Die Raaisel van die 1992 ja-stem

Illustrasie: https://artoffarstar88.wordpress.com/tag/1992-referendum/

Ons witmense is in die moeilikheid, baie diep moeilikheid. Hoe het dit gebeur? Het ons vyande ons oorwin of het ons dit oor onsself gebring?

Dit is moontlik dat daar van ons eie mense is wat dink dat ons nie in die moeilikheid is nie. Ek ken nie self so iemand nie, maar dit is teoreties moontlik dat iemand so kan dink. Ek weet nie wat om vir so ʼn persoon te sê nie, miskien net “rus in vrede”.

Daar is verskillende menings oor hoe dit gebeur het dat ons in hierdie situasie is. Een groep sal sê dat dit maar een van daardie dinge is, daar is geen spesifieke oorsaak daarvoor nie. ʼn Tweede groep sal meen dat dit iemand anders se skuld is, byvoorbeeld dat dit FW de Klerk se skuld is. Die derde groep, waarskynlik die minderheid, sal dink dat dit ons eie skuld is.

Die wat dink dat niks besonders ons moeilikheid veroorsaak het nie, maak ʼn fout. Daar is in elke situasie ʼn oorsaak en ʼn gevolg. Die gemors waarin ons verkeer is die gevolg van iets wat in die verlede gebeur het. Daardie iets is die oorsaak van ons probleem. Terselfdertyd is daardie iets wat in die verlede gebeur het, ook die gevolg van iets wat verder terug in die geskiedenis gebeur het. Elke gevolg is terselfdertyd die oorsaak van iets anders.

Dit is duidelik dat ons huidige probleem ontstaan het met die referendum van 1992. Die probleem was dat twee-derdes van die blankes aan FW de Klerk en sy trawante toestemming gegee het om te doen wat hulle goedvind. Hierdie toestemming was ʼn “blanko tjek”, dit was nie weer vir de Klerk nodig om kiesers te raadpleeg nie. De Klerk en kie het dit goed gevind om alle politieke mag te gee aan die ANC. Nie net dit nie, hulle het alles wat die blankes oor eeue opgebou het, ook weggegee. Hulle het selfs die seggenskap oor ons eie kultuurgoedere weggegee. Die skade wat hulle aangerig het, is onberekenbaar. Nou kan ons die skuld vir ons moeilikheid op FW de Klerk en trawante pak. Hulle was swak onderhandelaars, hulle was kop in een mus met Globaliste, hulle het ons bedrieg en verraai. Dit neem egter nie die feit weg dat die meerderheid blankes aan hom toestemming gegee het nie.

Die eintlike vraag is: wat het veroorsaak dat twee-derdes van die blankes in 1992 “ja” gestem het? Dit wil voorkom of ons volk blind en doof geword het. Ons eie geskiedenis het ons geleer dat ons dit nie mag doen nie. Die geskiedenis van ander Afrikalande sedert 1960 moes ons gewaarsku het. Ons het gesien wat in Rhodesië en elders gebeur het. Hoekom sou Suid-Afrika anders wees?

Die sterkste groep wat gewaarsku het teen ʼn “ja-stem” was die destydse Konserwatiewe Party. Net voor die referendum het hulle soveel steun gehad dat FW de Klerk se Nasionale Party die volgende verkiesing kon verloor. Baie ondersteuners van die Konserwatiewe Party het ook “ja” gestem. Hoe kan mens dit verklaar?

Die Nasionale Party het die propaganda beheer. Al die media, ook die Afrikaanstalige media, het die publiek aangemoedig om “ja” te stem. Bekende persone, soos sportsterre, het die publiek aangemoedig om “ja” te stem. Die kerke, in sommige gevalle van die preekstoel af, het hulle lidmate aangemoedig om “ja” te stem. Daar was ʼn totale propaganda aanslag op die kiesers. Dit is een van die oorsake waarom die “ja-stem” gewen het.

Waarom was die Nasionale Party, die media, die kerke en meningsvormers so desperaat dat die “ja-stem” moet wen? Het hulle bloot geglo dat dit die regte ding is om te doen of was daar iets meer sinister daaragter? Wat ook al die antwoord, dit verklaar nie hoekom die volk “ja” gestem het nie.

Is ons volk van nature naïef? Dink ons nie dinge deur nie, is ons so goedgelowig dat ons net glo wat ons vertel word, vra ons nie vrae nie? Blykbaar wel. Ons sien dit vandag nog steeds. Selfs die behoudendes is geneig om blindelings na te volg sonder dat hulle diep gedink het, die saak deeglik ondersoek het en dit getoets het. Dit maak dit maklik vir wolwe om hulleself as skape te vermom.

Ons het ook ʼn neiging om sentimenteel te wees – in die sin dat ons die waarheid ondergeskik stel aan sentiment. Ons het agteroor gebuig om ander mense ter wille te wees. Ons het ons misgis met ander mense se motiewe. Talle Nasionale Party ondersteuners het nie gedink dat die ANC die 1994 verkiesing sou wen nie. Hulle werksmense het vertel dat hulle of vir die NP of Inkatha sou stem. Hulle het bloot gesê wat die witmense wou hoor en nie wat hulle ware denke was nie.

Tot die moord op Dr. Verwoerd, het die Nasionale Party besluite geneem wat op beginsel gegrond was. Indien hulle ʼn nuwe probleem teengekom het, was daar ʼn oplossing gesoek wat met hulle beginsels ooreengestem het. Na Dr. Verwoerd se dood het daar ʼn verandering gekom, die NP het van toe af pragmaties geword. Elke nuwe beleid sou voortaan op sy eie meriete beoordeel word. Die ander groot verandering na 1966 was dat die Afrikaner-Broederbond baie meer mag gekry het en effektief regeringsbeleid bepaal het. Die eerste verandering in beleid wat die Broederbond bewerk het, was die sportbeleid.

Blankes het iewers sportbeheb geword. Tot onlangs toe was blankes bereid om groot opofferings te maak vir deelname aan internasionale sport. ʼn Tweede saak wat vir blankes belangrik geword het, was om internasionaal te kan reis en sake te doen. Blootstelling aan internasionale sake deur TV het ʼn invloed gehad. Daar is begin om vreemde gebruike soos Valentynsdag, Halloween en ander na te volg. Terselfdertyd het Afrikaanstalige media en meningsvormers die volkskultuur voorgestel as oudmodies en bekrompe.

Sedert die Nasionale Party aan bewind gekom het in 1948, het blankes se ekonomiese situasie verbeter. Die 1960’s word beskryf as die “goue jare” van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Blanke werkloosheid het bykans verdwyn. Soos dit beter met veral Afrikaanssprekende blankes gegaan het, so het hulle meer materialisties geword. Veral het lede van die Boerevolk meer welvarend geword as wat enige van hulle voorgeslagte ooit was.

Die tydperk van 1966 tot 1992 het gelei tot ʼn vervlakking by die blanke bevolking. Dit is hierdie vervlakking wat uiteindelik gelei het tot die 1992 ja-stem. Dit dan is die oorsaak waarom die blankes sonder slag of stoot toegestem het tot hul eie ondergang.

Sal die Boerevolk, as deel van die blanke bevolking, daarin slaag om te bly voortbestaan? Wil hulle bly voortbestaan as ʼn eie unieke volk? Hulle sal met alles weer voor moet begin. Hulle sal hulle denke moet verander. Veral sal hulle moet onthou dat hulle die Gelofte moet nakom – iets wat nog nie gedoen is nie.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Christene buite die kerk: die Paulisiane

Illustrasie: http://www.onegodonelord.com/theos-7/

Wat is die waarheid oor die Paulisiane: was hulle volgelinge van Yeshua, die Gesalfde, of was hulle ketters? Is dit wat die Kerk van hulle sê waar, of is dit ʼn verdigsel?

Die Paulisiane was ’n Christelike beweging wat in Kappadosië (Armenië)  ontstaan het en wat uitgebrei het na ander lande, ondermeer Bulgarye. Tot die twintigste eeu was die enigste inligting oor hulle dit wat deur die Kerk van hulle gesê is. Sedert die ontdekking van die boek “Die Sleutel tot die Waarheid” in 1893, en die vertaling daarvan in Engels, het hulle eie weergawe van hulle leringe en gebruike bekend geword.

Die Bisantynse Kerk het die Paulisiane beskuldig dat hulle ʼn gnostiese beweging was (wat glo mense is goddelike siele wat in ʼn stoflike wêreld gevange is). Hulle is beskuldig dat hulle dualisme aanhang (twee gode – een goed en een kwaad). Hulle is ook manicheërs genoem (ʼn heidense godsdiens wat ʼn bietjie Christelikheid insluit). Verder was hulle beskuldig dat hulle die leer van docetisme volg (Christus het net skynbaar ʼn vleeslike liggaam gehad). Daar is ook gesê dat hulle die Ou Testament verwerp en net ʼn deel van die Nuwe Testament aanvaar. Hulle is tot ketters verklaar en vervolg.

Die bestaan van ʼn boek van die Paulisiane, “Die Sleutel tot die Waarheid”, was tot in die elfde eeu bekend, maar dit het verlore geraak. In 1893 is  “Die Sleutel tot die Waarheid” in ʼn biblioteek in Armenië ontdek deur Frederick Cornwallis Conybeare. Die manuskrip is ʼn kopie van ʼn teks uit omstreeks 800 n.C. Hierdie teks gee ʼn heel ander weergawe van die Paulisiane se leringe en praktyke. Daar is geen sprake van enige iets wat op gnostiese of manichese opvattings dui nie. Die Ou Testament, die vier kanonieke Evangelies en die Briewe van Paulus word gebruik.

Daar word gemeen dat die Paulisiane uit die vroegste Apostoliese gemeentes gekom het. In 1 Petrus 1:1-2 word verwys na Kappadosië (die ou naam van Armenië): Petrus, ʼn apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadocië, Asië en Bithínië, uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word! Hulle was veral bekend tussen die middel van die sewende eeu en die einde van die negende eeu. Die naam Paulisiane is aan hulle gegee omdat hulle die briewe van die Apostel Paulus hoog geag het.

Die Paulisiane het bekend geword na die bekering in 660 n.C. van ʼn jong Armeniër met die naam Konstantyn. Hierdie Konstantyn was aanvanklik ʼn aanhanger van die heidense godsdiens manicheïsme. Op ʼn dag het ʼn Christen wat vir Moslems gevlug het, by hom skuiling teen sy agtervolgers gesoek. Uit dankbaarheid het die Christen ʼn afskrif van die vier evangelies en die briewe van die Apostel Paulus aan Konstantyn geskenk. Konstantyn (hy het sy naam verander na Silvanus) het hierdie boeke bestudeer en hom geroepe gevoel om die Christene te laat terugkeer na die oorspronklike leringe en praktyke van die Nuwe Testament. Hy was suksesvol en het ʼn probleem vir die Bisantynse Kerk geword omdat hy hulle leerstellings en praktyke verwerp het en as afgodery bestempel het. Hy is deur die kerk tot ketter verklaar en in 685 n.C. gevonnis tot steniging. Slegs een persoon kon gevind word wat bereid was om hom te stenig. Hierdie gebeure het daartoe gelei dat die keiserlike offisier, Simeon, tot bekering gekom het en later ʼn Paulisiaanse leier geword het.

Weens vervolging moes die Paulisiane vlug en het in Armenië verstrooid geraak. Ten spyte van vervolging, het hulle getalle steeds toegeneem omdat talle lidmate van die Kerk by hulle aangesluit het. In die negende eeu het vervolging so toegeneem dat die Paulisiane oorgegaan het tot gewapende verset. Die gevolg was dat die regentes Theodora II ʼn grootskaalse vervolging beveel het. 100,000 Paulisiane het omgekom en hulle grond en eiendom is deur die Bisantynse Ryk gekonfiskeer. Weer moes die Paulisiane na nuwe plekke toe vlug. Tussen die 7de en 12de eeue het die Paulisiane versprei in Armenië. In die 10de eeu het hulle ook versprei na Bulgarye en daarvandaan weswaarts. Aan die einde van die 17de eeu was daar nog Paulisiane wat in Bulgarye gewoon het.

In die teks van “Die Sleutel tot die Waarheid” word die Paulisiane se sedes en gebruike beskryf as soortgelyk aan dit wat in die eerste eeue by die meeste Christene voorgekom het. Uit die teks is dit ook duidelik dat hulle die doop van kinders verwerp. Slegs volwassenes wat  tot geloof gekom het en gevra het om gedoop te word, is gedoop. Persone wat uit ʼn ander geloofsgroep (byvoorbeeld die Ortodokse Kerk) gekom het, is herdoop.

Hulle was hewig gekant teen die verering van ikone, relieke en heiliges. Die verering van hierdie voorwerpe en persone dateer uit die vierde eeu en kom voor by die Katolieke en Ortodokse Kerke. Die Paulisiane het dit as afgodery beskou.

Daar was nie verskillende klasse gelowiges nie. Hulle leiers was van dieselfde klas as die gewone lidmate en het nie titels of onderskeidende kleredrag gehad nie. Gemeentes was onafhanklik en het oor hulleself regeer. Omdat hulle as ʼn beweging nie eiendom kon besit nie, het hulle nie geboue opgerig nie. Hulle het nie instellings soos sinodes of konsilies gehad wat hoër as die gemeentes was nie.

Uit die beskrywings in die “Die Sleutel tot die Waarheid” kry mens die indruk dat die Paulisiane baie naby aan die Nuwe Testamentiese gemeentes was. Dit is heel moontlik dat toe Konstantyn op die toneel verskyn het, daar nog steeds ou gemeentes was wat nooit deel van die Kerke geword het nie. Indien dit waar is, het die oorspronklike Nuwe Testamentiese gemeentes nog steeds onafhanklik van die Kerke bestaan en ʼn suiwer getuienis vir Yeshua gelewer.

Die meerderheid kerkhistorici verbind die Paulisiane met die Bogomils, Kathare en Albigense. Al drie hierdie groepe word beskou as gnosties en is ook tot ketters verklaar. Die verbinding tussen hierdie groepe lyk onwaarskynlik want dit berus op aannames en veronderstellings.

Wat is die waarheid? Kerk en staat het saamgewerk om die Paulisiane te vernietig. Om dit te regverdig is allerlei vals aantygings teen hulle gemaak. Vandag kan ons sien dat hulle getuienis ʼn lamp was wat helder in die duisternis gebrand het.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin