Inleiding tot Rigters

Foto: https://heartofashepherd.com/2017/02/14/faith-is-the-victory/

Die boek Rigters is die tweede boek van daardie gedeelte van die Ou Testament wat handel oor Die Geskiedenis van die Twaalf Stamme van Israel. Hierdie gedeelte begin met Joshua en eindig met 2 Konings. Die gedeelte wat daarop volg is Die Geskiedenis van Juda wat begin met 1 Kronieke en eindig met Ester. Rigters volg dus op Joshua en word gevolg deur Rut.

Die Hebreeuse naam van die boek is Shophetim, dit beteken “regters, regeerders, verlossers of redders”. Die rigters se take was eerstens om hulle mense te verlos, daarna om oor hulle te regeer deur te sorg dat reg en regverdigheid geskied.

Die tydperk van die rigters begin na die dood van Joshua en strek tot Saul koning oor Israel geword het. Die laaste twee rigters, Eli en Samuel, se geskiedenis word vertel in die boek 1 Samuel. Die totale tydperk van die rigters was 346 jaar. In hierdie tyd was Israel ʼn teokrasie, YHWH het oor hulle regeer en Hy het slegs menslike leiers opgeroep waar en wanneer Hy hulle wou gebruik.

Die geskiedenis van die rigters is nie aaneenlopend nie, daar was tye wanneer daar geen rigter was nie. Die rigters was ook nie nasionale leiers nie, hulle was slegs leiers in ʼn sekere stam gewees en het binne ʼn bepaalde gebied opgetree. Daar was nie ʼn sentrale regering nie en elke stam het oor homself regeer en nie in mekaar se sake ingemeng nie. Stamme het wel vrywillig gesamentlik opgetree wanneer dit nodig was.

Die skrywer van die boek is onbekend. Volgens Joodse tradisie was Samuel die skrywer. Die meeste van die gebeure in Rigters het plaasgevind voor Samuel se geboorte, gevolglik is dit moontlik dat hy ou geskrifte kon versamel en georden het. Wanneer die boek geskryf of saamgestel was, is ook onbekend. ʼn Uitdrukking wat herhaaldelik in die boek voorkom is: In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë. Hierdie woorde gee die indruk dat die boek tot stand gekom het toe daar reeds ʼn monargie was.

Rigters bestaan uit drie dele: ʼn proloog, ʼn hoofdeel en ʼn epiloog. Die proloog het twee onderdele wat nie met mekaar verband hou nie en wat elkeen ʼn ander doel het. Hulle volg ook nie chronologies opmekaar nie. Die eerste deel gee die historiese oorsig van die verowering van die verbondsland. Die tweede deel gee ʼn toeligting op die tydperk tussen Joshua en die eerste koning, Saul.

Die hoofdeel van die boek vertel die geskiedenis van twaalf van die rigters. Ses meer prominent en ses minder prominent. Dit is nie noodwendig al die rigters wat daar was nie en die verskillende rigters volg ook nie noodwendig chronologies op mekaar nie. Die hoofdeel van die boek is so saamgestel dat elke verhaal ʼn bepaalde siklus volg. Die siklus bestaan uit: afvalligheid van YHWH af, gevolg deur YHWH wat hulle oorgee aan onderdrukking, gevolg deur nood en gebed om hulp, gevolg deur YHWH wat bevryding bewerk deur middel van ʼn rigter. Elke siklus het ʼn soortgelyke begin (Israel het in die oë van YHWH kwaad gedoen) en ʼn soortgelyke resultaat (YHWH het ʼn tydperk van vrede of leierskap gegee).

Die epiloog bestaan ook uit twee dele wat nie chronologies is nie en wat ook geen verband met mekaar het nie. Die eerste deel vertel van die stam Dan wat ʼn verdorwe godsdiens aangeneem het en hulle erfgrond verlaat het. Die tweede deel vertel van die stam Benjamin wat ʼn verdorwe deel van die stam verdedig het en as gevolg daarvan byna uitgewis is.

Nadat YHWH sy verbond met Abraham nagekom het en die verbond met Israel by berg Sinai ingestel het, was teokrasie die regeringsvorm wat Hy aan hulle gegee het. YHWH was hulle koning en het oor hulle regeer deur hulle te tugtig en te dissiplineer.  Israel het nie lank geneem om van YHWH afvallig te word nie. Dit was in alle streke en in elke stam. Eers wanneer hulle tot berou gekom en dit bely het, was YHWH genadig en het redding vir hulle bewerk. Die manier hoe Hy hulle te hulp gekom het, was om ʼn menslike leier te roep deur wie Hy dan gewerk het. YHWH se hulp aan so ʼn menslike leier was dikwels bonatuurlik. Derhalwe is hulle deur die krag van YHWH, nie deur die vermoë van ʼn mens nie, gered. Die helde in Rigters is slegs helde in soverre as wat hulle YHWH vertrou en gehoorsaam het. Die rigters het ook voete van klei gehad en het ook verkeerd gedoen en misluk. Daarvoor moes hulle die prys betaal.

Die struktuur van die boek is soos volg:

DEEL 1: (RIG 1:1 – 3:6) DIE TOENEMENDE AFVALLIGHEID VAN ISRAEL

  1. Israel versuim om die hele verbondsland in besit te neem (Rig 1:1 – 1:36)
  2. YHWH se handelswyse met Israel (Rig 2:1 – 3:6)

2.1 Die laaste dae van Joshua se leierskap (Rig 2:1 -2:10)

2.2 Israel dien afgode, YHWH se woede en die opwekking van rigters (Rig 2:11 – 2:19)

2.3 YHWH laat van die heidenvolke oorbly in die land (Rig 2:20 – 3:6)

DEEL 2: (RIG 3:7 – 16:31) DOEN EN LATE VAN VERSKILLENDE RIGTERS

  1. Othniël van Juda (Rig 3:7 – 3:11)
  2. Ehud van Benjamin en Samgar (Rig 3:12 – 3:31)
  3. Debora van Efraim en Barak van Naftali (Rig 4:1 – 5:31)

3.1 Debora stel Barak aan (Rig 4:1 – 4:9)

3.2 Barak behaal die oorwinning (Rig 4:10 – 4:24)

3.3 Die lied van Debora (Rig 5:1 – 5:31)

  1. Gideon van Manasse (Rig 6:1- 9:57)

4.1 YHWH stuur ʼn profeet (Rig 6:1 – 6:10)

4.2 Die roeping van Gideon (Rig 6:11 – 6:32)

4.3 Gideon maak seker dat YHWH sal help (Rig 6:33 -6:40)

4.4 YHWH verslaan Midian (Rig 7:1 – 7:25)

4.5 Onwillige menslike leiers (Rig 8:1 – 8:21)

4.6 ʼn Strik vir die huis van Gideon (Rig 8:22 – 8:35)

4.7 Gideon se seun Abimeleg wil koning wees (Rig 9:1 – 9:57)

  1. Tola van Issaskar en Jair van Gilead (Rig 10:1 – 10:5)
  1. Jefta van Gilead (Rig 10:6 – 12:6)

6.1 Israel, die hoer van valse gode (Rig 10:6 – 10:18)

6.2 Jefta, die seun van ʼn hoer word rigter (Rig 11:1 – 11:11)

6.3 Jefta se boodskap aan die koning van Ammon (Rig 11:12 – 11:28)

6.4 Jefta se gelofte en die vernedering van Ammon (Rig 11:29 – 11:40)

6.5 Die broedertwis (Rig 12:1 – 12:7)

  1. Ebsan van Bethlehem, Elon van Sebulon en Abdon van Pireaton (Rig 12:8 – 12:15)
  1. Simson die Nasireër van Dan (Rig 13:1 – 16:31)

8.1 Die geboorte van Simson (Rig 13:1 – 13:25)

8.2 Simson se huwelik (Rig 14:1 – 15:20)

8.3 Simson en die hoer (Rig 16:1 – 16:3)

8.4 Simson en Delila (Rig 16:4 – 16:31)

DEEL 3: (RIG 17 – 21) VERDORWENHEID IN ISRAEL

  1. Miga, sy priester en die stam Dan (Rig 17:1 – 18:31)

1.1 Miga, sy afgod en sy priester (Rig 17:1 – 17:13)

1.2 Dan verlaat hulle stamgebied en steel Miga se afgod en priester (Rig 18:1 – 18:31)

  1. Benjamin word byna uitgewis (Rig 19:1 – 21:25)

2.1 Die verkragting van ʼn reisiger se vrou (Rig 19:1 – 30)

2.2 Die stam Benjamin beskerm die verkragter teen die ander elf stamme (Rig 20:1 – 20:48)

2.3 Vroue vir die 600 oorblywendes van Benjamin (Rig 21:1 – 21:25)

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Christene buite die kerk: die Waldense

Foto: http://www.lineagejourney.com/reformation/movements/the-waldenses/

Sedert die Apostels tot vandag toe, was daar nog altyd ʼn suiwer getuienis van Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) op aarde. Dit was dikwels buite die kerk, daar was mense wat nie lidmate van die kerke was nie maar wat Yeshua vertrou het, daar was ʼn beter vertaalde Bybel beskikbaar vir die wat soek, en daar was geestelike leiers wat nie wêreldlinge was nie.

Die Apostels het ook ander reise, as wat in Handelinge genoem word, onderneem. Gemeentes het op verskillende plekke in Europa en buite Europa tot stand gekom. In die vierde eeu is die Christelike godsdiens deur die Romeinse Ryk erken en het die Rooms-Katolieke Kerk tot stand gekom. Hoewel kerkgeskiedenis dit laat voorkom of alle Christene in die Rooms-Katolieke Kerk opgeneem is, was daar ook Christene wat hewig van die Roomse kerk verskil het. Baie van hierdie Christene het in afgeleë landelike gebiede, in die wildernis, gewoon. Sulke gemeentes het nie kerkgenootskappe gevorm nie maar het wel met ander saamgewerk. Hierdie gemeentes en groepe het nie aan hulleself name gegee nie en is hoofsaaklik bekend onder name wat hulle vyande aan hulle gegee het.

Die geskiedenis van hierdie Christene het grotendeels verlore geraak. Weens vervolging is hulle eie geskrifte verbrand en is al wat van hulle bekend is dit wat hulle vyande van hulle gesê het. Die Rooms-Katolieke Kerk het die andersdenkendes “ketters” genoem en hulle beskuldig van allerlei dwalinge wat heel moontlik nie waar was nie. Die “ketters” is vervolg en baie het omgekom op brandstapels en deur massamoorde.

Die Christene wat vandag bekend staan as die Waldense, het oorspronklik in die Alpe gewoon, een deel in die suide van Frankryk en een deel in die noorde van Italië. Dit is nie seker of die Waldense, die Vaudois, die Khatare en die Albigensers verskillende bewegings was en of dit een groep was nie. Sommige Hervormers was van mening dat die Waldense al sedert 120 n.C. bestaan het.

Die algemene siening is dat die naam Waldense afkomstig is van ʼn man met die naam Pieter Waldo (Pierre Valdes) van die stad Lyon. Waldo was ʼn welgestelde handelaar in Lyon. Hy het tot die oortuiging gekom om van sy besittings ontslae te raak en die Gesalfde te volg. Matteus 19:21 het ʼn rol gespeel in sy besluit: Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ʼn skat in die hemel hê; en kom hier, volg My. (AOV). Waldo het dit as ʼn saak van dringendheid gesien om die Bybel te ken en het twee geleerdes betaal om die vier Evangelies te vertaal uit oud-Latyns in sy moedertaal, Romaunt (ʼn algemene taal van die 8ste tot 14de eeue in die suide van Europa). Dit was in die jaar 1173 n.C., omtrent 300 jaar voor die Hervorming. Ander persone het by Waldo aangesluit en hulle het bekend geword as die “Armes van Lyon”.

‘n Alternatiewe siening is dat die naam Waldense afkomstig is van die woord “vallei” in Italiaans (Valdesi), Frans (Vaudois) en Romaans (Waldense). Dus: Die Waldense was “die mense van die valleie”.

Die Waldense het die Bybel as die enigste gesag vir geloof en praktyk beskou en het die Rooms-Katolieke Kerk se leer en gebruike verwerp.  Hulle het die Bybel gesien as die onfeilbare Woord van God en dit bestudeer en gememoriseer. Hulle oorspronklike sienings was soortgelyk aan die sienings van die latere Baptiste. Hulle het geglo verlossing kan slegs deur God se genade plaasvind. Tydens die Hervorming was hulle sienings soortgelyk aan dit wat die Hervormers verkondig het.

Aanvanklik het hulle nie met die Rooms-Katolieke Kerk gebots oor leerstellings nie. Die Kerk se probleem met hulle was dat hulle leke was wat sonder goedkeuring gepreek het. Gevolglik is die “Armes van Lyon” tot ketters verklaar. Hulle het gemeentes gestig in Frankryk, Italië, Duitsland, Switserland en elders. Nog ʼn groep, die “Armes van Lombardye” het ontstaan. Kontak met die Hervormers in Switserland het die Waldense oortuig om in 1532 met die Calvinistiese Hervormers te verenig. Uiteindelik het dit wat ʼn geestelike beweging was, ook ʼn kerkgenootskap geword.  Vandag bestaan daar nog Waldense kerkgenootskappe in Italië, Duitsland, Argentinië, Uruguay en die VSA.

Nadat die Waldense met die Hervormers verenig is, het hulle dieselfde vervolging as die Franse Hugenote deurgemaak. In 1545 is die dorpie Merindol in die Suid-Weste van Frankryk deur die Rooms-Katolieke Inkwisisie vernietig. 2000 mense het omgekom en 700 is na die galeie gestuur. In 1560 het die Inkwisisie ʼn massamoord gepleeg op Waldense in die Italiaanse gebied Kalabrië. Waldense het beide kante van die Kottiese Alpe bewoon. Die aan die Franse kant het aan die Franse Godsdiensoorloë deelgeneem en die tydelike voorregte van die Edik van Nantes geniet. Die Italiaanse kant was deel van die Hertogdom van Savoye. In 1560 het die Hertog ʼn militêre mag gestuur om die Waldense uit te wis. Die Waldense het hulleself verdedig en uiteindelik ʼn gunstige verdrag met die Hertog gesluit. In 1655 is nog ʼn groot massamoord gepleeg op die Waldense van Piëmont in Italië.

Aanvanklik het elke gemeente van die Waldense ʼn groot mate van vryheid gehad in hulle doen en late. Dit wil voorkom of sommiges Saterdag as rusdag gehad het, terwyl ander weer Sondag as rusdag gehad het. Daar was ook onderlinge verskille oor die doop en die “breek van brood”. Voor 1500 n.C. het die Waldense nie iets soos kerkgeboue gehad nie. In een geval word gemeld dat hulle eenkeer per maand, gedurende die dag of aand, ʼn gemeentelike byeenkoms (erediens) gehad het. Hulle het nie geordende geestelike leiers gehad nie en het hulle leiers barbes (“ooms”) genoem.

Die Rooms-Katolieke Kerk het die vertaling van die Bybel in volkstale verbied. Die Bybel wat hulle gebruik het, was die Vulgaat, wat hulle vertaling in Latyn was. Die vertaling van die Bybel in Romaunt is nie gedoen uit die Vulgaat nie, maar uit ʼn oud-Latynse vertaling wat ouer as die Vulgaat was. Die voorlopers van Pieter Waldo het hierdie vertaling gebruik want hulle het gemeen die Vulgaat het te veel foute gehad. Hierdie oud-Latynse vertaling is in Noord-Italië gebruik en het bewaar gebly as ʼn suiwerder vertaling uit die oorspronklike. Hierdie vertaling staan bekend as die Itala en word gedateer uit 157 n.C. Die Peshitta (Aramese Nuwe Testament) word gedateer uit 150 n.C. en word as die oudste volledige Bybel beskou.

In die laat vyftiende eeu is talle Griekse tekste van die Bybel herontdek in die weste van Europa. Die Hervormers het hierdie tekste vergelyk met die Vulgaat en afgekom op verkeerde vertalings en foute in die Vulgaat. Vir hulle was dit onaanvaarbaar en hulle ʼn het uitgebreide studie gemaak om die mees korrekte Bybel te bekom. Dit het daartoe gelei dat hulle die Textus Receptus ontwikkel het as ʼn Griekse Nuwe Testament. Van die Hervormers was self Waldense of het familie gehad wat Waldense was. Toe hulle die vertaling van die Bybel in hulle volkstale gedoen het, was die Waldense se Bybel in ag geneem as ʼn belangrike verwysingsbron.

Volgens ʼn ou tradisie het die apostel Paulus die noorde van Italië tydens sy vierde sendingreis besoek. Die gemeentes wat hy hier gestig het, was later bekend as “Oorspronklike Christene”. Die Malan-familie het ontstaan in Piëmont (Italië) en was Christene lank voor Pieter Waldo. Tydens die vervolging van 1112, het ʼn tak van die Malan-familie gevlug na Merindol in suidwes Frankryk. Sedert 1177 is die Christene hier Waldense genoem en sedert die Hervorming is hulle Hugenote genoem. Tussen 1681 en 1720 het ongeveer 200,000 Hugenote uit Frankryk na veilige lande gevlug. Een van hulle was Jacques Malan, die stamvader van een van die Boerefamilies.

‘n Suiwer en betroubare getuienis van Yeshua was nog altyd te vinde. Die vlam van die getuienis het net so helder gebrand soos die vlamme van die brandstapels.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin