Inleiding tot 1 en 2 Samuel en 1 en 2 Konings

Illustrasie: https://en.wikipedia.org/wiki/Kingdom_of_Israel_(united_monarchy)

Oorspronklik was 1 en 2 Samuel een boek en 1 en 2 Konings een boek, dus die vier boeke in ons Bybels was twee boeke in Hebreeus. Dit het verander met die Septuagint, die vertaling uit Hebreeus in Grieks wat ʼn paar eeue voor Christus gedoen is. In die Septuagint het Samuel 2 boeke geword en het Konings ook 2 boeke geword. Dit is nagevolg in die Latynse Vulgaat en ook in meeste moderne Protestantse Bybels. Die verhouding tussen hierdie vier boeke is in die Septuagint beklemtoon deur die benamings Eerste, Tweede, Derde en Vierde Boek van Koninkryke. Die Vulgaat het dit ook nagevolg. Die vier boeke saam behels die hele geskiedenis van die koningshuise van Israel, vandat dit deur die Rigter Samuel ingestel is tot en met die val van die laaste koning.

ʼn Goeie benaming vir die vier boeke gesamentlik sal “Die geskiedenis van die koninkryke van Israel” wees. Die boeke volg opmekaar en vorm ʼn volledige geskiedkundige verslag. Die verdeling tussen 1 en 2 Konings is arbitrêr gedoen en veroorsaak dat sekere persone in albei boeke voorkom. Die leser moet daarop let dat die val van die koninkryke ʼn einde gebring het aan eie regerings oor die volk en land Israel, wat tot in 1948 geduur het. Hoewel selfregering in 1948 ingestel is, het dit nie die koninkryke herstel nie.

Wie die skrywers van hierdie boeke was, is nie bekend nie. Tradisies daaroor is nie noodwendig betroubaar nie. Dit is oor ʼn tydperk van omtrent 500 jaar deur verskillende persone geskryf. Hierdie persone het toegang gehad tot ander geskrewe dokumente wat hulle as bronne kon gebruik. Van hierdie bronne word in die Bybel genoem. (Die Kronieke wat genoem word, is nie 1 en 2 Kronieke in die Bybel nie. Die verwoesting van Jerusalem in 2 Konings 25 word ook in Jeremia 39 beskryf.). Die bronne wat in hierdie vier boeke genoem word, is:

2Sa 1:18  en hy het beveel om die kinders van Juda die Booglied te leer; kyk, dit is geskrywe in die Boek van die Opregte.

1Kn 11:41  En die verdere geskiedenis van Salomo en alles wat hy gedoen het, en sy wysheid, is dit nie beskrywe in die Geskiedenisboek van Salomo nie?

1Kn 14:19  En die verdere geskiedenis van Jerobeam, hoe hy oorlog gevoer en hoe hy geregeer het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.

1Kn 14:29  En die verdere geskiedenis van Rehabeam en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?

In die Bybelboeke 1 en 2 Kronieke word nog ʼn aantal bronne vermeld wat destyds bestaan het en gebruik kon word:

1Kr 27:24  Joab, die seun van Seruja, het begin tel, maar nie voleindig nie, omdat hieroor ʼn toorn oor Israel gekom het; daarom is die getal nie opgeneem in die optelling in die Kronieke van koning Dawid nie. 

1Kr 29:29  En die geskiedenis van koning Dawid, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Geskiedenis van die siener Samuel en in die Geskiedenis van die profeet Natan en in die Geskiedenis van die siener Gad

2Kr 9:29  En die verdere geskiedenis van Salomo, die vroeëre sowel as die latere, is dit nie beskrywe nie in die Geskiedenis van die profeet Natan en in die Profesie van Ahia, die Siloniet, en in die Gesigte van die siener Jedi oor Jerobeam, die seun van Nebat? 

2Kr 12:15  En die geskiedenis van Rehabeam, die vroeëre en die latere, is dit nie beskrywe in die Geskiedenis van die profeet Semaja en van die siener Iddo, volgens geslagsregister nie? En daar was gedurigdeur oorloë tussen Rehabeam en Jerobeam. 

2Kr 20:34  En die verdere geskiedenis van Josafat, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Geskiedenis van Jehu, die seun van Hanani, wat opgeneem is in die Boek van die konings van Israel.

2Kr 24:27  En sy seuns en die baie godsprake teen hom en die grondvesting van die huis van God – kyk, dit is beskrywe in die Uitleg van die boek van die konings. En sy seun Amasia het in sy plek koning geword. 

2Kr 26:22  En die verdere geskiedenis van Ussia, die vroeëre en die latere, het die profeet Jesaja, die seun van Amos, beskrywe. 

2Kr 32:32  En die verdere geskiedenis van Jehiskia en sy vrome dade, kyk, dit is beskrywe in die Gesig van die profeet Jesaja, die seun van Amos, in die Boek van die konings van Juda en Israel

Die Bybelboek 1 Samuel volg, ten opsigte van geskiedenisvertelling, op die boek Rigters. In ons Bybels word Rut na Rigters geplaas want die gebeure daarin vind plaas tydens die tydperk van die Rigters. 1 Samuel begin met die geboorte en afsondering van Samuel, wat die heel laaste Rigter was. Die boek verhaal verder die instelling van ʼn monargie in Israel. Tydens die tydperk van die Rigters was Israel ʼn teokrasie en die oorgang tot monargie was ‘n groot verandering. Die boek 2 Samuel handel oor die koningskap van Dawid en die instelling van YHWH se verbond met Dawid. Die boeke 1 en 2 Konings begin met die koningskap van Salomo en eindig met die ballingskap in Babilonië. Dit beskryf hoe daar twee koninkryke ontstaan het en die geskiedenis van al die konings van die twee koninkryke. Elke koning se goedheid of boosheid word bekend gemaak.

Die leser sal merk dat Dawid die mees prominente persoon in die vier boeke is. Dawid was ʼn man na die hart van YHWH en dien as maatstaf vir al die konings wat na hom gekom het. YHWH het met Dawid ʼn verbond gesluit wat verband hou met die koms van die Messias. Dawid se psalms is van profetiese belang. Dawid het ook gruwelike sondes gepleeg, maar hy het nie afgode gedien nie. Daar moet gelet word op hoe Dawid gereageer het in oorwinning en nederlaag, hoe hy Saul gerespekteer het, hoe hy sy sondes en mislukkings hanteer het.

Dit is ook opmerklik dat die twee profete, Elia en Elisa, meer aandag in die vier boeke kry as meeste van die konings. Hulle doen en late was buitengewoon en het die mag van YHWH en die onmag van die afgode gedemonstreer. Hulle was hoofsaaklik gestuur na die konings van Noordelike Israel (ook bekend as Samaria) wat van die begin af afgodery beoefen het.

Die struktuur van die vier boeke (gesien as ʼn eenheid) is soos volg:

DEEL 1: SAMUEL, DIE LAASTE RIGTER (1 SAMUEL 1 – 7)

  1. Samuel se geboorte en afsondering vir YHWH (1 Sam 1:1-2:11)
  2. Die verval van die priesters ( 1 Sam 2:12-36)
  3. Die roeping van Samuel (1 Sam 3:1-21)
  4. Israel minag die Verbondsark ( 1 Sam 4:1-22)
  5. Die Filistyne vrees die Verbondsark (1 Sam 5:1-6:12)
  6. Israel keer terug na YHWH (6:13-7:17)

DEEL 2: SAUL, DIE EERSTE KONING VAN ISRAEL (1 SAMUEL 8 – 15)

  1. Israel se behoefte aan ʼn koning (1 Sam 8:1-22)
  2. YHWH kies Saul as koning (1 Sam 9:1-17)
  3. YHWH bevestig aan Saul dat hy gekies is (1 Sam 9:18-10:16)
  4. YHWH bevestig aan Israel dat Saul gekies is (1 Sam 10:17-11:15)
  5. Samuel oorhandig die leisels aan Saul (1 Sam 12:1-25)
  6. Saul verbeur die reg tot opvolging (1 Sam 13:1-23)
  7. Saul verloor sy volk se respek (1 Sam 14:1-52)
  8. Saul se koningskap word weggeneem (1 Sam 15:1-35)

DEEL 3: DAWID AS ONDERDAAN VAN SAUL (1 SAMUEL 16 – 31)

  1. Dawid word gesalf om koning te word (1 Sam 16:1-13)
  2. Dawid ontmoet Koning Saul (1 Sam 16:14-23)
  3. Dawid word ʼn held (1 Sam 17:1-58)
  4. Saul word agterdogtig oor Dawid (1 Sam 18:1-9)
  5. Saul probeer om Dawid dood te maak (1 Sam 18:10-13)
  6. Saul stel ʼn strik om van Dawid ontslae te raak (1 Sam 18:14-30)
  7. Saul gee opdrag dat Dawid doodgemaak moet word (1 Sam 19:1-24)
  8. Jonatan se verbond met Dawid (1 Sam 20:1-42)
  9. Dawid op vlug (1 Sam 21:1-22:5)
  10. Saul neem wraak op die priesters wat Dawid gehelp het (1 Sam 22:6-23)
  11. Dawid verlos die dorp Kehila (1 Sam 23:1-13)
  12. ʼn Nuwe verbond tussen Dawid en Jonatan (1 Sam 23:14-18)
  13. Dawid het oral vyande (1 Sam 23:19-29)
  14. Dawid stel sy saak aan Saul (1 Sam 24:1-25:1)
  15. Abigail verhoed dat Dawid dwaas optree (1 Sam 25:2-44)
  16. Dawid bewys sy onskuld (1 Sam 26:1-25)
  17. Die Filistyne teen Israel: Dawid in die land van die Filistyne (1 Sam 27:1-28:2)
  18. Die Filistyne teen Israel: Saul raadpleeg ʼn medium (1 Sam 28:3-25)
  19. Die Filistyne teen Israel: Dawid word verhinder om deel te neem (1 Sam 29:1-30:31)
  20. Die Filistyne teen Israel: Die einde van Saul (31:1-13)

DEEL 4: DAWID AS KONING (2 SAMUEL 1 – 10)

  1. Dawid verneem van Saul se dood (2 Sam 1:1-27)
  2. Dawid se koningskap word teengestaan deur Saul se familie (2 Sam 2:1-32)
  3. Dawid en die moord op Abner (2 Sam 3:1-39)
  4. Dawid en die moord op Isboset (2 Sam 4:1-12)
  5. Dawid word koning oor die hele Israel (2 Sam 5:1-16)
  6. Dawid verslaan die Filistyne (2 Sam 5:17-25)
  7. Dawid bring die Verbondsark na Jerusalem (2 Sam 6:1-23)
  8. YHWH se verbond met Dawid (2 Sam 7:1-29)
  9. Die resultaat van Dawid se koningskap (2 Sam 8:1-18)
  10. Dawid kom sy verbond met Jonatan na (2 Sam 9:1-13)
  11. Dawid word beledig (2 Sam 10:1-19)

DEEL 5: DAWID SE PERSOONLIKE MISLUKKINGS (2 SAMUEL 11 – 20)

  1. Dawid se mislukking met Batseba (2 Samuel 11:1 – 12:31)
    1.1 Dawid pleeg owerspel en moord (2 Sam 11:1-27)
    1.2 YHWH straf Dawid (12:1-31)
  1. Dawid se mislukking met Absalom (2 Samuel 13:1 – 20:26)
    2.1 Dawid se seun Amnon verkrag Dawid se dogter Tamar (2 Sam 13:1-22)
    2.2 Absalom vermoor Amnon (2 Sam 13:23-39)
    2.3 Dawid laat Absalom terugkeer (2 Sam 14:1-24)
    2.4 Dawid en Absalom word versoen (2 Sam 14:25-33)
    2.5 Absalom se opstand teen Dawid (2 Sam 15:1-12)
    2.6 Dawid vlug voor Absalom (2 Sam 15:13-37)
    2.7 Dawid word gevloek (2 Sam 16:1-14)
    2.8 Absalom in Jerusalem (2 Sam 16:15-23)
    2.9 Absalom se aanval op Dawid (2 Sam 17:1-29)
    2.10 Absalom word verslaan (2 Sam 18:1-33)
    2.11 Hoe Dawid optree in oorwinning (2 Sam 19:1-43)
    2.12 Die laaste teenstand teen Dawid (2 Sam 20:1-26)

DEEL 6: BYKOMENDE INLIGTING OOR DAWID (2 SAMUEL 21 – 24)

  1. Dawid herstel Saul se onreg (2 Sam 21:1-14)
  2. Dawid se liggaamskrag neem af (2 Sam 21:15-22)
  3. Dawid se koningskap in sy eie woorde (2 Sam 22:1-51)
  4. Dawid se laaste woorde (2 Sam 23:1-7)
  5. Dawid se magtige manne (2 Sam 23:8-39)
  6. Dawid se sensus (2 Sam 24:1-25)
  7. Dawid word oud (1 Kon 1:1-4)
  8. Adonia se ambisie (1 Kon 1:5-27)
  9. Salomo gesalf as koning (1 Kon 1:28-53)
  10. Dawid se laaste opdragte aan Salomo (1 Kon 2:1-11)

DEEL 7: SALOMO AS KONING (1 KONINGS 2:11 – 11:43)

  1. Salomo se teenstanders (1 Kon 2:12-46)
  2. Salomo vra YHWH vir verstandigheid (1 Kon 3:1-28)
  3. Oorsig van Salomo se regering (1 Kon 4:1-34)
  4. Salomo verkry boumateriaal vir die bou van die tempel (1 Kon 5:1-18)
  5. Salomo bou die tempel (1 Kon 6:1-38)
  6. Salomo bou die koninklike paleis (1 Kon 7:1-12)
  7. Versiering van die tempel (1 Kon 7:13-51)
  8. Die inwyding van die tempel (1 Kon 8:1-66)
  9. YHWH verskyn vir die tweede keer aan Salomo (1 Kon 9:1-9)
  10. Salomo se koningskap nadat die tempel voltooi is (1 Kon 9:10-28)
  11. Salomo word ondervra deur die koningin van Skeba (1 Kon 10:1-13)
  12. Salomo se rykdom (1 Kon 10:14-29)
  13. Salomo se sonde (1 Kon 11:1-8)
  14. Salomo se straf (1 Kon 11:9-43)

DEEL 8: DIE EEN KONINKRYK VAN ISRAEL WORD TWEE (1 KONINGS 12 – 16)

  1. Die Koninkryk van Dawid skeur in twee (1 Konings 12 – 14)
    1.1 Salomo se seun verloor die koningskap oor die noordelike deel van Israel (1 Kon 12:1-24)
  2. 1.2 Jerobeam die eerste koning van Noordelike Israel (1 Kon 12:25-33)
    1.3 ʼn Profeet waarsku Jerobeam (1 Kon 13:1-34)
    1.4 Jerobeam soek hulp by YHWH (1 Kon 14:1-20)
    1.5 Die koningskap van Rehabeam van Juda (1 Kon 14:21-31)
  1. Juda se konings van tot Asa en Israel se konings tot Agab (1 Konings 15 – 16)                                                                                                                                                  2.1 Die koningskap van Abia van Juda (1 Kon 15:1-8)
    2.2 Die koningskap van Asa van Juda (1 Kon 15:9-24)
    2.3 Die koningskap van Nadab van Israel (1 Kon 15:25-31)
    2.4 Die koningskap van Baesa van Israel (1 Kon 15:32-16:7)
    2.5 Die koningskap van Ela van Israel (1 Kon 16:8-14)
    2.6 Die koningskap van Simri van Israel (1 Kon 16:15-22)
    2.7 Die koningskap van Omri van Israel (1 Kon 16:23-28)
    2.8 Die koningskap van Agab van Israel (1 Kon 16:29-34)

DEEL 9: DIE PROFEET ELIA (1 KONINGS 17 – 2 KONINGS 2)

  1. Die verskyning en verdwyning van Elia (1 Kon 17:1-24)
  2. Die herverskyning van Elia (1 Kon 18:1-15)
  3. Elia verneder die Baal aanbidders (1 Kon 18:16-46)
  4. Elia gaan na Horeb (1 Kon 19:1-18)
  5. Elia salf Elisa tot profeet (1 Kon 19:19-21)
  6. Agab weier om Benhadad dood te maak (1 Kon 20)
  7. Agab roof Nabot se wingerd (1 Kon 21)
  8. Miga en die dood van Agab (1 Kon 22:1-40)
  9. Koning Josafat van Juda (1 Kon 22:41-51)
  10. Koning Ahasia van Israel (1 Kon 22:52-53)
  11. Elia en Ahasia van Israel (2 Kon 1)
  12. Elia word weggeneem (2 Kon 2)

DEEL 10: DIE PROFEET ELISA (2 KONINGS 3 – 10)

  1. Elisa en Joram van Israel (2 Kon 3:1-27)
  2. Elisa en die vermeerdering van olie (2 Kon 4:1-7)
  3. Elisa en die Sunamitiese vrou (2 Kon 4:8-37)
  4. Elisa en die pot bredie (2 Kon 4:38-44)
  5. Elisa en Naaman die Arameër (2 Kon 5:1-27)
  6. Elisa en die geleende byl (2 Kon 6:1-7)
  7. Die Arameërs probeer Elisa en gevange neem (2 Kon 6:8-23)
  8. Elisa en die blokkade van Samaria (2 Kon 6:24-7:20)
  9. Joram koning van Noordelike Israel neem kennis van Elisa (2 Kon 8:1-6)
  10. Elisa en die koning van Aram (2 Kon 8:7-15)
  11. Jehoram die slegte koning van Juda (2 Kon 8:16-24)
  12. Ahasia koning van Juda (2 Kon 8:25-29)
  13. Jehu gesalf as koning van Israel (2 Kon 9:1-29)
  14. Koningin Isebel word deur honde gevreet (2 Kon 9:30-37)
  15. Jehu wis Agab se nageslag uit (2 Kon 10:1-17)
  16. Jehu wis Baal aanbidding uit (2 Kon 10:18-28)
  17. Oorsig van Jehu se regering (2 Kon 10:29-36)
  18. Die suiwering van die koningshuis van Juda (2 Kon 11:1-21)
  19. Joas koning van Juda (12:1-21)
  20. Joahas koning van Israel (13:1-9)
  21. Joas koning van Israel (13:10-13)
  22. Elisa se laaste dae en dood (13:14-25)

DEEL 11: VAN DIE PROFETE TOT DIE VAL VAN ISRAEL (2 KONINGS 14 – 17)

  1. Amasia koning van Juda (2 Kon 14:1-22)
  2. Jerobeam II koning van Israel (2 Kon 14:23-29)
  3. Ussia (Asarja) koning van Juda (2 Kon 15:1-7)
  4. Sagaria koning van Israel (2 Kon 15:8-12)
  5. Verskeie konings van Israel (2 Kon 15:13-31)
  6. Jotam koning van Juda (2 Kon 15:32-38)
  7. Agas koning van Juda (2 Kon 16:1-20)
  8. Hosea die laaste koning van Noordelike Israel (2 Kon 17:1-4)
  9. Die einde van die koninkryk van Noordelike Israel (2 Kon 17:5-41)

DEEL 12: VAN DIE VAL VAN ISRAEL TOT DIE VAL VAN JUDA (2 KONINGS 18 – 25)

  1. Hiskia word koning van Juda (2 Kon 18:1-8)
  2. Hiskia en die aanslag van Assirië (2 Kon 18:9-19:37)
  3. Hiskia se siekte (2 Kon 20:1-11)
  4. Hiskia word deur amptenare van Babel besoek (2 Kon 20:12-21)
  5. Manasse koning van Juda (2 Kon 21:1-18)
  6. Amon koning van Juda (2 Kon 21:19-26)
  7. Koning Josia van Juda herstel die aanbidding van YHWH (2 Kon 22:1-23:30)
  8. Joahas koning van Juda (2 Kon 23:31-33)
  9. Eljakim / Jojakim koning van Juda (2 Kon 23:34-24:6)
  10. Jojagin word koning van Juda (2 Kon 24:7-10)
  11. Jerusalem word verower deur Nebukadnesar van Babel (2 Kon 24:11-17)
  12. Sedekia die laaste koning van Juda (2 Kon 24:18-20)
  13. Die verwoesting van Jerusalem (2 Kon 25:1-30)
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Wees dapper vir die waarheid

Illustrasie: https://www.facebook.com/mannawoord/photos/

In die sewe briewe in Openbaring verskyn daar in elkeen die woorde “Aan die wat die oorwinning behaal…” en dan volg daar die belofte van ʼn beloning. Daar is ʼn stryd aan die gang en sommiges gaan oorwin en ander nie.

ʼn Belangrike deel van die stryd wat ons vandag voer, is die stryd tussen waarheid en leuen. Die leuen is orals en vermom homself as die waarheid. Dit maak dit moeilik om die leuen uit te ken. Tog moet ons nie net die leuen herken nie, ons moet dit ook oorwin.

ʼn Algemene probleem van ons tyd is vals nuus. Dit is waar media nuus versprei wat onwaar is, asof dit waar is. Dit het so erg geword dat selfs die groot mediagroepe dit doen. Niemand kan meer glo wat die hoofstroommedia verkondig nie. Dit is nie noodwendig blatante leuens nie, dit is ook die verdraaiing van waarheid ter wille van propaganda. Ek en jy moet bedag wees daarop dat ons nie kan glo wat ons op televisie sien of in die koerant lees nie. Ons moet skepties wees oor wat ons vertel word, ons moet wakker wees en die tegnieke wat gebruik word, leer ken.

Dit het algemeen geword dat politici blatante leuens vertel om hulle eie agendas te bevorder. ʼn Paar jaar gelede is ʼn politikus gekonfronteer omdat sy op ʼn openbare vergadering gelieg het. Sy was verbaas dat daar ʼn probleem daarmee was, want dit was dan net politieke retoriek. Dit het blykbaar aanvaarbaar geword dat politici voor verkiesings enige iets mag sê om stemme te werf. Nou die dag het die Suid-Afrikaanse president op ʼn internasionale perskonferensie gelieg en daarmee weggekom. Is dit nou in orde as die leiers en staatsmanne ook leuens vertel? Wie kan nog geglo word?

Selfs die wetenskaplikes se uitsprake moet bevraagteken word. Die probleem is nie die wetenskaplike metodiek nie, maar die mense wat wetenskaplikes is. Dikwels is die sienings van wetenskaplikes bloot ʼn mening. Verder word wetenskaplikes se loopbane, die befondsing van hulle werk, publikasie van artikels en hulle status binne hulle professionele kringe beïnvloed deur hulle uitsprake en standpunte. Let op hoe stellings deur wetenskaplikes bewoord word. Daar word gesê: Wat ‘n vreemde toeval is dit dat ‘wetenskap’ altyd sonder uitsondering die liberale wêreldbeskouing ondersteun.

Die wêreld is vrot van onwaarhede. Dit is nie reg nie en dit is nie goed nie. Dit is hoe dit is en ek en jy kan dit nie stop nie. Ons kan dit nie ignoreer nie maar ons moet weet hoe dinge werk. Ons kan toesien dat ons nie self daaraan meedoen nie en ons kan ons bes doen om die leuen teen te werk deur die waarheid te verkondig.

Om leuens te vertel is die maklike uitweg. So kan jy probleme vermy of jouself bevoordeel. Dit het ook nadelige gevolge vir die persoon wat dit doen. Jy verloor jou geloofwaardigheid. Indien iemand oor een ding gelieg het, hoekom sou hy nie oor iets anders ook lieg nie. Eenmaal ʼn leuenaar, altyd ʼn leuenaar?

Vertrouensverhoudings kan bestaan met kliënte, werkgewers, vriende, huweliksmaats, kinders, ensomeer. Beide partye moet mekaar kan vertrou. As daar ʼn vertrouensverhouding tussen mense bestaan, vernietig leuens die vertroue en verwoes dit die verhouding. Dit verwoes ook respek en liefde. Om vertroue terug te wen, is besonder moeilik en kan baie lank duur.

‘n Leuen is nie net valsheid nie, dit is ook bedrog. Iemand wat lieg is soos ʼn akteur wat ʼn rol speel en dit is huigelary. Leuens is oneerlikheid en dit is nou verwant aan ander vorms van oneerlikheid. Wanneer iemand vir homself lieg pleeg hy selfbedrog. Dan is daar ook die wat vir YHWH lieg deur beloftes te maak wat hulle dan nie nakom nie. Daar is mense wat lieg en weet dat hulle lieg, daar is ook mense wat lieg en nie weet dat hulle lieg nie want hulle glo hulleself.

Christene behoort te glo dat die Bybel gesaghebbend is. Yeshua die Gesalfde sê in Johannes 8:44 aan sy teenstanders: Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ʼn mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ʼn leuenaar is en die vader daarvan. Leuens is die navolging van Satan en hoort nie by Christene nie.

Leuens is kenmerkend van die ou, gevalle, mens. Die apostel Paulus het die volgende daarvan gesê in Kolossense 3:8-10: Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper, …

Die Christen is ʼn sondaar wat sy ou lewe laat vaar het om nou as nuwe mens te lewe. Dit is nie maklik nie. Dit is waar die stryd begin warm word. Jy kan dit nie alleen en in eie krag doen nie. Jy kan dit nie regkry sonder die hulp van die Heilige Gees nie. Dit gaan ʼn tydjie neem, maar dit kan gedoen word. Jy moet oorwin om die beloning te ontvang.

Die vreemde ding is dat baie mense nie daarvan gaan hou as jy nie meer leuens vertel nie. Eers was hulle nie gelukkig daaroor dat jy lieg nie, nou is hulle ongelukkig daaroor dat jy opgehou lieg het. Die voordeel wat leuens ingebring het, is nou nie meer daar nie. Miskien wil jou werkgewer hê dat jy nou en dan ʼn bietjie moet lieg, miskien is dit jou gesin wat dit wil hê.

Om die stryd te  stry, om te volhard en om te oorwin, vereis dat jy dapper moet wees. Dit is ʼn geestelike oorlog, die magte van die bose gaan jou teiken. Oorwin een aanslag, dan kom daar ʼn nuwer en groter aanslag. Jy mag nie vlug nie, jy moet veg. As jy volhard tot die einde toe, is jy een van Yeshua die Gesalfde se dapper helde. Is dit nie iets om na te streef nie?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin