com/mt-sinaijebel-lawz

In die Ou Testament is die boeke Eksodus, Levitikus en Numeri drie verskillende boeke. Dit is ook so in die Hebreeuse Ou Testament (die Tanakh). Indien ons na die inhoud van die boeke kyk, behoort dit eintlik net een boek te wees. In die tyd waarin hierdie boeke oorspronklik geskryf was, is dit geskryf op leer wat aanmekaar gelas is en dan opgerol is. Sulke boekrolle was moeilik hanteerbaar as dit te groot word en is dan verdeel in twee of meer rolle. As gevolg hiervan is die een boek verdeel in drie. Vir studiedoeleindes is dit beter om die drie boeke as een aaneenlopende boek te bestudeer.

Die name wat aan die drie boeke gegee is, is in Grieks Exodus (=Uittog), Leuitikon (=Boek van Leviete), arithmoi (Latyn Numeri) (=Getalle). Die Hebreeuse name kom van die eerste woorde in elke boek: Eksodus is Sjemot (=naam), Levitikus is Wajkira (=hy het geroep) en Numeri is Bemidbar (=in die woestyn). Indien ons ‘n gesamentlike naam vir net hierdie drie boeke wil gebruik, sou dit die  “Boek van Instruksies” wees – ooreenstemmend met die Hebreeuse woord Torah. Die grootste deel van die boeke handel oor instruksies wat YHWH (die HERE) aan die volk Israel gegee het.

Die eerste vyf boeke van die Ou Testament (in Grieks die Pentateug en in Hebreeus die Torah) word elders in die Bybel en deur Yeshua (Jesus), die Gesalfde, toegeskryf aan Moses. Dit sluit die moontlikheid in dat dit onder toesig van Moses geskryf is. Die boeke Eksodus, Levitikus en Numeri is ook in dieselfde tydvak geskryf as die gebeure wat daarin voorkom. Al drie boeke kan as ‘n ooggetuie verslag beskou word.

In die eerste boek van die Ou Testament, Genesis, het YHWH ‘n verbond met Abraham gesluit waarin hy ondermeer aan Abraham ‘n nageslag en ‘n land van hul eie belowe het. Abraham se kleinseun Jakob en sy gesin, wat een gedeelte van Abraham se nageslag was, het in ‘n deel van Egipte, wat aan die Farao behoort het, gaan woon. In Eksodus word vertel wat van Jakob se nageslag, nou bekend as die volk Israel, geword het. Hulle het vermeerder in getalle maar het in slawerny verval. YHWH het Sy verbond met Abraham onthou en besluit om hulle te bevry en te neem na die land wat Hy aan Abraham beloof het. In Eksodus ontmoet YHWH die volk Israel by berg Sinai en sluit ‘n verbond met hulle. Hy gee aan hulle Sy vereistes van hoe hulle moet leef, besonderhede van ‘n ontmoetingsplek wat hulle moet bou en aanwysings van hoe om Hom te aanbid. In Levitikus gee Hy die offerstelsel en die pligte van die priesters aan hulle. In Numeri word die volk Israel opgestel om die beloofde land te gaan beset, maar hulle weier om te gaan en dwaal vir 40 jaar rond in die woestyn. Hierna is Moses oorlede en word Joshua die nuwe leier.

Die boeke Eksodus, Levitikus en Numeri is gerig aan die volk Israel. Die doel daarvan is om die ontstaan en die afgesonderde aard van die volk op te teken sodat dit ‘n ewige herinnering vir hulle nageslag kan wees. Dit vertel van YHWH se stryd om hulle los te kry uit slawerny en om ‘n verbondsverhouding met hulle te sluit. Die verbond tussen YHWH en Israel is ‘n voorwaardelike ooreenkoms waarin YHWH vereistes stel wat die volk moet nakom, iets wat die nageslagte ook sal moet doen. Terselfdertyd is daar waarskuwings dat indien die volk nie die vereistes nakom nie, YHWH teen hulle sal optree. Dit alles moet opgeteken en bewaar word sodat die volk dit kan onthou en dit as ‘n getuienis gehou kan word.

Daar is dikwels verwarring oor die tydperk wat Israel in Egipte was. Gen 15:13 en Hand 7:6 noem 400 jaar wat Abraham se nageslag in ‘n vreemde land sou woon.  Die tydperk wat die kinders van Israel (Jakob) in Egipte gewoon het, was 430 jaar (Eks 12:40-41). Die wet van Moses het 430 jaar na die roeping van Abraham gekom (Gal 3:17-17). In Gen 15:16 sê YHWH dat hulle vir 4 geslagte in die vreemde land sou wees. Die nageslag van Jakob se seun Levi (Eks 6:16-20) was Kehat, Amram, Moses – vier geslagte. Daar is ook verskillende ander gegewens wat die tyd tussen Jakob se vestiging in Egipte en die Uittog uit Egipte onder Moses as 215 jaar bereken. Die probleem met hierdie syfers kom in by die Massoretiese Teks (wat as grondteks vir ons vertalings dien). Die Samaritaanse Pentateug en die Septuagint (albei antieke vertalings uit die oorspronklike) se weergawe van Eks 12:40 lees: En die verblyf van die kinders van Israel, en hulle vaders, waar hulle as vreemdelinge vertoef het in die land Kanaän en in Egipte, was 430 jaar. (Let op: Kanaan EN Egipte). Dit word ook deur die historikus Josephus bevestig. Dus 215 jaar van YHWH se belofte aan Abraham tot Jakob se vestiging in Egipte, en 215 jaar van Jakob se vestiging in Egipte tot die Uittog onder Moses, 430 jaar in totaal. Die tydperk van 400 jaar is ‘n ander tydperk wat begin met Abraham se saad Isak en duur tot die Uittog.

Nog iets waaroor daar verskillende menings is, is die roete wat Israel gevolg het. Die roete wat Israel gevolg het, was van Raamses (Avaris) af tot by die berg Sinai. Die ligging van die berg Sinai is dus van groot belang. Hierdie berg was geleë in die land Midian (Eks 3:12), wat vandag deel is van Saoedi-Arabië. Die regte berg Sinai is eers in 1984 deur ‘n amateur argeoloog ontdek en dit is vandag bekend as Jabal al-Lawz. Die roete uit Egipte het deur die Rooi See, dit wil sê die Golf van Akaba, gelei tot by berg Sinai. Daar is oorblyfsels van strydwaens op die bodem van die see gevind. Van die berg Sinai af het hulle getrek na Kades-Barnea, die Wildernis van Paran en die Wildernis van Sin.

Die getal van die volk Israel wat uit Egipte gekom het en in Kanaan gaan woon het, is belangrik in die verstaan van verskeie gedeeltes. In Numeri word gemeld dat twee sensusse gehou is. Die eerste sensus (Num 1:1-4) word gehou in die tweede jaar na die Uittog net voor hulle vertrek na die Beloofde Land. Die tweede word gehou in die veertigste jaar na die Uittog en net na die omswerwinge in die wildernis. Met die eerste is 603,550 krygsmanne van 20 en ouer getel.  Met die tweede is 601,730 krygsmanne getel. Indien hierdie syfers korrek is, sou die hele volk wat uit Egipte gekom het omtrent 2,5 miljoen moes gewees het. Daar is heelwat redes waarom dit onwaarskynlik klink: die logistieke probleme van soveel mense met hulle vee, die vrees vir vyande wat meer en sterker as hulle is, hulle onvermoë om Kanaan ten volle in besit te neem, ensovoorts. Die Hebreeuse woord ehlef word vertaal as duisend, maar kan ook hoofman of leier beteken. Indien ehlef verkeerd vertaal is, sal die totale bevolking van Israel nie meer as 400,000 gewees het nie. Toe Jakob na Egipte verhuis het, was hulle 70 persone. Hulle het vir vier geslagte daar gewoon. Om in vier geslagte te vermeerder tot 2,5 miljoen lyk onwaarskynlik.

Hoewel dit nie werklik van hulp is vir die bestudering van Eksodus nie, is dit wel interessant om Eksodus te vergelyk met Egiptiese geskiedenis. Farao Thutmoses I (Amenoteb) het ‘n dogter Nefure (Hatsheput) gehad wat kinderloos was. Tog is daar standbeelde van haar met ‘n babaseuntjie. Hierdie baba se naam was Senmut en hy dra ‘n versiering wat sy status as erfgenaam van die troon aandui. As volwassene was hierdie Senmut ‘n hoogs opgevoede persoon wat saam met Farao Hatsheput regeer het. Senmut het, toe hy 40 jaar oud was, onder geheimsinnige omstandighede verdwyn. Sy grafkelder was nooit gebruik nie. Na sy verdwyning is amper elke beeld van Senmut se neus afgebreek as simboliese gebaar om sy gees dood te maak. Daar is een oorblywende standbeeld van Senmut waarin getoon word dat hy ‘n arendsneus gehad het – iets wat nie kenmerkend van Egiptenare was nie, maar wel kenmerkend van Israeliete was.

Hier volg die struktuur van die  “Boek van Instruksiesˮ:

BOEKROL 1: EKSODUS

Deel 1: Israel en die roeping van Moses (Eks 1 – 5)

Deel 2: YHWH se stryd teen Farao (Eks 6 – 12)

Deel 3: YHWH lei Israel uit Egipte tot by Sinai (Eks 12 – 18)

Deel 4: Die eerste verbond tussen YHWH en Israel (Eks 19 – 24:11)

Deel 5: ‘n Plek waar Israel vir YHWH kan ontmoet (Eks 24:12 – 31)

Deel 6: Israel verbreek die eerste verbond en sluiting van die tweede verbond (Eks 32 – 34)

Deel 7: Die bou van die Tabernakel (Eks 35 – 40)

BOEKROL 2: LEVITIKUS

Deel 1: Die offers wat Israel aan YHWH moet bring (Lev 1 – 7)

Deel 2: Die inwyding van die Priesterhoof en sy seuns (Lev 8 – 10)

Deel 3: Instruksies oor reinheid (Lev 11 – 15)

Deel 4: Die Dag van Toedekking (Yom Kippur) (Lev 16)

Deel 5: Instruksies aan Israel om as afgesonderde volk te leef (Lev 17 – 22)

Deel 6: Tye wat deur YHWH vasgestel is (Lev 23-25 )

Deel 7: Nakoming van die Verbond – Voorspoed en Teenspoed (Lev 26-27 )

BOEKROL 3: NUMERI

Deel 1: Voorbereidings om na Kanaan te trek (Num 1 – 10:10)

Deel 2: Die trek vanaf Sinai na Kades Barnea (Num 10:11 – 12)

Deel 3: Israel weier om Kanaan binne te gaan (Num 13 – 14)

Deel 4: In die wildernis: ‘n Nuwe geslag moet gereinig word (Num 14 – 20)

Deel 5: Die trek van Kades Barnea na Moab (Num 21)

Deel 6: Bileam, die profeet (Num 22 – 25)

Deel 7: Israel gereed vir die beloofde land (Num 26 – 32)

Deel 8: Bylaes oor verskillende sake (Num 33 – 36)

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin