Monument of tempel?

Illustrasie: https://www.wereldwyd.co.za/en/fact-flash-voortrekker-monument/

Wat maak die Voortrekkermonument naby Pretoria anders as ander monumente?

Die Voortrekkermonument is ʼn goeie plek om te besoek as jy jou wil verfris in jou volk se geskiedenis. Die monument is nie die enigste besienswaardigheid nie, daar is op dieselfde terrein ook Fort Schanskop, die Muur van Herinnering (Bosoorlog) en uitstallings en voorwerpe wat met ons geskiedenis en kultuur verband hou.

Dit is ʼn indrukwekkende gebou wat uittroon oor die omgewing en van ver af gesien kan word. Die gebou is omring met ʼn laer van 64 kakebeenwaens van graniet. By die ingang is daar ʼn groot standbeeld van ʼn Voortrekkermoeder met 2 kinders. Die “grondvloer”, waar die ingang is, staan bekend as die Heldesaal. Die mure daarvan is bedek met ʼn fries van 27 marmerpanele wat die geskiedenis van die Groot Trek uitbeeld. Die Senotaafsaal in die “kelder” bevat die Senotaaf van graniet en ʼn museum van items uit die Groot Trek. Heel bo op die gebou is daar uitkykplekke vanwaar die omgewing besigtig kan word. Buitekant, op elke hoek van die gebou, is daar 4 standbeelde van Voortrekkerleiers. Dit alles is die uiterlike van die monument en dit is wat die meeste besoekers raaksien.

Behalwe die uiterlike voorkoms, is daar ook simbole wat in die monument ingebou is. Verskeie navorsers het die teenwoordigheid van hierdie simbole bevestig. Dit is Vrymesselaarsimbole. My vraag is: wat maak dit daar, hoe het dit daar gekom, wat beteken dit en wat is die werklike doel van die Voortrekkermonument.

Die bou van ʼn monument vir die Voortrekkers is grootliks te danke aan minister E.G. Jansen. In 1931 is die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK) gestig. Dit was die SVK wat uiteindelik oor die ontwerp van die monument besluit het. Die SVK het in sy manifes verklaar: Daar is by die volk ‘n algemene begeerte na ‘n georganiseerde uiting van kollektiewe hulde en bewondering ter ere van die Voortrekkers en niemand twyfel aan die vaste volkswil om elke moeilikheid te oorwin ter bereiking van die uniforme wens, nl. om vir die huidige en latere geslagte ‘n indrukwekkende monument op te rig wat in lengte van dae sal getuig van die stoere en sielsverheffende deugde van die Voortrekkers. Of daar werklik so ʼn algemene begeerte was, weet ek nie. Die regering van die dag het wel belang gestel en wou die monument nog groter en nog meer indrukwekkend hê en het besluit om met die koste daarvan te help. Die SVK het die argitek Gerhard Moerdyk aangestel as boumeester.

Gerhard Moerdyk het verduidelik dat die Voortrekkers nie ʼn argitektoniese erfenis nagelaat het nie, maar as hulle het, sou dit Bybels gewees het. Hy was van mening dat, net soos Abraham in die Bybel, ʼn altaar gebou moet word om die Voortrekkers se opofferings te huldig. Hy het dit as ʼn heiligdom gesien. Die SVK se opdrag aan Moerdyk was dat dit soortgelyk aan die Völkerschlactdenkmal in Leipzig, Duitsland moet wees. Die Völkerschlactdenkmal is deur Vrymesselaars opgerig en het selfs ʼn Vrymesselaarstempel in die kelder.

Die uitstaande kenmerk van die Voortrekkermonument is die son wat op die Senotaaf skyn. In 1936, voor hy sy ontwerp voltooi het, besoek Gerhard Moerdyk Egipte. Daar het hy die Karnak-tempelkompleks en die Benben-klip besigtig. Dit was sy inspirasie vir die Senotaaf. Die Senotaaf is ʼn heldegraf ter ere van Piet Retief wat deur Dingaan vermoor is. In die koepeldak van die monument is ʼn ronde opening waardeur die son skyn. Op die “grondvloer” (die Heldesaal) is ʼn opening waardeur afgekyk kan word op die Senotaaf. Op die Senotaaf is die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika”. Op 16 Desember elke jaar (Geloftedag) skyn die son op die woorde op die Senotaaf.

Die Senotaaf het godsdienstige simboliek. In Egipte was die son die Songod wat met die mens kommunikeer deur op die senotaaf te skyn. By die Voortrekkermonument verteenwoordig die koepeldak die hemel met die lig van God wat daardeur skyn. Die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” is die sentrale fokuspunt. Die sonstraal simboliseer ʼn kommunikasie tussen God en mens. (Dit moet onthou word dat Israel se Goue Kalf simbolies vir YHWH moes voorstel).

Bouwerk het op 13 Julie 1937 begin. Die hoeksteen is op 16 Desember 1938 gelê deur kleindogters van drie van die Voortrekkerleiers. Die monument is op 16 Desember 1949 ingewy deur Dr. D.F. Malan, wat toe Eerste Minister was. Die totale boukoste was omtrent £ 360,000. Daar was ook ʼn amfiteater gebou wat omtrent 20,000 sitplekke het. Drie dokumente is onder die hoeksteen begrawe: ʼn afskrif van die Gelofte, ʼn afskrif van Piet Retief se ooreenkoms met Dingaan en ʼn afskrif van “Die Stem” (wat vir die eerste keer in 1928 gesing is).

Daar is ʼn paar goed aan die monument wat my persoonlik hinder. Die standbeeld van die Voortrekkermoeder: is daar ʼn rede waarom ʼn Engelse dogter en ʼn Joodse seun die modelle vir die kinders was? Die standbeelde van Voortrekkerleiers is van Piet Retief (ʼn Vrymesselaar), Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en ʼn “onbekende” wat die ander leiers verteenwoordig. Hoekom is Gerrit Maritz nie daar nie? Die Gelofte wat in die monument uitgebeeld word, verskil van die Voortrekker-Volksraad se amptelike weergawe. Wie het die woorde van die Gelofte verander en wanneer is dit gedoen?

Hoekom is “Ons vir jou Suid-Afrika” gekies as die woorde op die Senotaaf? Dit is lynreg in stryd met die doel van die Groot Trek. Suid-Afrika het nog nie bestaan nie en die lied “Die Stem” was nog nie geskryf nie. Die Voortrekkers was separatiste wat uit “Suid-Afrika” pad gegee het om hulle eie volkstaat te stig.

Die woord “senotaaf” beteken “leë graf”. Die Senotaaf in die monument simboliseer Piet Retief se graf. Vir Christene is daar net een leë graf en dit is die een waaruit Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) uit die dood opgestaan het.

Moerdyk se oorspronklike idee was om volgens Abraham se voorbeeld ʼn altaar die sentrale fokus van die monument te maak. Dit moes ʼn heiligdom wees. Die Senotaaf is dus in werklikheid ʼn altaar waarop geoffer word. Wie of wat is die offerande? Was dit Piet Retief wat geoffer is vir “Suid-Afrika”? Is die son wat op 16 Desember daarop skyn dan simbolies van aanvaarding van die offerande deur ʼn Opperwese?

Klaarblyklik was daar met die bou van die Voortrekkermonument ʼn godsdienstige motief gewees. Dit maak daarvan ʼn tempel.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Kakiebos Kersfees

Illustrasie: http://www.agrieco.net/article.aspx?id=974

Wanneer is Kersfees vir die eerste keer in Suid-Afrika gevier? Tussen 1652 (toe Van Riebeeck geland het) en 1806 (toe die Britse Besetting plaasgevind het), was almal in die Kaap van Goeie Hoop salig onbewus van iets soos Kersfees. Hulle het nog nooit daarvan gehoor nie, Kersfees het glad nie bestaan nie.

Met die Slag van Bloedrivier het die Volksraad ʼn Joernaal  laat hou van daaglikse gebeure. Hierdie Joernaal (gehou deur die Volksraad se Sekretaris) strek van 3 tot 27 Desember 1838. Die inskrywing vir 25 Desember 1838 lui soos volg: Des anderen daags, zynde de 25e, werd er ʼn kapitein van Dingaan, deur de kafferspioenen gevangen opgebracht. Deze verhaalde veel; doch men kon maar weinig geloven. Hy verhaalde echter van de marteling, evenals de vorige. Daar is geen melding van Kersfees, rusdag, godsdiens of iets anders nie.

Hierdie onkunde oor Kersfees was algemeen by Protestante in die Kaap, Skotland en die VSA. Die Protestantse leiers (soos Calvyn en Knox) was heftig teen hierdie fees gekant. Op plekke is dit selfs verbied. Na die Amerikaanse Rewolusie is Kersfees as ʼn Engelse tradisie gesien en ontmoedig.

Wat het gebeur dat ons vandag wel Kersfees vier? Ons voorgeslagte het nie Kersfees gevier nie, hulle was daarteen gekant. Die aanvaarding en instelling van Kersfees was ʼn ernstige afwyking van die Protestantse leer. Dit het reguit ingedruis teen Johannes Calvyn se standpunt daaroor.

Dit is duidelik dat Kersfees saam met die Britse Besetters na die Kaap gekom het. Die bevordering van Kersfees het blykbaar sedert die 1820’s plaasgevind. Die Kaapse Kerk (NG Kerk) was groot bewonderaars van alles wat Brits was en het reeds in 1824 gepraat van Kersfees as ʼn godsdienstige dag. Aangesien hulle die Voortrekkers onder tug geplaas het, was hulle invloed in die Vrystaat en Transvaal beperk. Sedert die 1850’s is daar in die Kaapkolonie begin met Kersfeesviering en is Kersdag tot vakansiedag verklaar. Sedert die 1890’s het Koningin Victoria se oproep om Kersfees te vier, steun in die Kaapkolonie gekry.

Die viering van Kersfees het mettertyd ook die Boererepublieke ingedring. Die Suid-Afrikaanse Republiek (ZAR) het in 1865 dit goedgekeur dat burgers op 25 Desember tuis mag bly en dit as ʼn godsdienstige rusdag mag gebruik. Die Vrystaatse Republiek het dit in 1891 nagevolg. Kerke het die dag vir nagmaal aangewend, die burgers het dit gebruik vir piekniek en vermaak.

Die kommersialisasie van Kersfees het eers later in die 20ste eeu stoom begin optel. Winkelsentrums het met uitstallings, plakkate, die speel van kersliedere en spesiale aanbiedings die publiek se belangstelling geprikkel. Dit is ook nie net die gee van geskenke waarop geld spandeer word nie. By ons val Kersfees binne die somervakansie en selfs die wat nie verlof neem nie maak ʼn mini-vakansie daarvan. Gevolglik word geld ook spandeer op kampering, ekstra kos en drank. Daar is glo ondernemings wie se verkope oor Kersfees meer as 50% van hulle jaarlikse verkope is.

Kersfees word algemeen as ʼn christelike fees beskou. Moslems in Westerse lande beywer hulle vir die afskaffing daarvan. (Hoewel die meerderheid Westerlinge nie meer Christene is nie, vier hulle nog steeds Kersfees!). Die naam is afkomstig van die Middelnederlandse woord Kerst wat Christus beteken.

Wanneer is Kersfees vir die eerste keer gevier? In die eerste eeue van die Christendom was daar nie so ʼn fees nie en was Christene gekant teen alle praktyke, ook geboortedag herdenkings, wat in paganisme voorgekom het. Nadat die Rooms-Katolieke Kerk ontstaan het, is Kersfees binne die Kerk toegelaat. Christene buite die Kerk het nie Kersfees gevier nie.

Oor die paganistiese herkoms van Kersfeesgebruike is heelwat geskryf. Die datum 25 Desember is dieselfde as die Romeine se Dies solis invicti nati (dag van die geboorte van die onoorwinlike son). Baie nuwe lidmate van die Katolieke Kerk het volgehou met hulle paganistiese feeste. Die Kerk kon nie daarin slaag om hierdie fees uitgeroei te kry nie en het dit toe oorinterpreteer as die geboorte van Christus. Dit is gedoen deur die geboorte van die son gelyk te stel met die geboorte van Christus.

Die tradisies van die kersboom, Kersvader, liggies, kleure, geskenke ensomeer is alles vanuit die paganisme. Niks daarvan is christelik of Bybels nie. Kerkgenootskappe probeer al vir eeue om Kersfees christelik te maak deur dit as die geboortedag van Christus voor te stel. Hulle het tradisies geskep met ʼn baba, skaapwagters en wyse manne. Die gee van geskenke word dan gekoppel aan die Wyse Manne uit die Ooste wat aan Christus geskenke gebring het (die wyse manne het eers ʼn geruime tyd na die geboorte opgedaag). Ook hiervan is niks christelik of Bybels nie. Die kerklike Kersfees is ʼn mensgemaakte tradisie.

Waarom vier Christene nog steeds Kersfees? Dit is tog duidelik dat daar niks Bybels daaraan is nie, inteendeel alles daaraan is onbybels. Elke keer wanneer daar in die geskiedenis ʼn terugkeer na die  ware Christelike leer was, is Kersfees ook verwerp.

Is daar ʼn soort “groepsgees” wat mense laat voel hulle moet meedoen met die wêreld? Is dit die kommersiële opwinding wat almal saamsleur? Of is dit die skyn van christelikheid wat mense oortuig?

Uiteindelik maak dit nie saak wat ek of jy daarvan sê nie, of wat ek of jy wil glo of nie wil glo nie. Elkeen sal self besluit of hy Kersfees wil vier, of nie. Die reg of verkeerd word deur Christus self besluit. Ons moet voor Hom staan en aan Hom rekenskap gee.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin