Sosiale onderskeid in die Boerevolk

https://www.loot.co.za/product/n-seder-val-in-waterkloof/

Om ʼn onderskeiding tussen sosiale klasse in die Boerevolk te maak, is moeilik. Op ʼn manier is ons almal baie verlangs familie van mekaar. Kan jy sê ʼn familie bestaan uit verskillende sosiale stande? Is een broer van die hoër klas, een van die middel klas en die derde een van die laer klas? Indien wel, hoekom? Almal stam van dieselfde ouers af.

Die meerderheid van ons stamouers was uit die middelstand van Europa. Hulle het min of meer dieselfde geskooldheid gehad. Sommiges was meer welvarend, maar het met die lang oorloë en godsdienstige vervolging verarmd geraak. Aan die Kaap het die wat nie voorheen boere was nie, boere geword. Onder die Kompanjie se bewind was die binnelandse boereklas nie welvarend nie.

In Kaapstad en omgewing het daar ʼn klas welvarende handelaars en landgoedeienaars ontstaan. Hulle word soms Patrisiërs genoem. Sommige van hulle was wel uit dieselfde voorgeslagte as die Boerevolk maar het van hulle familie in die binneland vervreemd geraak. Onder Britse bewind het baie van die Hollandssprekendes verengels, byvoorbeeld lede van die Van der Byl, De Villiers en ander families. Daar was ander Kapenaars wat nie verengels het nie, maar wat ook van hulle families in die binneland vervreemd geword het. Hierdie welvarende Kapenaars het nie net ʼn ander sosiale klas geword nie, hulle het eintlik ʼn ander kultuur aanvaar – ʼn kosmopolitiese Britse kultuur. Dit was nie die Engelse of Walliesers of Skotte of Iere se kultuur nie, dit was internasionalisties en nie-etnies. Daar het dus mettertyd ʼn kloof ontstaan tussen sommige van die Kapenaars en die binnelandse Boerevolk.

Dit was eers met industrialisasie en verstedeliking dat die Boerevolk ander beroepe as boerdery begin beoefen het. Aanvanklik was baie net arbeiders, maar mettertyd kon die meeste daarin slaag om hulleself beter te kwalifiseer. Met beter kwalifikasies het hulle inkomstes verbeter en kon verarmdes weer ʼn middelklas lewenspeil handhaaf. Onder Nasionale Party regerings in die 20ste eeu, kon die sonder beter kwalifikasies steeds ʼn goeie bestaan maak in laer poste in die Staatsdiens en Staatskorporasies – ʼn tipe sosialisme.

Nogtans was daar vele lede van die Boerevolk wat daarin kon slaag om ʼn hoër sosiale klas as middelklas te word, party deur akademiese studie, ander deur senior poste in die staatsdiens en staatskorporasies en sommiges deur sukses in die sakewêreld. Van hierdie persone het hulle verbintenis met die Boerevolk behou en op verskillende terreine hulle volksgenote se belange bevorder. Weereens, nes die Kapenaars destyds, het heelwat ander lede van die hoër klas hulle herkoms verlaat en internasionalisties (deesdae globalisties) geword. Hulle denke en waardes het sodanig verander dat hulle van hulle volk vervreemd geraak het.

Om vandag betroubare inligting oor die Boerevolk te verkry, is onmoontlik. In 2006 was die Blankes in Suid-Afrika (uitgesluit die in Namibië en ander lande) verdeel in 17.4% laer klas, 60.1% middelklas en 22.4% hoër klas.

Die laer klas is diegene wat die laagste inkomste verdien en wat ook ongeskoold is. Hulle status mag aangebore of deur omstandighede wees. Dit sluit in hawelose mense en gesinne wat verplig is om swak betalende werksgeleenthede te aanvaar. Baie is afhanklik van staatstoelaes (Sassa) en die staat se mediese dienste.

Die grootste gedeelte van die Boerevolk behoort tot die middelklas. Verskeie teorieë bestaan oor  die onderverdeling van die middelklas. Na my mening is dit nie van toepassing op die Boerevolk nie. By ons bestaan die middelklas hoofsaaklik uit geskoolde mense, persone wat ʼn vorm van beroepsopleiding gehad het. Hulle verwag om ʼn inkomste te verdien wat in ooreenstemming met hulle opleiding en ondervinding is. Hulle verwag ook ʼn lewenstandaard, behuising en vervoer wat hiermee ooreenstem. Hulle verwag verder dat hulle kinders dieselfde of beter sal kan doen.

Die hoër klas het op grond van rykdom en posisie groot invloed in die samelewing. Dit gee aan hierdie persone ook politieke en sosiale mag. By die Boerevolk bestaan die hoër klas uit akademici, senior amptenare, senior bestuurders, en sakelui. Hulle is in staat om in luukser woongebiede te woon en word gereeld as meningsvormers gebruik.

Hoewel daar tans verskillende sosiale klasse bestaan, kan daar nie veralgemeen word nie. Nie almal in ʼn wit plakkerskamp behoort tot die laer klas nie. ʼn Plakkerskamp is eintlik ʼn soort woonbuurt waarvan die inwoners wissel van dwelmverslaafdes, halfgeskooldes, geskooldes tot verarmde professionele lui. ʼn Vriend wat ʼn karwag van beroep is, is ʼn belese persoon wat sy dagtaak met trots en deeglikheid uitvoer.

Onder die Boerevolk is daar nie ʼn sosiale onderskeid tussen blouboortjie en witboortjie werkers nie. Talle blouboortjie werkers het hulle eie suksesvolle besighede gevestig. Dit is vir my interessant om te luister na die suiwer Afrikaans wat deur middelklasmense gebesig word, veral diegene wat uit ʼn blouboortjie agtergrond kom.

Onder die hoër klas is daar twee groepe. Vriende met beter kwalifikasies is dikwels jare lank oorgesien in aanstellings omdat hulle nie met die “binnekring” saamgestem het nie. Die “binnekring” is gewoonlik polities korrek en is aanvaarbaar vir die “regte” mense. Sommiges van die hoër klas het hulle rykdom en status geërf en behoort tot die ou-geld elite.

Elders in die wêreld word mense binne sekere sosiale stande gebore en die meeste bly in sy stand tot by sy dood. By die Boerevolk bestaan dit nie. Voor verstedeliking  plaasgevind het, was familie en afkoms belangrik binne die konteks van familie uitlê. Familie uitlê was gerig op identifikasie van wie ʼn persoon is, waar hy vandaan is en aan wie hy verwant is.

By die Boerevolk hou sosiale klasse hoofsaaklik verband met opleiding en ondervinding en die inkomste wat as gevolg daarvan verdien kan word. Sosiale klasse is derhalwe veranderbaar. Iemand kan opwaarts beweeg deur self-verbetering. Gewoonlik beweeg persone afwaarts as gevolg van eksterne omstandighede.

As volk bly ons dus verlangs familie van mekaar en raak die lotgevalle van elke individuele lid van die volk ons regstreeks. Dit maak dat almal – van laer klas tot hoër klas – vir ons belangrik is. Ons wil graag ons volk bymekaar sien, in staat om mekaar te versorg en op te bou.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui