Die Boerevolk vandag

Foto: https://musteria.blogspot.com/2017/08/druk-god-se-hand-swaarder-op-die.html

Ek het onlangs ʼn kommentaar op sosiale media gelees waarin iemand opmerk dat ons voorgeslagte geweet het wie die volk is en geweet het Wie ons hemelse Vader is. Verder het hy gesê dat ons, vandag, dit nie meer weet nie en dit van voor af moet leer. Ek stem hiermee saam. Ons het groot veranderings die afgelope dekades beleef en soveel dinge het verander dat ons weer vars moet besin oor wie ons is en Wie ons hemelse Vader is.

In die afgelope vyftig jaar het ons as volk verander. Volke is, net soos individue, nie staties nie. Ek neem waar dat ons nou se dae onsself anders beskryf as voorheen. Die verhouding tussen Afrikaans- en Engelssprekende Blankes het dramaties verander. Ons het ook in ons kerklike betrokkenheid ingrypend verander.

Vyftig jaar gelede, toe ek ʼn jong man was, het ons onsself Afrikaners genoem. ʼn Goeie Afrikaner was Blank, Afrikaanssprekend en ʼn lid van een van die Susterkerke. Ons was oor die algemeen behoudend in ons lewensuitkyk en gebruike. Afrikaners het slegs by uitsondering afgewyk van hierdie beskrywing. Daar was hier en daar een wat ʼn ander huistaal gehad het, of lid was van ʼn Pinksterkerk, of dalk ʼn permissiewe lewensuitkyk gehad het. Huwelike tussen Afrikaans- en Engelssprekendes was min en het groot konsternasie aan albei kante veroorsaak. Die meerderheid Afrikaners het die Nasionale Party ondersteun en die meerderheid Engelssprekendes het die Verenigde Party ondersteun. Alhoewel ons toe al verstedelik was, het die meerderheid Afrikaners nog steeds direkte bande met die platteland gehad.

Die Suid-Afrikaanse Grensoorlog (of die Bosoorlog) het van 1966 tot 1989 geduur. In Suid-Afrikaanse geskiedenis was dit die oorlog wat die langste geduur het. Dit was ook die eerste oorlog waar Suid-Afrikaanse Blankes almal aan dieselfde kant geveg het. Hulle het almal onder die Oranje-Blanje-Blou geveg en Die Stem gesing. Die  vorige oorlog was die Tweede Wêreldoorlog waaraan hoofsaaklik Engelssprekende Blankes deelgeneem het (onder die Union Jack). Afrikaners was hoofsaaklik anti-Brits en sou eerder Duitsland, wat tydens die Anglo-Boereoorlog die Boere goedgesind was, ondersteun het.

Die Grensoorlog was ʼn stryd teen Kommunisme. In daardie jare was die Koue Oorlog nog in volle swang en was Kommunisme die groot vyand van die vrye (Westerse) wêreld. Aan die Suid-Afrikaanse kant het lede van al die rasse geveg. Suid-Afrika se bondgenote was anti-Kommunistiese vryheidsvegters soos UNITA en indirek die Verenigde State van Amerika. Aan die Kommunistiese kant het verskeie bevrydingsbewegings, soos die ANC en SWAPO, saam met Kuba geveg. Hulle is indirek gesteun deur die Sowjet-Unie.

Die jong Afrikaners wat opgeroep was om militêre diensplig te doen, was uit Afrikaanse skole en het nie veel met Engelssprekendes van dieselfde ouderdom kontak gehad nie. Die Engelssprekendes was uit Engelse skole. Daar was ook jong mans uit ander Europese kulture. Albei groepe kon mekaar se taal verstaan, maar nie vlot praat nie. Tydens die oorlog het hierdie jong mans uit verskillende agtergronde saam gewoon, saam gewerk, saam geveg en saam gekuier. Na die oorlog het vriendskappe voortgeduur en het die jong Afrikaners en Engelse met mekaar ondertrou. Hulle kinders was nou half Boer en half Brit. Die Veterane van die Grensoorlog is vandag middeljarig en ouer. Uit hulle moet die nuwe leiers kom. Hulle perspektief is anders as wat die vorige geslag se perspektiewe was.

Iets wat ek opmerk is dat daar ʼn naamsverandering besig is om plaas te vind. Die naam Afrikaner word verruil vir die naam Boer. Boer is ʼn goeie naam want dit is ʼn etniese naam met koppeling aan ʼn eie kultuur. Dit koppel ook hedendaagse mense aan ʼn roemryke geskiedenis. ʼn Afrikaner is noodwendig Afrikaanssprekend, ʼn Boer kan ook Engelssprekend wees. Daar was Engelstalige Voortrekkers en Engelstalige burgers van die Republieke wat teen Imperialisme geveg het. Vorige debatte oor die twee name is besig om irrelevant te word. Die volk verkies die naam Boer. Vir vriende oorsee is die Blankes die Boere, vir vyande is die Blankes die Boere.

Vyftig jaar gelede was daar in heelwat huise ʼn krisis as ʼn Gatjieponder en Dopper met mekaar wou trou. Nog erger, met ʼn Apostolie wou trou. Ondenkbaar dat iemand met ʼn Anglikaan sou wou trou. Ook kerklidmaatskap het ingrypend verander. Daar is nie betroubare statistieke nie, maar ek sou raai dat ʼn minderheid volksgenote nog lidmate van die tradisionele Susterkerke is. Daar is verskeie redes vir hierdie verandering: ondertrou met lede van ander kerke, ontevredenheid oor dooie rituele, ontnugtering met kerkleiers, ʼn besef dat godsdiens ook buite die kerk beoefen kan word, en nog meer. Dit wil voorkom of die meeste volksgenote nog die God van hulle voorvaders aanbid, hulle het nie hul godsdiens verloor nie, hulle het ander maniere van aanbidding ontdek.

Ons voorgeslagte was Protestante wat teen die burgerlike en kerklike owerhede in opstand gekom het. Een saak wat hulle na aan die hart gelê het, was die Bybel. Voor die Reformasie het gewone mense nie toegang tot die Bybel gehad nie omdat die Roomse Kerk dit van hulle weerhou het, omdat die Bybel nie in hulle volkstale vertaal was nie en omdat die drukpers nog nie uitgevind was nie. Toe die Bybel wel aan gewone mense in hulle eie tale beskikbaar word, het hulle self die Bybel begin lees en gesien hoeveel verkeerde praktyke daar in die kerk was. Die Bybel was die belangrikste (en soms die enigste) boek wat hulle gelees het.

Met die Groot Trek het elke gesin ʼn Bybel in die wakis gehad. Daar is gereeld “Boekevat” (huisgodsdiens) gehou deur uit die Bybel voor te lees. Die weergawe van die Bybel wat hulle gebruik het was die Statevertaling van 1637. Hierdie vertaling se bronne was die Massoretiese Teks vir die Ou Testament en die Textus Receptus vir die Nuwe Testament. Dit het ook nie apokriewe boeke bevat nie. Hierdie Bybel is eers in 1933 vervang met die Afrikaanse Ou Vertaling. Die Kaapse kerk (NG Kerk) was vyandig teenoor die Voortrekkers en daar het geen opgeleide predikante saam met hulle gegaan nie. Die Voortrekkers was op hulleself aangewese om die Bybel korrek te verstaan. Hulle kennis van hulle hemelse Vader het hulle by hulle ouers en voorouers geleer en opgedoen deur self die Bybel te lees en daarvolgens te leef. Hulle kennis van die Vader het nie uit ander boeke, filosofieë of redenasies gekom nie.

By Bloedrivier het hulle hierdie Vader gesmeek om hulp en Hy het hulle inderdaad gehelp, op ʼn manier wat slegs as ʼn wonderwerk gesien kan word. Dit was by Bloedrivier waar hulle vertroue op die Vader getoets is. Indien hulle iewers in hulle begrip van die Vader fouteer het, dan het Hy dit oorgesien en hulle ten spyte daarvan gehelp. Die Voortrekkers by Bloedrivier se gelofte lui soos volg: “om zo de Heere ons de overwinning geven mogt, ‘n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen.” Om ʼn huis te stig. Waar dit Hom behaag. Dit is nie om ʼn kerk te bou nie, dit is nie om enige iets te bou nie, dit is om ʼn huis te stig.

Dit is nou 180 jaar later en ons sien ʼn tweede Bloukrans voor ons. Moes ons nie nou al ʼn eie land gehad het nie? Hoe het dit gebeur dat ons in hierdie penarie is? Dit is duidelik dat iets iewers verkeerd gegaan het. Daar is mense wat glo dat die Hemelse Vader ons vanselfsprekend nou weer sal help. Hoekom sal Hy? Ou Testamentiese Israel het ook so gedink – totdat die Babiloniërs hulle in kettings weggevoer het. As ons nie die eerste gelofte kon nakom nie, hoekom sal ons ʼn nuwe een nakom? Dit moet ook onthou word dat die Voortrekkers die Gelofte van Bloedrivier aan die Vader aangebied het. Die Vader het nie die Gelofte ingestel nie, ons het. Die Vader het net ons aanbod aanvaar.

Daar is mense wat van mening is dat ons ʼn uitverkore volk is. Die Ou Testament handel hoofsaaklik oor die uitverkore volk Israel. Hierdie mense het van beter geweet, nogtans het hulle YHWH verwerp. Soos hulle reeds deur Moses gewaarsku was, het YHWH groot rampe en ellende oor hulle gebring. Indien ons uitverkore is, beteken dit nie dat YHWH ons vanselfsprekend sal red nie. Hy mag dalk groter teenspoed oor ons bring. Die Ou Testament toon duidelik dat YHWH meer van die uitverkore volk verwag het as wat hy van ander volke verwag het.

Dit is onvermydelik dat ons, as volk, die Vader in die hemel sal moet smeek om ons te red uit die gevaar waarin ons verkeer. Sal Hy ons hierdie keer ook red? Hy kan nie gemanipuleer word of omgekoop word nie. Wat sal Hy van ons verwag? Skuldbelydenis? Weet ons waar ons verkeerd gegaan het? Innerlike opregtheid? Nederigheid?

Ons moet ons hemelse Vader weer leer ken, Wie Hy werklik is. Jesus antwoord hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh 14:6 AOV). Ons kan die Vader nie ken deur die Tien Gebooie te onderhou nie, ons kan Hom nie ken deur naasteliefde nie, ons kan Hom nie ken deur versoening nie. Slegs deur Yeshua (Jesus) kan ons die Vader ken.

 

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Inleiding tot Deuteronomium

Foto: http://www.disciplemagazine.com/www/articles/216.1423

Die Bybelboek Deuteronomium word somtyds die Boek van die Verbond  genoem. Anders as Eksodus-Levitikus-Numeri wat die bepalings van die Wet (Instruksies) bevat, is Deuteronomium Moses se verduideliking van hoe dit toegepas moet word.

Deuteronomium is die laaste van Moses se vyf boeke. Hierdie vyf boeke word in Grieks die Pentateug genoem en in Hebreeus word dit Torah genoem. In Deuteronomium self en elders in die Bybel word Moses as die skrywer aangewys. Die Griekse naam Deuteronomium is afkomstig van ‘n foutiewe vertaling en beteken  “afskrif van die wetˮ. Die Hebreeuse naam is elleh haddebarim wat “dit is die woordeˮ (die eerste woorde in die eerste vers van die boek) beteken.

Die gebeure in Deuteronomium vind 40 jaar na Israel se uittog uit Egipte plaas. Na Israel uit Egipte is, het hulle by die Berg Sinai vertoef om YHWH se instruksies te ontvang. Hierna moes hulle die beloofde land, Kanaan, binnegaan en beset. Ten spyte van YHWH se beloftes en versekerings, het Israel nie op Hom vertrou nie en geweier om die land in besit te neem. As gevolg daarvan moes Israel 40 jaar in die wildernis vertoef tot die geslag wat teen YHWH in opstand was, uitgesterf het. Daar was nou ‘n nuwe geslag wat weer die geleentheid gekry het om die beloofde land in besit te neem.

Die boek Deuteronomium bestaan uit ‘n aantal toesprake wat Moses tot Israel gerig het. Dit is Moses se afskeidswoorde aan sy volk en hy wil seker maak dat die nuwe geslag die verbond wat YHWH met hulle gesluit het, ken en verstaan. Moses en die volk Israel bevind hulle in Moab, op die grens met Kanaan, die beloofde land. Moses gaan nie verder saam met hulle nie, Joshua gaan nou hulle nuwe leier wees. Waar die vorige drie boeke, Eksodus-Levitikus-Numeri, ‘n chronologiese geskiedenis vertel het, onderbreek Deuteronomium dit. Die verdere verloop van die geskiedenis word voortgesit in die boek Joshua.

Die verbond wat YHWH met Israel gesluit het, is ‘n voorwaardelike verbond. YHWH stel sekere voorwaardes wat Israel moet nakom. In ruil gee YHWH aan hulle die land wat Hy aan Abraham beloof het. Die instruksies wat Hy aan hulle gee, moet in die beloofde land toegepas word. Die seën en straf wat aan Israel voorgehou word, hou direk verband met voorspoed en teenspoed in die beloofde land. Moses se profesie verwys daarna dat die beloofde land weer van hulle af weggeneem kan word.

Gevolglik is Deuteronomium nie ‘n wetboek nie, dit is ‘n verbondsboek. Dit omskryf die verhouding wat tussen die twee partye moet bestaan. Dit is ‘n oproep tot ‘n lewenswyse wat Israel moet navolg om YHWH tevrede te stel. Dit vereis gehoorsaamheid aan YHWH as antwoord op YHWH se liefde en genade. YHWH verwag die totale lojaliteit van die volk wat Hy vir Homself gekies het. Dit sal vir Israel lewe en voorspoed bring, maar dislojaliteit en ongehoorsaamheid sal teenspoed oor hulle bring. Moses is besorg daaroor dat die volk mag misluk. Indien dit sou gebeur, sal YHWH hulle verwerp. Nogtans sal YHWH hulle genadig wees indien hulle tot Hom terugkeer. Die verbond lê ook klem op die onderlinge verhoudings tussen die lede van die volk. Dit sluit in versorging van die swakkeres en onderlinge regverdigheid. Die verbond sluit instruksies oor regspleging, sedes en huwelike in.

Die doel van die verbond is dat Israel deur YHWH afgesonder word om eksklusief Sy volk te wees. Dit is nie omdat hulle beter as ander volke is nie, dit is omdat Hy dit aan hulle Vaders beloof het. YHWH stel dit uitdruklik aan Israel dat hulle nie met die ander omringende volke mag vermeng nie. Al hierdie volke aanbid afgode en het godsdienstige praktyke wat vir YHWH onaanvaarbaar is. YHWH onderneem om hierdie volke bietjie-vir-bietjie uit die beloofde land uit te dryf. Israel moet die heidense godsdienstige plekke en voorwerpe heeltemal uitwis. Hulle is nie net afgesonder om die land van heidene te reinig nie, maar om anders te wees as die ander volke. Dit is sodat ander volke kan sien dat YHWH die enigste ware God is.

YHWH se verbond het aardse voordele vir Israel, sien ondermeer Deut 7:12-15: En omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en volbring, sal die HERE jou God vir jou die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy jou vaders besweer het; en Hy sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig, en Hy sal die vrug van jou liggaam seën en die vrugte van jou land, jou koring en jou mos en jou olie, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee, in die land wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee. Geseënd sal jy wees bo al die volke; daar sal by jou geen man of vrou onvrugbaar wees nie, ook nie onder jou vee nie. En die HERE sal elke krankheid van jou wegneem en al die kwaai siektes van Egipte wat jy ken, nie op jou lê nie; maar Hy sal dit lê op almal wat jou haat. (AOV). Die verbond beloof nie ewige lewe of redding uit die mens se verlore toestand nie.

Deuteronomium se invloed in die verdere geskiedenis van Israel (van Joshua tot 2 Konings) is aansienlik. Israel word deurgaans gemeet aan die instruksies wat in Deuteronomium vervat is. Deuteronomium word ook dikwels in die Nuwe Testament aangehaal.

Die struktuur van Deuteronomium is die volgende:

DEEL 1: (DEUT 1 – 4) OM DIE BELOOFDE LAND IN BESIT TE NEEM

  1. Die eerste bevel om die land in besit te neem: Israel weier (Deut 1)
  2. Die tweede bevel om die land in besit te neem: Vermanings (Deut 2 – 4)

DEEL 2: (DEUT 5 – 11) DIE VERHOUDING TUSSEN YHWH EN ISRAEL

  1. Herhaling van die 10 gebooie (Deut 5)
  2. Die belangrikste opdrag (Deut 6)
  3. Israel moet ‘n afgesonderde volk wees (Deut 7)
  4. YHWH onderrig deur dissipline (Deut 8)
  5. Israel het niks om op te roem nie (Deut 9)
  6. Israel moet hulle harte verander (Deut 10:1 – 21)
  7. Die Verbondsland: seëninge en vloeke (Deut 10:22 – 11:32)

DEEL 3: (DEUT 12 – 26) IN DIE BELOOFDE LAND

  1. Slegs aanbidding op die een plek wat YHWH sal aanwys (Deut 12)
  2. Slegs die aanbidding van YHWH mag toegelaat word (Deut 13)
  3. Slegs sekere diere mag vir voedsel gebruik word (Deut 14)
  4. ‘n Nuwe begin elke sewende jaar (Deut 15)
  5. Drie feeste per jaar op die plek wat YHWH sal aanwys (Deut 16)
  6. Die regsproses in die verbondsland (Deut 17)
  7. Die erfenis van die Leviete (Deut 18:1 – 8)
  8. Die Profeet wat kom (Deut 18:9 – 22)
  9. Beskerming van die onskuldige (Deut 19)
  10. Vertrou YHWH in oorlog (Deut 20)
  11. Verskeie gedragsreëls (Deut 21)
  12. Verskeie ander instruksies (Deut 22:1 – 12)
  13. Verlowing en huwelik (Deut 22:13 – 30)
  14. Wie mag toegelaat word in die vergadering van YHWH (Deut 23)
  15. Hertrou en die beskerming van armes en vreemdelinge (Deut 24)
  16. Die erfenis van ‘n oorlede broer (Deut 25)
  17. Laaste opdragte (Deut 26)

DEEL 4: (DEUT 27 – 30) SEËN EN VLOEK

  1. Wat eerste gedoen moet word nadat hulle oor die Jordaan is (Deut 27)
  2. Verdere seëninge en vervloekings (Deut 28)
  3. Waarskuwings (Deut 29)
  4. Profesie van verwoesting en ballingskap (Deut 30)

DEEL 5: (DEUT 31 – 34) MOSES NEEM AFSKEID

  1. Oordrag van gesag aan Joshua (Deut 31)
  2. Die lied van Moses (Deut 32)
  3. Moses seën die stamme van Israel (Deut 33)
  4. Moses sterf (Deut 34)
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin