Christene buite die kerk: die Paulisiane

Illustrasie: http://www.onegodonelord.com/theos-7/

Wat is die waarheid oor die Paulisiane: was hulle volgelinge van Yeshua, die Gesalfde, of was hulle ketters? Is dit wat die Kerk van hulle sê waar, of is dit ʼn verdigsel?

Die Paulisiane was ’n Christelike beweging wat in Kappadosië (Armenië)  ontstaan het en wat uitgebrei het na ander lande, ondermeer Bulgarye. Tot die twintigste eeu was die enigste inligting oor hulle dit wat deur die Kerk van hulle gesê is. Sedert die ontdekking van die boek “Die Sleutel tot die Waarheid” in 1893, en die vertaling daarvan in Engels, het hulle eie weergawe van hulle leringe en gebruike bekend geword.

Die Bisantynse Kerk het die Paulisiane beskuldig dat hulle ʼn gnostiese beweging was (wat glo mense is goddelike siele wat in ʼn stoflike wêreld gevange is). Hulle is beskuldig dat hulle dualisme aanhang (twee gode – een goed en een kwaad). Hulle is ook manicheërs genoem (ʼn heidense godsdiens wat ʼn bietjie Christelikheid insluit). Verder was hulle beskuldig dat hulle die leer van docetisme volg (Christus het net skynbaar ʼn vleeslike liggaam gehad). Daar is ook gesê dat hulle die Ou Testament verwerp en net ʼn deel van die Nuwe Testament aanvaar. Hulle is tot ketters verklaar en vervolg.

Die bestaan van ʼn boek van die Paulisiane, “Die Sleutel tot die Waarheid”, was tot in die elfde eeu bekend, maar dit het verlore geraak. In 1893 is  “Die Sleutel tot die Waarheid” in ʼn biblioteek in Armenië ontdek deur Frederick Cornwallis Conybeare. Die manuskrip is ʼn kopie van ʼn teks uit omstreeks 800 n.C. Hierdie teks gee ʼn heel ander weergawe van die Paulisiane se leringe en praktyke. Daar is geen sprake van enige iets wat op gnostiese of manichese opvattings dui nie. Die Ou Testament, die vier kanonieke Evangelies en die Briewe van Paulus word gebruik.

Daar word gemeen dat die Paulisiane uit die vroegste Apostoliese gemeentes gekom het. In 1 Petrus 1:1-2 word verwys na Kappadosië (die ou naam van Armenië): Petrus, ʼn apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadocië, Asië en Bithínië, uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word! Hulle was veral bekend tussen die middel van die sewende eeu en die einde van die negende eeu. Die naam Paulisiane is aan hulle gegee omdat hulle die briewe van die Apostel Paulus hoog geag het.

Die Paulisiane het bekend geword na die bekering in 660 n.C. van ʼn jong Armeniër met die naam Konstantyn. Hierdie Konstantyn was aanvanklik ʼn aanhanger van die heidense godsdiens manicheïsme. Op ʼn dag het ʼn Christen wat vir Moslems gevlug het, by hom skuiling teen sy agtervolgers gesoek. Uit dankbaarheid het die Christen ʼn afskrif van die vier evangelies en die briewe van die Apostel Paulus aan Konstantyn geskenk. Konstantyn (hy het sy naam verander na Silvanus) het hierdie boeke bestudeer en hom geroepe gevoel om die Christene te laat terugkeer na die oorspronklike leringe en praktyke van die Nuwe Testament. Hy was suksesvol en het ʼn probleem vir die Bisantynse Kerk geword omdat hy hulle leerstellings en praktyke verwerp het en as afgodery bestempel het. Hy is deur die kerk tot ketter verklaar en in 685 n.C. gevonnis tot steniging. Slegs een persoon kon gevind word wat bereid was om hom te stenig. Hierdie gebeure het daartoe gelei dat die keiserlike offisier, Simeon, tot bekering gekom het en later ʼn Paulisiaanse leier geword het.

Weens vervolging moes die Paulisiane vlug en het in Armenië verstrooid geraak. Ten spyte van vervolging, het hulle getalle steeds toegeneem omdat talle lidmate van die Kerk by hulle aangesluit het. In die negende eeu het vervolging so toegeneem dat die Paulisiane oorgegaan het tot gewapende verset. Die gevolg was dat die regentes Theodora II ʼn grootskaalse vervolging beveel het. 100,000 Paulisiane het omgekom en hulle grond en eiendom is deur die Bisantynse Ryk gekonfiskeer. Weer moes die Paulisiane na nuwe plekke toe vlug. Tussen die 7de en 12de eeue het die Paulisiane versprei in Armenië. In die 10de eeu het hulle ook versprei na Bulgarye en daarvandaan weswaarts. Aan die einde van die 17de eeu was daar nog Paulisiane wat in Bulgarye gewoon het.

In die teks van “Die Sleutel tot die Waarheid” word die Paulisiane se sedes en gebruike beskryf as soortgelyk aan dit wat in die eerste eeue by die meeste Christene voorgekom het. Uit die teks is dit ook duidelik dat hulle die doop van kinders verwerp. Slegs volwassenes wat  tot geloof gekom het en gevra het om gedoop te word, is gedoop. Persone wat uit ʼn ander geloofsgroep (byvoorbeeld die Ortodokse Kerk) gekom het, is herdoop.

Hulle was hewig gekant teen die verering van ikone, relieke en heiliges. Die verering van hierdie voorwerpe en persone dateer uit die vierde eeu en kom voor by die Katolieke en Ortodokse Kerke. Die Paulisiane het dit as afgodery beskou.

Daar was nie verskillende klasse gelowiges nie. Hulle leiers was van dieselfde klas as die gewone lidmate en het nie titels of onderskeidende kleredrag gehad nie. Gemeentes was onafhanklik en het oor hulleself regeer. Omdat hulle as ʼn beweging nie eiendom kon besit nie, het hulle nie geboue opgerig nie. Hulle het nie instellings soos sinodes of konsilies gehad wat hoër as die gemeentes was nie.

Uit die beskrywings in die “Die Sleutel tot die Waarheid” kry mens die indruk dat die Paulisiane baie naby aan die Nuwe Testamentiese gemeentes was. Dit is heel moontlik dat toe Konstantyn op die toneel verskyn het, daar nog steeds ou gemeentes was wat nooit deel van die Kerke geword het nie. Indien dit waar is, het die oorspronklike Nuwe Testamentiese gemeentes nog steeds onafhanklik van die Kerke bestaan en ʼn suiwer getuienis vir Yeshua gelewer.

Die meerderheid kerkhistorici verbind die Paulisiane met die Bogomils, Kathare en Albigense. Al drie hierdie groepe word beskou as gnosties en is ook tot ketters verklaar. Die verbinding tussen hierdie groepe lyk onwaarskynlik want dit berus op aannames en veronderstellings.

Wat is die waarheid? Kerk en staat het saamgewerk om die Paulisiane te vernietig. Om dit te regverdig is allerlei vals aantygings teen hulle gemaak. Vandag kan ons sien dat hulle getuienis ʼn lamp was wat helder in die duisternis gebrand het.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

3 thoughts on “Christene buite die kerk: die Paulisiane”

  1. Ek vind die leesstof BAIE interessant.

    Die verhaal van Rut word deur moderne teoloe dikwels voorgehou om te “bewys” dat my Verlosser Moabitiese bloed gehad het en dat een van sy voorsate ‘n “hoer” was.

    Dit is ‘n dwaling. Tussen Josua en Eli was daar ‘n tydperk van ongeveer 450 jaar. Boas, die seun van Salmon, leef in die latere Rigterstydperk. Nou hoe kon Salmon dan met Ragab die hoer getroud gewees het? Dit is onmoontlik. Die naaste wat ons kan kom om die nageslagte opmekaar te laat volg, is om te beweer dat Nagson, die vader van Salmon ‘n baie jong seun moes gewees het toe Israel Kanaan ingetrek het. Ons kan ook veronderstel dat daar geslagte uitgelaat is. Dit maak die saak egter net nog sterker dat Salmon nie met Ragab die hoer getroud was nie. Ragab van Matt 1:5 kon volgens die Goddelike wet slegs ‘n Israeliet gewees het.

    Die enigste logiese afleiding is dat Ragab die hoer en Ragab van Matt 1:5 nie dieselfde vrou was nie omdat:

    1. Die spelling van die name in Grieks verskil. In Matt 1:5 is dit “Ragab. In Heb 11:31 en Jak 2:25 is dit “Raab”.
    2. Matt 1:15 verwys na “Ragab”. Hebr en Jak praat van “Ragab die hoer”. (Ek glo die spesifikasie is juis gemaak, sodat daar onderskeid getref kon word en verwarring uitsluit).
    3. Josua het die familie buite die laer laat bly. (Jos 6:25)
    4. Volgens die streng wette sou so ‘n huwelik nie voltrek word nie (Deut 7:1-3). Josua sou dit nie toegelaat het nie (Jos 23:11-12).
    5. Volgens Deut 23:2-3 sou so ‘n persoon nie in die vergadering toegelaat word nie.
    6. Volgens die wet mag daar onder Israel geen hoere wees nie. (Deut 23:17) ‘n Mens kan natuurlik argumenteer dat dit die wet is, maar dat mense nie volmaak is nie. Natuurlik was daar prostitute onder die volk. Dit sal ek nooit betwyfel nie, MAAR IN MY VERLOSSER SE VOORSATE – NOOIT NIE! Dit sal ek nie glo nie.

  2. Ragab die hoer en Ragab van Matt 1:5 was nie dieselfde persoon nie.

    Tussen Josua en Eli was daar ‘n tydperk van ongeveer 450 jaar. Boas, die seun van Salmon leef in die latere Rigterstydperk. Nou hoe kon Salmon dan met Ragab die hoer getroud gewees het? Dit is onmoontlik.

    Verder:

    1. Die spelling van die name verskil. In Matt is dit Ragab. In Hebr en Jak is dit Raab.
    2. Die “spesifikasie” kom NIE voor in Matt nie, daar word slegs verwys na Ragab. Elders kom die spesifikasie voor: “Ragab die hoer”. (Vir my is dit logies dat daar JUIS spesifikasie gebruik word om verwarring te voorkom).
    3. Josua het die familie BUITE die laer laat bly.
    4. Volgens die streng wet (Deut 7:1.3) sou Josua nie so ‘n huwelik toegelaat het nie. (Jos 23:11-12).
    5. Volgens Deut 23:2 sou die nageslag van ‘n Moabiet nie in die vergadering toegelaat word nie. Dus was Rut ‘n Israeliet en nie ‘n Moabiet nie. (Net soos ‘n New Zeelander nie noodwendig ‘n Mauri is nie).
    6. Volgens die wet mag daar geen hoere in Israel wees nie. Ek glo verseker dat daar wel vroue was wat hierdie wet oortree het, MAAR EK GLO NIE VIR EEN OOMBLIK DAT IN MY VERLOSSER SE STAMBOOM DAAR ‘N HOER WAS NIE.

    1. Baie dankie vir jou kommentaar. Ek sal my stuk wysig ten opsigte van Ragab. Wat Rut betref, sou dit ‘n aanname wees dat sy ‘n Israeliet was. Die teks gee nie so ‘n aanduiding nie. Die evangeliese kommentators wat ek geraadpleeg het, lees ook dat Rut ‘n Moabitiese meisie was met geboorte. Sy sou sekerlik as Israeliet gereken word met haar huwelik, sy kon dus ook geproseliteer gewees het nadat sy saam met Naomi in Israel aangekom het.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui