Selfbeskikking is ons plig

Foto: https://nuus.info/is-daar-n-toekoms-in-suid-afrika-vir-die-witman/

Teen hierdie tyd besef meeste van ons dat ons nie meer ʼn eie land het nie. En indien ons dit sou kon terugkry, sal dit ʼn bouval wees wat gesloop en oorgebou moet word. Dit alles omdat ons toegelaat het dat ons belieg en bedrieg kon word.

Ek wonder soms of ons nie iets soortgelyk oorgekom het as wat die Israeliete in Numeri 13 en 14 oorgekom het nie. Hulle het geweier om die beloofde land in besit te neem en het toe 40 jaar in die wildernis rondgeswerf. Ons het sekerlik iets gedoen of nagelaat om te verdien wat ons oorgekom het.

Die verdere probleem is dat ons, as ons nie ʼn eie land het nie, ook nie die Bloedrivier-gelofte kan nakom nie. Volgens die amptelike notule van die Volksraad het ons voorouers onderneem: Des Zondags morgens, vóordat de godsdienst begon, liet de Hoofd-Kommandant degenen die de godsdienst zouden verrigten, by malkander komen, en verzocht hen, met de gemeente te spreken, dat zy allen volyverig in geest en in waarheid, tot God mogten bidden, om Zyne hulp en bystand, in het slaan tegen de vyand; dat hy aan de Almagtigen ‘n gelofte doen wilde, (indien allen wel willen), – “om zo de Heere ons de overwinning geven mogt, ‘n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen,” – en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen, en dat wy de dag der overwinning, in ‘n boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdat het ter Eere van God gevierd mag worden.

Daar is minstens drie redes waarom ons selfbeskikking moet soek. Die “nuwe Suid-Afrika” het misluk. Wat ons voorgeslagte met moeite en opoffering gebou het, is nie meer ons s’n nie en is in elk geval nou ʼn puinhoop. Suid-Afrika is ʼn verlore saak, daar is niemand wat die land se probleme kan oplos nie. Die Suid-Afrikaanse leiers probeer nie eers nie, hulle het besef hulle moet vir hulleself gryp wat te gryp is voor die realiteite die land inhaal. Die Boerevolk moet na homself kyk en weer voor begin en iets nuuts bou. Ons moet, as’t ware, uit Babilon terugkeer.

Die moraliteit en etiek van die “nuwe Suid-Afrika” is direk in stryd met ons Christelike geloof en erfenis. Vir Christene is ʼn goddelose staat ʼn groot probleem. Ongelukkig keur baie kerke en predikante die goddeloosheid toe. Eens op ʼn tyd het YHWH ons gehelp by Bloedrivier. Sal Hy ons weer help? Verdien ons dit om gehelp te word? Ons moet die hand in eie boesem steek. Wat ons verbrou het, moet reggemaak word. Hoe gaan ons dit doen as ons geen seggenskap oor ons eie sake het nie? Onthou: ons het dit oor onsself gebring.

Sover ek kan sien, het ons nog nie ons onderneming met die Gelofte nagekom nie. As dit korrek is, en ons maak dit nie reg nie, is ons verlore. Wat is bedoel met: ‘n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen. “Waar dit Hom behaag” beteken seker die land wat Hy aan ons gee? Watter land is dit en waar is dit geleë? Wat beteken dit om ʼn huis te stig? ʼn Gebou word gebou of opgerig, dit word nie gestig nie. Hierdie “huis” is om tot Sy Naam se gedagtenis te wees. Is die “huis” nie dalk die Boerevolk nie? (Onthou: hierdie is die woorde van die amptelike notule wat ter plaatse opgestel en as korrek goedgekeur is deur die Volksraad.)

Vir die wat nuut is ten opsigte van selfbeskikking, dit is ʼn internasionale reg wat ook in die Suid-Afrikaanse Grondwet erken word. Hierdie reg is slegs opeisbaar deur volke. Daardie reg – die “reg op selfbeskikking” – beteken dat ʼn volk homself regeer met wette deur sy eie gesagsliggame gemaak volgens die volk se unieke waardes en lewenswyse. Dit is ʼn reg wat aan volke kleef en nie aan rasse nie. … Daarom lui Artikel 235 van die Grondwet dat ʼn taal– en kultuurgemeenskap wat dit wil, selfbeskikking in ʼn eie gebied kan eis. …  Die Reg aanvaar dat nie almal in ʼn volk noodwendig hulleself wil regeer nie. Daarom kan selfbeskikking ook geëis word deur ʼn deel van ʼn volk. … Die reg op selfbeskikking kleef aan ʼn volk – nie aan enige politieke partye, organisasies of individue binne ʼn volk nie. (Uittreksel uit die VVK se Regsargument.)

Die begrip “volk” word nie duidelik omskryf in internasionale reg nie, gevolglik is dit vatbaar vir verdraaiing deur propagandiste. Mens kan sê ʼn volk is ʼn groep mense wat hulle eie taal het, wat ʼn gemeenskaplike geskiedenis het, wat dieselfde kultuur en tradisies het. Godsdiens kan ook, maar hoef nie, ʼn gemeenskaplike faktor wees. Dit is nie ʼn vereiste dat almal in dieselfde land gebore is of onderdane van dieselfde staat hoef te wees nie.

Daar is verskillende vorms van selfbeskikking, soos kulturele selfbeskikking en territoriale selfbeskikking. Territoriale selfbeskikking is die enigste wat aan die Boerevolk se behoeftes sal voldoen, dit word ook ʼn Volkstaat genoem. Dit is die gedagte dat daar ʼn spesifieke grondgebied moet wees wat eksklusief aan die Boerevolk behoort. ʼn Volk wat nie sy eie grondgebied besit nie, se status verminder tot die van ʼn minderheidsgroep met bittermin regte. Die wyse waarop Suid-Afrika ontwikkel het, was die oorsaak dat die Boerevolk tans verspreid oor ʼn groot gebied woon. Dit maak die identifisering van ʼn bepaalde gebied iets wat nie vinnig beantwoordbaar is nie. Dit is wel ʼn interessante uitdaging vir die wat skeppend kan dink. Die identifisering van so ʼn gebied, wat ook ekonomies vatbaar sal wees, is moontlik. Daar is ook interessante moontlikhede vir die tipe regeringsvorm wat ingestel kan word. Met ʼn eie grondgebied kan sesessie ook oorweeg word.

Die grootste hindernis tot die bereiking van volwaardige selfbeskikking is die Suid-Afrikaanse staat. Hoewel al die aspekte deur die Suid-Afrikaanse grondwet en internasionale reg erken word, kan die staat steeds weier om dit toe te staan. Die staat word verder in sy weiering gesteun deur ander state (sê maar ander Afrika state) en deur almal wat vyandig teen die Boerevolk is. Sesessie kan gesien word as hoogverraad teen die Suid-Afrikaanse staat. Indien sesessie deurgevoer word, mag dit met militêre mag beveg word. In so ʼn geval sal ʼn oorlog teen die bestaande staat gewen moet word en sal ʼn vredesverdrag die sesessie moet goedkeur.

Die situasie waarin ons verkeer, is ons eie skuld. Ons is nie verslaan in ʼn oorlog nie, ons het vrywillig daarvoor gestem. Ons het willens en wetens dit oor onsself gebring. Dit gaan nie maklik wees of gou gaan om ons hieruit te kry nie. Omgord die lendene en wees geduldig.

Ek vermoed dat ons as volk se verlies aan selfbeskikking te doen het met ons as volk se verhouding met YHWH. Na die wonderwerk van Bloedrivier op 16 Desember 1838 het ons ʼn eie grondgebied met eie regering gekry. Ons het dit verloor met die Britse anneksasie van Transvaal. Toe kom Paardekraal op 16 Desember 1880 en ons verslaan die magtige Britse Ryk daarna. 16 Desember 1899 is in Britse geskiedenis bekend as die einde van die Swart Week. In hierdie week het Boeremagte die een groot oorwinning na die ander oor die Britte behaal. Binne twee maande draai die gety en die Boeremagte lei een neerlaag na die ander. Wat het gebeur dat daar so ʼn skokkende ommeswaai plaasgevind het? Ons verloor die oorlog en word gedompel in ellende en armoede. 16 Desember 1938 was die afsluiting van die Simboliese Ossewatrek wat tot ʼn ontwaking onder die Boerevolk gelei het en gevolg is deur die Nasionale Party oorwinning 10 jaar later. Van 1948 tot 1966 word gesien as ʼn goue tyd in ons volksgeskiedenis, maar na 1966 is daar ʼn progressiewe agteruitgang. In 1994 word Geloftedag afgeskaf en vervang met Versoeningsdag. Wat het tussen 1966 en 1994 gebeur wat ons tot die eerlose oorgawe gebring het? Het ons opgehou om die eer aan YHWH te gee? Betaal ons as volk nou die prys van ʼn keuse om sonder YHWH te leef?

Ons het selfbeskikking gehad maar het dit weggesmyt. Sonder selfbeskikking gaan ons net in groter ellende beland. Ons het nie ʼn keuse nie: dit is selfbeskikking of ondergang. Volgens die Gelofte hou ons selfbeskikking direk verband met ‘n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen.

Die Paardekraal-gelofte van 16 Desember 1880 lui soos volg: In de tegenwoordigheid van den Almachtigen God, de kenner aller harten, onder bidden opziend om Zijn genadige hulp en ontferming, zijn wij, Burgers van de Zuid-Afrikaansche Republiek, plechtig overeengekomen, gelijk wij bij dezen overeenkomen, om voor ons en onze kinderen een heilige verbond op te richten, het welk wij met plechtigen eed bezweren. Ruim veertig jaren is het gelede, dat onze vaderen de Kaapkolonie ontvlucht zijn, om een vrij en onafhanklik volk te worden. Deze veertig jaren waren veertig jaren van smart en lijden. Wij hebben Natal, den Oranje-Vrijstaat en de Zuid-Afrikaansche Republiek gesticht, en driemaal heeft de Engelsche Regering onze vrijheid vertrapt. En onze vlag, die onze vaderen met hun bloed en tranen gedoopt hebben, van den grond neergehaald. Als door een dief in de nacht is onze vrije Republiek weggestolen. Wij kunnen en wij mogen dat niet dragen. God wil, dat de eerbied onzer vaderen en de liefde jegens onze kinderen ons voorschrijft, het erfpand der vaderen ongeschonden aan onze kinderen over te leveren. Daarom is het dat wij hier bijeentreden en dat wij elkander de hand geven als mannen, broeders, plechtig belovende, trouw te houden aan ons land en volk en met het oog op God same te werken, tot den dood toe. Zoo waarlijk helpe ons God Almachtig.

Daar is dus net een opsie. Herstel die Gelofteverhouding tussen YHWH en die Boerevolk. Laat ons onsself ondersoek en uitvind waar ons verkeerd gegaan het. Laat ons regmaak wat ons verbrou het. Laat ons terugkeer na ʼn lewenswyse en moraliteit wat YHWH sal behaag. Miskien sal Hy ons weer genadig wees en red uit die gemors waarin ons onsself laat beland het.

Los asseblief net jou predikant en kerk, of jou herder en geloofsgroep, by die huis. Hulle het al genoeg skade aangerig.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Ongodsdienstige Christene

Foto: http://www.essencerestored.org/two-types-of-meetings-in-the-early-church/

Ingeval daar iemand is wat nie weet waar die naam Christene vandaan kom nie, dit kom uit Handelinge 11:26: En hulle het ʼn hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ʼn aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochië vir die eerste keer Christene genoem.

Voor dit is die volgelinge van Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) die Weg genoem, Hand 9:2: … en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. In Hand 24:5 word die volgelinge van Yeshua ook Nasareners genoem: Want ons het gevind dat hierdie man ʼn pes is en ʼn verwekker van oproer onder al die Jode in die wêreld en ʼn voorman van die sekte van die Nasareners.

Hierdie name is nie deur Yeshua se volgelinge aan hulleself gegee nie, ander mense het hulle so genoem. Aanvanklik was al Yeshua se volgelinge Jode en is hulle gesien as ʼn Joodse sekte, net soos die Fariseërs en Sadduseërs sektes in Judaïsme was.  Toe was hulle die Weg en Nasareners genoem. Eers nadat Petrus die Koninkryk oopgesluit het vir nie-Jode (Hand 10) het mense uit die vreemde nasies ook Yeshua begin volg. Toe het die naam Christen posgevat.

Vandag is die name Christene of Christelike geloof of Christendom vir baie van Yeshua se volgelinge ʼn probleem want dit verwys dikwels na mense wat nie volgelinge van Yeshua is nie. Daar is Ware Christene en Valse Christene, daar is godsdienstige organisasies (kerke) wat hulleself Christelike Kerke noem maar wat mensgemaakte leerstellings verkondig, daar is lande wat Christelike Lande genoem word hoewel min van die burgers volgelinge van Yeshua is, en nog meer. Die Ware Christen wil in hierdie situasie homself onderskei van die res van die Christendom, wat slegs in naam Christene is. Sou die Ware Christene begin om ʼn ander naam te gebruik, dan word dit kort voor lank ook verdraai.

Die woord godsdiens is ook ʼn probleem. Godsdiens is wanneer mense glo dat daar ʼn god of gode is wat aanbid moet word. Hierdie god of gode is verhewe bo die mens en kan die mens bevoordeel of benadeel. Hoe die god of gode optree word bepaal deur of mense sekere reëls en rituele nakom.

Kerke het ook rituele en reëls, party minder, party meer. Kerke is godsdienstige organisasies, ook bekend as kerkgenootskappe of denominasies. Die eerste kerkgenootskap het 300 jaar na Christus ontstaan en is bekend as die Rooms-Katolieke Kerk. Die doel was om erkenning binne die Romeinse Ryk te kry en om die Christelike Geloof te wettig. As ʼn wetlik erkende organisasie is hulle lidmate gevrywaar van vervolging deur die staat en kon hulle ondermeer eiendom besit. In later jare het die een kerkgenootskap verdeel in ʼn Westerse Katolieke Kerk en Oosterse Ortodokse Kerke. Nog later het die Kerkhervorming plaasgevind en het ʼn groot getal Protestantse Kerke ontstaan. Nog meer onlangs het die Pinksterkerke ontstaan en toe Charismatiese Kerke en daarna nog nuwe kerke.

Deur die eeue heen, was daar verskeie krisisse in kerklike geledere wat opgelos is deur die aanvaarding van geloofsbelydenisse. Baie kerkgenootskappe het skriftelike geloofsbelydenisse waarin hulle uiteensit wat hulle interpretasie van geloofsvraagstukke is. Dit dien ook om een kerkgenootskap van ʼn ander te onderskei en om die lede van een kerkgenootskap saam te bind. In ʼn geloofsbelydenis word daar gepoog om die kerkgenootskap se interpretasie van wat die Christelike geloof is, te formuleer.

Elke kerkgenootskap het hul eie rituele (sakramente) en reëls (kerkwet) wat die lede daarvan moet nakom. Indien een of meer persone nie dit gehoorsaam nie, kan die betrokke kerk hulle lidmaatskap opskort. Indien dit ʼn groot leerstellige verskil is, kan die ongehoorsames tot ketters verklaar word. Waar die kerkgenootskap deur die staat erken word, is ketters ʼn onerkende geloofsgroep en het die staat in die verlede dikwels met militêre mag teen hulle opgetree. Die kerkgenootskap is, weens sy verhouding met die staat, ʼn organisasie wat hom ook met wêreldse sake bemoei.

Daar is verskillende redes waarom ʼn individu lid van ʼn sekere kerkgenootskap is. Een daarvan is dat hy as kind binne ʼn sekere kerk opgegroei het. ʼn Ander rede is dat lidmaatskap van ʼn sekere kerk met ʼn spesifieke kultuurgroep verband hou. Dit is nie noodwendig dat ʼn lid van ʼn kerkgenootskap met die geloofsoortuigings van die kerk saamstem nie. Gevolglik het die kerkgenootskap dikwels Ware Christene en Nominale Christene as lede.

As jy vra wat die kenmerke van die Christelike Geloof is, kry jy as antwoord die leerstellings wat deur kerkgenootskappe onderskryf word. Dit verskil van kerk tot kerk, maar dit verskil ook volgens die teologiese opinies van geleerdes. Ware Christene se standpunt sluit in die goddelikheid van Yeshua, Sy kruisdood en opstanding uit die dood en die redding van mense as gevolg daarvan. Die redding van mense is deur genade en nie deur werke nie, dit is slegs deur Christus. Deur genade beteken dat daar nie reëls en rituele is wat nagekom moet word nie, dit beteken dat die mens niks kan doen om dit te verdien nie.

Yeshua het die volgende gesê:

Joh. 3:36  Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.

Joh. 8:24  Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe. 

Joh. 10:9  Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.

Joh. 11:25-26  Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?

Yeshua se apostels het soos volg getuig:

Joh. 3:16-17  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. 

Hand. 4:12  En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie. 

1 Tim. 2:5-6  Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ʼn losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd, …

Die Ware Christelike Geloof is nie die nakoming van reëls en rituele nie, dit is nie ʼn godsdiens nie, dit is nie ʼn kerkgenootskap nie en is ook nie die opinies van geleerdes nie. Dit is ook nie die nakoming van die wet van Moses nie. Yeshua is nie ondergeskik aan Moses nie, Hy is ook nie ondergeskik aan die wet nie.

Die essensie van die Ware Christelike Geloof is die vertroue in ʼn persoon – Yeshua die Gesalfde. Yeshua is die enigste een wat betroubaar is en vertrou kan word. Hy het reeds gedoen wat in die Ou Testament belowe is, Hy gee nou reeds ‘n nuwe innerlike lewe aan almal wat Hom volg, Hy gaan in die toekoms dit wat Hy onderneem het tot stand bring.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin